|
||||
Carel Boshoff *Gemeenskapsaktivis, Orania en VF+-verteenwoordiger in die Noord-Kaapse Wetgewer
Verkiesingsuitslae in ’n ontwikkelende bedeling moet teen die agtergrond van soveel veranderlikes verstaan word, dat kernvrae agter opgeblase herberekenings en oordrewe tendense versteek word en gevolglik eerder vermy as trompop geloop word. “Wat bind Afrikaners aan die DA?” en “Waarom stagneer die VF Plus?” is sulke vrae, en die feit dat gesiene joernaliste soos Tim du Plessis en Jan-Jan Joubert dit uitdruklik begin stel, maak dit toenemend onontwykbaar. Verder is dit nie ’n vraag wat net vir die betrokke partye van belang is nie, die VF/VF Plus se kort politieke geskiedenis (1994 tot 2006) bied ’n waardevolle perspektief op die onlangse ontwikkeling van Afrikaners se politieke psige – in soverre daar nog in die enkelvoud hierna verwys kan word. Die kortste beskrywing daarvan is waarskynlik dat die VF hom in 1994 bewys het as ’n krag om mee rekening te hou met meer as 640 000 stemme op die provinsiale stembrief, maar dat dit in 1999 tot sowat 125 000 gedaal het. Nadat die stigter-leier, genl Constand Viljoen, deur die stigter-voorsitter en gevestigde politikus, dr Pieter Mulder, opgevolg is en die VF daarin geslaag het om die KP en AEB onder die vaandel van die VF Plus te betrek, het die VF Plus in 2004 nagenoeg 140 000 stemme getrek en sy verteenwoordiging enigsins versterk, maar nie die onbetwiste verteenwoordiger van die grootste getal Afrikaners geword nie. Terwyl die 2006-uitslae nou in dieselfde gees van matige groei bereken word, kan dit nie as ’n deurbraak beskou word nie. Aangesien die VF Plus die afgelope jare baie aandag aan ‘verpakking’ en ‘persepsie’ (ontvangs) bestee het – iets wat in beide Du Plessis en Joubert se vertolkings terug te vind is – is die vrae wat die party se lou ontvangs nou oproep, meer struktureel van aard. Hoe moet ’n mens dit verstaan dat ’n meer afgeronde en eietydse etniese appèl ook nie tot Afrikaners se politieke verbeelding of gewete spreek nie? Veral terwyl daar op ander fronte sprake van hernude selfbevestiging deur Afrikaners is? Voordat die strukturele kragte wat hierop inspeel van naderby bekyk word, is ’n opmerking oor politieke rasionaliteit egter noodsaaklik. Die algemene spitsvondigheid dat politieke rasionaliteit ’n teenstrydigheid sou behels, gee in werklikheid ’n goeie aanduiding van die soort rasionaliteit wat skynbaar in mense se politieke voorkeure en handelinge verwag, maar nie gevind word nie. Dit is naamlik die rasionaliteit wat tans as heersende benadering tot die (empiriese) wetenskap en ekonomie geld en wat gekenmerk word deur doelgerigtheid tot die omvang dat alle sentiment of vooroordeel wat die kortste pad tussen oorsaak en gevolg, of die lonendste verhouding tussen middel en doel kan belemmer, ten alle koste geweer moet word. Hoewel daar ’n verwagting bestaan dat hierdie doelrasionele houding deur kiesers vir hulle politieke keuses ingespan behoort te word en partye hulleself aanbied aan die hand van die doeltreffende wyse waarop hulle voornemens is om kiesers se belange te behartig, kan kiesers se verbintenis met hulle partye eerder met ondersteuners se lojaliteit aan hulle sportspanne as met verbruikers se verbintenis tot byvoorbeeld ’n brandstofmaatskappy vergelyk word. Watter integrale deel van ons verkiesingskultuur handelsmerkflitse ook al geword het, is die tergende vraag wat soveel politieke beeldbouers (en hier is veel meer as ’n politikus se persoonlike beeld ter sprake) bly ontwyk, naamlik hoe om vooraf te weet watter slagspreuk die kol gaan tref. Dit is juis hierdie byna toevallige manier waarop een politieke beeldbouer in beter voeling met die kieserspubliek (wat nie bloot toevallig ’n mark genoem word nie) verkeer, wat politieke strateë noop om hulle nie net op hulle boodskap aan kiesers toe te lê nie, maar ook en juis op die ontvangs wat dit na verwagting sal geniet die