|
||||
Lawrie Schlemmer en Hermann Giliomee
* Onderskeidelik politieke sosioloog en direkteur van Markdata; historikus en skrywer van Die Afrikaners (Tafelberg, 2004)
In hierdie uittreksel uit hulle verslag (1) oor die stand van Afrikaans aan die Histories Afrikaanse Universiteite, reageer Lawrie Schlemmer en Hermann Giliomee op prof. Chris Brink se boek (2) en verduidelik waarom Brink inpas by “’n enklawe vir ’n kosmopolitiese tegnologiese elite wat nog nie gesnap het dat hulle identiteit ’n vermomde nuwe subkultuur is nie.” Brink aanvaar formeel die verantwoordelikheid om Afrikaans as akademiese taal te help handhaaf, maar toon in sy boek min belangstelling daarin om die kwelvrae rondom die kwessie aan te vat. Die oorhoofse indruk wat die boek skep, is dat hy nie erns maak met die netelige vrae rondom die bestuur van Afrikaans in ʼn veeltalige verband nie. Dit is
waarskynlik omdat hy tot drie ander, en vir hom meer uitdagende, doelwitte
sterker verbind is. Die een is, vanselfsprekend, die suksesvolle ontwikkeling
van sy universiteit as mededingende instelling met internasionale aansien –
hier moet sy eie internasionale agtergrond in berekening gebring word. Die
tweede is om die universiteit so te posisioneer om die grootste en vlotste
interaksie met die land en sy politiek, ekonomie, tegnologie en ander
kerninstellings te laat geskied. Met ander woorde, hy wil die universiteit
nader aan die hoofstroom van die aksie en die dinamika in die land trek, om
daardeur positief by te dra tot die ontwikkeling van die groter geheel. Gesien
dat ʼn dominante tema in alle verwikkelinge in die land dié van transformasie en
die bemagtiging van swart-Afrikaan rolspelers is, kan hy nie hierdie doel
vanuit ʼn Afrikaanstalige enklawe bereik nie. Sonder om Brink onnodig te vlei,
laat sy strategiese posisionering ’n mens aan ʼn Jan Smuts in ʼn ander konteks
dink.
Derdens is daar by hom min simpatie te bespeur vir die etniese strewes van die Afrikaners. Hy twyfel sterk of dit ʼn volhoubare en lewensvatbare verskynsel is: “... the notion of a united Afrikanerdom is unravelling” (p. 131), en hy sien by monde van die bruinmense wat hy aanhaal geen ywer onder hulle om by Afrikaanse etniese strewes betrek te word nie. Meer as ʼn dekade na die beëindiging van apartheid beskou hy nog steeds die apartheidsrekord van Afrikaners as gronde vir morele bevraagtekening van hulle huidige optredes, nie slegs in die taaldebat nie, en hy ag die strewes van die nuwe Afrikaners (vir hom neo-Afrikaners) niks meer of minder nie as ʼn wanhopige poging om die strategiese solidariteit van die verlede te herwin, en om die taal as “bonding agent” (p. 78) daarvoor uit te buit. Maar sy vervreemding van enige ideale wat die nuwe Afrikaners vir hul groep sou koester, gaan veel dieper. Ideologies kan hy miskien beskryf word as ʼn globaal-ingestelde postmoderne kosmopoliet wat tradisie, groepvorming en gewortelde strukture wantrou. Vandaar sy groot idealisme oor die moontlikhede van ʼn nuwe maatskaplik-akademiese sintese vir sy universiteit, en daarmee saam ʼn nuwe soort gemeenskap sonder rigiede reëls, maar met waardes wat deur individue buite groepverband ingedra word. Die universiteit moet vry wees om hierdie geleenthede te gryp sonder inmenging van die regering of enige kultuurhistoriese en oudmodiese gemeenskap.
Wat beteken dit vir Afrikaans op Stellenbosch en ander universiteite wat Brink se voorbeeld sou volg? Voordat dié vraag beantwoord kan word, moet daar egter ʼn werklikheid van ons tyd genoem word. Elke werksdag oral in die land is daar derduisende vergaderings waarby Afrikaanssprekendes betrokke is. In uitsonderlike gevalle is daar slegs Afrikaanssprekendes en hou hulle miskien dan die vergadering in Afrikaans. Dit gebeur nie altyd nie, omdat mense toenemend daaraan gewoond raak om belangrike algemene onderwerpe in Engels te bespreek. Waar daar een enkele deelnemer is wat Afrikaans nie kan verstaan nie, word die vergaderings outomaties in Engels gehou. Twee faktore is hier aan die werk. Die een is die asimmetrie van kommunikasievermoë in Afrikaans en Engels, waarna Brink ook verwys – die feit dat Afrikaanssprekendes feitlik almal Engels kan verstaan en praat terwyl die anderstaliges by uitsondering Afrikaans kan praat. Die tweede is dat mense by ʼn vergadering volgens ʼn ongeskrewe gedragskode handel en ʼn verantwoordelikheid voel om: ”die leerervaring (kommunikasie in die vergadering) te optimaliseer”. Uit goedgesindheid sal hulle hoofsaaklik Engels praat. Afrikaanssprekendes is soms alte trots dat hulle met die ander persoon in sy eie taal kan kommunikeer. Hierdie is die onskuldige en menslike begin van die “glybaan”, wat prof. Brink nie besonder pla nie, omdat hy minstens ewe besorg is oor sy ander glybaan, naamlik dat ’n primêr Afrikaanse universiteit tot isolasie lei.
