|
||||
Christian de Montlibert
*Professor aan die Marc Bloch-universiteit, skrywer van Savoir à vendre : L'enseignement supérieur et la recherche en danger, Parys: Raisons d’agir, 2004. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkweyk-Barrois, [email protected]
Wanneer hy ’n akademiese afvaardiging ontvang, deurspek die Franse staatshoof, Jacques Chirac, deesdae outomaties die taal van opvoedkundige bestuur met trefwoorde uit die liberalisme: “emulasie” vir mededinging, die “outonomie” van inrigtings" vir ondernemingsbestuur, “evaluering” en “voortreflikheid” vir stimulering deur materiële belang, “projekgebaseerde loodsing” vir buigsaamheid en aanpasbaarheid. Op sy beurt pas die Collège de France, die Mekka van gratis, universele kennis, nou transformasie toe. Begerig om meer bekend by die publiek te word, huisves hy ’n paar maande gelede die finale ronde van die “Dicos d’or”, ’n TV-uitsending van ’n landwye spelkompetisie aangebied deur Bernard Pivot. Sonder oormatige skroom of oordrewe interne debat vry hy selfs na groot maatskappy-hoofde (onder meer Bernard Arnault, hoofbestuurder van LVMH en Frankryk se grootste fortuin), en stem tot vir die skepping van ’n “Liliane Bettencourt-stoel vir tegnologiese innovering”, vernoem na die hoofaandeelhouer van L’Oréal ... en die naasgrootste fortuin in Frankryk. Dikwels op Europese skaal deurweek ’n allesoorheersende soeke na winsgewendheid die regering se besluite rakende universitêre instansies (1). Die afgelope dekade of wat word laasgenoemdes aangesê om maatskappye se “behoeftes” in ag te neem. Tesaam met hierdie eis wat opvoeders se vryheid aan bande lê, stel opeenvolgende “hervormings” studente gelyk aan ondernemers wat hulle opleiding kan rasionaliseer om die belang daarvan te optimaliseer. Sodoende is die nodige voorwaardes vir die vervaardiging van kennis getransformeer (2). In die onderwys hou die eis om “hervorming” verband met die geloof dat saligheid lê in die inspanning van die wetenskap in diens van die ekonomie. Dit behels dat universiteite se werkwyse, wat as argaïes beskou word, meer produktief gemaak moet word. Met kommoditeitmaking en bestuur as einddoel beveel ’n reeks amptelike verslae aan dat privaat fondse na akademiese laboratoria gekanaliseer word en intellektuele eiendoms- en patentereg byvoorbeeld gewysig word ten einde beleggings in navorsing aan te moedig. In die loop van soms bitter struwelinge het akademici en navorsers outonome wêrelde ontwikkel met hulle eie stelsels van werwing, opleiding, evaluering en werkverrigting. Die daarstelling van so ’n geslotenheid, ’n gesprekvoering op homself ingekeer, het deels verhoed dat kriteria en oordele van buite af binnedring. En, met die gepaardgaande gevaar van ’n akademiese establishment en maatskaplike reproduksie, toegelaat dat ’n denkwyse deurdrenk van “kritiese regstelling” opgebou word. Deur stelsels te skep waarbinne die woord vir sover moontlik los van enige ondergeskiktheidsverhouding staan, het akademici instansies opgebou wat hulle van die eise van ekonomiese en politieke magte kon bevry. Hulle het ook ’n stelsel geskep wat bevorderlik is vir die ontwikkeling van mikrokosmosse, geregeer deur ’n maatskaplike logika wat rasionaliteit en universaliteit in die hand werk. Maar hierdie stelsels kan te eniger tyd bedreig word deur magseise (ekonomies en polities), wat daarop ingestel is om die “produksie” van kennis “winsgewend” te maak sodat die wetenskap in die eerste plek tot groter produksie sal bydra. Want regerings se begeerte – in Frankryk, maar ook in Duitsland, Spanje, Italië of Switserland – om akademiese navorsers tot voordeel van maatskappye in te span, beïnvloed die manier waarop navorsers werk. Dit lei inderdaad tot die eis dat beleggings vinnig omgesit word in ontdekkings wat maatskappye tot voordeel strek. Navorsingsrigtings moet dus vooraf bepaal word deur ’n tematiese omskrywing, en nabetragtend deur evaluering volgens “wetenskaplike metings” (“scientometrics”). Hiertoe dra ’n “tender”-logika by wat groot gewag maak van die evalueringsgedagte. Verwysings na Engelstalige ekonomiese vaktydskrifte kom al gereelder voor. In die natuurwetenskappe het die meganismes van ekonomiese belang reeds verder gevorder: in Straatsburg het die wetenskaplike universiteit Louis Pasteur, wat baie bedrewe is in die aanknoop van betrekkinge met maatskappye, begin 2004 ’n analise-en-navorsingsentrum in ’n privaat maatskappy omskep waarvan hy ’n 56,6% aandeel besit. ’n Maatskappybetrekkingsdiens is ook op die been gebring, en sy “broeikas” is