|
||||
Vader Leon Mostert
*Katolieke priester en lid van die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn en al meer as tien jaar gemoeid met die Afrikaanstalige Apostolaat van die Katolieke Kerk.
Hierdie artikel is geen poging tot ’n apologia pro vita sua nie. Maar om my en die Kerk waarvan ek lidmaat is se geloofsoortuigings te verwoord, kan ek egter nie anders nie as om dit aan te raak wat my meer as twintig jaar gelede daartoe gedryf het om die radikale stap te neem en Katoliek te word. Dit is onvermydelik dat so ’n artikel tot ’n apologetiese en miskien selfs polemiese aard kan neig, maar dit is geensins my bedoeling om aanvallend en veroordelend te wees nie. Die Christus-gebeurtenis was, myns insiens, die grootste transendentale oomblik in die geskiedenis van die mensdom. Die transendentale het immanenteelbaar (as ek ’n nuwe woord mag skep) geword sonder om aan sy transendentaliteit in te boet. Rondom dit wat gebeur het en daardeur nog steeds in hul lewens aan die gebeur was, het Christene deur die eeue heen ’n transendentale taal ontwikkel. As gevolg van sekere historiese gebeure het daar ’n versplintering onder Christene ingetree en het die homogene religieuse en kulturele eenheid wat onder die begrip Christendom verstaan was, verlore gegaan. Die Afrikaanse taalkultuur het grotendeels uit een van die splintergroepe ontwikkel en staan op die oog af ver verwyder van die tweeduisendjaar-oue Christelike Katolieke kultuur. Vandag is ek ’n Katolieke priester en daagliks doenig met die vertaling van Katolieke tekste in Afrikaans om aan die behoeftes van die snelgroeiende Afrikaanstalige Katolieke bevolking te voorsien. Alhoewel ek nou met my kennis van die breëre Kerkgeskiedenis en uit my roeping as Katolieke priester bewus is van hoe arm, klein en vreemd die Calvinistiese vorm van die Christelike geloof vanuit ’n Katolieke perspektief voorkom, moet ek ook erken dat die grondslag van my eie verhouding met God gelê is in die godvresende Calvinistiese huis waarin ek groot geword het. Hoekom het ek ’n Katolieke Christen geword en hoekom bly ek ’n Katolieke Christen? Omdat ek destyds geglo het en nog steeds glo dat die Katolieke Kerk oor die volheid van die Christelike Waarheid beskik en dat hierdie feit histories verhaalbaar is. In ons permissiewe en pluralistiese samelewing lyk die aansprake van dié oudste Christelike Kerk waarskynlik verregaande, maar ek en meer as ’n miljard ander Christene is absoluut oortuig daarvan. My geestelike fondamente het dus hul oorsprong in ’n ander tradisie. Dié tradisie wat juis nie die rol van Tradisie in die Christelike geloof erken nie. Dit het beteken dat ek sekere gegewens oor die Christelike geloof waarmee ek grootgeword het, verwerp het, en ander gegewens, wat my in daardie stadium onbekend was, aanvaar het – die sleutelbegrip was en bly nog steeds vir my: Tradisie. Die dood van my twee geliefde ouma’s kort na mekaar aan die einde van my skooljare was die stukrag wat my oor die drempel van my eie geestelike leegheid gestoot het om in Jesus Christus die Heer van my lewe en al my leemtes te ontdek. Van meet af aan was my verhouding met die Here ook ’n verhouding met die Absolute Waarheid omtrent menswees. My jeugdige soeke na die Waarheid was gekoppel aan ’n sterk sin van geskiedenis (wat die beroemde Britse Katolieke geskiedkundige, Lord Acton, ’n “historiese denke” sou noem) en ’n behoefte aan aanbidding wat uit meer as die dikwels eksentrieke persoonlike interpretasie van Skriftekste, lang preke, hartelike gesange en oënskynlik nimmereindigende woordbelaaide gebede sou bestaan. Dié begeerte het my aanvanklik etlike opsies laat ondersoek, maar redelik gou het ek die Katolieke geloof gevind. Aanvanklik is ek sterk aangetrek deur die sielsverheffende ritueel – later sou ek St. Frans van Sales se woorde raakloop: “Seremonies is wel net skadu’s, maar hulle is skadu’s van die mees manjifieke realiteite.” Die deurslaggewende faktor was egter my bestudering van die geskiedenis: Watter een van die magdom kerke is die oorspronklike kerk, in watter kerk kon ek die vroeë Christene, die Apostels, se stemme hoor – ek het geweet dat ek in dié kerk die volheid van Christenskap sou vind. Instinktief het ek geweet dat die grootse transendentale waarhede nie tot die bladsye van ’n boek beperk kon wees nie. Dit was my ontdekking van Tradisie wat my uiteindelik toegelaat het om terug te keer na die Kerk van my voorouers. Ja, my liewe taalgenote, seshonderd of ’n duisend jaar gelede was ons voorouers (dit is nou dié wat nie in daardie stadium