Indien alle faktore konstant bly, en gegee die baie flou belangstelling in Afrikaans wat prof. Brink in sy boek openbaar asook die huidige taalwendinge op die kampus, is ons vooruitskouing die volgende. Namate die aantal swart-Afrikaan studente toeneem, volgens die gedragskode en die vaste patroon van inskiklikheid van studente en dosente, sal al die dubbelmediumklasse binne ʼn kort tyd hoofsaaklik in Engels plaasvind. Die Afrikaanssprekende studente sal te verleë, bang of trots voel om op hulle eie taal aan te dring. Die personeel sal die proses altyd goedpraat omdat hoofsaaklik Engelse “dubbelmedium”-klasse vir hulle minder werk as parallelmedium-onderrig beteken en selfs die dubbelmedium-klasgee sal makliker word, omdat hulle toenemend net in een taal sal hoef te kommunikeer. Alle interaksie, formeel en informeel, tussen Afrikaanstalige studente en ander sal in Engels wees. Binne ’n dekade of wat sal dit in werklikheid ʼn Engelse universiteit wees, hoewel met interessante aksente en ietwat lomper as gemiddelde Engels. Die Universiteit Stellenbosch (US) sal dan by die landwye wending tot een algemene lingua franca – “clumsy English” – aansluit. Prof. Brink se ideaal, die van “disengaging language from the ideology of an encapsulated white Afrikanerdom” sal bereik word, met een verskil egter – die “disengaged” Afrikaanses sal almal daaraan gewoond raak om Engels te praat. Waar in die openbaar sal hulle dan werklik vry voel om Afrikaans te praat? (Brink p. 133) Natuurlik sal daar ook troospryse vir Afrikaans wees. Ons kan nou al voorspel dat daar voorstelle sal kom vir groot boekpryse vir Afrikaanstalige romans, soos wat RAU gedoen het toe Afrikaans daar by die deur uitgegly het. Daar sal ook steun vir kunstefeeste wees. Brink se grootste ondersteuners op die Raad en Senaat voer nou al aan dat die opbloei van kunstefeeste vir die ondergang van Afrikaans op universiteitsvlak vergoed. Sonder ’n beginselvaste bevraagtekening en ʼn wyer perspektief op die debat sal prof. Brink se argumente loshande op kampusse wen. Die meeste Afrikaanse akademici voel so onseker, verleë en gretig om deel te word van die hoofstroom, dat hulle die ideale en strategiese posisionering van Brink met beide hande gaan gryp, veral as dit hulle boonop help om die addisionele kontak-ure van parallelmedium- onderrig vry te spring. Brink verwag in elk geval dat die taalstryders soos oorgewig voorspelers in die laaste halfuur van hul wedstryd pap van moegheid sal raak. Daar sal miskien sowat twee of drie jaar van taalstryd, taalmoleste en taaldebakels op die kampus wees, maar daarna sal Engels rustig sy hegemonie kan afdwing. Brink sal Stellenbosch in 2012 kan verlaat met die wete dat hy die plek “reggemaak” het.
