blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: GMO’s: So staan sake tans 2006-04-26
Jacques Testart en Arnaud Apoteker

*Onderskeidelik bioloog en president van Inf’ogm, en koördineerder van Greenpeace se GMO-veldtog. Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin, [email protected]

 

Die term geneties gemanipuleerde organismes (GMO), sluit plante, diere of eensellige wesens in waarvan die genoom verryk is met een of meer gene wat vreemd aan die gemanipuleerde organisme is.

      Die doel is om aan laasgenoemde nuwe eienskappe te besorg wat nòg deur klassieke tegnieke, nòg deur ewolusie moontlik sou wees. Aldus is dit onwaarskynlik dat ’n geen van ’n vis op natuurlik wyse die genoom van ’n aarbei kan integreer… Drie GMO-groeperings kan onderskei word, waarvan die onderskeie risiko’s en voordele nie vergelykbaar is nie.

      Eerstens, eensellige GMO’s wat deur gisting gekweek word en waarvan die meerderheid stowwe vir mediese gebruik produseer (entstowwe, hormone, ensovoorts). Niemand bevraagteken hulle nie, want die stelsel funksioneer (bewese voordeel), en die tegniek word bemeester (toegelate risiko). Van al die kommersiële GMO’s is hierdie soort die “fatsoenlikste”. Dit is waarom die propaganda vir transgeniese plante hulle gereeld op die voorgrond plaas om sodoende verwarring te skep. Hierna volg plante of diere wat geneties gemanipuleer is om lewende navorsingswerktuie uit te maak. Hierdie GMO’s vir wetenskaplike gebruik word ingehok in gespesialiseerde dieresorgsentrums en is onderworpe aan streng regulasies. Net soos die voorafgaande GMO’s word GMO’s vir navorsing betreklik goed aanvaar deur die gemeenskap (behalwe teenstaanders van eksperimentering op diere).

      Laastens, vir die afgelope tien jaar, word die vraag gevra oor geneties gemanipuleerde plante (GMP), van belang vir die landbouvoedselbedryf of -nywerheid. Hulle word in landerye geproduseer en die meerderheid daarvan word deur vee of mense ingeneem. Hierdie GMP’s lewer vele probleme op wat nie in die geval van die ander GMO’s voorkom nie: veiligheid vir die omgewing, biodiversiteit, gesondheid, landelike ekonomie. Soortgelyke probleme sal na vore kom met geneties gemanipuleerde teeldiere (visse, soogdiere) sodra hulle in die natuur vrygelaat word. In die geskil wat reeds langer as ’n dekade duur en wat ’n hoogtepunt gaan bereik met die wetsontwerp wat aan die Franse Parlement voorgelê is, word slegs hierdie GMP’s bevraagteken.

      Transgenie, wat foutief voorgestel word as die bewys van die mens se “bemeestering” van die lewende, is ’n lukrake manipulasie, ’n tegnologie-by-benadering (1). Genetiese terapie kry dit steeds nie reg om siekes te genees nie, en transgeniese diere het dikwels gebreke (steriliteit, diabetes, misvormings) sonder enige duidelike verband met die geen wat in hulle genoom gevoeg is. Ondanks al die aanmatigende redevoering openbaar dit die inkonsekwentheid van ons kennis. Die groot kullery en die grootste risiko’s van die sogenaamde stappe tot “bemeestering” is juis gesetel in die afwesigheid van bemeestering by die aksies wat uitgevoer word.

      Die demiurgiese gewilligheid om chimeriese spesies te skep deur die vermenging van genome, gestimuleer deur die hoop op enorme winste vir die biotegnologiese bedryf, rus op genetiese reduksionisme: die genoom word beskou as die “boek van lewe”, die “program van die lewende”: elke geen sou werktuiglik met ’n proteïen ooreenstem, ensovoorts. Al hierdie simplistiese beskouings is reeds deur fundamentele navorsing weerspreek, asmede deur die verrassende afwykings: verskeie gene kan konvergeer tot die samestelling van ’n proteïen; die aard van ’n proteïen hang af van eksterne faktore met betrekking tot die genoom; enige GMO kan onvoorsiene eienskappe ontwikkel deur middel van die interaksie tussen die transgeen en die gasheer se genoom.