persepsie daarvan. Hoewel persepsie-gevoeligheid ’n voorwaarde vir suksesvolle politieke kommunikasie is en die nie-doelrasionale aard van politieke keuses probeer verreken, slaag dit nie vanself daarin om verby die oënskynlike gebrek aan rasionaliteit in die politiek te tree en ’n positiewe omskrywing van politieke rasionaliteit te begin gee nie. Daarom dat hierdie strategie hom telkens op die gemiddelde kieser se gebrek aan politieke intelligensie beroep en politieke boodskappe tot die eenvoudigste gemene deler probeer beperk. ’n Positiewe politieke rasionaliteit, in soverre daar iets van oor is nadat geslagte van politieke operateurs dit geminag en ondermyn het, moet met minstens twee komplekse wat deur ’n doelrasionele orde óf geweer, óf gebanaliseer word, rekening hou. Dit is naamlik ’n kompleks van begrippe wat met lojaliteit, verbintenis, voorkeur, selfs vooroordeel, en ’n kompleks wat met die simboliese, met ritueel en tradisie of erfenis en, weer eens, verbintenis verband hou. As politieke rasionaliteit dus aan die hand van lojaliteitsverbintenisse en veranderings daaraan binne ’n simboliese orde en veranderings daaraan verstaan moet word, moet dit gevolglik ook binne ’n groter tydshorison as enkele verkiesings geplaas word. ’n Soort diepte-analise van die betrokke politieke gemeenskap en ’n plasing binne sy geskiedenis kom dus ter sprake. Die Nasionale Party (NP) kan sonder vrees vir teenspraak as die twintigste-eeuse Afrikaner se politieke voertuig beskryf word. Sonder om die breuke en oorgange wat die party self gedurende dié eeu beleef het te onderskat, kan die party se bestaan aan twee deurslaggewende projekte verbind word, naamlik, eerstens, om Afrikaners deur die trauma en opwinding van modernisering te neem en, tweedens, om die Afrikaner as politieke gemeenskap se onafhanklikheid te vestig en te bestendig. Nóg die NP, nóg die ideologie van nasionalisme het die Afrikaner gemaak, maar saam met ander instellings en aan die hand van nasionalisme het die NP aan Afrikaners ’n simboliese orde help voorsien en ’n institusionele orde help verskaf wat die gedagte van ’n onderskeibare en vrye Afrikanervolk deur die stroomversnelling van een epog na ’n ander in beskerming geneem het. Die eksistensiële oorspronge van hierdie nasionale beweging lê in die ontmagtigende manier waarop Afrikaners die moderne wêreld ingewerp is. Die verandering het reeds voor die Anglo-Boere-oorlog met die opkoms van ’n mynbouekonomie ’n aanvang geneem, maar het uiteraard ná die oorlog verdiep en vergroot – veral as gevolg van die verlies aan politieke instrumente en beheer. Die oorgang van ’n oorwegend landelike na ’n oorwegend stedelike bestaan, van ’n agrariese na ’n industriële ekonomie, van bestaansproduksie en ruilhandel met beperkte monetêre handel na byna uitsluitlik monetêre handel, van basiese geletterdheid en mondelinge kultuuroordrag na gespesialiseerde geletterdheid en skriftelike kultuuroordrag, van groot gesinne na klein gesinne, van uitgebreide familie-eenhede na die kerngesin, van gemeenskapsversorging en integrering van deernisgevalle (bejaardes, gestremdes, chronies siekes) na die institusionalisering van sulke versorging en hulle verwydering uit die gemeenskap, en wat alles meer genoem kan word, het nie sonder geweldige menslike lyding plaasgevind nie. Landelike Afrikaners was nie vir die oorgang gereed nie, en teen die 1930’s het verskeie faktore bygedra om die armblankevraagstuk op die voorgrond te plaas. Die beweging wat aan die hand daarvan vorm aangeneem het, het onder meer op die ontwikkeling van Afrikaans, op die verkryging van politieke mag en staatsinstrumente en op ekonomiese mag en instrumente gekonsentreer. Dit is te betwyfel of dieselfde mate van breëbasis-bemagtiging oor die hele front van geestelike vaardighede wat vir modernisering nodig sou wees, hoegenaamd ter sprake sou kon kom as dit nie met behulp van moedertaalonderrig geskied het nie.
