blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Oor Koos Malan se “Die plaaslike verkiesing en Afrikaners” (Die Vrye Afrikaan, 21 April, 2006) skryf dr. Corné Mulder (LP, VF+) uit Kaapstad 2006-05-19

In Volksblad van Woensdag 9 Janaurie 2002 skryf Koos Malan die volgende: “Die Mbeki-regering se proeftydperk is verby... Die Mbeki-regering is sorgvuldig geweeg en te lig bevind. Hierdie politieke beslissing word nou in die ekonomie ingefaktor en manifesteer in die kwyning van ekonomiese vertroue in Suid-Afrika gepaardgaande met waardeverlies van die geldeenheid.” Ten tye van hierdie stellings van Koos Malan was die wisselkoers van die rand teenoor die VSA dollar R12. Sedertdien het die wisselkoers van die rand met 50% herstel tot R6 teen die VSA dollar. Dit kan net een van twee dinge beteken: óf die Mbeki-regering is sedertdien weer geweeg en sommer skielik baie swaarder bevind, óf Koos Malan was doodeenvoudig verkeerd. In Koos Malan se ontleding van afgelope munisipale verkiesing skryf Koos Malan die volgende: “… die bevolkingsamestelling van Kaapstad met sy groot getal bruin en wit kiesers teenoor die minderheid swart kiesers het juis die oorwinning van die DA moontlik gemaak.” Koos Malan is ook hier weereens verkeerd. Dit is die wit kiesers in die Wes-Kaap wat nou ’n minderheid is – daar is reeds meer as 200 000 meer swartes as wittes in die Wes-Kaap. Koos Malan is ook verkeerd as hy beweer dat die VF+ in hierdie verkiesing by die stembus misluk het. Anders as die DA en ander partye wat beweer dat hulle die ANC by die stembus gaan verslaan is die VF+ met belangepolitiek besig. Die ANC het in 2000 en nou weer in 2006 slegs 39% van die steun in die Kaapse Metro kon behaal. Dis egter die DA wie se steun van 56% na 43% teruggesak het. Dis jammer dat Koos Malan nou meewerk om Afrikaners in ’n doodloopstraat te lei met sy oproep aan hulle om die DA te steun. Van sy stelling dat wanneer dit by die omsien na spesifieke Afrikaner-belange kom, belangeorganisasies en -instellings oneindig belangriker geword het as tevore kon ek nog geen teken kry nie.

 

- 1. Wat die herstel van ekonomiese vertroue in die Mbeki-regering betref, kon dit ook nie anders nie, aangesien dié regering indertyd bewys het korporasies en spekulante van oral oor op hom kan reken om arm Suid-Afrikaners verder in die grond in te boor en arbeid so skandalig goedkoop as altyd te hou. Nie juis die soort vertroue wat demokrate na smag nie, of hoe? 2. As u party miskien minder aandag gee aan “belangepolitiek” of die DA, en meer aan die uitspel van wat u beleid is of hoe om ’n party van die toekoms te word, soos u verteenwoordiger in die Noord-Kaapse Wetgewer, Carel Boshoff, in dieselfde uitgawe voorstel, sal u sukses ook miskien meer ooglopend wees. 3. Die feit dat u nog geen teken van die groter rol van belange-organisasies en –instellings onder Afrikaners kon kry nie, verraai dalk meer omtrent u uitkykpunt op die wêreld as wat u besef. – Red.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=561
Artikel nagegaan:
    -