|
||||
Lawrie Schlemmer *Politieke sosioloog, mededirekteur van Markdata en skrywer van onder meer Kruispad (Kaapstad: Tafelberg, 2001)
In een van my vroeë beroepe as proefbeampte het ek en sommige kollegas dikwels meer as ʼn paar biere gedrink in ʼn wanhopige poging om die wysheid te vind om die verstommende gedrag van ons kliënte (destyds “gevalle”) te verklaar. In besonder kon ons nooit verstaan waarom vrouens (en soms mans ook) so dikwels kant gekies het vir ʼn gade, vriend/vriendin of bedmaat deur wie hulle gruwelik mishandel en gepynig is nie. Dit was nie vreemd dat ʼn vrou met twee blou oë, gekraakte ribbes of ʼn gebreekte kakebeen by ons sou pleit dat ʼn saak teen haar geliefde maat teruggetrek word nie. Ons vroeëre universiteitsopleiding het gewoonlik minder wysheid as die bier bygedra. So ook is dit met die demokrasie. Al die dik handleidings oor politieke prosesse en faktore in ʼn demokratiese verkiesing bied min werklike insig in hoe kiesers op voetsoolvlak hulle keuses maak. Deskundiges krap nou nog hulle koppe oor waarom soveel Duitsers vir ʼn uiters dubieuse “volksheld” soos Hitler ondersteun het, en soveel Britte hulle groot politieke held van die oorlogstyd, Churchill, kort na die oorlog verwerp het. Die uitslae van ons onlangse munisipale verkiesings is al deeglik in kommentaar deurgetrap, maar ʼn groter vraag verdien nog aandag. Waarom het die ANC ʼn oorweldigende meerderheid van nagenoeg 64% behou, so kort nadat beduidende dele van sy ondersteuningsbasis in oproer was oor swak munisipale dienstelewering en korrupsie? Indien die tipiese lae stempersentasie in plaaslike verkiesings in aanmerking geneem word, het die ondersteuningsvlak van die ANC wel effens vanaf 2004 gedaal, maar die steunverlies is geensins dramaties nie. Met die stempersentasie in aanmerking geneem, het die opposisie wel taamlike vordering gemaak, veral die DA en die Vryheidsfront Plus, maar weereens sou ʼn mens logies meer verwag het in die lig van die gehawende toestand van munisipale bestuur in baie dorpe en stede. Die verkiesing dra die duidelike boodskap dat die onderliggende steunpatroon in ons politiek nie juis deur die regering se bestuurprestasies of -wanprestasies ontwrig kan word nie. Nie almal sal egter saamstem nie. Hulle sal tereg daarop wys dat deel van die verkiesingspatroon daarin gevind kan word dat die regering se algemene dienslewering waarskynlik baie ANC-ondersteuners nie teleurgestel het nie. Indien ʼn mens alle welsyntoelaes, plaaslike dienste en behuisingsvoorsiening in aanmerking neem, het ongeveer 35% tot 40% van die volwasse swart bevolking die een of ander verbetering van hul omstandighede ervaar. Hierby moet gereken word dat die voorbeeld van gedeeltelike dienslewering by diegene wat nog daarop wag groot verwagting skep, en die ANC het weereens met groot beloftes juis die hoop aangeblaas. Die ander faktor is dat gewone mense nie noodwendig die regering vir alle beleidmislukkings verantwoordelik hou nie. Ek het al meermale in my eie opnames gemerk dat ernstige probleme soos werkloosheid, MIV/Vigs, misdaad en swak behuisingskwaliteit nie altyd voor die deur van die regering gelê word nie. Hierdie oorwegings ten spyt, bly die feit egter dat die ANC in die onlangse verkiesings weereens bewys het dat hy waarskynlik nie binne die afsienbare toekoms in verkiesingsveldtogte uitgedaag kan word nie. Dus word een veronderstelling in demokratiese teorie by