Soos enige omvattende maatskaplike ontwikkeling het die modernisering van Afrikaners ook meer as ’n geslag geduur om deur te voer, minstens vir sover dit aan die aanwesigheid/afwesigheid van brandarmoede en die meegaande geestelike verval gemeet kan word. Daar word gesê dat die opheffing van arm Afrikaners teen die laat 1970's voltrek was en dat daar statisties gesproke nie meer van buitengewone armoede onder Afrikaners sprake was nie. Die NP en sy medestanders het dus op hierdie terrein sukses behaal. Die NP se ander groot projek, naamlik om die Afrikaner se politieke onafhanklikheid te verkry en te bestendig, het ook ’n klimaks bereik in die oprigting in 1961 van die volledig soewereine Republiek van Suid-Afrika. Alle, selfs net simboliese, onderhorigheid aan die Britse Kroon is daarmee beëindig, en die Afrikaner het in beheer van sy eie industrialiserende, welvarende en groeiende nasiestaat gestaan. Selfs die vraag van swart Suid-Afrikaners se politieke regte wat veral in die stryd om opheffing van blanke armoede in die slag gebly het, is met die oog op die bestendiging van Afrikaneronafhanklikheid aangepak. Die ontwikkeling en afskeiding van swart tuislande op etniese grondslag is nie net voorsien nie, maar in werking gestel – met al die gemengde gevolge wat dit ook al meegebring het. Die punt is dat die meeste Afrikaners teen die laat 1970’s, vroeë 1980’s verwag het om die einde van die twintigste eeu as gemoderniseerde en onafhanklike volk tegemoet te gaan en dat die NP ’n besondere rol daarin gespeel het. Die probleem was net dat daar sekere onopgeloste politieke vraagstukke bestaan het en dat daar ’n tanende konsensus was oor die rigting waarin antwoorde gesoek moes word. Op die dramas en broedertwis wat dit opgelewer het, hoef vir die huidige argument nie ingegaan te word nie. Wat by terugskoue duidelik en belangrik is, is dat die NP se twee groot suksesse op ’n manier onderling uitsluitend geblyk het, dat die moderne Afrikaners nie vir die eise van aparte staatkundige onafhanklikheid kans gesien het nie, omdat hulle nie soveel waarde daaraan geheg het nie. Die moderne Afrikaner, om dit ietwat ideaal-tipies te stel, stem grootliks met ander moderne Westerlinge ooreen, veral in opsigte wat hierby deurslaggewend sou wees. Om maar twee van die ooreenstemmende eienskappe te noem, kan na die moderne Afrikaner se beeld van welstand en na sy verbintenis tot keusevryheid verwys word. Waar die agrariese Afrikaner, waarvan daar voorbeelde tot in die tweede helfte van die twintigste eeu te vinde was, ’n gemeenskapsgeoriënteerde beeld van welstand gehad het, het die moderne Afrikaner ’n kenmerkend individuele en materiële beeld daarvan. Die verskil word dalk die beste aan die hand van elkeen se benadering tot sekuriteit verduidelik. In die agrariese Afrikanergemeenskap het families en gesinne naby die belangrikste produksiemiddele gelewe. Voedselsekuriteit, skuiling en surplusproduksie is in ’n gees van lotsverbondenheid benader en die afwesigheid van bewaringstegnologie het uitgebreide netwerke van geskenkekonomie tot stand gebring. Prakties gestel, sonder vrieskaste het elkeen wat geslag het, dit op gesette tye gedoen en die vleis volgens sekere gebruike