in ’n vereniging omskep om “’n groter venster na al ons vennote” te skep. Die Marc Bloch-Universiteit vir Lettere en Geesteswetenskappe staan nie ’n tree hiervoor agteruit nie. In 2005 skep hy ’n pos vir “navorsingsontwikkeling” wat laasgenoemde nader aan teikengebruikers se belange moet bring (3). Hierdie ondergeskiktheid aan gebruikerseise (hetsy van privaat maatskappye of stigtings) ondermyn die vrye keuse van onderwerpe, metodes en publikasie van resultate. Hoe lank kan ’n maatskappy wat navorsing oor middels teen slaperigheid finansier – in die hoop om munt te slaan uit die groeiende vraag wat geskep word deur ongewone werksure en fleksietyd – duld dat kritiese navorsing gedoen word oor die gevolge van veranderende werkstoestande? Tot hoe ver kan voedselvervaardigers soos Bonduelle en McCain (van wie gebraaide aartappelskyfies ’n spesialiteitsproduk is) die navorsingsprogramme steun van ’n stigting wat hulle self op die been gebring het om hartkwale te bestudeer? Sheldon Krimsky toon aan dat Amerikaanse laboratoria wat deur fitochemie gefinansier word, studies oor wilde plante en insekte tot die minimum ingekort het, terwyl toetse oor die gevolge van die een of ander produk toegeneem het. En dit sonder dat chemiese maatskappye ooit daarop aangedring het: navorsers het hulle eenvoudig aangepas by wat hulle geglo het hulle weldoeners van hulle verwag (4). Sosiale wetenskappe, wat noodwendig ’n kritiese ingesteldheid op die maatskaplike bestel ontwikkel, kan aangemoedig word om meer terughoudendheid aan die dag te lê, of selfs in diens van die magsbelange ingespan te word. Reeds tussen die twee wêreldoorloë bestudeer akademici en navorsers in die VSA “die maatskaplike oorsake van onderproduksie”, “die redes vir anti-kapitalistiese vooroordele” en “psigologiese en psigiatriese eienskappe by onrusstokers”. Stigtings bring soortgelyke gevolge teweeg. Maatskappye finansier hulle slegs as hulle voordeel daaruit kan trek, hetsy direk (soos die ontdekking van metodes of produkte wat hulle winste kan opstoot) of indirek (deur hulle beeld te verbeter). En by die skep van mededingingskerne (competitiveness hubs), bekom groot maatskappye wat in die middelpunt daarvan staan, gelyktydig die navorsingsresultate en die gunste en gawes wat die regering daarop uitstort. In die Lotharinge-gebied geniet die kern vir “innoverende stowwe” byvoorbeeld die steun van Arcelor, Saint Gobain en Mittal Steel. In die Limousin-streek lok elektroniese komponente die belangstelling van Legrand en Photonis. Die Bo-Savoje spits hom toe op megatronika danksy die samewerking van Dassault Aviation, Bosh, Valéo, Arcelor, DAV en Stäubli. En in die Provence-Alpe-Côte d’Azur-gebied is dit klaarblyklik Gemplus wat die grootste voordeel uit projekte rondom beveiligde kommunikasie trek. Maar dit is nie net die manier waarop navorsing georganiseer word, wat gewysig word nie: tersiêre onderwys loop dieselfde pad. Die verandering van vakinhoud om by nuut geskepte, beroepsgerigte honneurs- en meestersgrade in te skakel, is daarop gemik om studente voor te berei op beroepe wat op die betrokke tydstip deur die arbeidstelsel gedefinieer word. Hierdie soort utilitarisme lei op sy beurt tot ’n vereenvoudiging van vraagstukke wat aan kennis rigting gee. Die sosiaal-wetenskaplike opleiding binne die honneursgraad in “dienslewering en kliënte-advies in versekering en banke” is byvoorbeeld beperk tot die aanleer van luistertegnieke en die identifisering van “behoeftes”, die ondersoek van kliënte se “beweegredes” en die hantering van menseverhoudings. Sodanige beroepsgerigte onderrig verg ook dat maatskappybestuurders as dosente gebruik word wat ’n ingesteldheid by universiteite inbring wat fundamenteel verskil van dié wat vir die vervaardiging van kennis geld. Een-derde van die dosente aan sakebestuurskole by regsfakulteite, 44% van alle dosente aan die Paris-Dauphine handelsfakulteit en twee-derdes van dié aan die Universiteit van Evry is maatskappywerknemers. Van akademici wat aan hierdie inrigtings doseer, word trouens meestal geverg dat hulle “kontrakte” bekom en die produkte van hulle navorsing “verkoop”. Waar hulle voorheen beantwoord het aan ’n beginsel van progressie in die verwerwing van kennis, word sillabusse voortaan opgestel om student-kliënte aan te trek. Die groeiende mededinging tussen die verskillende universiteite, handelsfakulteite en bestuurskole om opleidingsprogramme aan te bied wat studente sal trek, verplig daarbenewens personeel om in kommunikasie te spesialiseer, of beter nog, om bestuurders