|
||||
Danie Goosen
*Filosoof, voorsitter van die FAK
Soos beloof reageer Danie Goosen hier op Steve Hofmeyr se resensie van Negrologie in die vorige uitgawe van Die Vrye Afrikaan. Daar is waarskynlik min woorde wat sulke uiteenlopende reaksies ontlok as die woord ‘Afrika’. Verwys daarna in enige belese geselskap en selfs die dooierigste siel word tot driftige afwysendheid jeens of ’n verontwaardigde apologie vir Afrika opgevorder. Die ironie is dat ons gesprekke oor Afrika dikwels nie veel van Afrika self sê nie. Dikwels hou ons stellige uitsprake en voorkeure eerder met ons eie subjektiewe verwagtings en teleurstellings, ons eie drome en vrese as met Afrika self verband. As ons wil voorkom dat Afrika ons reeds by voorbaat ontglip, moet ons dikwels eers by ons eie subjektiewe vooroordele begin. Daarmee sê ons nie dat ons onsself buite ons eie vooroordele kan stel en ’n sogenaamd objektiewe beeld van Afrika weergee nie. Afrika word meestal met talle subjektiewe vooroordele gelees. Dit is selfs waar van diegene wat na hulself as ‘Afrikane’ verwys. Maar wat gemaak? Ons kan minstens groter helderheid rondom ons eie vooroordele skep. Sou ons nie slegs deur dié helderder word ’n vrugbaarder gesprek met mekaar oor Afrika kon voer nie? Ter wille van die gesprek daaroor skop ek gewoon met my eie vooroordeel af. In enkele sinne saamgevat, lui dit so: die veelheid van gemeenskappe in Afrika het vandag voor die uitdaging te staan gekom om ’n skeppende ‘politiek van bondgenootskappe’ te voer. Waarom? Die antwoord hou verband met die woord ‘selfrespek.’ As daar iets is waaraan Afrika ly, is dit sy selfrespek, sy diepliggende gevoel van minderwaardigheid. Soos so dikwels met ander wêrelde wat aan dieselfde kollektiewe patologie onderwerp was, is die antwoord daarop die herstel van die gemeenskappe op ’n demokratiese grondslag en ’n sinvolle politiek van bondgenootskappe tussen die veelheid van demokratiese gemeenskappe. Slegs so sal Afrika op die magsvergrype van sowel die globale wêreld as sy eie ekonomiese en politieke elites kan antwoord – en sy selfrespek terugwen. Maar alvorens ons na dié politiek verwys, net iets oor die ander vooroordele jeens Afrika. Vanuit die ganse spektrum van vooroordele kan ook twee ander moontlikhede genoem word, naamlik die neo-bourgeois- en die neoromantiese vooroordele. Eerstens die globalistiese neo-bourgeoisie. Dié benadering vertrek vanuit die oortuiging dat die globale orde met sy uitgangspunte in ‘verbruik’ en ‘hiper-individualisme’ vir ewig en altyd met ons is. Waar ook al dié uitgangspunte volgens dié benadering nog nie verwerklik is nie, moet alles ingespan word om dit inderdaad te doen. Dit hou natuurlik niks goed vir Afrika in nie, omdat Afrika, gemeet aan genoemde uitgangspunte, met galsigheid tot die ashoop van die geskiedenis verdoem word. Indien Afrika homself dan ook hoegenaamd wil ‘regruk’, sal hy dit volgens dié uitgangspunte moet doen. Stephen Smith se boek, Negrologie, waaroor Steve Hofmeyr in die vorige uitgawe van Die Vrye Afrikaan geskryf het, is ’n tipiese voorbeeld van ’n werk waarbinne die neo-bourgeois-vooroordele met ywer teen Afrika gemobiliseer word. Sonder om maar ’n sekonde krities oor sy eie bourgeois-vooroordele na te dink, onderwerp Smith vir Afrika op ’n volgens hom verdoemende wyse aan die ‘onbetwyfelbare’ gewig daarvan. Alhoewel Afrika volgens hom dalk vroeër sodanige beloftes getoon het, sal hy eenvoudig nooit daartoe in staat wees om die neo-bourgeois-lewenswyse na te boots nie. (Soos die ‘mall’-ifisering van ons kulturele landskap, die onbeperkte uitbreiding van die verbruikersvraag, die kultivering van ’n rampokker-kapitalisme wat natuur en kultuur aan sy grypsug onderwerp, ensovoorts). Die neo-bourgeoisie vergeet egter dat die globale orde en die ekonomiese, maatskaplike en politieke uitgangspunte waarop dit rus, uiters breekbaar is en dat dit tans ernstige strukturele probleme ervaar. John Gray skryf byvoorbeeld in ’n onlangse uitgawe van The New York Review of Books (27 April 2006) breedvoerig oor die radikale ommeswaai in die literatuur oor die globalisme. Terwyl verskeie outeurs volgens hom