blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Die Afrikaanse universiteit van die toekoms: ’n Virtuele Afrikaanse universiteit 2006-05-19
Hennie van Coller en Jaap Steyn

*Onderskeidelik hoof van die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat, en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; en spesiale professor in dieselfde departement.

 

'n Dubbelmediumbeleid hou ernstige gevare vir Afrikaans in by universiteite en ander opvoedkundige instellings. Dit blyk duidelik uit proff. Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer se verslag oor die taalbeleid van die histories Afrikaanse universiteite (HAU’s). Die twee wetenskaplikes het dié ondersoek gedoen in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

                Dit blyk uit die verslag dat daar lankal nie meer iets soos ’n Afrikaanse universiteit bestaan nie. Die huidige reeks artikels in Die Vrye Afrikaan onder die opskrif “Die Afrikaanse universiteit van die toekoms” gaan dus lynreg in teen die huidige rigting van verengelsing of, anders gestel, tweetalige universiteite waarin Afrikaans vroeër of later aan die kortste end trek.

                Een van die aanbevelings wat Giliomee en Schlemmer in hul verslag doen, is van besondere belang vir die gesprek oor ’n Afrikaanse universiteit. Maar voordat ons daarby kom, is dit nuttig om ’n paar belangwekkende stellings van sommige deelnemers aan die gesprek in Die Vrye Afrikaan saam te vat.

                Rossouw gee ’n vyftal riglyne vir die Afrikaanse universiteit van die toekoms: ons kan die gesprek daaroor nie voer sonder verwysing na globalisering nie; so ’n universiteit kan nie die duplikaat wees van die huidige massiewe Suid-Afrikaanse universiteite nie; dit moet ’n skool of akademie in die klassieke sin van die woord wees “waar slegs ’n klein groepie leermeesters en studente rondom die gedeelde passie vir kennis en insig verenig word, en waar die vermenigvuldiging en oordrag van kennis as voorwaarde van ’n gemeenskap voorop staan”; dit behoort te begin as instelling van die lettere en die teologie; dit moet verbonde wees aan ’n klein kultuurpolitieke instituut wat administratief en organisatories verantwoordelikheid vir so iets kan aanvaar.

                Koos Malan toon in dieselfde nommer (17 Februarie 2006) aan dat die tweetalige universiteit “die leefruimte van die Afrikaanse handboek drasties ingeperk en dit ’n gevoelige slag toegedien het”. As daar nie maatreëls is om die posisie van Afrikaans te stabiliseer nie (soos ekstra personeel en goed funksionerende vertalingseenhede) word tweetalige instellings volledig Engels-eentalig.

                In die uitgawe van 17 Maart 2006 wys Francois Bredenkamp op die belangrike werk van die Franse en Griekse Akademies. Wat werklik aantreklik van hierdie twee akademies is, sê hy, is dat hulle kompromisloos die kulturele belange van hul grondtale dien en ’n wetenskapslewe in Frans en Grieks uitbou en verseker. Die SA Akademie kan begin werk aan ’n grootse opleidingstaak op gebiede waar Afrikaans "geweldige agteruitgang" oor die afgelope dekade of wat beleef het. Voorop moet onderwysersopleiding in Afrikaans staan terwyl daar nog ’n beduidende aantal opvoedkundiges beskikbaar is. ’n "Instituut vir Afrikaans" behoort binne die Akademie tot stand te kom waarin so ’n opleidings- en navorsingsinstituut kan funksioneer. Hy noem ook die moontlikheid van ander soorte opleiding, en wys op die struikelblok van die die beskikbaarheid van geld.

                Die jongste bydrae is dié van Fanie de Beer wat sê dat universiteite wêreldwyd in ’n krisis verkeer en dat daar verwarring heers oor wat universiteite is, of behoort te wees. Dit bevestig dat universiteite sedert hul vestiging altyd die slagoffers was van veral politiek-ideologiese strewens. Universiteite het die verantwoordelikheid én reg om ongehinderd te soek na waarheid, en hierdie soeke geskied in en deur taal. “Die taal in sy volheid moet hom in die instelling kan laat geld om dit ’n universiteit te laat wees”, sê De Beer.

