blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Fanie Cloete se nagmerrie? 2006-05-19

Het Fanie Cloete se nagmerrie op Saterdag 22 April, 2006 by die FAK-kantoor in die skaduwee van die Voortrekkermonument waar geword?

                Op 30 Maart, 2006 ontdek hierdie Stellenbosse professor en selferkende “diskoersanalis” in sy rubriek in Die Burger ’n sinistere sameswering. Hy skryf: “Soos in die mynwerkerstaking gebeur het, word Marxiste ingespan om die konserwatiewe dogma van bemagtiging deur slegs Afrikaans te probeer ondersteun, te legitimeer en selfs om transformasie aan die Universiteit Stellenbosch wat dit na bewering sal teenwerk, te probeer vertraag. In die jongste uitgawe van Die Vrye Afrikaan (Vrydag 17 Maart, 2006) word Marxistiese intellektuele weer ingespan om die heersende ‘neoliberalisme’ van die na-apartheidstaat te kritiseer. Dit is veelseggend dat Rossouw se hoofartikel in hierdie uitgawe lui ‘Die neoliberale kanker’, met ondersteunende neo-Marxisties gefundeerde bydraes hieroor… Dit is blatante opportunisme van dié neokonserwatiewe drukgroep om weer eens Marxistiese kritiek op liberalisme (wat self dekades lank deur hul vorige generasie Afrikanerleiers verwerp en selfs aktief beveg is) ter bestryding van die Afrikaner se ander tradisionele vyand (liberalisme) te gebruik …”Tot dusver ons diskoersanalis se ontleding.

                Op Saterdag 22 April, 2006 het ’n groep redaksielede van Die Vrye Afrikaan – Johann Rossouw, Danie Goosen, Roland Henwood, Pieter Duvenage en Francois Bredenkamp – ’n informele debat gevoer met ander Suid-Afrikaanse intellektuele afkomstig uit sowel die sosialistiese as die Swartbewussynstradisie, wat ook al almal bydraes tot Die Vrye Afrikaan gelewer het. Dié drie skrywers was Adam Habib, politieke ontleder verbonde aan die RGN; Dale McKinley, onafhanklike navorser en maatskaplike aktivis; en Ntombikaninga Malinga, politieke ontleder en lid van die Black Management Forum.

                Anders as wat Cloete mag glo, was die doel van dié ontmoeting nie sinistere manipulasie (van gedugte nie-Afrikaanse intellektuele) nie, maar wel ’n gesprek oor die volgende vraag: kan klas en/ of gemeenskap vandag aan Suid-Afrikaners ’n basis bied vir ’n alternatief op die huidige kombinasie van neoliberalisme en Afro-nasionalisme?

                Rossouw het die gesprek ingelei met ’n oorsig oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis waarin hy aangevoer het dat “die sentrale politieke probleem in Suid-Afrika die vraag is na hoe die verskillende etniese en taalgemeenskappe in die land in harmonie kan saamleef”. Volgens hom is daar minstens vier faktore wat hierdie ideaal deur die geskiedenis heen ondermyn het: die koms van die gedrukte woord en die gevolglike verwarring van ras met etnisiteit vanaf die 1820’s; die oprigting van ’n koloniale staat gerig op die bevoordeling van ’n klein identiteitsminderheid ten koste van die meerderheid; die totstandkoming van ’n mineraalenergiekompleks wat die ekonomie buite demokratiese kontrole beheer; en die staatskorporatiewe bestel se monopolie op vervoer en kommunikasie.

                Vervolgens het Rossouw stilgestaan by die twee belangrikste weerstandsbewegings teen die staatskorporatiewe bestel en die redes vir hul mislukking, naamlik Afrikaner- en Afro-nasionalisme. Hy het sy inleiding afgesluit met die basis van ’n alternatiewe demokratiese projek, wat moet insluit: moedertaalonderrig vir alle kinders; ’n buiteparlementêre beweging wat as derde pool teenoor die staat en die korporasie gemeenskappe se belange kan dra; die herbouing van gemeenskapsinstellings; die devolusie van kapitaal tot op plaaslike vlak; alternatiewe media; nuwe ideeforums; en die internasionalisering van Suid-Afrika se situasie.

                In die daaropvolgende debat is verskillende aspekte van Rossouw se betoog met robuuste kritiek van McKinley en Habib beantwoord. McKinley het ook gewys op hoe neoliberalisme verkies om gemeenskapsinstellings te vernietig sodat dit die mark in regstreekse verhouding met die individu kan plaas en sy weerstand sodoende vernietig.

                Habib het weer klem gelê op drie modelle wat vandag as vorme van nasiebou voorkom. Die eerste is die Franse assimilasiemodel, waar subnasionale gemeenskappe hul belange ter wille van die nasie moet prysgee. Tweedens is daar die multikulturele model, waar gemeenskappe as’t ware in aparte blokke naas mekaar in ’n samelewing funksioneer. Derdens is daar die model wat in die VSA voorkom, en waar die wisselwerking tussen nasie en subnasionale gemeenskap meer vloeibaar is – wat dan ook die model is wat hy meen die beste kans op sukses in SA het.

                ’n Belangrike konsensus wat gaandeweg in die debat na vore getree het, is dat ofskoon materiële ellende, soos armoede, ’n wesenlike produk van die neoliberale bestel is, dit nie geskei kan word nie van simboliese ellende, oftewel die wydverspreide gevoel van blywende psigiese skaarste onder die middelklas en hoër middelklas.

                Teen die agtergrond van hoe skaars sodanige debatsgeleenthede in SA geword het, was die deelnemers dit eens dat etlike opvolgdebatte met meer deelnemers in die komende maande baie sinvol sal wees. Daar is besluit om minstens drie debatte in die komende maande te hou oor wat die begrip gemeenskap beteken, hoe mense vandag suksesvol gemobiliseer kan word teen neoliberalisme, en hoe ’n nasie in Suid-Afrika eendag kan lyk. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=566
Artikel nagegaan:
    -