nog tydens die 1990’s liries oor globalisme was, het die toon die afgelope jare aansienlik verander. Die vroeë optimisme het plek gemaak vir pessimisme en die gevoel onder talle waarnemers dat die globale orde ’n hoogs tydelike verskynsel is. Kortom, volgens Gray het die neo-bourgeoisie geen rede tot triomfantalistiese gevoelens jeens wêrelde buite hul eie gekoesterde globale orde nie. En, kan ons byvoeg, ook geen rede om hulle uitgangspunte as absolute norm aan Afrika voor te hou nie. Teenoor die neo-bourgeoisie en aan die ander kant van die spektrum van vooroordele jeens Afrika is daar die neo-romantici. As ’n hedendaagse afskaduwing van diegene wat in die agtiende-eeuse Europa nog na die Afrikaan as ’n ‘edel barbaar’ en ’n kontra-voorbeeld vir sy eie dekadente gekunsteldheid verwys het, slaan die neo-romantici eenvoudig ’n blinde oog vir die verantwoordelikheid van die Afrikaan om sy ekonomiese en politieke selfrespek te herstel. En vir die onus wat daar op die veelheid van gemeenskappe in hierdie verband rus. Neo-romantici raak met ’n soort Rousseauwiaanse blinkogigheid liries oor Afrika en sy maniere, geure en kleure. Tegelyk verplaas hulle alle skuld vir Afrika se talle probleme na die Westerse wêreld. Die Weste is boos, Afrika is die pure onskuld self, sê hulle. Geen selfvernietigende difaqane, sê hulle, het homself ooit tussen Afrikane afgespeel nie, nie in die verlede nie en ook nie in die postkoloniale era van vandag nie. Die ironie is dat die neo-romantici op ’n vreemde wyse skatpligtig aan die bourgeois-erfenis is. As laasgenoemde sê dat die bourgeois-lewenswyse nie meer moontlik is nie, sê die neo-romantici dat, gegewe die regte omstandighede, Afrika inderdaad dié lewenswyse sal kan verwerklik. As die neo-bourgeoisie dan ook tot magiese woorde soos ‘vooruitgang’ en ‘hiper-individualisme’ verbind is, is die neo-romantici ewe sterk daartoe verbind. Alhoewel hulle interpretasie van die oorsake ten grondslag van Afrika se krisisse verskil, stem hulle wat visies en ideale betref saam: vooruitgang geskoei op die ideale van die globale middelklas. Maar dit bring ons by ’n derde stel vooroordele van waaruit Afrika ervaar kan word. Dit is die Afrika van ‘selfrespekterende gemeenskappe.’ Wat word daarmee bedoel? Dit verwys na die feit dat daar vandag ’n plig op Afrika rus om sy selfrespek ‘van onder af’ en dus vanuit die gemeenskappe te herstel. Die eerste vraag waarmee die Afrikaan gekonfronteer is, is nie of hy/sy aan die eise van vooruitgang voldoen nie, maar of sy gemeenskappe self – demokraties – inhoud aan hulle veelheid van geskiedenisse gee. Dit is ’n vraag wat nie deur Smith se werk waarna hierbo verwys is, ter sprake gebring word nie. Daarmee word nie gesê dat ekonomiese opheffing onbelangrik is nie. Inteendeel, deur ’n voorspraak te maak vir demokraties selfstandige gemeenskappe (binne sterk gedesentraliseerde state, met die klem op sowel ‘sterk’ as ‘gedesentraliseerd’) word juis die voorwaardes vir sinvolle ekonomiese opheffing neergelê. Om die uitdaging waarvoor Afrika te staan gekom het aan die hand van neo-bourgeois- vooroordele om te keer en by dinge soos ‘ekonomiese vooruitgang’ (in plaas van demokraties selfstandige gemeenskappe) te begin, kan eerder die armoede van Afrika bestendig. Diegene wat deur die neo-bourgeois-benadering gekoöpteer is en die ‘voordele’ daarvan trek, is ’n miniskule fraksie uit die veelheid van gemeenskappe. Dit bring my by die inleidende nota. As die gemeenskappe van Afrika ’n sinvolle inspraak in hul eie wêrelde wil verwerf, sal hulle dit waarskynlik slegs in en deur onderlinge bondgenootskappe kan doen. Die dae dat die veelheid van gemeenskappe hulleself agter die skanse van state kan terugtrek, is verby. Die huidige ekonomiese, maatskaplike en politieke orde het die noodsaak daarvan opgehef. Daarmee sê ons nie dat die gemeenskappe nie skanse nodig het nie. Maar die skanse waarvoor voorspraak gemaak word, is nie die skanse tussen die gemeenskappe van Afrika nie, maar dié skanse wat juis dié gemeenskappe téén hulle politieke en ekonomiese ontwrigting vanuit die globale wêreld en vanuit hul eie elites beskerm. |