uit kommunikasiemaatskappye in kontrakposte aan te stel. Die magdom reklame-insetsels in die pers is genoegsame bewys van hoe hierdie mededingingslogika vastrapplek kry. Die vereenselwiging van studente met rasionele ondernemers van hulle eie opleiding hou ook gevolge in vir die opbou van kennis. Oor ’n paar jaar sal ’n student self sy of haar sillabus kan saamstel deur onderrig-elemente te kies wat vir hom of haar interessant of maklik lyk. In gevalle waar sommige kennis minder aantreklik of verouderd voorkom, mag sekere kursusse – met ander woorde sekere kennis – eenvoudig nie meer onderrig word nie. In elke universiteitsdepartement wat onderneem het om hervorming toe te pas, is dosente gewikkel in ’n stryd rondom die vraag wat van keusevakke sal word as hulle nie studente “aantrek” nie. Kortom, “buigsaamheid” raak die sleutelwoord in kennisverwerwing, en berei die weg na buigsaamheid in werkskontrakte soos die CPE (Contrat Premier Embauche), ’n eerste werkskonkrak vir jongmense in Frankryk waarvolgens hulle vir ’n twee-jaar- onderbreekbare proeftydperk aangestel kan word voor hulle ’n permanente aanstelling kry (5). Sulke transformasies van universiteite se werkswyse sou nie so ingrypend gewees het as daar nie ook ooreenstemmende veranderings binne die onderrigstelsel self was nie. Enersyds het talle dosente reeds feitlik geprivatiseerde strukture binne die universiteite self geskep, met die doel om die “markte” te verower. Onlangs het die fakulteit van lettere en geesteswetenskappe in Straatsburg geredekawel oor die prys van toekomstige onderrig, en beplan om studente daarvoor te laat betaal: 4 800 euro vir ’n inleidingskursus in “interpretasie van lesings” (6 800 euro indien dit voortgesette opleiding is), 6 000 euro vir “opleiding in ekonomiese inligting en internasionale ontwikkelingsbestuur”, 2 740 euro vir ’n beroepsgerigte meestersgraad in “sintesebeelde toegepas op kommunikasie”... Andersyds betrek inrigtings (in die besonder bestuurskole) wat die nuwe reëls vir “goeie bestuur” toepas, maatskappye by die omskrywing van hulle vakrigtings, skep stigtings en aanvaar die stelsel van eksterne sertifikate en evaluering deur private ouditmaatskappye. In 2005 is die regulasies aangaande private tersiêre onderrig trouens ook verslap. Sommige akademici is des te gretiger om “hervorming” na te streef waar dit loopbaanvoordele inhou: universiteitshoofde ding mee in vindingrykheid om van hulle inrigting ’n erkende “handelsmerk” op die internasionale “mark” te maak (6); ekonomiedosente wil dat hulle laboratorium aan ’n beperkte aantal programme werk wat vooraf gedefinieer is deur die maatskappye wat hulle finansier en na die bemarking (verspreiding) van hulle produkte (navorsingspublikasies) omsien. Die Grenoble-kampus wat al die tersiêre onderriginstansies in die stad huisves, het ’n “ondernemersentrum” geskep. Sekere instansies word as’t ware in maatskappye omskep: in samewerking met France Telecom en Groupama verkoop die Universiteit van Lyon III sy kundigheid. Dié van Toulouse I is verbonde aan EADS en Pernod Ricard – ’n wapenhandelaar en ’n vervaardiger van alkoholiese drank.
_________ (1) Lees Gérard de Sélys, “L’école, grand marché du XXIème siècle”, Le Monde diplomatique, Junie 1998, en Abelard, “Recettes pour une université plus mercantile”, Le Monde diplomatique, Mei 2004. (2) Die “hervorming” van navorsing is deur ’n wet van 23 Maart 2006 geproklameer. (3) ’n Franse wet van Maart 2006 institusionaliseer dié situasie: die definiëring van navorsingsonderwerpe en -programme word uit navorsers se hande geneem; befondsing word nou gekoppel aan beleggings deur maatskappye. (4) Sheldon Krimsky, La recherche face aux intérêts privés, Parys: Editions Les empêcheurs de tourner en rond, 2004. Lees ook Ibrahim Warde, “L’université américaine vampirisée par les marchands”, Le Monde diplomatique, Maart 2001. (5) Sosiologiestudente aan die Marc Bloch-universiteit in Straatsburg het in ’n traktaat op 4 April geëis dat die “LMD”-hervorming teruggetrek word “wat die universiteit na markreëls wil buig, die doeltreffendheid versterk van meganismes wat ongelykhede skep, kennis en navorsing na gelang van winsgewendheid wil rangskik, voorrang gee aan vakrigtings wat die kwaliteit van onderrig skaad, op grond van vakrigtings teen studente diskrimineer, en regmatigheid verleen aan ’n ideologie van ‘beweeglikheid’ eie aan maatskappye”. (6) Lees Alain Garrigou se ondersoek, “Comment Sciences-Po et l’ENA deviennent des business schools”, Le Monde diplomatique, November 2000. |