      Al hierdie verskynsels is opgeteken (2), maar hulle bly steeds grootliks onverstaanbaar en word hoegenaamd nie bemeester nie. Sodoende is die transgeen wat in ’n GMP aanwesig is, dikwels verskillend van die een wat ingevoeg moes word, en dit verklaar die valse veiligheid van magtigings vir die kweking daarvan. Daarbenewens het onlangse navorsingswerk in Australië (3) aangetoon dat die geen wat in ’n plant gevoeg word (die ertjie) allergene stowwe kan vervaardig, iets wat dit in die oorspronklike plant (die groenboontjie) nie gedoen het nie. Maar hierdie ertjie, wat nou toksies geword het, sou nietemin aan Europese magtigingsprosedures kon voldoen. Dit is dus wel wetenskap wat ons kortkom voordat die onmiddelike, massiewe en onomkeerbare disseminasie van transgeniese plante voortgesit word. En hierdie navorsing sou nie in oop landerye gedoen kon word as die natuurlike omgewing nie by uitstek as ’n groot laboratorium beskou word nie!

      In 1965 het professor Fosfatus aangekondig: “Ek glo dit is nie te ambisieus om te sê dat, oor sowat tien jaar, ons nie alleen blou lemoene in die sand sal laat groei nie (…),  maar inderdaad al die belangrike aanplantings wat noodsaaklik is vir menslike lewe (…), koring (…) aartappels (5)…” Veertig jaar later het ander professore Fosfatus nie net aangehou om dieselfde utopies te versprei nie, maar inderdaad tot aksie oorgegaan. Desnieteenstaande het die GMP’s wat meestal deur hulle verweerders genoem word nie ’n ware bestaan nie: die tamatie met ’n verlengde bewaringstydperk, die eerste GMP wat in 1994 gekommersialiseer is, is kort daarna laat vaar: Amerikaanse verbruikers het ’n weersin in die smaak daarvan gehad, en ongerymdhede is gepleeg om toestemming daarvoor te verkry (6); rys, “golden rice”, wat provitamien A produseer, is ’n mislukking: dit is nodig om ’n hele paar kilogram daarvan te eet om die nodige daaglikse dosis van vitamine te absorbeer; plante wat in staat is om in grond met ’n hoë soutinhoud of in woestyngebiede te groei, is steeds in die beloftestadium; wat “medisinale plante” betref wat veronderstel is om die farmaseutiese bedryf van ’n verskeidenheid stowwe te voorsien, het hulle nog nooit – nie meer as geneties gemanipuleerde diere – molekules in voldoende hoeveelhede kon produseer om die peil van kommersialisering te bereik nie.

      Hoe staan sake met GMP’s wat werklik verbou word op nagenoeg 100 miljoen hektaar, meestal op die Amerikaanse vasteland? Dit betrek, vir  98 % daarvan, plante wat óf in staat is om self hulle eie insekdoders te vervaardig, óf om die verspreiding van onkruiddoders te weerstaan. In beide gevalle loop die aanvanklike voordele die risiko om binne enkele jare te verskraal, want plae wat so beveg word, pas hulleself aan: parasitiese insekte wat deur mutasie bestand word teen insekdoders; adwentiewe plante (7) wat weerstand bied, want hulle doen hul eie teelkeuse of word draers van die transgeen. Die risiko bestaan (net soos met antibiotika) om magteloos te raak teenoor nuwe parasitêre konfigurasies.

      Daar bestaan reeds wilde plante wat bestand is teen al die gewone onkruiddoders. Die GMP’s wat insekdoders vervaardig, doen dit voortdurend, en met al die plantdele. Hulle stel dus baie meer gifstowwe vry as konvensionele behandelings, met gevolge wat potensieel rampspoedig vir die omgewing kan wees, in besonder vir insekte en voëls. Met GMP’s wat bestand is teen ’n onkruiddoder, word laasgenoemde dikwels eenmalig aangewend (om die koste van handearbeid te beperk) en dan op massiewe skaal (in dubbele hoeveelhede of meer) met steriliserende gevolge vir die grond se biologie (mikro-organismes, wurms, ens.).

