|
||||
Nicolas Sarkis
*Hoof van die Arabiese Sentrum vir Olienavorsing en van die tydskrif Le Pétrole et le gaz arabes, Parys. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Die afgelope drie jaar het kommer oor die veiligheid van energievoorrade aansienlik toegeneem. Dit gaan nou nie net meer oor olie-uitvoere uit die Midde-Ooste, ’n streek met kroniese woelinge nie, maar oor die hele stelsel wêreldwyd rondom die produksie, raffineerdery en vervoer van olie en natuurlike gas. Alarm word al hoe meer gemaak deur sowel hoë politieke amptenare as onafhanklike deskundiges. In sy jongste tweejaarlikse verslag, World Energy Outlook, gepubliseer op 7 November 2005 en wat die tydperk van 2004 tot 2030 dek, druk die Internasionale Energie-agentskap (IEA) ’n feitlik algemene gevoel uit as hy beklemtoon dat “die risiko’s vir energie-veiligheid oor die kort termyn sal verskerp” en dat “die kwesbaarheid vir voorraadontwrigtings sal toeneem met die uitbreiding van internasionale handel” (1). In sy Nuwejaarsboodskap op 5 Januarie 2006 bestempel die Franse president, Jacques Chirac, op sy beurt die noodsaaklikheid om op die “na-olie-era voor te berei” as “die groot uitdaging van hierdie eeu”. Natuurlike gas, wat as die belangrikste alternatief vir olie beskou word, skep ook vrese, veral sedert die wêreld se grootste verskaffer, Rusland, vroeg in 2006 op brutale wyse sy lewering aan die Oekraïne en Georgië gestaak het en dit om beskikbaarheidsredes ingeperk het tot Hongarye, Oostenryk en Italië. Hierdie omwentelings word as kommerwekkend genoeg beskou om die kwessie van energieveiligheid ’n hoofonderwerp by die onderhandelings van die G8 se Ministeriële Vergadering in Februarie 2006 te Sint Petersburg te maak. Steeds in die naam van veiligheid verkondig die Amerikaanse president George W. Bush in sy “Staat van die Unie”-toespraak op 31 Januarie dat dit vir die VSA noodsaaklik is om sy afhanklikheid van olie- en gasinvoere af te skaal en “weg te beweeg van ’n ekonomie wat op olie gebaseer is”. Dieselfde geluide klink uit Europese geledere op, waar ’n byeenkoms van energiedeskundiges op 15 Februarie in Berlyn beklemtoon dat dit vir Europa van “strategiese belang” is om sy afhanklikheid van die Midde-Ooste en Rusland te verminder, en om veiligheidsmaatreëls, wat volgens Luc Werring, ’n hoë amptenaar van die Europese Unie, “’n wesenlike probleem” geword het, te verskerp. Waarom dan soveel vrese, juis noudat die Amerikaanse arend sy vlerke van hoek tot kant oor die provinsies van die Midde-Ooste, Sentraal-Asië en Afrika sprei, en olie-uitvoerlande nie skroom om die sluise oop te trek om die vinnig groeiende behoeftes die hoof te bied en ’n aanbodtekort te voorkom nie? Hierdie algemene gevoel van onsekerheid wat skielik sy kop uitsteek, is ligjare ver van dit wat baie verwag of gehoop het voor die Irakkese oorlog in Maart 2003 en Washington se oorname van ’n land wat volgens Saoedi-Arabië oor die grootste olievoorrade op die planeet beskik. Dit is ook heel anders as die sekerheid wat geheers het na die Golfoorlog 1990-1991 en die bevryding van Koeweit deur die VSA en sy bondgenote. James Schlesinger, minister van verdediging, voormalige hoof van die CIA tydens die Nixon-bewind en vervolgens minister van energiesake in president Carter se tyd, het destyds voor die Wêreldenergieraad se 15de kongres in September 1992 te Madrid die houding opgesom. Volgens hoë amptenare in die administrasie van Bush senior het hy gesê, “onthou die Amerikaanse volk net dít uit die Golfoorlog: dat dit baie makliker