blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Terugblik op die plaaslike verkiesing: Die plaaslike verkiesing en Afrikaners 2006-04-26
Koos Malan

*Medeprofessor in regte aan die Universiteit van Pretoria en politieke ontleder

 

Hierdie bydrae beoordeel die uitslag in die onlangse munisipale verkiesings vanuit ’n Afrikaner-oogpunt. Daar word betoog dat die nasionalistiese faktor as die sentrale krag in die Suid-Afrikaanse politiek, gepaard met enkele ander onlangse verskynsels, die rassesensus-aard van die verkiesings verder verskans het. Tweedens word die posisie van enkele politieke partye en by name van die DA, OD en VF+ beskou. Laastens word op die belangrikheid van die organisasies anders as politieke partye gefokus.

      Verskeie kommentators het verkiesingsuitslae in Suid-Afrika sedert 1994 as rasse- of etniese sensusse beskryf: Suid-Afrikaanse kiesers kies hoofsaaklik volgens hulle rasse- of etniese identiteit, en gevolglik weerspieël die uitslae heel voorspelbaar die nasionale bevolkingsprofiel, in plaas daarvan om ’n tipiese verkiesingsuitslag te wees waarvan onvoorspelbaarheid en verrassing ’n inherente element is. Die Demokratiese Alliansie het in die afgelope munisipale verkiesing net-net daarin geslaag om die beheer van die Kaapse metropool met die ondersteuning van ’n rits kleiner partye oor te neem. Dít het egter allermins die rassesensus-karakter van Suid-Afrikaanse verkiesings verbreek. Inteendeel: die bevolkingsamestelling van Kaapstad met sy groot getal bruin en wit kiesers teenoor die minderheid swart kiesers (gepaard met die baie energieke verkiesingsveldtog van die DA) het juis die oorwinning van die DA moontlik gemaak.

      Die uitslae van die afgelope verkiesing het om minstens twee redes eerder die rassesensus-karakter van Suid-Afrikaanse verkiesings bevestig as om die verswakking daarvan weer te gee.

      In die eerste plek is die verkiesing betwis teen die agtergrond van ernstige agteruitgang in baie munisipaliteite waarin die ANC aan bewind is. Die openbare ontevredenheid en opstande teen swak dienste het ’n nasionale vraagstuk en die ANC se ergste kopseer sedert 1994 geword. Die ANC se eie dikwels bedroewende diensrekord was as’t ware in stryd gewikkel met die rassefaktor om te bepaal wat die deurslaggewende faktor in die verkiesing sou wees. ’n Mens sou verwag dat heelwat mense wat tevore ANC kiesers was hulle steun nou agter die opposisie sou inwerp, veral omdat dienslewering sekerlik die mees tersaaklike kwessie in munisipale verkiesings is. Nogtans het dit nie gebeur nie en het swart kiesers weer eens bykans en bloc vir die ANC gestem. Die ANC, as die voertuig en versinnebeelding van swart nasionalisme, het gewoon sóveel aantrekkingskrag dat ander faktore soos swak dienslewering in hierdie geval nie naastenby daarteen opweeg nie. Die optimisme dat swart mense in beduidende getalle vir die opposisie sou stem, al is dit bloot uit protes, spruit voort uit ’n onbegrip van die krag en duursaamheid van nasionalisme – in hierdie geval swart nasionalisme – as sentrale faktor in die Suid-Afrikaanse politiek. Dit wat as rassesensusse getipeer word en wat sedert 1994 so deurslaggewend in verkiesings is, is bloot die uiterlike teken van hierdie krag en is bestem om vir die afsienbare tyd steeds die dominante faktor in die Suid-Afrikaanse politiek te bly. Opposisiepartye kan nie hieraan ontsnap nie. Optimistiese vooruitsigte dat die ANC spoedig minder as die helfte van kieserondersteuning sal geniet, is juis op ’n ontkenning en verontagsaming hiervan gebou.

