blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Krisis van die Franse arbeidsmark 2006-05-19
Christel Cattin

*Vertaler en werknemer van die Franse wynbedryf in Beaune, Frankryk

 

Ignacio Ramonet, redakteur van Le Monde diplomatique, vertel ’n deel van die verhaal oor wat verkeerd is met Frankryk in verlede maand se uitgawe van Die Vrye Afrikaan (“Frankryk is ‘siek’”). Maar daar is meer in die spel.

Frankryk het pas ’n tweemaandelange krisis deurgemaak as gevolg van die sogenaamde CPE (Contrat Premier Embauche - Kontrak vir ’n Eerste Aanstelling), ’n kontrak spesifiek gerig op jongmense, aangesien hulle die ergste gebuk gaan onder werkloosheid – met of sonder ’n diploma. Die aktiewe mobilisasie deur middel van optogte en blokkasies van universiteite, selfs enkele hoërskole, het diepliggende maatskaplike probleme in die Franse gemeenskap na vore gebring wat veel dieper lê as die CPE self.

As gevolg van die aansienlike druk wat la rue – hierdie spontane openbare en volgehoue teenkanting - op die regering geplaas het, is hierdie wetsontwerp teruggetrek. Twee onmiddellike gevolge skyn hieruit te kristalliseer: die regering het sy geloofwaardigheid tot ’n groot mate ingeboet in Frankryk en in Europa; hierdie krisis baan die weg om indringend en meer volledig ondersoek in te stel na die Franse opvoedkundige stelsel, die verhouding tussen openbare universiteite en die werksomgewing, aanstellingskriteria en werkskontrakte.

Jongmense het besef dat hulle gesien en gehoor word, en dat hulle aksies ’n baie konkrete resultaat tot gevolg gehad het: die terugtrekking van die wetsontwerp. Die feit dat hulle die ouer garde op hulle neuse laat kyk het en dat die Eerste Minister, mnr. Dominique de Villepin, gesig verloor het, gee hulle ’n sekere bevrediging en skep ’n splinternuwe politieke dinamika. Hierdie energie is soos ’n vars bries in die Franse politieke landskap wat deur énarques (alumni van die befaamde Ecole Nationale d’Administration) oorheers word en soos ’n private klub funksioneer.

Die wyse waarop verskillende studente-organisasies, sowel as organisasies wat hoërskoolleerlinge verteenwoordig met mekaar gekoördineer het om landwyd grootskaalse aksies te organiseer, sit die ou Franse tradisie voort van contestataire, of anti-establishment. Om die waarheid te sê, hierdie term is in die pers geskep tydens die opstande van 1968. Die vraag kan gevra word of ’n soortgelyke spontane, landwye mobilisasie ooit in Suid-Afrika - wat geen tekort aan redes vir so iets het nie - teweeg gebring sal kan word: die voortslepende misdaadsituasie, plaasmoorde, kinderverkragtings, korrupsie, …

Hierdie uitgerekte en volgehoue protes het wel ’n donker kant wat, vreemd genoeg, in skrille kontras staan met studenteleiers se bravade voor die alomteenwoordige televisiekameras gedurende die krisis. In verskeie debatte en gesprekke in die laaste weke het dit deurgesypel dat jongmense se reaksie op die wetsontwerp tot ’n groot mate deur vrees aangedryf is. Vrees vir die werksomgewing – om te wonder of ’n graad aan ’n openbare universiteit werklik waarde het in die werksomgewing; om werk te kry in ’n moeilike ekonomiese konteks; om nie goed genoeg te wees nie en dus maklik afgedank kan word. Vrees vir die toekoms – langer werksjare (tot minstens 65 jaar oud) om ’n volle pensioen te ontvang, oninspirerende salarisse, geweldige staatskuld. Vandag se studente sien reeds hoe dertigplussers slegter af is as die geslag voor hulle, en besef terdeë dat hulle in dieselfde bootjie is.

As daar wel ’n positiewe analise van die huidige situasie gemaak kan word, wil dit voorkom asof die betreklik geordende CPE-mobilisasie, tesame met verlede November se gewelddadige onluste, twee “aksies” wat jongmense vanoor die totale maatskaplike en kulturele spektrum betrek het, politici laat wakker skrik het en laat besef het dat jongmense vandag werklik besorg is oor hulle toekoms. Die huidige regering skyn ook te besef dat geen diepliggende hervormings aangepak sal kan word sonder dat alle verteenwoordigende instellings vooraf geraadpleeg word nie – waaronder studenterade, universiteitsowerhede, vakbonde en besigheidsleiers in die privaatsektor.

