|
||||
Leopold Scholtz
*Historikus en adjunkredakteur van Die Burger
Dr. Loammi Wolf het in Die Vrye Afrikaan van 17 Maart 2006 ’n interessante en in bepaalde opsigte nuttige beskouing gegee van hoe die verskillende Afrikaner-generasies die herontwerp van die Afrikaner-identiteit, as ’n mens dit so kan noem, in die veranderde omstandighede van die nuwe Suid-Afrika beleef. In die proses begaan sy egter sekere kardinale foute. Die gebruik van die generasie-paradigma is op sigself legitiem. Ek en Ingrid Scholtz het in akademiese artikels al meermale van dieselfde paradigma gebruik gemaak, ofskoon nie heeltemal op dieselfde wyse as Wolf nie (kyk Leopold en Ingrid Scholtz: “Problematisch verleden – een vergelijking tussen Duitsland, Polen en Zuid-Afrika”, in Historia 48/1, Mei 2003; “Die Fischerdebat”, in Tydskrif vir Geesteswetenskappe 46/1, Maart 2006). Die punt is ewenwel dat verskillende generasies inderdaad verskillend op gebeure reageer, en dat dit baie verklaar van wat op die oomblik gebeur. Wolf gebruik die indeling van die vermaarde Duitse historikus Jörn Rüsen, wat sy só verwoord: “Eerstens, die generasie wat die politieke sisteem wat die fiasko veroorsaak het, geïnstitusionaliseer het; tweedens, die generasie wat daarteen in opstand kom en, ná hulle, die generasies wat die kulturele identiteit weer stabiliseer.” Dié indeling is natuurlik gebaseer op die Duitse ná-oorlogse geskiedenis. Wat hier ook van belang is – en wat Wolf nie vermeld nie – is dat die huidige generasie Duitsers die derm-uitrygery van die 1968-generasie (die opstandelinge, as ’n mens hulle só kan noem) toenemend verwerp ten gunste van ’n veel meer genuanseerde beeld van die Duitsers en die Duitse geskiedenis. Dit gaan om die ontdekking dat hulle in die Tweede Wêreldoorlog nie slégs misdadigers was nie – dit ook – maar tewens slagoffers. Trouens, in die moeisame en pynlike Duitse soektog na ’n nuwe verlede, hede en toekoms is daar iets vir die Afrikaners ook te leer. Toegegee, as ’n mens die generasie-paradigma hanteer, is ons dalk nog lank nie ryp vir so iets nie. Dit lyk my dit sal nog ’n tyd lank duur voordat mense soos Wolf en haar groot held, Max du Preez, wat tot die Afrikaner-ekwivalent van die Duitse 1968-generasie behoort, soos hul Duitse eweknieë Otto Schily en Joschka Fischer in staat sal wees om die verlede meer genuanseerd te beoordeel. Terloops, ek was ietwat geamuseerd om te lees dat Wolf my by Rüsen se eerste generasie indeel. “Die wroeging van hierdie generasie,” skryf sy, “word goed in die rubrieke van Leopold Scholtz in Die Burger … verwoord.” Net om te boekstaaf – ek is in 1948 gebore, en kan dus onmoontlik behoort tot die generasie “wat die politieke sisteem wat die fiasko veroorsaak het, geïnstitusionaliseer het”. Trouens, ek wil Wolf (en enigiemand anders) vriendelik uitdaag om ’n enkele openbare uitspraak van my die afgelope kwarteeu op te spoor wat selfs maar as steun vir apartheid vertolk kan word sonder om die waarheid te rek. Wat mense wel van my sal kan opspoor, is artikels waarin ek apartheid probeer verklaar, tipeer en begryp. En dit bring my by ’n belangrike verdere beswaar teen Wolf se artikel. Kort nadat sy my so sito-sito by die apartheid-institusionaliseerders ingedeel het, gaan sy voort: “Hulle (dis nou die ouer generasie) probeer dus die kultuurbreuk te oorkom deur die skepping van eksterritorialisering (wat dit ook al beteken). Apartheid word verdoem, maar daar word na redes gesoek waarom die volk eintlik onskuldig was. Hulle probeer dit dus goedpraat met argumente dat hulle om oorlewing teen die ‘swart gevaar’ en die ‘rooi gevaar’ moes veg. Dis in hulle bloed dat ’n Afrikaner vir sy oorlewing moet veg. Daarom is dit vir baie van hulle moeilik om afstand te doen van Afrikaner-nasionalisme as die onderliggende dryfkrag vir die voortbestaan van hulle taal en kultuur. Deel van die proses in hierdie fase is dat die geskiedenis baie sterk beklemtoon en ywerig ontleed word.” Let op die gebruik van “swart gevaar” en “rooi gevaar”, nogal in aanhalingstekens, so asof ek of my generasie inderdaad nog daardie begrippe gebruik. Deur die begrippe hoegenaamd in te span, maak Wolf haar, nugter beskou, skuldig aan verdagmaking, aangesien