en lekkerder is om die mense van die Midde-Ooste onder hulle agterente te gaan skop as om opofferings te maak om minder afhanklik van ingevoerde olie te wees”. Schlesinger het sy uitlating geïllustreer deur te beklemtoon dat, ná die ineenstorting van die USSR en die verdwyning van die sowjetbedreiging van oliebronne in die Midde-Ooste, vrese rakende die veiligheid van voorrade skerp afgeneem het in die VSA, en dat die relatief lae olieprys, wat bydra tot die daling in nasionale produksie en die toename in invoere, toe nie juis ’n rede tot kommer was nie. Tweedens neem ’n mens waar dat die toneel oor die afgelope drie jaar ingrypend verander het. Pleks van te lei tot ’n sterk toename in Irakkese produksie en ’n daling in pryse, het die Irakkese inval in 2003 uitgeloop op sabotasies, ’n dreigende burgeroorlog en ’n agteruitgang in olieproduksie van 2,5 tot 1,5 miljoen vate per dag (2) in een van die grootste uitvoerlande. Gekoppel aan ander faktore het dit gelei tot ’n prysontploffing wat die gemiddelde oliepryse van OPUL (Organisasie van Petroleumproduserende uitvoerlande) van 24,36 dollar per vat in 2002 tot 50,58 dollar in 2005 laat klim het. Anders as die oliekrisisse van 1973-1974 en van 1979-1980, is hierdie totaal onverwagse styging en die nuwe besorgdheid oor veiligheid nie die gevolg van ’n embargo, ’n daling in uitvoere of die aanwending van “swart goud” as wapen deur die een of ander uitvoerland nie. Dit spruit uit twee reekse faktore. Die eerste is van ’n geopolitiese aard – die aanslae en politieke onbestendigheid in die Midde-Ooste, spanninge rondom Iran se kernprogram, etniese konflikte in Nigerië (3), ensovoorts. Die ander is nog meer sorgwekkend, omdat dit blywender is en die ewewig tussen vraag en aanbod raak. Ons het gesien hoe die styging in verbruikersbehoeftes met ’n onvoorsiene snelheid toeneem. Ná ’n gemiddelde groei van 1,54 per jaar in die periode van 1992 tot 2002 het die wêreldwye vraag met 1,93% in 2003 en 3,7% in 2004 toegeneem tot by ’n rekord van 82,1 miljoen vate per dag in 2004 en 83,2 miljoen in 2005. In totaal, en binne die bestek van slegs drie jaar, het die vraag na olie met 5,5 miljoen vate per dag gestyg. Sjina veral het die skouspelagtigste toename getoon met ’n sprong van 7,6% in 2003 en 15,8% in 2004. Hierdie toename het lande aangespoor om tot die maksimum van hulle vermoëns te produseer, tot by ’n punt waar hulle nie groter hoeveelhede olie kan ontgin nie. Voeg hierby die versadiging van vervoer- en raffineerkapasiteit, veral in die VSA, wat natuurlik die opwaartse spiraal van oliepryse gevoed het. Beskikbare skattings, onder meer deur die Internasionale Energie-agentskap (IEA) en die Amerikaanse departement van energiesake (DvE), toon dat verbruik wêreldwyd met bykans 50% oor die volgende 25 jaar sal styg, van 83,2 miljoen vate per dag in 2005 tot 115,4 miljoen volgens die IEA en 131 miljoen volgens die DvE, in 2030. Soos ’n onlangse advertensie van die Amerikaanse groep ChevronTexaco dit so mooi uitdruk, het dit die wêreld 125 jaar geneem om die eerste triljoen (1 000 000 miljoen) vate olie te verbruik, maar dit sal hom net 30 jaar kos vir die tweede triljoen, wat die totale huidige volume van bewese reserwes verteenwoordig. Hoe en teen watter prys kan daar in hierdie skerp stygende vraag voorsien word? Die antwoord op dié vraag hang van twee relatiewe veranderlikes af: aan die een kant die betroubaarheid van syfers wat aangaande reserwes versprei word, en aan die ander kant, die moontlike ontwikkeling van produksiekapasiteit. Hoewel