Dit het aan die lig gekom dat die Franse regering minder geld bestee aan ’n universiteitstudent as ’n hoërskoolleerling. Gevolglik wonder studente, en met reg, of hulle grade werklik op standaard is. Maar dit moet ook genoem word dat opleiding in Frankryk gratis is in openbare instellings vanaf kleuterskool regdeur tot op graadvlak. Daar is geen toelatingsvereistes nadat die baccalauréat (matriek) behaal is nie en studente kan na hartelus druip en van kursus verander terwyl die regering hulle studies met belastinggeld betaal.

Privaat universiteite, of écoles, soos hulle algemeen bekend staan, sluit almal verpligte internskappe (stages) by maatskappye as deel van hulle opleiding in. Wanneer studente hulle graad behaal, het hulle dus reeds praktiese ondervinding in ’n werksituasie. Hierdie praktyk vind nog bitter min plaas by openbare universiteite en sal waarskynlik in die nabye toekoms aangespreek word. Hopelik sal internskappe sommige vrese van studente besweer en hulle ook ’n beter insig in die werksomgewing gee. Die meeste studenteleiers wat aksies teen die CPE georkestreer het, het nog nooit een dag gewerk nie. Die mees sprekende voorbeeld hiervan is Bruno Julliard, 25-jarige leier van die studenteorganisasie UNEF. Hy het te midde die CPE-krisis tydens ’n televisiedebat erken dat hy nog nooit ’n salaris verdien het nie.

Die regering se afgewaterde alternatief nà die afskaffing van die CPE skenk spesifiek aandag aan jongmense sonder spesifieke kwalifikasies en aan jongmense wat uit minder gegoede voorstede afkomstig is. Die opstande van November 2005 skyn dus vrugte af te werp. Debatte word steeds gevoer oor aanstellingsprosedures, sonder dat daar spesifiek van ’n Franse weergawe van regstellende aksie gepraat word. Dit is algemene kennis dat ’n werksoeker met ’n Arabies-klinkende naam of met ’n “verkeerde” adres op sy curriculum vitae, ’n baie kleiner kans staan om aangestel te word as sy “tradisionele” Franse eweknie met dieselfde kwalifikasie. Hierdie frustrasie was een van die redes vir Novembermaand se uitbarstings – soveel te meer omdat hierdie jongmense van immigrante-afkoms hoofsaaklik tweede of derde geslag inwoners in Frankryk is en dus hier gebore is en grootgeword het.

Verder moet die uiters rigiede stelsel waaronder werkgewers gebuk gaan, nie uit die oog verloor word nie. Aangesien Frankryk ’n “maatskaplike” staat is wat na sy burgers omsien betreffende opleiding, mediese sorg, werkloosheidsversekering en pensioen, moet hierdie voorregte – Suid-Afrikaners sal dit waarskynlik so beskou, Franse beskou dit as ’n reg – uiteraard gefinansier word. Hierdie “charges sociales” maak ’n beduidende deel uit van die bedrag wat vir enige aanstelling begroot word, in sommige gevalle bykans 50%. Enige maatskappy moet dus werklik winsgewend wees om enige nuwe aanstelling te kan absorbeer. Werknemers word baie goed deur wette beskerm en dit is moeilik om iemand met ’n permanente aanstelling (CDI – Contrat à Durée Indeterminée) af te dank, selfs al is dit ’n leeglêer of iemand wat professionele foute maak. Werkgewers  is bewus van hierdie risiko en doen soms aanstellings vir ’n spesifieke periode (CDD – Contrat à Durée Déterminée) om hulsef te beskerm. Nuwe oplossings sal dus gevind moet word om werkgewers te motiveer om aanstellings te doen. Hopelik sal dit die ekonomie stimuleer en uiteindelik tot verdere werkskepping lei.

Laastens het die CPE-krisis die skynbaar onoorbrugbare kloof tussen werkgewer en werknemer in die kollig geplaas. In Frankryk bestaan daar ’n wedersydse agterdog in die werksomgewing. Werkgewers se situasie is reeds hierbo beskryf. Werknemers in die algemeen beskou hulle base as winsjagters wat daarop uit is om hulleself persoonlik te verryk. Moontlik sal gesprekvoering lei tot ’n beter wedersydse begrip van albei partye se onderskeie dilemmas en uitdagings in ’n hoogs mededingende omgewing.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=564
Artikel nagegaan:
    -