sy van die ergste begrippe uit die vorige bedeling sonder kwalifikasie aan die sogenaamde eerste generasie toeskryf. Wie kan per slot van rekening ’n generasie op wie sulke verwerplike begrippe van toepassing is, ernstig opneem? Hoe ook al, Wolf begryp vermoedelik nie wat die taak van ’n wetenskaplike historikus is nie. Dié taak is nie om politiek te bedryf nie, nie om te veroordeel of te verdedig nie, maar om die verlede te probeer beskryf, te analiseer, te verklaar en te verstaan. Die Franse historikus Marc Bloch, wat ’n groot invloed op die internasionale 20ste-eeuse geskiedskrywing gehad het, het in dié opsig ’n interessante vergelyking oor die taak van die regter en die historikus getref. In ’n boek wat in Engelse vertaling onder die titel The Historian’s Craft verskyn het, skryf hy: “There are two ways of being impartial: that of the scholar and that of the judge. They have a common root in their honest submission to the truth. … However, there comes a moment when their paths divide. When the scholar has observed and explained, his task is finished. It yet remains for the judge to pass sentence.” Hy pas dié metafoor dan toe: “Now, for a long time, the historian has passed for a sort of judge in Hades, charged with meting out praise or blame to dead heroes. … The words of Pascal are more to the point than ever: ‘We all play God in judging: this is good or this is evil.’” Maar dan voeg hy daaraan toe: “Are we so sure of ourselves and our age as to divide the company of our forefathers into the just and the damned? How absurd it is, by elevating the entirely relative criteria of one individual, one party, or one generation (sic!) to the absolute, to inflict standards upon the way in which Sulla governed Rome, or Richelieu the States of the Most Christian King! Moreover, since nothing is more variable than such judgements, subject to all the fluctuations of collective opinion or personal caprice, history, by all too frequently preferring the compilation of honor rolls to that of notebooks, has gratuitously given itself the appearance of the most uncertain of disciplines… “If the judgement only followed the explanation, the reader could simply skip it. Unfortunately the habit of passing judgements lead to a loss of taste of explanations. When the passions of the past blend with the prejudices of the present, human reality is reduced to a picture in black and white. … When all is said and done, a single word, ‘understanding’, is the beacon light of our studies” (pp. 138-143). Overgezet zijnde: Die historikus moet nie regter probeer speel nie, want dit belemmer sy vermoë om te beskryf, te analiseer, te verklaar en te verstaan. Nou is die probleem dat Wolf, Max du Preez en ander wat soos hulle dink, die historikus kwalik neem wanneer hy dit doen. Hulle soek ’n emosionele, ongekwalifiseerde veroordeling, nes die 1968-generasie in Duitsland. Dan beskuldig hulle die historikus daarvan dat hy redes soek “waarom die volk eintlik onskuldig was”, dan smeer hulle begrippe soos “swart gevaar” en “rooi gevaar” op sy brood sonder dat hy homself ook maar in die minste in dié karikatuur van sy dissipline herken. Dis natuurlik waar dat geen historikus sy dissipline sonder persoonlike bagasie benader nie. Niemand is 100% objektief nie; slegs ’n kille masjien kan dit wees. In die seleksie van jou feite, in die wyse waarop jy dit behandel, blyk noodwendig iets van jou persoonlikheid, jou vooroordele – sake wat beïnvloed word deur die tyd en omgewing wat jou as mens gevorm het. Dis waarom verskillende mense op grond van dieselfde feite op legitieme wyse uiteenlopende gevolgtrekkings kan bereik. Dis waarom die Nederlandse historikus Pieter Geyl die geskiedeniswetenskap as ’n “diskussie sonder einde” beskryf. My proses van beskryf, analiseer, verklaar en verstaan is dus geen rekenaar-agtige reeks handelinge wat jou elke keer noodwendig by dieselfde antwoord gaan uitbring nie. Maar dit behoort wel die strewe van elke akademiese historikus te wees, al kan hy daardie strewe deur sy eie onvolkomenheid – hy is ook maar mens – slegs benader, nooit ten volle bereik nie. Wanneer so ’n historikus nou egter van onsuiwer motiewe beskuldig word, soos Wolf doen, moet