      Die rassefaktor is in die afgelope verkiesing heel ironies verder versterk deur ’n faktor wat juis veronderstel was om dit te verswak, naamlik deur die Onafhanklike Demokrate. Meer nog as in die parlementêre verkiesings van twee jaar gelede is dié party duidelik bykans ’n uitsluitlik bruin party – ’n party vir bruin mense – wat grootliks tot die Wes-Kaap beperk is. Die OD volg in hierdie opsig in die voetspore van die UDM. Voor die algemene verkiesing van 1999 het groot optimisme geheers dat dié party in terme van sy ondersteuningsbasis die brug tussen swart en wit sou kon slaan. Die UDM kon nie hieraan voldoen nie en het uiteindelik vir alle praktiese doeleindes ’n betreklike klein Xhosa etniese party geword. Die OD volg nou dieselfde weg en vertoon meer as enigiets anders die karakter van ’n bruin etniese politieke party.

      Die DA het, gegewe die gunstige omstandighede wat die ANC se swak rekord in plaaslike regering bied, steeds baie ernstige probleme om sy steun onder swart kiesers uit te brei. In die opsig is die party ’n slagoffer van die nasionalistiese faktor waarop hierbo gewys is. Dit is egter duidelik dat die party sy ondersteuning onder die wit en spesifiek die Afrikanerkiesers gekonsolideer het en dat die meerderheid van dié kiesers – dit is nou die wat wel gaan stem – getrou hulle kruisies agter die DA gaan trek. Daar is natuurlik diegene, veral in sekere munisipaliteite soos in die Kaapse metropool en ’n klompie ander, wat vir die DA gaan stem het in die hoop dat die party sou wen. Die meeste DA-kiesers stem egter vir die party omdat hulle die party as ’n geloofwaardige en uitgesproke opposisie beleef wat, ondanks die feit dat die party nie naastenby so sterk soos die ANC is nie, konsekwent selfvertroue en selfversekerdheid projekteer. Die ondersteuning wat die DA geniet en gekonsolideer het, is te danke aan ’n lang rekord wat dit sedert die begin van die 1990’s onder wit en spesifiek onder Afrikaanse kiesers opgebou het. Dit het gedurende die grondwetlike onderhandelings begin met sterk prinsipiële standpuntinname rondom regstaatlike aspekte en het sedertdien voortgeduur met volgehoue opposisie teen die dominante ANC. Ander opposisiepartye het ’n ander benadering gevolg en het gevolglik nie ’n rekord van opposisie teen die ANC opgebou nie. Weens dubbelsinnigheid jeens die ANC, wisselvalligheid in hul opposisie teen die ANC en gebrekkige selfvertroue as opposisieparty het van die partye verdwyn of ’n skynbaar permanente kreeftegang ingegaan.

      Die Vryheidsfront het in 1999 een-derde van sy ondersteuning verloor. Voor die 2004-verkiesing het die party die Konserwatiewe Party en die AEB in sy geledere opgeneem en die Vryheidsfront Plus geword. Boonop het die NNP erg getaan en was die VF+ derhalwe in ’n besonder gunstige posisie om sy verlore steun te herwin. Desondanks het dit ewe skraal as tevore uit die verkiesing gekom. In die afgelope munisipale verkiesing is die VF+ se hoop op steun vanuit die ontbinde NNP vernietig. Met die opvallend geringe aantrekkingskrag van die party vir die kieserspubliek het die VF+ sy mislukking by die stembus – wat in 1999 begin het – in omstandighede wat veel gunstiger vir groei is, onder sy huidige leierskap dus ’n tweede maal in 2004 en sopas weer met die plaaslike verkiesings ’n derde maal herhaal.