Maar miskien misreken Brink en sy generaals hulle tog wel. Eerstens, die grootste fout wat in die geskiedenis gemaak is, is om etnisiteit te onderskat. Dit het lank geduur, maar selfs die Franse etniese taal-minderhede (Brink sou hulle neo-Kelte noem) is besig om te hergroepeer. Die trotse liberale Angel-Saksiese hoop op die “melting pot” in die VSA het nooit verwesenlik nie, en twee-derdes van die gewapende konflik in die wêreld vind nog steeds op etniese gronde plaas. Tweedens, in die wêreld buite die instellings van die “produksie van kennis” is die dinamika nie soos wat Gibbons (p. 96-100) dit tipeer nie. Gevestigde godsdiens verswak wel in Europa, maar in die VSA, Suid-Amerika, Afrika en in feitlik alle Moslem-gemeenskappe beleef godsdiens weer ’n bloeitydperk. Kultuurerfenisse word oral herontdek. Afrikaanse taaltrots het wel onlangs verswak, maar die herlewing is reeds te bespeur. Die etnies neutrale gedekonstrueerde tipe B-stelsels van Michael Gibbons, hoewel feitelik geldig, is nie die nuwe wêreldorde nie, maar eintlik bloot ’n enklawe vir ’n kosmopolitiese tegnologiese elite wat nog nie gesnap het dat hulle identiteit ’n vermomde nuwe subkultuur is nie. En hierdie idealistiese siening van ’n samelewing is veral nie van toepassing in ’n land waar die regering weer amptelike rassegroepe in ere herstel het en, in Brink se eie woorde, sterk inmeng op akademiese terrein nie. Op 29 Maart het Saleem Badat, Hoof Uitvoerende Beampte van die Raad van Hoër Onderwys, voor die parlementêre portefeuljekomitee vir onderwys die volgende gedagte vir nadenke aangebied: “As food for thought, Dr Badat asked why the President could appoint the head of the Constitutional Court but not a university vice-chancellor?” (1). Derdens, verwag Brink werklik dat ’n groot openbare instelling soos US in die nuwe demokratiese Suid-Afrika werklik los kan staan van sy belanghebbergemeenskap en, meer spesifiek, van derduisende alumni? Op die Raad van US word net minder as ’n derde van die lede (nege uit 29) gekies deur die alumni en donateurs wat oorwegend alumni is. Met die onlangse verkiesing van drie konvokasieverteenwoordigers het meer as driekwart van die alumni duidelik getoon dat hulle hierdie benadering verwerp. As die tendens voortgesit word word, sal al nege verteenwordigers van alumni en donateurs oor drie of vier jaar gekant wees teen die T-opsie. Natuurlik is die beginsel van akademiese vryheid, veral ten opsigte van wat en hoe daar gedoseer word, belangrik. Maar ewe belangrik is die verwagting in die nuwe demokrasie dat alle openbare en ook baie private instansies aan die onderskeie gemeenskappe se verwagtinge moet voldoen. Lede van universiteitsrade kan nie soos klein godjies self besluit dat ’n oorskakeling na Engels as voertaal in die beste belang van die universiteit is nie. Juridies is konvokasieverteenwoordigers wat optree in stryd met die wil van die groot meerderheid van die konvokasie nie verplig om te bedank nie. Moreel is hulle wel deeglik verplig om hulle aan die wil van die meerderheid te steur. Dit geld ook vir die universiteit self. Meerderhede in die Senaat of Raad oor ’n voertaalbeleid is belangrik, maar die gevoel van die gemeenskap kan kwalik geïgnoreer word. Waarom sou die Universiteit Stellenbosch andersins duur advertensies oor die taalgeskil uitneem? Brink mag wel voel dat een belangegroep uit ’n verskeidenheid van drukgroepe op ’n afstand gehou moet word, maar verwag hy werklik dat enige belanghebbergroep met die figuurlike stert tussen die bene gaan wegloop? Die stryd gaan voortduur. Onafhanklikheidstryde duur lank, het pres. Steyn in die laaste fase van die Bittereinders se stryd in die Anglo-Boere-oorlog gesê. Dit is ook waar van taalstryde. Dit is egter nog meer verbasend dat Brink so min aandag aan twee besondere aspekte van die taal-aangeleentheid op Stellenbosch bestee. Die eerste is dat daar geen behoorlike oudit uitgevoer is om uit te vind of die dosente hulle pligte nakom en aan studente die modules aanbied ooreenkomstig die voertaalspesifikasies nie. Daar is meer en meer getuienis wat daarop dui dat baie dosente hulle nie daaraan steur nie. Stel die bestuur nie belang nie, of is die benadering een van laissez-faire sodat Engels kan oorneem? Die tweede is dat daar nog geen ondersoek na die voor- en nadele van die verskillende taalopsies onderneem is nie. Of is die bedoeling dat studente nou enige opsie kan kies op voorwaarde dat hulle later net Engels kies? Indien Stellenbosch relatief meer erns met parallelmediumonderrig en tolkdienste gemaak het, sou die gesindhede van die behoudendes aansienlik versag het. Die bewering in Brink se boek dat daar sterk weerstand onder die taalbehoudendes teen die werwing van meer swart-Afrikane studente en personeel bestaan, is eenvoudig net nie waar nie. Miskien het prof. Brink se eie stereotipering van die sogenaamde “taalstryders” hom verblind.
__________ (1) Parliamentary Monitoring Group, Onderwysportefeuljekomitee, 29 Maart 2006. (2) ’n Vaste plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus (SUN Media) (3) No lesser place: the taaldebat at Stellenbosch (SUN Media) |