                Dit is juis in ’n geglobaliseerde wêreld waar eiesoortigheid erkenning behoort geniet te word en “respek vir alteriteite” geskep moet word. Boonop is taal veel meer as bloot kommunikasiemiddel; dis intiem verweef met die gees van die mens en sy verbeelding in al die betekenisse van die woord. De Beer betoog dat Afrikaans veel minder swaar as Engels dra aan ’n verlede van onderdrukking, én bowendien “’n rewolusionêre taal (is wat) teen enige vorm van magsmisbruik gekant” is. Dit is ’n duidelike antwoord aan diegene wat steeds soos ’n kruppel windhond aanhol agter ’n verweerde laphaas – die geykte opvatting van Afrikaans as verdrukkerstaal.

                Kortom, De Beer voer oortuigende redes aan vir die bestaansreg van ’n Afrikaanse universiteit, Malan wys by implikasie op die belang van so ’n universiteit vir die voortbestaan van Afrikaans as wetenskapstaal, onder meer in handboeke, Bredenkamp doen ’n praktiese voorstel hoe so ’n instelling kan begin.

                Dis duidelik, en Rossouw beklemtoon dit, dat ’n konvensionele residensiële Afrikaanse universiteit nie haalbaar is nie. In elk geval kan geeneen van die bestaande HAU’s na ’n Afrikaanse instelling getransformeer word nie. Maar dalk kan ’n mens Bredenkamp se voorstel aanvul met een wat Giliomee en Schlemmer in hul lys aanbevelings suggereer. Hulle beveel ’n virtuele Afrikaanse universiteit (VAU) aan wat "die verdere uitbou van Afrikaans en sy intellektuele kultuur as sentrale roeping sal aanvaar".

                Dit is te betwyfel of enigeen van die HAU’s te midde van al hul ander doelstellings hierdie funksie – die verdere uitbou van Afrikaans en sy intellektuele kultuur – volledig sal kán, of erger, wíl vervul.

                Uit Chris Brink se boek, No lesser place: The taaldebat at Stellenbosch, blyk dit dat akademiese uitnemendheid vir hom sinoniem is met globalisering en internasionalisering en dat hy daarom Engels, dié internasionale taal by uitstek, sien as onontbeerlik vir universiteitsonderrig en -navorsing. Hy is erg ongemaklik oor wat hy sien as die ideologiese ballas van Afrikaans. Tipies van neokolonialiste soos Brink word Engels se koloniale onderdrukkingsverlede volledig verswyg. Ook by ander instellings heers ’n voorkeur vir Engels, al word dit verdoesel onder terme soos markbehoeftes.

                Prof. Christo Viljoen, wat die idee van ’n VAU aan die hand gedoen het, voorsien dat dit ’n moderne soort universiteit kan wees sonder sy eie geboue, met ’n klein administratiewe personeel en groot klem op video- en ander vorme van afstandsonderrig.

                Volgens Viljoen se uiteensetting (in Giliomee en Schlemmer se verslag) bestaan daar reeds etlike soortgelyke universiteite en kolleges met afstandsonderrig. Sommige daarvan maak van satelliettegnologie gebruik, ander weer van die internet. Die satelliet-opsie het die voordeel dat intydse voorlesings gegee kan word, dat studente die dosent kan sien, en selfs kan onderbreek om vrae te stel, of dat hulle kan deelneem aan klasbesprekings. (Normaalweg is die studente nie op die skerms sigbaar nie -- hul stemme kan wel gehoor word). Elke student sit dus voor ’n TV-ontvangstel (via satelliet) met ’n beheerkonsole wat alles kontroleer.

                Die internet-opsie is volgens Viljoen meer passief, en ofskoon webkameras beskikbaar is en intydse lesings moontlik is, is dit werklik net haalbaar as breëband-internetverbindings beskikbaar is – iets wat tans ook in Suid-Afrika in toenemende mate beskikbaar raak. Daar word verwag dat dit binne ’n jaar of twee, drie algemeen beskikbaar in ons land sal wees. Dit het die voordeel dat die studente tuis (in hul huis of by hul werkplek) kan sit as deel van ’n verspreide klas.

