blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Tsotsi 2006-04-26
Stefan Louw

*Leraar, NG-gemeente Melville

 

Die vraag na redemption – verlossing en die herstel van waarde –  is een van die mees wesenlike vrae van ons tyd. In Tsotsi staan hierdie vraag sentraal.

Afrikaans het nie ’n akkurate vertaling vir redemption nie. Ja, vryspraak, verlossing, bevryding, vrymaking, redding, delging, lossing. Nie een van hierdie woorde slaag op sigself daarin om die omvattende emosionele, religieuse, ekonomiese en wetregtelike skakeringe van redemption uit te lig nie. Die konsep verdien verdere aandag.

Redemption, of die werkwoord redeem, is in oorsprong ’n handelsterm wat die handeling aandui waardeur iets van waarde wat verloor of afgestaan of prysgegee is, teruggekoop of regmatig teruggekry word deur die prys daarvoor te betaal. Iets waardevols word van jou weggeneem, wat onafwendbaar lei tot ’n verlies aan waarde, gewoonlik as gevolg van skuld wat aangegaan word, en die daad om dit weer terug te kry, is om dit te redeem. Redeem staan in dié sin teenoor verpand. Om te verpand is om iets van waarde in te ruil vir geld, en om te redeem is iets waardevols terug te eien deur geld daarvoor te betaal.

Dis belangrik om hier te besef dat hierdie nie ’n gelykmatige of ewewigtige transaksie is nie. Verpanding lei altyd tot verlies aan waarde. Dis die prysgawe van iets kosbaars – en die mooi Afrikaanse woord wat die meer noukeurige emosionele lading hier dra, is verkwansel, terwyl delging (redemption) lei tot die herstel van waarde. Die begrip dui dus op die herstel van waarde uit ’n toestand van minderwaardigheid of waardeloosheid. In dié sin is dit ’n daad van prysbepaling en gevolglike prysbetaling om ’n vorige toestand, verloor deur ’n daad van prysgawe, reg te stel of te delg. Miskien is “goedmaak” die beste Afrikaanse sinoniem wat in lyn met die handelsbegrip staan teenoor geldmaak of om iets tot geld te maak, met ander woorde, om iets wat waarde toevoeg tot jou lewe te kwantifiseer en te abstraheer en dus verkoopbaar of in die negatiewe sin verkwanselbaar te maak – dus tot kommoditeit te maak.

Geld – in wese ’n abstaksie – kan op sigself nooit waarde toevoeg tot jou lewe nie. Dis uiters ironies om te sien hoe die najaging van geld, en die gevolglike kommodifisering van die lewe juis lei tot verlies aan waarde. Enigiets wat tot geld gemaak kan word, word in wese prysbaar (jy kan prys daaraan gee/ kan dit prysgee), en dus goedkoop (koopbare goedere). As iets van waarde gekommodifiseer word, word dit verbruikbaar met noodwendige verlies aan duursaamheid. Hoe meer die wêreld vergeldelik word, hoe minder waarde het dit. Dit is die ironiese euwel van kapitalisme. ’n Wêreld waarin geld absoluut is se waarde neig na nul. In ’n kapitalistiese sin is geld inderdaad die wortel van alle kwaad, omdat dit die beginsel word waardeur langdurige waardeverlies sistemies bestendig word. Die boosheid van die sisteem lê juis daarin dat dit met die pretensie werk dat die opgaar van kapitaal/ geld waarde toevoeg tot die lewe.

Maar ek dwaal af. Die punt is dat die ervaring van waardeverlies ’n deurlopende lewensgevoel van ons tyd geword het. Die lewensbeskouing waarin hierdie lewensgevoel tot sy einde toe gevoer word, is die nihilisme. Nihilisme is die lewensbeskouing waarby òf niks meer waarde het nie, òf alles ewe veel en dus ewe min waarde het. In dié sin is een van die belangrikste vrae waarmee ons onsself vandag kan besig hou die vraag na redemption, of die vraag na die herstel van waarde uit ’n toestand van waardeloosheid of waardeverlies.

Redemption resoneer egter dieper as net op ekonomiese vlak. In sy religieuse en etiese nuanses gaan dit oor die herstel van waarde van die mens vanuit ’n toestand van minderwaardigheid of waardeloosheid.

Wat my by Tsotsi bring. In Tsotsi gaan dit spesifiek oor die vraag na die herstel van menswaardigheid. In die volgende paragrawe wil ek die rolprent spesifiek ontleed aan die hand van die rykdom/armoede-polarisasie waarmee dit werk, en wys hoe die rolprent die rol van geld ontmasker as reële toevoeger van waarde en dat die ware herstel van menswaardigheid lê in die herontdekking van die eiewaarde in die weerlose ander.

