|
|||
Dirk Hermann
*Adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit
Cosatu sê dit is ’n toer terug na die verlede, ’n poging om wit belange te beskerm, en speel die rassekaart. Hulle kritiek is dat die werkersklas verraai is en noem die linkse Christelike vakbonde in Europa regs. ’n Groep Afrikaner-intellektuele kla omdat Solidariteit nou die neo-kon-agenda omhels, en gee ontledings van die neo-kon waarin die arme neo-kons hulleself nie sal herken nie. Hulle sê die globale idees van die konserwatiewe Amerikaners breek die gemeenskapsidee af. Die voorstanders van die gemeenskapsidee kom egter uit ’n seksie van die konserwatiewe Amerikaners. Die linkse Amerikaners glo juis in die sentralisering van die regering, weg van die gemeenskap. Verdere kritiek was dat Solidariteit nie met die werklike regses in die VSA gepraat het nie, maar slegs met die polities korrekte hoofstroom-konserwatiewes. Ironies genoeg was niemand kwaad omdat ons met die linkses, liberales en kommunistiese proffies gepraat het nie. Waarskynlik ’n teken van die politieke korrektheid in Suid-Afrika. Aan die ander kant het steun ingestroom en het ons nog nooit soveel positiewe reaksie van Afrikaners oor ’n veldtog gekry as in die Europese en Amerikaanse steunwerwingsveldtog nie. Die energie wat die toer in Suid-Afrika losgemaak het, het die toer reeds die moeite werd gemaak.
Die kritici – en waarskynlik ook die ondersteuners – se kritiek en steun is deur die bank eendimensioneel en simplisties. Hulle kies die aspek van die toer waarvan hulle hou of nie hou nie, stel ’n strooipop op en skiet dit af of ondersteun dit. Die internasionalisering van ’n saak in die globale wêreld is net nie meer so eenvoudig nie. As ’n saak geïnternasionaliseer word, moet aansluiting by ’n verskeidenheid groepe en idees gevind word. By sekere groepe sal aansluiting met sekere idees gevind word, maar oor ander idees sal daar van dieselfde groep verskil word. Vir Afrikaners lê die oplossing nie in aansluiting by die konserwatiewe of liberale Amerikaners nie, nie by anti- of pro-globaliste nie, nie by ons stamlande of Afrikalande nie, nie by voorstanders of teenstanders van regstellende aksie nie, maar by almal. Die internasionalisering van ’n saak in die hedendaagse wêreld verg meer studie oor meer groepe en ’n goeie dosis politieke buigsaamheid. Afrikaners moet ook besef dat Afrikaner lank nie meer ’n eendimensionele begrip is nie. Verskillende Afrikaners het verskillende idees oor Afrikaners en sal dit verskillend in die buiteland hanteer. Ek gaan die uitdaging van die internasionalisering van Afrikaners se saak hanteer aan die hand van Solidariteit se onlangse toer na die VSA en Europa, en sal dit prakties aan die hand van enkele temas verduidelik. In Europa praat ons met die Hollanders oor die taal, maar nie ras nie. In België praat ons met die Vlaminge oor identiteit, maar nie geloof nie. Ons praat met die grootste vakbondfederasie in België oor geloof, maar nie identiteit nie. In die VSA praat ons met sekeres oor die ekonomie, maar nie identiteit nie. Ons kritiseer die konserwatiewes oor die sentralisering van die ekonomie in globale multinasionale maatskappye, maar vind aansluiting by die idee van minder staat en minder belasting. Ons kritiseer die linkses oor sentralisering van die ekonomie in die regering en vind aansluiting by sekere maatskaplike idees en gesindheid teenoor werkers. Ons voel tuis met die fokus van die konserwatiewes op waardes, maar verskil oor die ontkenning van minderhede. Van sekere konserwatiewes verskil ons oor die onkritiese aanhang van die neoliberale globale ekonomie, met ander vind ons aansluiting oor die idees van selfstandige gemeenskappe. Met Amerikaanse vakbonde praat ons oor werkerskrag, maar nie die ekonomie nie, met Europese vakbonde praat ons oor ’n sosiale vrye mark en die selfstandigheidsidee in vakbondwese. As dit by regstellende aksie kom, praat ons met die konserwatiewes oor meriete, die ekonomie, gelykheid en billikheid, met die linkses praat ons oor diversiteit en minderhede. ’n Multivlak-benadering tot ons saak. Die uitdaging van die benadering is ’n in-diepte kennis van politieke nuanses van ander groepe en ’n duidelik