verdeel en aan mekaar geskenk. Dit het nie net die bewaringsprobleem oorbrug nie, maar ook sekere egaliserende stappe moontlik gemaak, sodat diegene in nood selde noodlydend was. Dit is dan ook die agtergrond waarteen armoede/rykdom nie as funksie van per kapita jaarlikse dollarinkomste beskryf kan word nie en waarteen die mimetiese aard van moderne armoede skril kontrasteer. Dit is ook die wêreld waarbinne rampspoed, soos voorspoed, in transendente terme bedink is (uit God se hand ontvang) en selde as individuele mislukking of krisis beleef is en waar ouderdom, siekte, dood, onvermoë/gestremdheid in die gang van sake aanvaar is en integraal in die gemeenskap gehanteer is. Daarteenoor word die moderne Afrikaner (en daarin is hy geen uitsondering nie) op individuele en kerngesin-grondslag deur ’n byna paniekbevange behoefte aan versekering gekenmerk. Lewensversekering, ongeskiktheidsversekering, mediese versekering, selfs traumaversekering moet die illusie van risiko-bekamping skep. terwyl die monetêre aard van die ekonomiese omgewing waarin die verbruikende eerder as produserende deel van die gesin (eggenote en kinders) sou agterbly, dit ’n angswekkende gedagte maak om hulle sonder voldoende fondse agter te laat. Die primêre broodwinner (dikwels nog manlik) moet dus nie net genoegsame hoeveelhede van een enkele kommoditeit, naamlik geld, voorsien vir skuiling, voedselsekuriteit en teenspoed – om van vervoermiddele en ander verbruikersgoedere nie te praat nie – hy moet ook vir die voorsiening daarvan in sy afwesigheid voorsiening maak. Waar die enkeling in ’n agrariese gemeenskap in vele opsigte deur tradisie en posisie vir hom/haar uitgestip is, gaan die moderne mens van die veronderstelling uit dat daar ’n bykans onbeperkte mate van keusevryheid heers. Dit geld nie net vir verbruikersgoedere waarvan die industriële ekonomie sulke banale oorvloed voorsien, sodat die verbruiker ’n vrye keuse tussen honderde soorte seep of tandepasta kan uitoefen nie, maar ook en juis vir wesenlike sake soos huweliksmaat, beroep en adres. Die mate waarin moderne keusevryheid ook in hierdie opsigte eintlik illusionêr is, doen nie af aan die mate waarin ook die moderne Afrikaner dit as wesenlik tot sy menslike waardigheid beskou nie. Dit geld uiteraard ook vir politieke keuse. Hierdie lang uiteensetting van Afrikaners se modernisering en die beskrywing van ‘die moderne Afrikaner’ het eenvoudig ten doel om aan te toon dat dieselfde verband wat elders ter wêreld tussen moderne bevolkings en liberaal demokratiese politiek in die regstaat bestaan, ook onder Afrikaners verwag kan word. Hoe meer ’n mens dink oor wat dit alles inhou as jou beeld van welstand deur individuele en materiële oorwegings oorheers word en as keusevryheid jou hoogste waarde is, hoe duideliker word dit watter politiek daarby pas. Dit is die politiek van individuele deelname waarby partye mekaar in die mark van doelmatige begrotingsbestuur probeer oortref, terwyl geen regering in elk geval te veel skade kan aanrig aan die heersende orde soos in die heersende Grondwet vervat, veral ten aansien van eiendomsreg, mobiliteit en vryheid van spraak nie. Daarom is dit nie net ’n kwessie van die DA wat ’n