Ek belig vervolgens ’n paar tonele in die rolprent wat lig werp op die onvermoë van geld en, by implikasie, materiële rykdom om waarde toe te voeg tot die lewe, en die vermoë van die weerlose ander om dit wel reg te kry.

Die openingstoneel van ’n rolprent is dikwels van deurslaggewende betekenis: Tsotsi (betekende skollie of skobbejak) en sy drie bendelede, Aap, Teacher en Butcher is besig met ’n dobbelspeletjie waardeur geld verwed word op die wisselval van die teerlinge. Aap kry dit egter nie reg om die twee getalle korrek bymekaar te tel nie. In hierdie eerste toneel word die kyker dus onmiddellik gekonfronteer met die nodeloosheid van die sug na geld sonder die mees basiese opvoeding. Die verband tussen opvoeding en menswaardigheid is, naas die tema van die weerlose ander, ’n subtema in die rolprent.

In net die daaropvolgende toneel sien ons dat Tsotsi en sy makkers besluit om die aand “uit te gaan”. Hulle begeef hulle na die stasie waar hulle ’n ryk omie bespeur wat met ’n koevert vol banknote ’n serp by ’n stalletjie koop. Hulle volg hom terug op die trein waar hulle hom konfronteer, en as hy hom teësit, steek Butcher hom dood met ’n tuisgemaakte wapen. Hierdie daad dryf die vraag na die kwantifiseerbaarheid van ’n lewe op die spits.

Die aand word die geld in die sjebeen op drank uitgegee, maar Teacher, eertydse onderwyser en nou alkoholis, is die gewete van die vier. Hy is diep ontsteld: “Vanaand het ons te ver gegaan,” sê hy. Hy konfronteer Tsotsi rondom sy eie menswaardigheid: “Het jy geen respek vir lewe nie?” “Wat is jou naam, Tsotsi?” “Waar kom jy vandaan, Tsotsi?” “Wie is jou ouers, Tsotsi?” Van onder sy baadjiekap gluur Tsotsi hom aan met ’n gelaat vol donker, broeiende geweld. Op die opmerking oor sy ouers ontplof hy en slaan Teacher in die grond in. Dan vlug hy die nag in.

Die toneel dryf die vraag oor die waarde van ’n menselewe tot die spits. Vir Teacher lei die wins van die geld juis tot ’n geweldige verlies aan eiewaarde. Dis presies hierdie verlies aan eiewaarde waarmee hy Tsotsi konfronteer en wat hy in die bottel probeer vergeet.

In ’n volgende toneel bevind Tsotsi hom weer by die stasie. Aan die bopunt van die trappe sit ’n bedelaar in ’n rolstoel en bedel. Tsotsi spoeg op die grond in minagting as die bedelaar hom om ’n geldjie vra. “Jou hond!” skree die skeeloog bedelaar – ’n patetiese figuur.

Nog ’n opmerking wat diep insny in Tsotsi se hart. Toe Tsotsi nog ’n kind was, het sy alkoholis-pa hom een aand in sy besopenheid verbied om aan sy ma se hand te vat. Sy was sterwend aan Vigs. Tsotsi se blaffende hond het rondom tekere gegaan totdat sy pa, in ’n daad van dronk geweld, die hond ’n wrede skop gee en so sy rug breek. By die aanskoue hiervan het Tsotsi die nag in gevlug en saam met ander straatkinders in ’n groep opgestapelde afvoerpype gaan bly. Dit is egter in hierdie toneel, ten aanskoue van sy sterwende moeder, waar ons Tsotsi se regte naam die eerste keer hoor in sy ma se stem: “David. Kom hier David.” Die laaste moment van ’n herinnering aan menswaardigheid word so wreed vernietig deur die geweld van sy dronk vader.

Tsotsi besluit om die bedelaar te agtervolg en konfronteer hom onder ’n snelweg. Die toneel is gelade met die moontlikheid tot geweld. Die bedelaar probeer paniekerig sy karige fonds van die dag aan Tsotsi af te staan, maar Tsotsi skop die blikkie munte minagtend weg. “Wat wil jy hê?” wil die bedelaar benoud weet. “Hoekom agtervolg jy my?”

“Jy’s ’n armsalige kruppel bedelaar. Hoekom hou aan jy aan met lewe?” Wil Tsotsi weet. “Vir dié sente?”

“Ek kan nie loop nie, maar elke oggend kan ek die sonlig op my gesig voel.” Hierdie is die tweede keer dat Tsotsi gekonfronteer word met die nutteloosheid van geld om reële waarde tot die lewe toe te voeg.