gedefinieerde idee oor jou eie saak. Jy moet weet wat om wanneer vir wie te sê. Ons kom terug van die buiteland met vriende wat steun belowe oor taal, identiteit, regstellende aksie en ondernemings vir navorsingsteun oor die ekonomie en minder regering, selfstandige gemeenskappe, vakbonde in die vrye mark en vakbonde in die Christelike tradisie. Baie vriende oor baie kwessies. Indien ons met die ou vooropgestelde idees oor die nuwe imperialisme van die neo-kons, die waardelose linkses, die onbuigsame regses, die liberale Europeërs, die anargistiese anti-globaliste, die selfsugtige neoliberale kapitaliste, die anti-werker Republikeine, die pro-regstellende aksie Demokrate op die toer vertrek het, het ons huis toe gekom met die boodskap dat Afrikaners nie vriende het nie. Ons het daarenteen huis toe gekom met sterk stemme van steun oor ’n balansbenadering tot regstellende aksie, die Christelike tradisie van vakbondwese en die vrye mark, idees oor selfstandige gemeenskappe en nog vele meer. Die internasionalisering van jou saak gee jou toegang tot groter forums en aansluiting by mense uit dieselfde ideëwêreld. Die fokus op die Europese been van ons toer was skakeling met vakbonde wat, soos Solidariteit, in die Christelike tradisie staan. In Europa is dit nie ’n vreemde verskynsel nie, met die Algemene Christelike Vakverbond as die grootste vakbondfederasie in België. Daar was tog ’n taalbegrip by die groepe, maar kwessies soos regstellende aksie en probleme van Afrikaners het ons liewer buite die deur gelaat. Dwarsoor die wêreld kan daar in breë terme tussen twee vakbondbewegings onderskei word. Die een val in die sosialistiese tradisie en die ander in die Christelike tradisie. Die onderskeid tussen die twee kan ook opgesom word in die woorde “afhanklikheid” en “selfstandigheid”. Die sosialistiese tradisie glo in afhanklikheid van die staat of die maatskappy. Mag moet in die staat gesentraliseer word, hoër belasting met groot maatskaplike programme en herverdelingsinisiatiewe. Mag moet ook in die maatskappy gesentraliseer word en maatskaplike hulp moet weer gedesentraliseer word. Die maatskappy is verantwoordelik vir wieg-tot-graf-dienste soos medies, pensioen, opleiding en maatskaplike hulp. Die Christelike tradisie glo in die roeping van die werker om self verantwoordelikheid te neem. Die gemeenskap is belangrik en eerder die gemeenskap as die staat moet verantwoordelikheid vir lede van die gemeenskap aanvaar. Die maatskappy, veral in die inligtingsera, hoef nie meer verantwoordelikheid te neem vir wieg-tot-graf-dienste nie. As jy by die Algemene Christelike Vakverbond – met 1,7 miljoen lede – se kantore instap, sien jy teen die kennisgewingbord inligting oor ’n eie mediese fonds, aftreefonds, opleidingsbeen, maatskaplike been, eiendomsmaatskappye en nog vele meer. Die vakbondbeweging het 3 000 werknemers. Hy glo in die selfstandigheid van sy lede. Die vakbond word dus as instrument van die gemeenskap die kollektiewe instelling wat selfstandige instellings op die been bring. Die werkers staan nie meer afhanklik van die werkgewer nie, maar is grootliks selfstandig. Duisende kilometers van Suid-Afrika af vind ons vriende wat op grond van ’n waardestelsel dieselfde vakbondmodel ontwikkel het, sonder dat ons mekaar geraadpleeg het. As jy by Solidariteit se kantore instap, vind jy inligting oor ’n maatskaplike been, ’n opleidingsbeen, ’n finansiële dienstemaatskappy, ’n aftreeplan, ’n indiensplasingsmaatskappy en nog vele meer. Solidariteit word nou deel van ’n globale ideëwêreld, en in die praktyk gaan die vakbond deel word van ’n nuwe internasionale Christelike vakbondforum met miljoene lede dwarsoor die wêreld. Die internasionalisering van jou saak kan jou skielik aan die moreel regte kant plaas. Regstellende aksie in Suid-Afrika is ’n heilige koei. Daar mag nie daaroor gepraat word nie, want regstellende aksie is die regte ding om te doen. Maak nie saak wat daar onder die vaandel van regstellende aksie gedoen word nie, dit is reg. Met Solidariteit se besoek aan die VSA is samesprekings met die Internasionale Arbeidsorganisasie gevoer. Die IAO-konvensie 111 bepaal dat daar geen diskriminasie op grond van ras by