blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Gedig: Vir Johann 2006-05-19
Janine Maske

Ja jy wat kla oor my Sandtonse aksent

En daaroor

Weier om met my Afrikaans te praat

Jy wat jou isse en erre heeltemal deurmekaar het

Meer die erre waar die isse moet wees

Uit hiperkorrektheid

Jy wat op my drumpel staan

En verdere kritiek

Uit-assimmileer

In die nuwe plooie wat jy raaksien

No douBtabourit

Jy wat nie eers in jou eie taal

Kan spel nie

Afgesien daarvan

Dat die Afrikaanse ortografie

Vrot spellers soos jouself

In gedagte gehad het

Met die een-op-een-relasie

Tussen sê en skryf

Jy wie se Professor

Tot nou toe nie sy hoed verteer kon kry nie

Oor jy Afrikaans 3 geslaag het

Jy aan wie ek

’n Afrikaanse gedig opgedra het

Onthou jy dit?

Johann, Johann gee my ’n kan wyn

Vir die pyn van toesighou

En maak dit fokken gou

(Okei – ’n rympie)

 Jy wat nog nie jou waardering daarvoor

Uitgespreek het nie

Jy wat onverskillig is oor die voortbestaan

Van Afrikaanse Universiteite

Wat gaan jou verskoning wees vir jou

Mengels

Die dag as jou moedertaal irrelevant raak

Oor Afrikaansprekendes wat nie hul moedertaal

Met nie-moedertaalsprekers wil deel nie

En wat toegee met die eerste piep van

Engels Engels alles Engels?

Jy sal jou Engels dramaties moet opknap

En as jy hulp nodig het

Jus donkum nokkin at my frundoor. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=559
Artikel nagegaan:
    -