|
||||
Roger Gaillard
*Joernalis, Agence de presse InfoSud, Genève. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Die lang maer man in die turkoois gewaad spring met ’n vaart orent en gryp die mikrofoon. Met trillende stem en bokbaardjie, wysvinger gestrek na die waaiers wat sukkel om die warm lug van die middaguur te roer, spreek hy die gehoor aan in Bambara, die taal van die streek: “Hoekom vra hulle ons, arm kleinboere, om GM-gewasse te aanvaar as die ryk boere van die Noorde dit nie wil hê nie?” ’n Instemmende gemurmel rys uit die aanwesiges, dan gaan die handmikrofoon na ’n jong boerin met haar baba op die heup: “Wat help dit ons word gedruk om meer te produseer met GM-gewasse, as ons al klaar nie ons oeste teen ’n ordentlike prys kan verkoop nie?” Die toneel speel hom af in Sikasso, ’n vreedsame dorpie in die suide van Mali, in die hart van ’n landelike provinsie wat twee-derdes van hierdie land, een van die armstes in Afrika en in die wêreld, se belangrikste inkomstebron, naamlik katoen, produseer. Vyf dae lank, van 25 tot 29 Januarie 2006, het ’n verstommende vertoon van deelnemende demokrasie 43 kleinboere hier byeengebring, onder meer heelparty vroue. Op versoek van Sikasso se streeksraad (die provinsiale parlement), het hierdie katoenkwekers, afkomstig vanuit die hele streek, hulle dit ten doel gestel om ’n burgerlike jurie saam te stel om die voor- en nadele van die moontlike inbring van geneties gemanipuleerde (GM) gewasse in hulle land se landbou te ondersoek. Onder die benaming ECID (“Espace citoyen d’interpellation démocratique”, ’n burgerlike forum vir demokratiese gesprekvoering), met verwysing na organe vir openbare debat wat reeds stewig in Mali gevestig is, geniet hierdie jurie – ’n “eerste” in Wes-Afrika – die steun van Europese bondgenote wat aktief betrokke is by die bevordering van deelnemende metodes om tegnologiese en politieke ontwikkelingskeuses te evalueer.(1) Die Sikasso-forum moet gesien word binne die konteks van sterk druk wat op Afrikalande uitgeoefen word deur multinasionale voedselproduserende maatskappye, in die eerste instansie die Amerikaanse Monsanto en die Switserse Syngenta, wat hulle beywer om die landbousektor te industrialiseer en om markte vir transgenetiese gewasse oop te stel. (2) In die besonder Bt katoen, wat ’n doeltreffende gifstof teen sommige peste vervaardig – wat dit teoreties moontlik maak om die gebruik van plaagdoders te verminder en beter oeste vir kleinboere te waarborg. Aangesien Wes-Afrika die derde grootste bron van katoen ter wêreld is, is daar heelwat op die spel vir hierdie firmas wat die steun geniet van die VSA Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAid), met sy begroting van 100 miljoen dollar om biotegnologie in die lande van die suidelike halfrond te laat posvat. Die vasteland se reaksies op hierdie soort druk is van uiteenlopende aard. Zambië, hoewel hy hongersnood in die gesig staar, het hulp van die hand gewys van die internasionale voedselprogram, wat berug is vir sy oormaat geneties aangepaste mielies uit die VSA, terwyl Benin hierdie twyfelagtige hulp aanvaar het, hoewel hy in 2002 ’n vyf-jaar-moratorium op GM-gewasse aanvaar het. In Suid-Afrika, ’n voorloper in die voedselnywerheid, word transgenetiese katoen en mielies reeds byna ’n dekade lank geproduseer, met kontroversiële resultate, en in Burkina Faso, Mali se buurstaat, vind proefnemings met transgenetiese katoen sedert 2003 openlik in landerye plaas, in weerwil van teenstand uit verskeie sektore in die gemeenskap. Opmerklik aandagtig regdeur die proses se verloop, het die jurielede geluister na ’n vyftiental kundige getuies afkomstig uit Wes-Afrika, Suid-Afrika, Indië en Europa. Molekulêre bioloë, landbou-ingenieurs, lede van nieregeringsorganisasies (NGO’s) en afgevaardigdes van boerebewegings het geantwoord op wyd uiteenlopende vrae oor die voor- en nadele van GM-gewasse: omgewings- en gesondheidsrisiko’s, werklike toename in produktiwiteit, sosio-ekonomiese