Die eerste keer speel reeds vroeër af. Die aand nadat hy Teacher aangerand het, het Tsotsi blindelings die nag ingehardloop met terugflitse van sy kindertyd wat by hom spook – daardie nag toe hy weggevlug het van sy pa. Hy bevind homself later in ’n blink voorstedelike woonbuurt waar die rykmanshuise ’n skrille kontras vorm met die township-omgewing waarin hy grootgeword het en bly. Weereens sien ons die valse verlokking van die simbole van geld om waarde toe te voeg tot jou lewe. ’n Duur sedan trek op in een van die opritte. Die hek werk nie, en ’n ryk swart vrou klim uit om haar man oor die interkom te roep om die hek oop te maak. Tsotsi konfronteer haar met ’n wapen en klim in haar motor. Sy begin histeries tekere gaan. Hy skiet haar en jaag weg.

En dan, halfpad na nêrens gejaag, die ironiese ontdekking: agter in hierdie luukse motor, ’n baba. Hierdie onberekenbare waardeverlies van die vrou is juis as gevolg van die begeerlikheid van haar duur sedan.

Tsotsi skrik hom morsdood en gooi amper die voertuig om. Hy gryp ’n inkopiesak, gooi ’n paar items daarin en wil wegvlug. Sy moed begeef hom egter en hy keer terug na die huilende kind. Na ’n intense wroeging laai hy die kind in die inkopiesak en loop deur die veld terug township toe, na sy sinkplaathuisie toe.

Hier is die ironie egter dubbeld. Die vrou se verlies aan waarde word Tsotsi se herstel van waarde. Hierdie kind in die inkopiesak – daardie oorbekende simbool van verbruikbaarheid – word nou die sentrale simbool van Tsotsi se herstel van waarde (redemption). ’n Lewe het hy geneem vir geld. ’n Lewe het hy nou gevind in die plek van geld – egter steeds in ’n inkopiesak. So begin die pad van herstel van eiewaarde in Tsotsi – in die konfrontasie met hierdie weerlose lewe, en in die noodsaak om hom te versorg. In desperaatheid vind hy later ’n ma met ’n kind wat hy dwing om ook hiérdie kind te voed. “Wat is sy naam?” vra sy. “David”, antwoord hy. So vind Tsotsi sy eie naam, sy waarde as mens terug – in hierdie “gesteelde” kind. Hy neem hom later na die rioolpype van sy kinderdae en gaan wys vir hom sy eertydse woonplek.

As Tsotsi sy makkers later saamvat na die huis in die luukse woonbuurt, doen hy dit onder die voorwendsel om te gaan roof. Maar sy hart het reeds geswaai – weg van die verlokking van geld en besittings na ’n behoefte om die kind se tuiste te besoek. Hulle bind die vader in ’n stoel vas (die moeder sterk aan in die hospitaal), maar terwyl die res die huis plunder vir geld en besittings, bly Tsotsi vasgenael in die babakamer staan. Die kind het hom ander dinge leer raaksien in die lewe. Hy verkyk hom aan die geverfde muur en die speelgoed en die simbole van liefde oral om. Die vasgebinde man slaag dan daarin om die alarm te laat afgaan. Butcher storm nader om hom dood te skiet. Dis egter Tsotsi wat eerste skiet, en Butcher val dood op die grond. Dié keer is dit nie vir geld nie. Hierdie is die kind se pa – Tsotsi se pa wat hy nooit gehad het nie – wat hy nou beskerm.

Tsotsi besef uiteindelik dat hierdie kind nie ’n besitting is wat hy kan steel nie. Hierdie kind se waarde lê juis daarin dat hy nie verkwanselbaar is nie, maar onverhandelbaar, onbesitbaar. Die ryk ouers is waardeloos sonder hierdie kind. Hulle rykdom baat hulle skielik niks. Hul rykdom is in sy hande, en dit kan hy van hulle wegvat nie. Hierdie kind se diepste waarde lê daarin dat hy Tsotsi – David – ’n blik gegee het op die onverhandelbaarheid van lewe. Daarom kan hy uiteindelik die moed bymekaar skraap om die kind terug te neem na die ouers toe. Hierdie daad is dan ook die finale daad van sy eie herstel van waarde – juis in die herkenning en erkenning van die weerloosheid van die ander ontdek hy ook die onverkwanselbaarheid van die lewe. As David dan finaal die kind in die arm lê van die kind se vader, dan is dit uiteindelik homself wat hy gee, óórgee te wille van die kind. So word ryk en arm versoen, nie deur ’n fooi en kompensasie nie, maar deur beide se erkenning van die méérwaarde van ’n weerlose baba.

Tsotsi het ook vele ander nuanses, maar dat dit die herstel van menswaardigheid as konfrontasie met die weerlose ander kontrasteer met die verlies aan menswaardigheid deur die rykdom/armoede-polarisasie waarbinne ’n geldbehepte wêreld vasgevang is, is ’n tema wat noodsaaklik is vir ’n land waarin ekonomiese groei en die toename van rykdom aangebied word as vals verlossing (redemption).

Ons herstel van waarde (redemption) in ’n geldbehepte wêreld is juis ons verlossing (redemption) van geld.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=553
Artikel nagegaan:
    -