die aanklaer die aanklag egter met feite staaf. En daar bly Wolf skromelik in gebreke. Al wat sy in die praktyk doen, is verdagmaking. En dit bring onmiddellik die peil van die debat drasties na benede. Nóg Hermann Giliomee nóg Pieter Kapp nóg Fransjohan Pretorius nóg ek kan ooit volkome daarin slaag om ons vak perfek te beoefen. Maar slaag ons aanklaers daarin om die reëls van logika en hoogstaande debatvoering na te kom? Kom ek wys op ’n tipiese voorbeeld, waarin Wolf se goeie vriend, prof. Fanie Cloete van die US-Bestuurskool, betrokke was. Na aanleiding van die Fischerdebat het Cloete my en Hermann Giliomee in ’n brief in Die Burger by name daarvan beskuldig dat ons “neo-konserwatief” is, dat ons wil “keer dat die US die realiteite en waardes van die huidige postapartheid-era verder nastreef en bevorder”, dat ons “die ideologiese skade wat die US gedurende die apartheidsera berokken is, verder … probeer verskans”, “vasgevang in die verlede is”, en “knaend” probeer “om die gang van die geskiedenis om te draai en uitgediende taal- en politieke konflikte weer te laat herleef”. Hy het gesê ons is “moderne Afrikaner-bittereinders” wat “gefrustreerd [is] oor die rigting wat noodsaaklike transformasie aan die US begin inslaan het”. Hy het ons van “opportunisme” verwyt en daaraan toegevoeg: “Dis ’n manifestasie van die magteloosheid en sinisme van mense wat sien dat hulle reeds verloor het, maar nie daarmee vrede wil maak nie. Hulle probeer telkens verdere transformasie aan die US vertraag en kortwiek ter nastrewing van hul eie ideologiese neo-konserwatisme.” (Die Burger, 2.11.2004). Toe hy daarop gewys is dat hy darem dié aanklagte met feite behoort te staaf, was sy verweer dat hy besig is met “diskoers-analise”, wat “’n wetenskaplik aanvaarde beoordelingsmetode” is “om inhouds-, agtergrond- en konteksbeoordeling te doen”. Mense moenie kla as hulle as “neo-konserwatief of as ’n bittereinder bestempel word” nie. “Weerlê eerder daardie standpunt.” (Die Burger, 14.12.2004). Met ander woorde, die aanklaer hoef nie sy klagte te staaf nie. Die onus berus op die aangeklaagde om sy eie onskuld te bewys. Wat sê dit nou oor akademiese norme? Wat sê dit oor wetenskaplike peil? Ek laat dit aan Wolf oor om self daardie vrae te beantwoord. Ek kan nie namens ander historici praat nie. Wat myself betref, ek weier om my aan Wolf se soort gedagtepolisie te onderwerp. Ek sal dinge skryf soos my gewete en my akademiese eerlikheidsin dit aan my voorskryf. Daarom, tensy ek ander bronne ontdek wat die teendeel bewys, sal ek voortgaan om apartheid minstens gedeeltelik as ’n oorlewingstrategie en as wisselvorm van die kolonialisme te tipeer. Daarom sal ek ook voortgaan om die ANC/SAKP se aanspraak dat hulle ’n regverdige oorlog geveg het in terme van hul eie morele standaarde te ondersoek deur op die Moskou-getroue kommunistiese oorheersing in die alliansie te wys (kyk Leopold en Ingrid Scholtz: “Die ontstaan en ontwikkeling van die SA Kommunistiese Party se tweefaserevolusiemodel”, in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45/3 en 45/4, September en Desember 2005), asook die alliansie se slaafse navolging van die USSR se internasionale wêreldbeeld en buitelandse beleid en sy gebruikmaking van terrorisme in die stryd teen apartheid (artikels en boek in voorbereiding). Wat dit betref, is die woorde van die Duitse historikus Hubertus Knabe, een van die nuwe, genuanseerde geslag (Tag der Befreiung? Das Kriegsende in Ostdeutschland, Berlyn: Propyläen Verlag, Berlyn, 2005. Bloch en New York: Alfred A. Knopf, New York, 1953, p. 13) ook op my politiek inkorrekte geskiedenisbeskouing van toepassing: “Misdade en sterftes moet ook nie teenoor mekaar afgeweeg word om Duitsland van sy historiese verantwoording te onthef nie – want die een misdaad word nie geringer deur die ander een nie, maar die twee moet bymekaar opgetel word.” Inderdaad: een onreg (apartheid) plus nog ’n onreg (strewe na ’n kommunistiese diktatuur en terreur) is nie gelyk aan nul onregte nie, maar aan twee onregte. Maar Wolf, Cloete, Du Preez en ander wat soos die 1968-generasie in Duitsland klaarblyklik te veel deur woede en skuldgevoelens beïnvloed word, sal dit wel nie kan insien nie. |