onweerstaanbare aantrekkingskrag op Afrikaners uitoefen nie, maar ook en juis ’n kwessie van Afrikaners wat honger is vir die politieke dieet wat die DA hulle aanbied. Dat die DA se oënskynlik universele logika hoegenaamd nie dieselfde uitwerking op byvoorbeld bruin kiesers gehad het nie, is hierby van belang. Dit is immers binne dieselfde bedeling en teenoor dieselfde ANC wat die DA vir bruin kiesers probeer oorreed het om die opposisie nie te verdeel nie en om ‘getrou te bly’ – daardie oer-etniese appèl waarvan die liberale demokrate hulle so nonchalant bedien het. Dit het egter nie geslaag nie, omdat die DA se beeldbouers nie ewe goed op die simboliese orde en lojaliteitsnetwerke van bruin as van blanke kiesers ingestem is nie, oftewel omdat bruin kiesers hulle elders in die politieke landskap as blanke kiesers bevind. Om van swart kiesers en die DA se gebrekkige penetrering van daardie ‘mark’ nie eers te praat nie. Dat die DA die moderne Afrikaner opgevang het waar sy vorige lojaliteite hom in die steek gelaat het, is dus nie verrassend nie. Inteendeel, dit is nie toevallig dat die NP en die NNP in die laaste fase van sy bestaan ook ’n dramatiese wending na die liberale demokrasie in ’n regstaat ondergaan het nie, daarsonder sou hy vroeër al sy greep op sy tradisionele ondersteuners verloor het. Maar waarom slaag die VF Plus dan nie daarin om sy greep op sy tradisionele ondersteuners te behou nie? Eerstens omdat hy as jong party nie in dieselfde sin van tradisionele ondersteuners kan praat nie, maar tweedens omdat sy boodskap dubbelsinnig ervaar word. As etniese party wat selfbeskikking nastreef, plaas die VF Plus hom buite die verwagte verwysings van die moderne Afrikaner en sy beelde van welvaart en keusevryheid, maar in ’n poging om daarvoor te kompenseer, eien hy hom die hele retoriek van modern-wees toe. Om die moderne Afrikaner ter wille te wees, moet hy hom op die denkbeelde van liberale demokrasie in ’n regstaat toelê en bevind hy hom noodgedwonge baie naby aan sy groot kompetisie vir Afrikanerstemme, die DA. Om hom dan te onderskei, probeer hy om op die drie aspekte waarin die moderne Afrikaner wel van ander moderne Westerlinge verskil, te kapitaliseer. Dit is naamlik dat die moderne Afrikaner ’n bepaalde soort en mate van godsdienstigheid behou het, dat hy redelik moedertaal-lojaal is en dat hy oor ’n besonder sterk ontwikkelde Suid-Afrikaanse patriotisme beskik./p> Buiten dat hierdie beskrywing weer ideaal-tipies is, is die probleem dat aldrie die eienskappe, Afrikaners se godsdienstigheid, taallojaliteit en patriotisme, enersyds erg ondermyn is en baie van hul houvas verloor het soos uit sekularisering, verengelsing en emigrasie blyk, maar andersyds suksesvol tot die private sfeer ingeperk word. Byvoorbeeld, dat Tony Leon net tydens verkiesings Afrikaans praat, skeel die meeste Afrikaners nie juis nie – dalk omdat hulle ook elke dag hulle werk in Engels moet doen. Dit beïndruk hulle wel dat hy met sy swaar aksent aan Afrikaners en Afrikaans die simboliese erkenning verleen wat hulle voel hulle verdien en dat daar Afrikaners in sy geledere is wat kennelik daar tuisvoel. Hulle het eweneens trots gevoel toe President Mandela vir Ingrid Jonker in