                Die virtuele universiteit het die verdere voordeel dat dosente op enige plek gekontrakteer kan word om lesings te lewer, solank as wat ’n opskakel (sender) na die satelliet beskikbaar is (of solank as wat hulle internettoegang met ’n webkamera het). Die satelliet-opsie vereis ’n klein ateljee, TV-kamera en ander toerusting soos video-bandopnemers en ’n opskakel  na die satelliet. Die minimum vereiste vir intydse internetlesings is ’n webkamera (wat deesdae minder as R500 kos!). Die VAU sou dus dosente in Pretoria, Bloemfontein, Port Elizabeth, Johannesburg, of waar ook al kon benut, wat dit in staat stel om die land se beste dosent op ’n bepaalde vakgebied te kontrakteer. Alle dosente is normaalweg deeltydse kontrakwerknemers van die virtuele universiteit. Die sentrale administrasie van die VAU kan baie klein wees, en van ’n sentrale kampus is daar nie sprake nie. Dit alles aldus Christo Viljoen se uiteensetting.

                'n Afrikaanse instituut wat funksioneer met behulp van die soort tegniek wat Viljoen beskryf, lyk na ’n praktiese voorstel vir die toekoms. Daarmee kan ook die studente tegemoet gekom word wat geldelik nie in staat is om die Akademie of waar so ’n instituut ook al gevestig is, te bereik nie.

                Daar is eintlik nie veel tyd om te begin beplan aan so iets nie. Giliomee en Schlemmer sê tereg dat parallel- en dubbelmedium onstabiele stelsels is, en op die duur lei tot die marginalisering van ’n nie-dominante taal wat in één instelling met ’n wêreldtaal moet wedywer. Baie hang af van getalle en gesindhede.

                Ook van die politiek. Wat gaan die gevolge van regstellende aksie en wetgewing oor indiensneming wees vir die HAU’s en Unisa se personeelsamestelling en dus hul vermoë om in Afrikaans les te gee? HAU’s stel dikwels mense wat nie Afrikaans magtig is nie, aan om die wetlik vereiste rassedoelwit te bereik.

                Verder blyk dit uit Giliomee en Schlemmer se verslag dat die houding van die rektor van ’n instelling deuslaggewend kan wees vir die uitvoering van ’n taalbeleid. ’n Nuwe aanstelling kan gou ’n einde bring aan die Afrikaans-vriendelikheid van ’n topbestruur. 

                Die parallelmediumbeleid van die Universiteit van die Vrystaat kry lof in die verslag, maar behalwe dat dit ’n swaar las op dosente plaas, word emosionele argumente daarteen aangevoer, soos dat dit apartheid bestendig. Die gebruik van alleenlik Engels is volgens teenstanders aanvaarbaar omdat dit “equal misery” gee vir Afrikaanstaliges en sprekers van ander Afrikatale.

                Een teenargument sal seker wees dat ’n VAU nie personeel sal vind nie. ’n Ongesonde neweverskynsel van die taaldebat is immers die gedurige suggesties dat ’n instelling minderwaardig is as dit nie Engels of half verengels is nie. In die Financial Mail het iemand geskryf dat ’n Afrikaanse Stellenbosch "will discourage top lecturers and researchers from working at Stellenbosch". Die blad waarsku in ’n hoofartikel selfs teen ’n “eksklusief” Afrikaanse universiteit.

                Dit, terwyl Stellenbosssers en ander Afrikaanse studente nog altyd van die beste leerkragte gehad het en oorsee gepresteer het. ’n Afrikaanse universteit sal gou deur ’n besondere gees van "ons eie" gedryf word. En as so ’n gees posvat, sal die akademiese prestasies kom.

                Die Akademie kan die inisiatief neem. Toe ons, die skrywers van dié stuk, in 1996 voorgestel het dat die Akademie die stigting van ’n Afrikaanse "korrespondensie"universiteit ondersoek, wat "rekenaarmatig bedryf word", dus eintlik ’n virtuele universiteit, het die rektore van die HAU’s dit afgeskiet omdat hulle daarin kompetisie gesien het. ’n Mens kry toenemend die indruk dat hulle dit vandag sal steun hopelik nie omdat hul daarmee hul kan bevry van hul eie verpligtinge teenoor Afrikaans nie. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=568
Artikel nagegaan:
    -