|
||||
In die vroeë 1980’s, oftewel die jare waarin mag en verdagmakery eerder as idees en die goeie argument bepalend was in die Suid-Afrikaanse samelewing, het ’n beroemde debat hom in die briewekolomme van Die Burger afgespeel. Aan die een kant was die sogenaamde “verligtes” – die politieke filosowe, Hennie Rossouw en Willie Esterhuyse – en aan die ander kant, die sogenaamde “oorbeligtes” – hulle departementele kollegas, Johan Degenaar en André du Toit. Terwyl dié here mekaar in die briewekolomme robuust dog saaklik die stryd aangesê het, sou hulle volgens oorlewering steeds heel gemoedelik saamverkeer in die teekamer van hul departemente. Om jou vandag dieselfde prentjie voor te stel as dit kom by leidende protagoniste in, sê, die Stellenbosse taaldebat, is haas ondenkbaar. Ook op nasionale vlak is die Praagse lente van saaklike, konstruktiewe debat klaarblyklik verby, te oordeel aan die wyse waarop, sê, president Thabo Mbeki sy kritici soms van rassisme of ’n gebrek aan patriotisme beskuldig, of minister Pallo Jordan onlangs na een van Suid-Afrika se voorste openbare intellektuele, professor Sipho Seepe, as “selfaangestel” verwys het. Selfs die briewekolomme van Die Vrye Afrikaan demonstreer soms hoe ver die standaard van die openbare debat geval het: ofskoon ons kritiek verwelkom en graag kritiese briewe publiseer, het ons alte dikwels te make met briewe wat ryk aan voortvarende venyn maar arm aan idees is. Hoe moet hierdie toedrag van sake begryp word? En is daar salf aan te smeer? Minstens vier redes kan vir dié toedrag van sake aangevoer word. Die eerste hiervan is die ystergreep uitgeoefen op die magsbalans in Suid-Afrika deur wat Moeletsi Mbeki elders in hierdie uitgawe beskryf as die “Mineraalenergiekompleks” (MEK), daardie monoliet wat reeds sedert die 1880’s die kern van die Suid-Afrikaanse ekonomie vorm, en wat enorme invloed op die universiteite en hoofstroommedia van Suid-Afrika uitoefen. Aangesien die MEK uitsluitlik geïnteresseerd is in stabiliteit ten einde ongestoord met sy sake voort te gaan, het hy geen belang by ’n werklike debat oor Suid-Afrika se politieke, ekonomiese en maatskaplike opsies nie. Die MEK is ’n meester met die koöptering van sy politieke opponente se program, veral deur hierdie program tot absolute waarheid te verhef, terwyl hy ook sy eie voorkeure in die openbare debat vaslê. Waar apartheid eens op ’n tyd as die finale oplossing vir Suid-Afrika se probleme voorgehou is, geld dit vandag die kombinasie van ekonomiese groei, transformasie en menseregte. Ekonomiese groei beteken toenemend groeiende ekonomiese ongelykheid, transformasie rassekwotas, en menseregte skynverdraagsaamheid. Terwyl die elite se rassesamestelling ’n effe gewysig is, verslap sy magsgreep nie ’n greintjie nie. Hoe kan daar in sulke omstandighede ’n vrye debat gevoer word? En is dit vreemd dat mense eerder skree om gehoor te word, as redeneer om verstaan te word? Tweedens is daar Suid-Afrika se betreding van die videosfeer met die koms van televisie in 1975, gevolg deur rekenaars en die internet. Soos elders in die wêreld het hierdie proses emosies bo redelikheid, onmiddellikheid bo tydsaamheid, impulsiwiteit bo besinning begunstig. Terwyl kommunikasietegnologie in beginsel vandag veel groter deelname deur Jan Publiek aan die openbare debat bring, lei groter toegang tot openbare fora dikwels tot die koestering van die eie stem eerder as van verskillende stemme. Eerder as ’n parlement van die mense het ons dus ’n kroeg van raserige outodidakte. Nêrens word dié verskynsel so goed gedemonstreer as deur die gesiglose skuilname wat hope verbale drek op webwerwe stort, sonder dat ons weet “wie sê” of wie “sê net”. Webmeesters of omroepers wat dié soort simboliese besoedeling in die naam van groter gehore en dus adverteerders of borge najaag, is medepligtig aan dié stank. Derdens is daar die skade wat die mark aan die markplein van idees doen. Die verheerliking van die vryheid van die mark is besig om die vernietiging van idees agter vryheid van spraak te vermom. Nêrens is hierdie proses meer vernietigend as in Suid-Afrika se universiteite, waarvan minstens sommige in die 1980’s werklik laboratoriums van denke was, maar nou in die naam van internasionale mededingendheid provinsiale takke van die Globale Onnoselheid word, en waar studente wat nie kan lees of skryf nie, grade kry sonder dat hulle ooit leer dink. Vierdens en laastens lei hierdie vernietiging van ons universiteite tesaam met die oorblyfsels van die ou kultuurboikot tot ’n skokkende parogialiteit onder Suid-Afrikaanse intellektuele, waarvan al hoe minder ’n derde of vierde taal van kennisbeoefening verstaan, of veel weet van wat buite die Anglo-Amerikaanse denkwêreld gebeur. By hulle is daar net so min ’n gesprek met Europa as met Suid-Amerika, Afrika of Asië. Terwyl die meeste intellektuele in Suid-Afrika vandag akademiese toeriste, hofdenkers of temende moraliste is, om maar te swyg oor die algemene luiheid om harde dinkwerk te doen, word dit al hoe makliker om die heersende wanorde klakkeloos na te praat, jou intellektuele kadawerskap agter ’n aanskyn van “progressiwiteit” te verdoesel, of jou opponente “neo-Afrikaners”, “settler intellectuals”, “coconut intellectuals” of watter ander etiket ook al te gee, sonder om ooit met hulle idees te stoei – of respek by die publiek af te dwing. Wat is die alternatief hierop? Die antwoord is, soos altyd, dieselfde: die onderhoud van lewenskragtige gemeenskapsinstellings, omdat dit plekke is waar ’n mens vergelykend en dialogies eerder as selftevrede in jou onnoselheid en onkunde handel; die uitbou van moedertaalonderrig en -gebruik in die openbare lewe, omdat moedertaal die basis van helder denke is; die skepping en verstewiging van alternatiewe media, omdat dit in die alternatiewe media oor waarheid eerder as wins gaan; die weiering om agter fatsoenlikheid en ordentlikheid te skuil ten koste van reguit, eerlike en deeglike openbare beredering van standpunte; en die volgehoue mobilisering van alle Suid-Afrikaanse burgers vir die uitbreiding van deelnemende demokrasie eerder as groei en ’n parlementêre praathuis bo alles. Op beskeie maar oortuigde wyse sal Die Vrye Afrikaan steeds daarna streef om ook haar deel tot hierdie stryd by te dra. |