die Parlement aangehaal het en President Mbeki ’n soortgelyke gebaar gemaak het sonder dat hulle van dié twee verwag om die res van die tyd Afrikaans te praat. Afrikaners se sterk Suid-Afrikaanse patriotisme kan ook nogal problematies wees vir ’n party wat selfbeskikking aanhang en met die oprigting van ’n aparte volkstaat verbind word. Dit is dalk ’n dieperliggende rede waarom die VF Plus nie net méér as opposisie wil wees in die gees van kritiek mét oplossings aan te bied nie, maar hom ook op die retoriek van wen-wen-oplossings beroep. Dit kan beskou word as ’n manier om rekening te hou met die gegewe van Afrikaners wat ’n oplossing wat op wen-verloor in Afrikaners se guns sou neerkom, nie sal ondersteun nie en wie se aanvoeling vir hulle sê dat die selfbeskikkingsbenadering ’n groter gevaar vir die Suid-Afrika van vandag inhou as die DA se sterk opposisie binne die bedeling. Die gevolg is dat die VF Plus se kwalifikasie op die moderne Afrikaner dus glad nie sterk is nie en dat dit gevolglik moeilik is om op ’n dieper vlak ’n duidelike onderskeid tussen die DA en die VF Plus se aansprake op die Afrikaner te maak. Aan die oppervlak slaan die DA natuurlik munt uit die VF Plus se verbintenis tot die polities niekorrekte volkstaatgedagte, iets waaroor die VF Plus self in die konteks van die munisipale verkiesings nie té uitgesproke was nie. Dit bring mee dat beide moderne Afrikaners en volkstaatondersteuners ’n gebrek aan geesdrif vir die VF Plus beleef. Om die reklamevisier op die talryker moderne Afrikaners, oftewel die hoofstroom, eerder as die kleiner getal tradisionele volkstaters, by implikasie ’n systroom, te stel, het egter geen deurbraak bewerkstellig nie. Maar watter ander alternatief het ’n Afrikanerparty as om die werklike Afrikaners te peil en daarop in te speel? Eintlik net een, naamlik om nie Afrikaners te probeer ontmoet waar hulle is nie, maar om aan hulle te wys waarheen om te gaan. Daarby word nie ’n blote herbevestiging van 1994 se volkstaatretoriek bedoel nie, want dit moet in vele opsigte herbedink word (en is al)! Hier is iets veel meer ingrypend op die spel, naamlik ’n bevraagtekening eerder as bevestiging van die moderne Afrikaner self. Is daar ’n nuwe Afrikaner, wat betekenisvol anders as die moderne Afrikaner is, denkbaar? As daar is, moet daaraan inhoud gegee word. Is daar ’n ander moderniteit as die moderniteit van Hollywood en Singapoer te bedink? As daar is, moet daar inhoud aan gegee word. Vir ’n klein party wat nie daarin slaag om suksesvol tot die middelgroep in die hoofstroom deur te breek nie, kan dit belowender wees om van metafoor te verwissel en hom nie tot ’n keuse tussen middel en sykant te beperk nie, maar om die middel met die voorhoede te kontrasteer en dan die voorhoede te kies. In werklikheid het die VF Plus reeds talle kenmerke van ’n avant garde-party met ’n sterk intellektuele onderbou en alternatief. Om hom daaraan oor te gee, is ’n groot risiko vir die praktiese politiek vandag, maar met so ’n sprong in die geloof kan die VF Plus op die voorhoede besig wees om nuwe simbole te skep, om self ’n nuwe simbool te word en ’n toekoms te verbeel wat danksy sy eie verbeeldingskrag in werklikheid begin oorgaan.
|