dit niks nuuts is nie, is die twyfel oor die werklike volume van reserwes onlangs versterk deur die skerp afwaartse aanpassings wat sommige oliemaatskappye aangekondig het, asook deur nuwe skattings deur onafhanklike geoloë. Sover dit spesifiek lidlande van OPUL aangaan, het amptelike skattings reeds in die 1980’s vrae laat ontstaan toe die Golfstate die een na die ander begin het om ingrypende herevaluerings van hulle reserwes te doen sonder dat dit noodwendig altyd deur nuwe ontdekkings, prysverhogings of nuwe studies gestaaf is. Tussen 1985 en 1986 het die Verenigde Arabiese Emirate die amptelike beraming van hulle reserwes van 33,9 tot 97,2 miljard vate vasgestel. Saoedi-Arabië het syne met 50% verhoog van 169,6 tot 254,9 miljard vate tussen 1987 en 1988, terwyl Irak syne verdubbel het, van 32 miljard vate in 1981 tot 65 miljard vanaf 1983 (en 115 miljard vate vanaf 2001). Hierdie opblasery het gekom op ’n tydstip toe OPUL-lidlande ’n stelsel van ’n produksieplafon en nasionale kwotas wat volgens elke land se bewese reserwes vasgestel is, geskep het. Tussen 1983 en 1988 het OPUL se totale geraamde reserwes byvoorbeeld met 62% gespring, van 470 tot 761,4 miljard. Ander herevaluerings vir dieselfde lande het op 1 Januarie 2005 op 896,6 miljard vate te staan gekom. Sommige van hierdie aanpassings was natuurlik die gevolg van nuwe ontdekkings of tegnologiese vooruitgang wat ontginning versnel. Ander bly onderhewig aan voorbehoud, veral aangesien bykans al hierdie reserwes deur regeringsmaatskappye beheer word wat enige beheer of kontrolering deur buite-organisasies weier. Amptelike beramings van sogenaamd “bewese” OPUL-reserwes is ongeveer 400 miljard vate meer as dié wat deur onafhanklike private liggame gedoen is, onder meer deur die Association for the Study of Peak Oil (ASPO). Hierdie hoeveelheid, wat sommige deskundiges “fiktiewe vate” noem, stem ooreen met 44% van OPUL se amptelike skattings. Dit beteken natuurlik nie dat die syfers wat deur onafhanklike liggame voorgehou word, noodwendig nader aan die werklikheid is as dié wat die betrokke lande verkondig nie. Nogtans is die enorme verskil ’n aanduiding aan die een kant van hoe ingewikkeld die tegniese en ekonomiese kriteria is, en aan die ander kant hoeveel twyfel daar steeds aangaande die beskikbare gegewens bestaan. Hierdie twyfel word verder gevoed deur die feit dat die syfers wat deur sommige OPUL-lande gepubliseer word, soms vir lang tydperke onveranderd bly, asof elke vat wat geproduseer is, wonderbaarlik en onmiddellik deur ’n nuwe ontdekking of herevaluering vervang word. So het Irak se syfer van presies 100 miljard vate byvoorbeeld vir die hele tydperk van 1987-1995 onveranderd gebly, voordat hy dit na 115 miljard opgeskuif het. Net so verbasend is die voorbeeld van Koeweit wat tussen 1991 en 2002 glad nie sy beraming van 96,5 miljard vate vir sy bewese reserwes aangepas het nie, ongeag ’n produksietoename van meer as 8,4 miljard vate vir dieselfde tydperk. Op grond van gegewens wat blykbaar deur Koeweitse amptenare bekendgemaak is, bevestig die Amerikaanse weekblad Petroleum Intelligence Weekly in Januarie 2006 dat amptelike statistiek nie behoorlik onderskeid tref tussen bewese, waarskynlike en moontlike reserwes nie: bewese reserwes as sodanig verteenwoordig nie meer as 48 miljard vate nie ... Andersyds hang daar steeds onsekerheid oor die Russiese Federasie se bewese reserwes, sowel vanweë hulle ondeursigtige statistiek as weens die beramingsmetodes wat in hierdie lande toegepas word. Volgens sekere