blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Bekende uitgewer se laaste boek; Breyten slaan eie rekord 2006-05-19
Kleinjan Schietekat

Die Vrypostige Afrikaan kan vandag onthul dat die gevierde uitgewer, Niemand & Marx, eersdaags hulle besluit om vanaf Afrikaanse na Engelse publikasies oor te skakel op baie besondere wyse gaan vier.

                Anke du Toit-Coetzer, bekende TV-persoonlikheid en aangewese hoof van Niemand & Marx, het aan Die Vrypostige Afrikaan gesê dat die firma beplan om meer as vyftig jaar se publisering van Afrikaanse boeke nou finaal af te sluit met ’n versamelbundel getitel Die allerlaaste Afrikaanse boek. “Ons was verstom deur die geesdriftige reaksie van ons voorste digters en skrywers. Een en almal was bereid om sonder vergoeding iets vir die bundel by te dra, en nie ’n enkele een was oor die sperdatum nie.”

                Du Toit-Coetzer sê die wonderlike geesdrif en vreugde wat met Die allerlaaste Afrikaanse boek gaande gemaak is, het die besluit om van Afrikaans na Engels oor te skakel vir almal by Niemand & Marx makliker gemaak. “Ons is eintlik tot die stap genoodsaak nadat die vorige ronde rasionalisering steeds nie ons wins hoog genoeg vir ons aandeelhouers kon kry nie. Hoewel ons hoofsaaklik in ligte leesstof en skatologiese poësie begin spesialiseer het, was ons nog nie uit die moeilikheid nie. Ons redding was ’n span Australiese konsultante, wat onlangs amazing werk by die Universiteit van Stellenbosch gedoen het. Hulle navorsing het uitgewys watter rol ons kan speel om Afrikaans van sy historiese bagasie te bevry. Dis hoekom ons nou voortaan net in Engels gaan publiseer, en hoekom ons besluit het om as simboliese gebaar Die allerlaaste Afrikaanse boek te publiseer. Die feit dat dit geen woorde bevat nie, het ook baie gehelp om die kostes laag te hou. Breyten Breytenbach het selfs vir ons ’n ironiese gedig as voorwoord geskryf. Die titel is Die huis van die bestuurders en dit bevat geen woorde nie, waarmee hy nou sy eie rekord vir die kortste gedig in Afrikaans geslaan het – Die huis van die dowes, wat net uit die woord ‘Hoesê?’ bestaan. Amper al die boeke in ons pakhuis gaan ook nou verpulp word, behalwe ’n klein besending wat op spesiale versoek van die digter, Kobus Jacobs, wat lid is van die SANAE-span in Antarktika, aan hulle biblioteek geskenk is.”

                Jacobs, wat per satelliettelefoon met ons gepraat het, sê hy het nie besef die boeke wat hulle binnekort kry, is al wat oor is van Niemand & Marx se voorraad nie. “Dis seker baie simbolies dat ons Afrikaans nou maar eers op ys moet hou. Gelukkig vrot niks in dié koue nie.”

                Du Toit-Coetzer sê die reaksie van al sewe oorblywende Afrikaanse boekkeurders was ook oorweldigend positief. Sy het van hulle  keurdersverslae aan Die Vrypostige Afrikaan gewys. Prof. Johanna Fourie, kenner van die Franse literêre teorie, skryf in haar verslag, “Derrida het gesê daar is niks buite die teks nie. Maar met Die allerlaaste Afrikaanse boek gaan Afrikaans ’n stappie verder, want daar is niks binne hierdie teks nie”.

                Op sy beurt skryf prof. Toks Hamelaar, wat bekendheid verwerf het met sy boek Die geboorte van die leser is die dood van die skrywer, in sy keurdersverslag, “Die genialiteit van Die allerlaaste Afrikaanse boek is dat die leser hier meer demokraties as ooit in die letterkunde behandel word: hy kan absoluut enigiets daarin lees.”

                Oënskynlik is Hamelaar nie ver van die kol nie, want die gewilde rubriekskrywer, prof. Elko Rompel, wat bekend is om sy bewondering van die Katolisisme en onwelvoeglike romans, skryf weer in sy verslag, “Ek kon al my fantasieë van selfflagellasie met hierdie teks uitleef!”

                Ook dr. Ertjies de Recht bevestig Hamelaar se insig. De Recht, gewild in HNP-kringe, skryf: “Die allerlaaste Afrikaanse boek is die beste bewys vir die oppergesag van die biologie en ras om ons wêreld te verklaar.”

                Laastens sê dr. Erna Steenkamp, spesialis in die Oosterse en Boeddhistiese poësie, “dat geen Afrikaanse boek al soveel vir stilte, leegheid en die niks gedoen het nie.”

                Du Toit-Coetzer verwag dat Die allerlaaste Afrikaanse boek, wat met ’n regstreekse uitsending op Kyknet sowel as die SAUK internasionaal bekendgestel gaan word, “binnekort Africana” sal wees. “En wat Niemand & Marx betref: ons het reeds drie Engelse do it yourself-boeke by die drukkers – die toekoms wink!”

                Die enigste vals klankie het gekom van die vermaarde filosoof en Nietzche-kenner, prof. Nardus Rapenhaler, toe Die Vrypostige Afrikaan hom om kommentaar op Die allerlaaste Afrikaanse boek genader het: “Op die hakke van ’n wêreld sonder God, volg daar nou ’n boek sonder woorde.”

                *Die allerlaaste Afrikaanse boek (Niemand & Marx, 182 bladsye, R109,00, BTW ingesluit, ISBN2202-6498) word aanstaande maand op Jeugdag – 16 Junie – net voor Sewende Laan op TV bekendgestel. ’n Spesiale eerste oplaag van 50 eksemplare, wat deur al Niemand & Marx se aandeelhouers onderteken is, is teen R1 000 elk te koop. Die eerste leser van Die Vrypostige Afrikaan wat die volgende vraag kan beantwoord, kan ’n kopie wen: Watter Afrikaanse rektor se outobiografie verskyn later vanjaar onder die titel How I managed my university into the ground? Stuur u antwoorde na [email protected] 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=558
Artikel nagegaan:
    -