blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Olie op die vuur in Nigerië 2006-04-26
Jean-Christophe Servant

*Joernalis. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

      Die voorval was tekenend van die politieke sedes in Nigerië, Afrika se voorste olie-moondheid (1). Op 21 November 2005 maak die goewerneur van die staat Bayelsa – een van die ses state in die land wat die swart goud produseer (2) – sy herverskyning op sy grondgebied nadat hy vroeër na Engeland gevlug het.

      Diepreye Alamieyeseigha, een van die magtigste manne van die Nigerdelta, is destyds gearresteer toe hy op die Londense Heathrow- lughawe in transito was, danksy inligting wat deur die Nigeriese ekonomiese en finansiële misdaadkomissie (ECFF) verskaf is. Verdink van die witwas van sowat 11 miljoen euro, is Alamieyeseigha, lid van die bewindhebbende Volksdemokratiese Party (PDP) en ’n amptenaar wat amptelik 1 000 euro per maand betaal word, in Brixton opgesluit en sy paspoort gekonfiskeer. Nadat hy voorwaardelik vrygelaat is, met die verbod om die land te verlaat, vlug die goewerneur van die staat wat 25% van al Nigerië se olie produseer, nogtans uit die Verenigde Koninkryk met ’n vals paspoort.

      Die verduistering van openbare fondse sou Alamieyeseigha in staat gestel het om ’n olieraffinadery in Ecuador asook verskeie buitelandse wonings aan te skaf. Nietemin, by sy terugkeer uit Engeland word hy deur talle van sy onderdane met ope arms terug verwelkom: vir hulle bestaan daar geen twyfel nie dat die goewerneur die slagoffer is van ’n “neo-koloniale” komplot wat deur Londen met die steun van die Nigeriese regering georkestreer is. Inderdaad, met die naderende presidentsverkiesing in 2007, poog die staatshoof Olusegun Obasanjo glo om politici soos Alamieyeseigha, wat in die binnekring van sy visepresident en teenstander Atiku Abubakar beweeg, op die kantlyn te sit. Op straatvlak reken die Ijaw, wat die vierde grootste etniese groep in die land is, eenvoudig dat die goewerneur ’n slagoffer is vanweë sy standinname ten gunste van “hulpbronbeheer”: hy vra dat 50% van alle inkomste uit olie na produserende state in die Nigerdelta moet gaan, teenoor die 13% waarvoor die nasionale Grondwet voorsiening maak. Dit is in hierdie hoedanigheid dat Alamieyeseigha so ’n heldeontvangs gekry het by sy terugkeer na Yenagoa, hoofstad van die staat Bayelsa waar meer as 70% van die bevolking van minder as ’n dollar per dag leef.

      Dit is waar dat die bevolking meer as tien jaar ná die galgdood van die skrywer, Ken Saro Wiwa, wat die militêre oliediktatuur van Sani Abacha (3) teengestaan het, nog op soek is na nuwe kampvegters. Maar anders as hulle voorgangers is die huidige “helde” van die delta duister figure op die buitegrense van politieke aktivisme en ekonomiese misdadigheid. Dit is die geval met El-hadj Dokubo Asari, leier van die Niger Delta People’s Volunteer Force (NDPVF), wat in Augustus 2005 in hegtenis geneem is vir skending van staatsveiligheid. In sy veertigerjare, uit ’n vooraanstaande gesin, het hy in die vroeë 1990’s op die delta se gewelddadige kampusse die aandag getrek – toonbeeld van ’n ledige, “ontklasde” jeug wat moes toesien hoe die voordele van die olie-ekonomie deur sy vingers glip. As Ijaw- strydlustige lei hy ’n gewapende burgermag wat ’n vuishou toedien vir die plaaslike staatsmasjien van die maghebbende Volksparty (PDP). Teleurgestel deur sy “beskermheer”, die goewerneur van die Riversstaat, Peter Odili, verkondig hy voortaan gewelddadige aksie en afskeidingsopinies, en bedryf terselfdertyd onwettige handel in die swart goud. Tydens die presidentsverkiesing in 2003, aldus ’n waarnemer, “is heelwat bendes in die delta gebruik om die opposisie te intimideer. Maar as jy iemand ’n wapen in die hand gegee het, kan jy dit nie weer terugneem nie. Gevolg: toe die verkiesing klaar gewen is, het dié manne in misdadigheid verval onder die voorwendsel dat hulle in die steek gelaat is”. 

      Botsings tussen burgermagte laat gereeld slagoffers. Daarbenewens loods groepe soos die NDPVF onophoudelik aanvalle teen maatskappye – Shell, Chevron, Agip, Total, ensovoorts – wat soos al die ander buitelandse maatskappye in Nigerië voordeel trek uit een van die beste beleggingsopbrengste ter wêreld. Een so ’n “staat binne die staat” wat 43% van Nigerië se ru-olie produseer, die Shell Petroleum Development Company of Nigeria (SPDCN), verloor daagliks 10% van sy produksie vanweë sabotasie. Op 18 Februarie 2006 ontvoer die Beweging vir die Bevryding van die Nigerdelta (MEND) nege buitelandse kaders wat vir ’n Shell-subkontrakteur werk. Op 1 Maart laat hy ses van sy gyselaars vry, en besluit om sy aanvalle te verskerp: op 5 Maart kondig hy aan dat hy “voortaan nie meer gyselaars sal neem nie, maar sal skiet om dood te maak” (4).