Westerse bronne sou die werklike volume 30-40% minder as die amptelike syfer van 72,3 miljard vate wees. Laastens, selfs wat internasionale maatskappye betref wat op die aandelemark genoteer is en deur statutêre ouditeurs en ouditeursmaatskappye gekontroleer word, heers daar sterk twyfel. Veral sedert die Shell-aangeleentheid: ná die drastiese daling in produksie van sy Yibal-bron in Oman en ander probleme elders in die wêreld, moes die maatskappy in Januarie 2004 erken dat sy bewese reserwes met bykans een-derde oorskat is. Enkele maande later kondig die Amerikaanse maatskappye El Paso ook ’n afwaartse aanpassing van ongeveer 11% aan. Meer onlangs, in Januarie 2006, moes die Spaanse groep Repsol-YPF ook die beramings wat hy tot in daardie stadium vir sy wêreldwye olie- en gasreserwes voorgehou het, met die ekwivalent van 1,25 miljard vate olie, oftewel 25% van die totaal, inkort. Soos in die geval van Shell het dit sy aandele in duie laat stort en tot regsgedinge deur aandeelhouers gelei. Nog ’n bron van kommer lê in die feit dat daar die afgelope twintig jaar meer olie uit die grond gehaal is as wat ontdek is. Sommige internasionale maatskappye wat sukkel om hulle produksievlak te handhaaf, koop wanneer hulle kan aandele in ander maatskappye. Die jongste voorbeeld is dié van ChevronTexaco wat in 2005 ten duurste betaal het om die onafhanklike Amerikaanse maatskappy Unocal, waarop die Sjinese regeringsmaatskappy CNOOC sy oog gehad het, te bekom. Sonder hierdie aankoop sou ChevronTexaco sy ontginde reserwes nie met meer as 40-45% in 2005 kon vervang het nie. Saam met die afname in ontdekkings en die daling, stadig maar seker, in die algehele verhouding tussen reserwes en produksie, hang daar ’n ander en meer onmiddellike bedreiging oor die oliemark. Dit is die agteruitgang in talle lande se produksie, en die ontoereikendheid van beleggings om die nuwe kapasiteite te ontwikkel wat nodig is om aan die vraag te voldoen. As gevolg van die afname in hulle produksie en die toename in hulle nasionale behoeftes is verskeie lande wat gister nog uitsluitlik uitvoerders van olie was, vandag uitsluitlik invoerders (Indonesië, Egipte en Tunisië, om nie van die VSA te vergeet nie), of loop hulle gevaar om dit binnekort te word (Gaboen, Oman en Sirië). In Mexiko het ’n studie deur die nasionale maatskappy Pemex in 2005 die vrees laat ontstaan dat ontginning heelwat vinniger kan afneem as wat gereken is, veral by die Cantarell-bron wat met sy 2 miljoen vate per dag byna 60% van die land se totale produksie verteenwoordig. En in die Noordsee voorsien die IEA dat die afname sal voortduur, van 6,6 miljoen vate per dag in 2002 tot 4,8 miljoen in 2010, en 2,2 miljoen teen 2030. Sal ander uitvoerlande betyds vir hierdie afname kan kompenseer? Dit is geensins ’n uitgemaakte saak nie. Wat die Midde-Ooste betref, waar produksie veronderstel is om van nou tot in 2025 te verdubbel om die groeiende wêreldvraag te dek, lyk die IEA en die Amerikaanse departement van energiesake se ramings heeltemal onrealisties. Slegs Saoedi-Arabië het ’n program geskep om sy huidige produksiekapasiteit van 10,8 miljoen vate per dag te verhoog tot 12,5 miljoen in 2009; elders lyk die vooruitsigte heelwat minder rooskleurig, veral in Iran, Irak en Koeweit. Die politieke toestand in Irak en spannings rondom Iran se kernprogram kniehalter die ontwikkeling van hulle kapasiteite. In Koeweit markeer die befaamde projek vir die kapasiteitsverdubbeling van vyf olievelde nou al tien jaar lank die pas, terwyl die ou bronne van Burgan