Moslems, Hindoe’s, Boeddhiste of aanbidders van voorvaderlike geeste was nie) almal Rooms-Katoliek! Die historiese onkunde en sektariese bibliolatrie wat so kenmerkend is van die menigtes wat hul wortels in Wittenberg of Genève terugvind, het my nog altyd teen die bors gestuit. Instinktief het ek geweet dat as Jesus ’n historiese Persoon is, dan moet die Christelike geloof ook ’n historiese geloof wees. Gou het ek ook besef dat die propaganda waaraan ek van kleinsaf blootgestel was en wat ’n mens sou wou laat glo dat die Christelike Kerk binne die eerste paar generasies (en veral na die Edik van Milaan in 313) ontaard het en as’t ware die suiwer geloof verloor het, louter onsin was. Watter tipe God sou toelaat dat sy Waarheid vir by die 1500 jaar verlore gaan net om in die sestiende eeu herontdek te word! Het die Here Jesus ons nie belowe dat Hy tot aan die einde van tyd met ons sou wees nie? Met Bybel en kerk het ek geworstel totdat ek die Heilige Kerk en die Heilige Skrif leer ken het. ’n Vraag wat my bygebly het was: hoekom het die Here Jesus Christus nie self die Nuwe Testament geskryf nie? Dink net hoeveel probleme dit vir latere generasies Christene sou oplos as die Here net eenvoudig gaan sit het en alles neergepen het wat Hy wou gehad het sy volgelinge moes glo. Daar sou beslis nie duisende verskillende Christelike kerkgenootskappe, elkeen met ’n eie vertolking van die Heilige Skrif, wees nie. As die Here fisiek self die Nuwe Testament geskryf het, sou die Heilige Skrif gesaghebbend en bindend vir alle gelowiges deur alle eeue gewees het. Die Here het egter niks neergeskryf nie. Hoekom nie? Die Here het dus nie bedoel om ’n geskrif/boek na te laat nie. Wat het Hy dan nagelaat? In die tradisie waarin ek grootgeword het sou hierdie as ’n baie vreemde vraag beskou word. Let wel, ek sê die tradisie waarin ek grootgeword het, want die ironie is dat Christelike genootskappe wat nie in Tradisie glo nie juis vashou aan ’n verskeidenheid mensgemaakte en dikwels onBybelse tradisies. Hiervan is sola scriptura die bekendste en sekerlik ook die vreemdste voorbeeld. Feit is dat Jesus Christus nie gekom het om ’n boek te skryf nie, maar om ’n geloofsgemeenskap te stig. Dít is die Kerk. Uit die Geesgeleide lewe van hierdie geloofsgemeenskap het daar mettertyd geskrifte ontstaan wat sekere van die tradisies/oorlewerings rondom die historiese Persoon van Jesus geboekstaaf het. Omdat hierdie tradisies lewensbepalend vir die vroeë Christene was, het hulle Tradisie geword. Uiteindelik sou die Kerk bepaal watter van hierdie boeke as gesaghebbend beskou kon word en so is die Bybel, soos ons hom vandag ken, deur die Kerk saamgestel. Nooit was dit egter die bedoeling dat die Bybel die plek van die Kerk sou inneem nie. Die Heilige Skrif is die handboek van die Kerk – die Heilige Skrif en die Kerk kan nie mekaar weerspreek nie. Die heilige Johannes skryf aan die einde van sy evangelie: “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” (Joh. 21:25). Saam vorm die Heilige Skrif en die Gewyde Tradisie die twee bene waarop die Kerk – die familia Dei, die familie van God – berus. Die Transendentale en lewende Tradisie waarvan ons die erfgename is en wat deur ons eie lewens beliggaam word (dit is wat dit beteken om getuies van Christus te wees) kom sigbaar tot uiting in die Een, Heilige, Katolieke en Apostoliese Kerk. Hierdie groot insig het my in lyn gebring met dit wat die vroeë Christene geglo het. Nou het die legkaart van my geloof ’n geheelbeeld begin vorm: Tradisie is die stramien wat alles laat saamhang en so het die Heilige Skrif nou vir die eerste keer in my lewe vir my begin sin maak. Al die Katolieke leerstellinge was vir my nou net so natuurlik en voor die hand liggend as wat hulle vir die eerste (Katolieke) Christene was. Sint Basilius die Grote (c. 330-379) het geskryf: “Onder die leerstellinge wat deur die Kerk bewaar word, tel daar sekeres wat vanuit skriftelike bronne afkomstig is en ander wat deur die eerste Christene vanuit die Apostoliese Tradisie versamel is en op nie-eksplisiete wyse oorgelewer is. Hulle almal dra egter dieselfde waarde ...Want as ons die ongeskrewe gebruike en leerstellinge opsy sou skuif as synde onbelangrik, sou ons, onwetend, die essensie van die Evangelie verswak; verder sou ons daarby die Kerygma tot blote woord misvorm.” (uit De Spiritu Sancto,27). Van St. Ambrosius (c.339-397) kom die volgende aanhaling: “Waar Petrus is, daar is die Kerk; en daar waar die Kerk is, is daar geen dood meer nie, maar die ewige lewe ..” ’n Mooi samevatting van die rol van Tradisie is