faktore, etiese en regsvraagstukke, om nie te praat van die kulturele faset nie – des te meer gelaai omdat dit dikwels onderbewus is. In Bambara heet GM-gewasse Bayérè ma’shi (“voedende moeder wat omvorm is”): in die animistiese wêreldbeskouing wat nog sterk aanwesig is in Mali, ten spyte van ’n Moslem-vernislagie, val die bloot fisiese implikasie van genetiese manipulasie – die neem van gene uit een spesie om hulle in ’n ander een te sit – steurend op vele ore. Die grondliggende probleem van intellektuele eiendomsreg en patentreg op lewende organismes is langdurig ondersoek, onder meer deur ’n genetikus uit Benin, Jeanne Zoundjihekpon, van die vereniging Grain: “Bt saad word beskerm deur patente wat aan maatskappye absolute mag oor die boere gee. As kleinboere saad uit een oes oorhou om die volgende jaar te plant soos wat hulle altyd gemaak het, kan hulle voor die reg gedaag word.” Dis ’n argument wat verontwaardiging ontlok, des te meer aangesien die katoenbedryf in Wes-Afrika ’n krisis beleef, soos beklemtoon is deur Mamadou Goïta, bestuurder van die Koalisie teen GM-gewasse en vir die beskerming van genetiese erfenis in Mali. Die Malinese tekstielkompanjie CMDT, waarvan 60% aan die staat behoort en 40% aan die Franse firma Dagris, is in die skuld vanweë die devaluering van die CFA Franc en die ineenstorting van die wêreldprys van die “wit goud” – en dit ondanks die feit dat sy jaarlikse produksie van 320 000 ton in 1994 tot 600 000 ton in 2005 gestyg het. Die maatskappy se privatisering is vir 2008 in die vooruitsig gestel, op aandrang van die Wêreldbank wat dit ’n verpligte voorwaarde maak vir enige geldelike hulp aan die Bamako-regering. As gevolg van dié skuld, het die prys wat die CMDT aan produsente betaal, van 210 CFA Franc per kilo in 2004 gedaal tot 160 CFA Franc in 2006 (ongeveer R1,88), terwyl die koste van chemiese insette toenemend styg. In hierdie omstandighede is katoen nie meer winsgewend nie, en talle kleinboere wat tot dusver uitsluitlik daarmee geboer het, dink nou daaraan om hulle tot voedselproduserende boerdery (heuning, mielies) te wend. Mamadou Goïta doen nog ’n voorstel aan die hand: “Biologiese katoen kan ’n bate wees op die Europese mark waar daar sterk menings teen GM-gewasse is. Die magsverhoudings is in ieder geval te ongelyk met moondhede soos die VSA wat ’n stortingsbeleid voer en hulle eie katoenkwekers massiewe subsidies gee: 4 miljard dollar per jaar vir 25 000 produsente, terwyl katoen in Mali 3 miljoen mense aan die lewe hou.” Die multinasionale firmas wat genooi is, het geweier om hulle saak voor die kleinboere se jurie te kom stel. “Ons het herhaalde beroepe op die Syngenta-stigting en die Monsanto-maatskappy gedoen,” verklaar Barbara Bordogna, ’n bioloog in die Interdissiplinêre Bioveiligheidsnetwerk in Genève (RIBios) en lid van ECID se loodskomitee, “maar die firmas lyk onwillig om betrokke te raak in ’n ope, deursigtige debat waaroor hulle nie beheer het nie.” Monsanto het nietemin boere aanbeveel wat hy weet goedgunstig jeens sy saak staan. Uit Suid-Afrika was daar byvoorbeeld T.J. Buthelezi, wat sedert 1996 Bt-katoen kweek en sy toehoorders verseker het dat die resultate geen twyfel laat nie. Die hektare waarop transgenetiese katoen gesaai is, het onder meer ’n oorstroming oorleef wat konvensionele plante verwoes het, en sedertdien het hy hom geheel en al tot GM-gewasse gewend, insluitend die mielies wat hy self eet, sonder dat dit enigsins sy gesondheid benadeel. “Maak soos ek, word ryk!” was sy raad aan die Malinese kleinboere. Uit Andhra Pradesh, ’n staat in sentraal-Indië, het P.V. Satheesh darenteen ’n metodiese studie voorgelê wat oor drie jaar gedoen is, en wat toon dat kwekers van tradisionele katoen in sy streek beter oeste gehad het as dié wat met transgenetiese katoen geëksperimenteer het, en dat Bt-variëteite boonop beswaarlik minder plaagdoders benodig as die konvensionele variëteite. Die hoë koste van Bt-saad, tesaam met teleurstellende opbrengste, het tot