      Die oormaat van plaagdoders wat in GMP’s aanwesig is, óf deur outonome generering (insekdoders), óf deur impregnasie (onkruiddoder) mag bepaalde risiko’s inhou vir die voeding van diere of vir mense wat daarvan eet (8). Terwyl voedingsprodukte wat meer as 0,9% GMO bevat, geëtiketteer word, weier die Franse regering se wetsontwerp hierdie maatreël vir produkte (vleis, eiers, melk) wat afkomstig is van diere wat met hierdie GMP’s gevoed is. Daar word nie eers melding gemaak van die verpligting om die publiek in te lig oor die resultate van toksisiteitstoetse van GMP’s nie, ten spyte van Europese aanbevelings. Die vraag kan ook gevra word oor die moontlike oordraging van nuwe eienskappe na bakterieë wat in ons spysverteringskanaal aanwesig is, waaronder ’n weerstand teen antibiotika vanweë transgene wat ingeneem is. In weerwil van verskeie en voorafgaande waarskuwings maak die wetsontwerp tot in 2009 voorsiening vir die aanwesigheid van gene wat bestand is teen antibiotika in die transgene.

      Geeneen van hierdie risiko’s was onderhewig aan ernstige navorsing nie, onder die voorwendsel dat transgeniese plante slegs ’n voortsetting is van die klassieke projek vir die verbetering van spesies, en wat reeds bewys het hoe onskadelik dit is … Dit is om variëteitseleksie of tradisionele kruisings te verwar met die produsering van chimeriese gene wat hoogs verskillende spesies met mekaar vermeng, selfs dierespesies met plantspesies. Hierdie amalgamasie regverdig ten dele die vrypostige aanname van “gelykheid in materie” wat veronderstel dat die GM-plant identies is in sy samestelling as die onveranderde moederplant, terwyl dit juis die invoeging van ’n geen van buite is wat dit vatbaar maak vir die versteuring van ander funksies.

      Kort op die hakke van die model van intensiewe, produktiwiteitsgedrewe en chemiese landbou is die utopiese missie van hierdie GMP’s die uitroeiing van onkruid en parasitiese insekte. Dit verbreek die tradisionele houding van die boer, verbete om sy oes te behou deur ’n soort “gewapende pakt” met die natuur, eerder as deur uitwissing. Want die boer weet dat die lewende geheel waaraan hy behoort heeltemal te ingewikkeld is, en dat dit wat ’n mens daarvan weet, te primitief is om homself die reg tot radikale aksies te gee sonder om die risiko van ’n ramp te loop. As boere hulself in GMP-aanplantings begeef, is dit omdat hulle besparings in handearbeid verwag: afskaffing van besproeiingsrondes met insekdoders, vermindering in besproeiingsrondes met onkruiddoders (wat die massiewe dosisse verklaar), iets wat gesprekvoering regverdig in lande waar werkloosheid op die platteland dramaties is, soos in die geval van Sjina. Dit is ook omdat nyweraars aanvanklike voordele aan hierdie “pioniers van voortuitgang” bewillig om hulle makliker te betrek by praktyke wat moeilik omkeerbaar is, en om rooskleurige beelde van wonderwerke aan hulle voor te hou, soos dit in Argentinië en in Brasilië gesien kon word, om sodoende die aanplanting van GM-sojaboontjies af te dwing.

      In die geheel gesien, kom die kultuur van GMP’s, soos ons dit vandag ken, neer op ’n enorme tegnologiese wysmakery waaraan instellings en sekere navorsers deelneem. Dit is ’n reusagtige mark wat in die spel is: die een van gesertifiseerde GM-saad wat boere teen ’n hoë prys sal moet aankoop en jaarliks sal moet herhaal, aangesien dit verbode is om hulle te hersaai… Vir multinasionale maatskappye wat in biotegnologie spesialiseer, en wat plantbronne (deur die aankoop van saadverskaffers) by hulle oorspronklike  domein (chemie) gevoeg het, gaan dit oor die skepping van ’n ontvanklike mark waarin uitsluitlik hulle eie belange in alle aspekte van wêreldwye voedselverskaffing afgedwing gaan word: variëteite wat gebruik word, fitosanitêre behandelings, aanplantingsmetodes, kommersialisering. Om die waarheid te sê, hierdie chemici wat GMP’s verhandel, is gelyktydig verantwoordelik vir massiewe verkope van insekdoders wat noodwendig met hulle genetiese chimere geassosieer word. Onlangs is die “molekultuur” voorgestel om nie-eetbare GMP’s aan te plant: medisyneplante of plante wat brandstof vervaardig, of selfs plante vir nywerheidsgebruik. Hierdie “vriendelike” maar tot op hede ondoeltreffende GMP’s skyn veral ’n rol te speel as Trojaanse perd om ’n tegnologie te waarborg wat geen voordeel vir verbruikers inhou nie. Om die waarheid te sê, die produksie van hierdie medisyne is altyd moontlik danksy GM-selle wat in ’n geslote milieu aangekweek word.