deur die Ortodokse teoloog Wladimir Losski gegee: “Tradisie is die lewe van die Heilige Gees in die Kerk”. Groot bekeerlinge (terugkeerlinge) soos St. Augustinus, G. K. Chesterton en John Henry Newman het almal besef dat die Kerk as instelling Één, Heilig, Katoliek en Apostolies moet wees om as die outentiese draer van die Transendente te kwalifiseer (let wel, hiermee word geensins bedoel dat elke lidmaat van die Kerk noodwendig op ’n gegewe tydstip aan al die vereistes voldoen nie, dit gaan oor die Kerk, dié organisasie wat deur Jesus Christus gestig is). Sigrid Undset, die Noorse Nobelpryswenner en bekeerling tot die Katolieke Kerk het by geleentheid gesê: “... die Kerk van Rome het minstens vorm; dit irriteer nie ’n mens se intelligensie soos die uiteenlopende en onderling teenstrydige Protestantse sektes nie. Waar die Christendom die vorm van die Roomse Kerk ontneem is, lyk dit vir my na ’n mislukte en gebarste omelet...” In sy eerste brief aan Timoteus skryf St. Paulus: “... die huis van God, wat die gemeente (Kerk) is van die lewende God, (is) ’n pilaar en grondslag van die waarheid.” (1 Tim. 3:15). En verder in sy brief aan die Efesiërs: “Daar is net één liggaam en één Gees, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.” (Efesiërs 4:4, 6) Die vroeë Christene was mense van die Kerk, nie van die Boek nie (die Jode is mense van die Boek). Interessant is die feit dat die Afrikaanse woord ‘kerk’ sy oorsprong terugvind in die Griekse titel vir Jesus Christus, naamlik ‘Here’, oftewel ‘kurios/kyriake’. Die Here het belowe dat die poorte van die doderyk sy Kerk nie sou oorweldig nie: Kerk en Tradisie is dus nie net die draer van die transendentale nie, maar terselfdertyd ook die waarborg dat dit wat oorgelewer word die Waarheid is (en oneindig groter is as persone wat die oorlewering doen). As Afrikaanssprekende Katoliek is ek beslis nie uniek nie (daar is ’n hele paar duisend van ons); selfs as Afrikaanssprekende bekeerling wat Katolieke priester geword het, is ek nie uniek nie – daar is minstens ’n halfdosyn of meer van ons. Vir die talle Afrikaanssprekende bekeerlinge wat jaarliks in die Katolieke Kerk ontvang word, het die historiese Roomse Gevaar nou ‘Rome was toe al die tyd waar!’ geword. Bloot uit ’n kultuurhistoriese oogpunt is daar interessante dinge aan die gebeur binne die Afrikaanse taalgemeenskap. As taal word Afrikaans nou ook betrek by die verwoording van die Tradisionele Christelike geloof. Persoonlik is dit vir my ’n wonderlike ervaring om te sien hoe goed ons taal die Ewige Waarhede kan uitdruk (en dit in ’n tyd van wêreldwye maatskaplike en religieuse vervlakking). Die groot moderne Katolieke teoloog, Henri de Lubac, het gesê: “Die aard van Katolisisme lê daarin om tradisioneel te wees – dit is as’t ware die wese van ons geloof. Tradisie kan tereg beskou word as die lewende siel van die Kerk – dié bron waaruit die Kerk deurlopend versterk word. Om ’n wig te probeer slaan tussen die Kerklike Tradisie en ’n mens se persoonlike lewe en hulle as teenstrydig te beskou, is om die dooie letter en die gees teenoor mekaar op te stel. So ’n verkeerde ingesteldheid kan net ’n doodshou beteken vir ware geloof. Die voortreflikste en moedigste pogings deur die eeue heen om die Christelike lewe te lei, was altyd gewortel in die Kerk se Tradisie.” Jammerlik is die pogings van so baie Afrikaanse Christene (en dit is omdat hulle historiese wortels so vlak lê – hulle beskik oor geen Tradisie nie) om die geloof meer ‘relevant’ te maak – daardeur versnel hulle bloot die tempo van sekularisasie en goddeloosheid waaronder ons samelewing so swaar gebuk gaan. Die God wat alles transendeer, maar terselfdertyd inwonend in sy skepsels is, is uiteraard ’n groot Geheimenis. Katolieke Christene gebruik die woord geheimenis om ’n waarheid aan te dui wat ons verstand te bowe gaan (of wat ons maar net gedeeltelik kan begryp). God is juis God omdat Hy ons menslike begrip transendeer. Dit beteken egter nie dat geloof in God irrasioneel moet wees nie. Die essensie van die Christelike geloof lê juis in die versoening in die Persoon van Jesus Christus van die Transendentele met die Immanentele. Ware geloof kan nie menslike rede en begrip negeer nie. Graag sluit ek af met die woorde van die destydse Kardinaal Ratzinger (nou Pous Benedictus XVI): “Ware Katolisisme is ’n hoogs sensitiewe balans: ’n poging om juis dié aspekte van ons lewens wat oënskynlik teenstrydig met mekaar is, met mekaar te versoen en terselfdertyd die naatlose heelheid van ons geloofbelydenis in Jesus Christus te waarborg. |