      Ofskoon die VF+ vanuit ’n Afrikaneroogpunt lofwaardige doelwitte en sentimente het, het sy aanhoudende mislukking by die stembus die party by ’n punt gebring waar dit sy voortbestaan en rol indringend sal moet heroorweeg. Eerstens het die party daaraan ten prooi geval om in beduidende mate ’n instrument te word waarmee die ANC sy eintlike partypolitieke opposisie, die DA, bykom. Dit het byvoorbeeld nou al herhaaldelik gebeur dat die ANC, ook by monde van die president, die VF+ lof toeswaai terwyl die DA voor stok gekry word. Tweedens is die sentiment vir Afrikaans en ondersteuning vir Afrikaner-minderheidsbelange baie sterker as wat die geringe kiesersteun vir die VF+ suggereer. Wanneer dit by stem kom, is Afrikaners egter in ’n veel groter mate by ander partye en by name by die DA (of bly hulle van die stembus as weg) as wat hulle by die VF+ is. Die VF+ projekteer hom egter as ’n Afrikanerparty en daarom word steun vir die party dikwels as ’n aanduiding van die sentiment vir Afrikaans en ondersteuning vir Afrikaner-minderheidsbelange gesien. Die stembusmislukkings van die VF+ is om hierdie rede juis uiters nadelig vir die bevordering van hierdie belange. Derdens het die VF+ in elk geval die aard van ’n belangegroep eerder as van ’n party aangeneem. Die besonder verdienstelike projek om hooggeskoolde Afrikaners in diens te herplaas, is tekenend hiervan. Daar is teen hierdie agtergrond alle rede vir die VF+ om sy amptelike aard en voortbestaan as politieke party te heroorweeg. As ’n belangeorganisasie in plaas van ’n party kan dit ’n veel soepeler verhouding teen die regering handhaaf sonder om in die netelige situasie te verval waarin die ANC hom as werktuig teen die DA inspan. Die huidige benadeling van Afrikanerbelange weens die mislukking by die stembus is daarmee ook iets van die verlede, terwyl soos in die geval van Solidariteit alle aandag op praktiese bevordering van belange van die Afrikanerminderheid en sy lede gefokus kan word.

      Die munisipale verkiesing was histories in die sin dat dit die eerste maal was dat die nou ontbinde Nasionale Party nie deelgeneem het nie. Die verkiesing moes dus wys of die ANC by die insluk van die NNP gebaat het. As daar een plek is waar die ANC hierby moes baat, was dit juis in die Kaapse metropool, waar die NNP in 2004 nog beduidende ondersteuning gehad het. Dit wil voorkom of die ANC met uitsondering van enkele poste wat aan voormalige NNP-politici gegee is, niks vir sy insluk van die NNP te wys het nie. Voormalige NNP-politici en by name Marthinus van Schalkwyk, oud-leier van die NNP, was egter opvallend afwesig in die verkiesingsveldtog, wat daarop dui dat die ANC skynbaar ook nie die verwagting gehad het dat die NNP enigiets van betekenis in terme van populêre steun kon bydra nie.

      Verkiesingsuitslae in Suid-Afrika is voorspelbaar, afgesien van enkele klein betreklik weinigseggende veranderinge weens die dominansie van die nasionalistiese faktor. Daarom is ontledings en besprekings tereg, soos een prominente politieke ontleder gesê het, ’n betreklik vervelige affêre. Die regerende party is heeltemal te sterk en loop uiters geringe risiko om selfs weens swak prestasie agteruit te gaan. Dit stel besonder groot eise aan die DA, wat hom daarop moet voorberei om permanent in opposisie te wees en sy kiesers daarop moet voorberei om desondanks steeds vir die party te bly stem. Dit beteken dat die DA hom nog meer as te vore moet inrig en aanbied as doeltreffende opposisie, eerder as ’n toekomstige regering. Juis omdat die DA sukkel om tot swart kiesers deur te breek en blywend in opposisie gaan wees, behoort hy ook daarvan werk te maak om die beduidende getal opposisiekiesers, onder meer in Afrikaner-geledere, en wat tans niestemmers is, daartoe te oorreed om in die toekoms vir die DA te stem.

      Die verkiesingsuitslag onderstreep dat dit op die weg van Afrikaners lê om hulle belange op twee maniere te bevorder. Eerstens kan Afrikaners deur ’n doeltreffende opposisieparty te ondersteun saam met ander Suid-Afrikaners ’n teenwig teen die algehele eenparty-dominansie wees.

      Tweedens, wanneer dit kom by die omsien na spesifieke Afrikanerbelange is die rol van die (etniese) party egter drasties ingekort indien nie verwyder nie. In hierdie opsig het belangeorganisasies en -instellings wat op grondvlak daadwerklik na Afrikanerbelange omsien, eie vermoë genereer en ’n soepel verhouding met alle partye insluitende die regering handhaaf om daardie belange te bevorder en sonder om die instrument van die regering se politieke teen ander partye te word, oneindig belangriker geword as tevore. Energie kan baie produktief dáárin gekanaliseer word.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=548
Artikel nagegaan:
    -