en Raudhatain, wat vir 67% van die land se produksie sorg, tekens van uitputting begin toon. Teen hierdie agtergrond van ’n groeiende vraag na ’n hulpbron wat al hoe skaarser word, lê die grootste bedreiging vir die veiligheid van voorrade in die oneweredige verhouding tussen vraag en aanbod, en in die mededinging en risiko van botsings tussen die belangrikste verbruikerslande. Hierdie wedywering verklaar waarom die VSA, Europese lande, Sjina, Japan en Indië in ’n wedloop betrokke is om vastrapplek in lande met oliereserwes te kry, en om beheer oor die land- en seeroetes tussen produksiesentra en groot verbruikersgebiede te verkry. Die Irakse oorlog van Maart 2003, wat Washington in staat gestel het om Frankryk, Rusland en Italië uit dié land te stoot, die nuwe Bakou-Tbilissi-Ceyhan (BTC) oliepypleiding of die onlangse Duits-Russiese ooreenkoms aangaande die Noord-Europese Gaspypleiding (NEG) wat onder die Baltiese see gebou gaan word, is almal voorbeelde van groot bedrywighede om die betrokke lande se ernegiebehoeftes te beveilig. Sedert die embargo van 1973-1974 het die gevare ’n nuwe gedaante gekry. Die woord embargo is uit die uitvoerlande se woordeskat verban. Ironies genoeg is dit die geïndustrialiseerde lande wat olie as wapen teen uitvoerlande gebruik het en steeds gebruik, deur middel van VN-sanksies teen Irak in die tydperk 1990-2003 of Amerikaanse sanksies teen Libië en Iran binne die raamwerk van die Iran-Libya Sanctions Act (ILSA) (4), of teen Soedan. Strydig met ’n vooroordeel wat nie net absurd nie, maar ook gevaarlik is, vul die invoer- en uitvoerlande se belange mekaar objektief gesproke juis aan. Teenoor eersgenoemdes se regmatige erns om hulle olie- en gasinvoere te beveilig, staan laasgenoemdes se ewe regmatige en kardinale erns om hulle uitvoermarkte en -inkomste wat noodsaaklik vir hulle ekonomiese ontwikkeling is, te waarborg. Wat die verskille oor pryse betref, is daar juis ’n bedaring te bespeur. Die nuwe opwaartse neiging sluit aan by ’n dringende behoefte: die instemming tot kolossale beleggings ten einde produksiekapasiteit en ander duurder energiebronne te ontwikkel. Met olie wat gedoem is om al skaarser en duurder te word, verg die veiligheidskwessie nou ’n heel ander politieke benadering as dertig jaar gelede. Vyandighede en konflikrisiko’s lê nie meer soseer tussen uitvoer- en invoerlande nie, maar tussen die groot verbruikerslande waar die groeiende behoeftes en die afname in plaaslike produksie onvermydelik tot groter afhanklikheid van invoere, veral uit die Midde-Ooste, lei. Sommige ou formules vir sekuriteit, soos die diversifisering van geografiese verskaffingsgebiede of druk wat op produserende lande uitgeoefen word om steeds oorvloedige, goedkoop olie te bekom, is nie meer van pas nie. Die nuwe uitdagings kan slegs die hoof gebied word binne die raamwerk van verhoudings wat op ewewig tussen soewereine lande se belange gebaseer is.
_________ (1) http://www.iea.org/Textbase/press/pressdetail.asp?PRESS_REL_ID=163 (2) 1 vat = 159 liter. (3) Lees Jean-Cristophe Servant, “Olie op die vuur in Nigerië”, Die Vrye Afrikaan, 28 April 2006, jaargang 3 no. 6) (4) Die ILSA is in 1996 deur die Amerikaanse Kongres aangeneem. Dit is onder meer daarop gemik om buitelandse maatskappye wat meer as 40 miljoen dollar in die energiesektor in Iran belê, te penaliseer (die Libiese gedeelte is opgehef met die intree van ’n détente tussen Libië en die VSA). Hoewel hierdie teks nooit toegepas is nie, het dit sommige maatskappye daarvan weerhou om in Iran te belê. |