ons vernietig, naamlik dat partypolitieke wedywering die gehalte van politieke bestuur en verantwoordbaarheid versterk. Die ANC hoef hom nie fundamenteel oor sy posisie in die partypolitiek te verontrus nie. Dit is weereens bewys van die feit dat ons ʼn sogenaamde “dominante-party-stelsel” en nie ʼn werkbare demokrasie het nie. Die rede hiervoor word meestal aan die verskynsel van groepsolidariteit toegeskryf – met ander woorde, dat verkiesings in wese op rassesensusse neerkom, waarin die oorgrote meerderheid onder swartmense vir ʼn “swart” party gaan stem, en omgekeerd onder wittes. Dit lyk seer sekerlik die geval, maar nogtans is dit ʼn oppervlakkige gevolgtrekking. Dit verklaar nie waarom nieswartes soos Trevor Manuel en voorheen Joe Slovo en ander binne die ANC so gewild is, en dikwels in binneparty- verkiesings uittroon nie. Dit kan ook nie opnamebevindinge, naamlik dat swart kiesers witmense in hul party verwelkom, verklaar nie, en ook nie dat hulle redes vir hul stemgedrag gee wat nie op ras of etnisiteit neerkom nie. Die redes vir ons rassesensusse in stemmery is meer ingewikkeld, maar ook nie minder verontrustend vir ʼn demokrasie nie. Die feit is dat ons hier deels met psigiese “inbinding” (“bonding” in Engels) in die politiek te make het, soortgelyk aan die verskynsel van verknegting aan sokkerklubs wêreldwyd. Die politieke party of die klub word ʼn stut in die persoonlikheid van ondersteuners – dit is ʼn bron van persoonlike aansien en selfvertroue. Dit het ook in die verlede gegeld toe die ou Nasionale Party deel was van die persoonlike mondering van derduisende Afrikaners, ondanks die feit dat hulle logies die onlewensvatbaarheid van die party se beleid begin raaksien het. Om terug te verwys na die dilemma van die skrywer in sy proefbeamptejare, bestaan daar ook die ironie dat mishandeling, swaarkry en teenspoed dikwels die band met die bron van die teistering kan versterk. Dit is ʼn leuse in militêre organisasie dat hoe meer pynlike opofferings byvoorbeeld van ʼn soldaat verwag word, hoe meer dit sy trou aan sy regiment versterk. Hierdie werklikhede is selde deel van die politieke teorie wat op universiteite opgedis word, of in maatskaplike werk en ander geesteswetenskappe. Maar dit is vir die afsienbare toekoms deel van die politieke werklikheid van ons tyd in Suid-Afrika. Dit wil nie sê dat opposisie nie ʼn belangrike rol het om te vervul, of dat opposisieondersteuners hulle van die politiek moet onttrek nie. Die tyd vir opposisiepolitiek sal wel aanbreek, en dit sal oor ʼn dekade of drie die uiteindelike rypheid van ons demokrasie bevestig. Intussen beteken dit egter dat minderhede naas hul partypolitieke keuses ook op ʼn ander vlak sal moet mobiliseer. Die ANC gee hiervan ook ʼn voorbeeld. Die kragtigste teenkanting en kompetisie wat die ANC deesdae moet verduur, kom van belangegroepe binne sy eie partypolitieke geledere en in die burgergemeenskap. Vakbondorganisasies, vrywillige aksiegroepe en plaaslike drukgroepe soos enkele “civics” hou die demokratiese beginsel lewendig in die skadu van die dominante party. Die vakbond Solidariteit is die belangrikste vroeë voorbeeld in Afrikanergeledere. Verdere geleenthede hoef nie ver gesoek te word nie. Terwyl opposisiepolitiek die pas moet markeer, is daar geen rede waarom ander soorte politieke aksie nie die spiere van ons demokrasie moet oefen nie, veral binne kultuurpolitiek en die nuwe taalstryd.
|