vele kleinboere se ondergang gelei. Nadat alle eise om skadevergoeding kategories deur Monsanto verwerp is, het die staat Andhra Pradesh onlangs die maatskappy verbied om op sy grondgebied werksaam te wees. Naas dié uiteenlopende getuienisse was daar ook tussenposisies te hoor, onder meer dié van Ouola Traoré, landboukundige en hoof van die katoenprogram by die Nasionale Insitituut vir die omgewing en landbounavorsing (INERA) van Burkina Faso, waar Bt-katoen sedert 2003 getoets word met die oog op kommersialisering teen die jaar 2010. “Slegs uitgebreide navorsing met plaaslike variëteite wat by ons klimaat aangepas is, kan bepaal of GM-gewasse ’n oplossing vir die toekoms in Wes-Afrika bied,” verklaar hy. Maar sy pleidooi vir ’n onafhanklike, openbare Afrika-navorsingsprogram het min geesdrif by die agterdogtige gehoor ontlok, wat maar te deeglik bewus is van hoeveel die vasteland se wetenskaplike instansies staatmaak op befondsing van drukgroepe met belange in die ontwikkeling van biotegnologieë. Onderverdeel in verskeie kommissies – onder meer een wat uitsluitlik uit vroue bestaan het, na gelang van die grootte van hulle boerderye – het die jurielede ’n hele dag lank beraadslaag voordat hulle uitspraak gelewer het: ’n onomwonde nee. Die kleinboere wat in Sikasso byeengekom het, het eenstemmig geweier dat GM-gewasse in Mali ingebring word. Hulle grootste besorgdheid is om plaaslike saadsoorte asook tradisionele kundigheid te beskerm, om te verhoed dat hulle van multinasionale maatskappye afhanklik raak: “Ons wil baas van ons eie landerye bly, ons wil nie slawe word nie,” aldus een van die woordvoerders, Brahim Sidebe. Op sy beurt het Birama Kone die klem geplaas op die behoud van ’n gemeensame lewenswyse: “Ons boere is gewoond om mekaar te help, en GM-gewasse kan dalk ons sin vir vriendskaplikheid en eensgesindheid vernietig. As ek ’n GM-landery het en my buurman het nie, sal die probleem van kruisbestuiwing botsings tussen ons veroorsaak.” Een van die vroulike afgevaardigdes, Basri Lidigoita, het voorgestel dat navorsing gedoen word oor die verbetering van plaaslike saadsoorte deur middel van klassieke landboutegnieke, en beter opleiding van die kleinboere, byvoorbeeld in biologiese landboumetodes. Die jurie se voorstelle is op 29 Januarie aan die Sikasso-streeksraad oorhandig en bekendgemaak op plaaslike radiosenders, wat daagliks die debatte uitgesaai het, asook deur die Malinese TV-sender. Die voorstelle het geen dwingende krag nie, maar niks verhoed dat daar op hulle ag geslaan word nie, aangesien Mali die Kartaagse protokol (3) op biodiversiteit onderteken het. Die wetsontwerp wat daaruit voortvloei, maak in der waarheid voorsiening daarvoor dat openbare deelnameprosesse op nasionale vlak georganiseer word voordat enige GM-gewasse die land ingebring word, selfs vir navorsing. “Ons wil geen GM-gewasse hê nie, nie nou nie, en ook nie later nie,” het mev. Lidigoita se uitroep geklink, “en ons vra ons regering om te keer dat dit ons gebied binnekom. En as enige kleinboere dit onwettig kweek, sal ons hulle landerye afbrand!” _________ (1) Onder meer RIBios (Réseau interdisciplinaire biosécurité), wat ’n diplomakursus vir voortgesette onderrig in bioveiligheid aan die universiteite van Genève en Lausanne organiseer, en binnekort ook in Bamako. http://www.ribios.ch (2) Lees Tom Amadou Seck, “Die stryd om oorlewing van Afrika se katoenbedryf”, Die Vrye Afrikaan, 20 Januarie 2006, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=457. (3) Die Kartaagse Protokol op die voorkoming van biotegnologiese gevare is aanvaar onder die Konvensie oor biologiese diversiteit, en is gemik op die bevordering van “die risiko-vrye oordrag, manipulering en gebruik van aangepaste lewende organismes wat spruit uit die moderne biotegnologie, met inagneming van gevare vir menslike gesondheid, met die klem in die besonder op bewegings oor landsgrense heen.” Teen die sperdatum van 4 Junie 2001 het 103 lande die Protokol-teks onderteken. |