blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Oor konsensuele geslagsverkeer en fondsinsameling vir Die Vrye Afrikaan skryf Kiri P Speyckermann uit Orania 2006-05-19

Ek skryf die volgende brief met ’n mate van huiwering aan u, nie omdat ek aan laat-Victoriaanse inhibisies ly om u-weet-wat in die openbaar te noem nie, eerder omdat die wereld van ’n Bill Gates bv. geleer het dat mens jou beste idees nie verniet rondstrooi nie.  Dink maar hoe sou Egipte gelyk het as Pythagoras se nageslag (en ek verkeer nie onder die wanindruk dat hy ’n Egiptenaar was nie, ek verreken maar net die feit dat hy sy beroemde stelling glo by die piramides ontwikkel het en dat niks nuwe moeilikheid onder die son is nie) ’n klein tantieme sou ontvang vir elke keer as ’n meetkundige sy beroemde stelling sou gebruik, of as Einstein sy naam of haarstyl as handelsmerke sou geregistreer het. Maar ek dwaal af.

                Ek deel my sonderlinge idee met u aangesien ek pynlik bewus is van die gevaar dat ’n neoliberale uitgewer van regsdokumente ons anders kan voorspring en my voorstel in Engels publiseer terwyl ons daarmee nie net ’n geweldige bres vir moedertaalontwikkeling in Suid-Afrika kan slaan nie, maar ook Die Vrye Afrikaan se finansiële sorge vir altyd kan agterlaat. My voorstel is naamlik dat Die Vrye Afrikaan ’n Praktiese Handleiding vir Konsensuele Geslagsverkeer (ook in sakformaat) in Afrikaans, Zoeloe en Engels (vir die internasionale mark en Stellenbosch) sal publiseer.

                Die handleiding kan onder meer uit die volgende bestaan: ’n vrywaring van nie meer as 2 bladsye nie, wat deur elke party onderteken word en waarin sake soos huwelikstatus, getal van huidige eggenotes, seksuele oriëntasie en ander toepaslike voorkeure en die tydelike tersydestelling daarvan vervat kan word; ’n verklaring dat geen party tot geslagsverkeer instem met die doel om ’n sameswering teen die ander party te bevorder nie; ’n verklaring van die bedoeling aangaande enige kledingstukke wat enige party te enige tyd tydens ’n ontmoeting aanhet, nie aanhet nie of uittrek; die bedoeling wat elke party onder bepaalde omstandighede met woorde soos ‘ja’, ‘nee’, ‘lekker’, ‘nog’, ‘aahhh’, en ander sal hê; wat elke party se MIV-status is, indien onbekend waarom dit onbekend is en ’n lys van 24-uur toetssentrums in Suid-Afrika, die wêreld en Stellenbosch vir die internasionale uitgawe, met selfs ’n verskoning vir enige moontlike onbeskermde seks in die verlede; voorbeelde van standaard kondome wat beskikbaar is soos 'Windpomp', Groot kokkedoor', 'Wat maak Oom Kallie daar', ens. en ’n posbestelvorm vir meer (want u weet, daar is nog diegene wat dit nie oor die toonbank wil koop nie!).

                Ten slotte sal ’n paragraaf of wat oor tydsberekening nie onvanpas wees nie. Ek dink ons almal sal besef dat hierdie nuwe omstandigede werklik hoë eise aan voornemende vryers gaan stel en dat dinge nie meer in die sekwensie sal gebeur waarmee ons grootgeword het nie. Soos enige versekeringsagent lankal weet, hang ’n man/ vrou se sukses af van jou vermoë om op die regte oomblik voor te stel stel dat die kliënt (nie dat hier noodwendig van kliënte sprake is nie!) sy/ haar gewaardeerde handtekening op die toepaslike lyntjie aanbring. (Dit mag dalk nodig wees dat daar by elke wysiging op die pro forma, bv. waar ’n blokkie gemerk is, te parafeer).  ’n Ervare prokureur se hulp mag hierby ingeroep word, veral as hy/ sy ook oor kennis van die reg beskik.

                Ek is van mening dat sodanige publikasie nie net vir die Suid-Afrikaanse publiek van waarde sal wees nie, maar ook die druk op die howe en die vervolgingsgesag sal verminder. Dit mag wees dat teen-verkragtingsaktivistegroepe deur ’n toename in kontraktueel bevestigde konsensuele geslagsgemeenskap benadeel kan word, maar dit kan nuwe energie teen euwels soos korrelbedkernkragsentrales ontsluit, wat gevolglik tot meer kersligaande kan lei en so aan, wat dan weer die omset van ons publikasie net kan verhoog.

                Met beste wense en goeie vooruitsigte!

 

- U meelewing is nog meer gewaardeerd as ’n raps voor middernag en ’n teken dat ons ons lendene moet omgord. U voorstel geniet dringende aandag, ofskoon u gids dalk buite rekening laat dat meeste Suid-Afrikaners nie kan of wil lees nie, en dat diegene wat kan lees nie noodwendig (in ’n gids) wil lees as dit by dié soort ding kom nie – Red. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=560
Artikel nagegaan:
    -