      Ten einde die teenkanting van openbare mening te ontwyk, organiseer die Franse regering van tyd tot tyd skyndialoë – per geleentheid selfs deur middel van elektroniese pos! –  wat eweveel demokratiese lokvalle inhou (9). Selfs al sou GMP’s dit in die toekoms regkry om die beloofde vertonings te verwesenlik, bly die feit steeds staan dat die Aarde in ’n reusagtige eksperimentele landery omskep gaan word, selfs nog voor die verkryging van bewese resultate. Soveel ligsinnigheid is die prys wat betaal word vir sogenaamde noodgevalle wat afgedwing word deur ’n visie wat tegelyk liberaal (vereistes vir “mededingendheid”) en argaïes (vereiste vir wetenskaplikheid) is, en dit skyn nie enige gelyke te hê in die geskiedenis van die tegnowetenskap nie. Want die vrese wat met elektrisiteit gebore is, het nie die gloeilamp weerhou om lig te verskaf nie, net soos wat die stoomenjin, selfs al het dit bekommernis veroorsaak, treine vorentoe laat beweeg. As miljarde dollar in ’n strategie belê word waarvan die haalbaarheid nie bewys is nie, is dit omdat die belange van agronyweraars gevoed word in ’n utopie waarin hulle strategieë van konsentrasie en dominansie van wêreldwye voedselverskaffing bevoordeel word, vanaf die saad tot in die supermark, tot en met die vasalisering van boere.

      Op grond van verskeie fasette van die risiko’s wat hierbo genoem is – inname deur diere en mense van gifstowwe en allergene; weerstand teen antibiotika; verspreiding van die transgeen na ander spesies; afskaling in variëteite; oorheersing van enkele multinasionale maatskappye oor landbou en voedselverskaffing; industrialisering van landboupraktyke, ensovoorts – is ’n gevolgtrekking noodsaaklik: GMP’s gaan nie bloot oor ’n toename in wetenskaplike vakkundigheid nie. In situasies soos hierdie lyk dit asof daar geen ander uitweg is as dié van kollektiewe evaluering, ’n soort “burgerkonferensie” (10), met inligting verskaf deur spesialiste van verskillende herkomste en met verskillende belange.

 

_________

(1) Parlementêre missie. Les OGM, une technologie à maîtriser, Verslag n° 2254, Parys: Editions de l’Assemblée nationale, April 2005, p.15 en 16.

(2) Lees Frédéric Prat (redakteur), Société civile contre OGM. Arguments pour ouvrir un débat public, Barret-sur-Méouge: Ed. Yves Michel, 2004.

(3) Lees Hervé Kempf, “Nouveaux soupçons sur les OGM”, Le Monde, 8 Februarie 2006.

(4) Allergeen: antigeen wat verantwoordelik is vir ’n allergie.

(5) Hergé, Tintin et les oranges bleues (Kuifie en die blou lemoene), Parys: Casterman, 1965.

(6) Eric Meunier, “OGM aux Etats-Unis: quand l’administration ignore ses experts (le cas de la tomate Flavr/Savr)”, Inf’ogm 51, Maart 2004.

(7) Dit wat groei op ’n bewerkte terrein sonder dat dit gesaai is.

(8) Frédéric Prat, op.cit.

(9) Lees Jacques Testart, “Hernuwing van demokrasie – Gedeelde wetenskaplike intelligensie”, Die Vrye Afrikaan 11 Februarie 2005, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=133.

(10) Ibidem.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=543
Artikel nagegaan:
    -