indiensnemingspraktyke mag voorkom nie. Daar word wel voorsiening gemaak vir die uitsondering van regstellende aksie. Hierdie uitsondering word dan duidelik gedefinieer, en die definisie bepaal dat dit tydelik en remediërend moet wees. As ’n regstellingsprogram nie aan dié twee vereistes voldoen nie, tel dit nie as ’n uitsondering op die anti-diskriminasie konvensie nie en word sodanige program dus as ’n verbreking van die konvensie beskou. Dit is veral oor hierdie besoek dat COSATU woedend was. Hoe durf ons sê dat regstellende aksie aan internasionale norme moet voldoen? Regstellende aksie is dan die hoogste gesag in Suid-Afrika en nie internasionale konvensies nie, al het Suid-Afrika dit bekragtig. Ons besoek aan die VSA was grootliks op regstellende aksie toegespits. Ons het talle navorsingsinstitute besoek en die onderwerp met hulle bespreek. ’n Deurlopende tema wat ons gevind het, is dat regstellende aksie in Suid-Afrika nie aan die internasionale norme van regstellende aksie voldoen nie. Daar is veral steun beloof vir die vestiging van navorsingstrukture in Suid-Afrika. Die vestiging van die konserwatiewe beweging in die VSA het twee sleutelkenmerke gehad. Eerstens was dit die vestiging van navorsingstrukture. Die konserwatiewe idee is dus eers ontwikkel. Tweedens - en byna gelyktydig met die vestiging van die navorsingsinstellings - was die vestiging van alternatiewe kommunikasiemedia. Die een navorsingsinstelling het dit gestel dat dit nie net die stem is wat belangrik is nie, maar ook die eggo van die stem. Solidariteit het ook reeds ver gevorder met die ontwikkeling van idees oor alternatiewe kommunikasiemedia. Die internasionalisering van ons idees oor regstellende aksie het waarde gehad in terme van inligting ingesamel, steunwerwing, maar veral in die verkryging van selfvertroue. Met Suid-Afrika in die globale prentjie is ons balansbenadering tot regstellende aksie die regte ding om te doen. Solidariteit staan in ’n beweging wat glo aan die selfstandigheid van gemeenskappe en soek voortdurend idees op wat daarmee aansluiting vind. Ironies genoeg word hierdie idees in die VSA in die konserwatiewe beweging aangetref, en wel onder die sosiaal konserwatiewes en veral sterk gesetel onder die swart konserwatiewe Amerikaners. Die beweging, ook genoem die selfhelpbeweging, het sy idees aan Booker T Washington te danke. Hy het ongeveer 100 jaar gelede betoog vir die selfstandigheid van die swart gemeenskap in die VSA. Teenoor Washington het W.E.B. du Bois gestaan. Du Bois was ’n burgerregte-aktivis en het geagiteer vir ’n politieke oplossing. Sy idees was waarskynlik takties reg vir die politiek van die dag en het beslag gevind in die burgerregte-wetgewing van 1964. Die burgerregte-wetgewing het egter min te doen gehad met die verbetering van die sosio-ekonomiese posisie van swartes in die VSA. In ’n Gallup-opname sê die meerderheid swartes dat die selfhelp-idee meer gedoen het vir die verbetering in die posisie van swartes as regstellende aksie, ’n uitvloeisel van die burgerregte-wetgewing. Daar is tans ’n herwaardering van die selfhelp-idee deur Amerikaanse skrywers en ekonome. Die idee staan teenoor die liberale ‘great society’, maar laat dit nie aan die mark oor om die gemeenskap te voorsien nie. Die mark is per se individualisties, en welvaart in die globale mark vloei nie noodwendig deur na die gemeenskap nie. Die selfhelp-idee vra vir ’n derde weg, naamlik selfstandige gemeenskappe. Die idee steun sterk op selfstandigheid deur arbeid, ’n waardegedrewe gemeenskap met die klem op gesinswaardes en eie selfstandige instellings. Ons het noue aanklank gevind by die herwaardering van Booker T Washington en die idees oor die selfstandige gemeenskap. Ook op hierdie vlak het ons goeie vriende gemaak met die Heartland Institute in Chicago, ’n swart navorsingsinstituut, wat sterk op die idees van Booker T Washington steun. Hulle het ’n aanbod van hulp gemaak om ’n navorsingsinstituut in Suid-Afrika te ontwikkel om die idees aangaande selfstandige gemeenskappe verder te ondersoek. Die Solidariteit-afvaardiging het huis toe gekom met meer kennis, meer selfvertroue, meer steun aan die tuisfront en meer vriende in die buiteland. |