      Die Nigeriese weermag voer gedurig brutale weerwraakoperasies teen dié bendes uit. In November 1999, by Odi in die Ijaw-streek, veroorsaak weerwraak na die moord op 12 polisielede die dood van ongeveer honderd burgerlikes. In 2003, in reaksie op die NDPVF se maneuvers, stuur die regering ’n operasie van stapel onder die naam Restore Hope (met verwysing na die VSA se gelyknamige operasie in Somalië wat op ’n fiasko uitgeloop het): om en by ’n honderd slagoffers in die omgewing van Port Harcourt. Om hulle oliebronne te beskerm, steun die firmas, wat hulle ook op private veiligheidsmaatskappye beroep, hierdie optredes sonder skroom. Chevron Nigeria, ’n filiaal van Chevron Texaco wat aan die spits staan van Amerikaanse olie-invoere uit Nigerië, stel byvoorbeeld sy Escravos-terminus – en helikopters – beskikbaar sodat Abuja klopjagte kan uitvoer op gemeenskappe wat die maatskappy vyandiggesind is. Die firmas huiwer ook nie om mededinging tussen plaaslike groepe uit te buit nie. Chevron maak byvoorbeeld van die Itsekirigemeenskap, wat al sedert die slawehandel vir geslagte lank die Ijaw se teenstanders is, die hoofbegunstigde van sy ontwikkelingsprogramme.

      Dit is wel so dat die oliewêreld, na sewe jaar van “democrazy” (demokrasie en gekheid), nog meer as ooit hierdie kusland van die “volgende golf” (5), die Golf van Guineë, toestroom. Die nuwe aflandige bron van Bonga behoort Nigerië in staat te stel om teen 2010 viermiljoen vate ru-olie per dag te produseer. Stryd teen korrupsie, “deursigtigheid”, respek vir die omgewing, is enkele van die slagspreuke van die burgerlike owerhede wat in 1999 die weermag opgevolg het. Die gedagte is om ’n einde te maak aan die stryd om die “nasionale koek” wat al 50 miljard uit die 350 miljard oliedollars, wat sedert onafhanklikwording ontgin is, laat “verdamp” het. Maar in die delta gedra die goewerneurs hulle steeds soos Mafia-base.

      Die suidooste van Nigerië het die middelpunt van ’n “nuwe driehoekhandel” geword, dié in ru-olie en olie-dollars, waarvan die menslike gevolge net so rampspoedig is as dié van die slawehandel eertyds in dieselfde streek. In ’n streek wat deur rente-ekonomie gekorrumpeer is (6), dra die politieke krisis wat die Bayelsa-staat ry, swaar aan simboliek. Nie alleen is die staat die hart van die Ijaw-streek nie, dit is ook ’n historiese gebied waar die eerste vate Nigeriese olie in Maart 1956 deur die Britse maatskappy Shell ontgin is; verder is dit ’n bastion van maatskaplike en politieke opstande in die delta (7) wat die presidentsverkiesing in 2007 sou kon ontwrig.

      En tog, danksy stygende ru-oliepryse, spog die Bayelsa-staat in 2005 met ’n rekord-begroting van 470 miljoen euro teenoor 252 miljoen in 2003. Maar 7 miljoen – onder meer 1,6 miljoen vir binneversiering – is eerstens aangewend om die bouwerk aan twee ampswonings af te rond. Dié som kan gelas word by die 21 miljoen euro wat reeds einde 2002 vir dieselfde doel gebruik is. In 2005 kondig die Bayelsa-staat aan dat slegs 19 330 euro toegeken word aan ’n Komitee vir die Bestryding van Armoede, waarvan niemand tot op hede trouens die bedrywighede ken nie.

      Volgens verslae wat ter geleentheid van die tiende herdenking van Ken Saro Wiwa se galgdood gepubliseer is, is die situasie in die Nigerdelta “erger as in 1995: meer geweld en nog meer bewapende bendes en burgermagte. Groter korrupsie in die toelae en bemarking van olie en gas” (8). Jaarliks sterf gemiddeld 1 000 mense gewelddadig in ’n streek wat omvorm is in ’n grys sone soortgelyk aan Tsjetsjnië of Colombië. Hierdie ekonomie veroorsaak ook onregstreekse slagoffers: verlede jaar in Bayelsa het die giftige rookdampe uit die verbranding van olie – wat terloops in November 2005 deur die Nigeriese howe verbied is – 5 000 gevalle van asemhalingskwale en meer as 120 000 asma-aanvalle veroorsaak (9). Om weg te kom van die besoedeling wat die voedselketting aantas, verlaat duisende ekologiese vlugtelinge die hart van die delta en neem hulle toevlug tot die plofbare ghetto’s van Port Harcourt of dié, verder weg, van Ajegunle in Lagos, die land se ekonomiese hoofstad.

      In pamflette waarin hy die openbare mening van sy eerbare praktyke wil oortuig, verklaar SPDCN – Nigeriese filiaal van Shell – en wat 15% van die moedermaatskappy se algehele opbrengste verteenwoordig, dat hy 60 miljoen dollar per jaar aan ontwikkelingsprojekte wy. Maar volgens Marc Antoine de Monclos van die Institut de recherche pour le développement (IRD, die Franse navorsingsinstituut vir ontwikkeling), “moet ’n mens tussen die syfers lees, inaggenome dat oliemaatskappye weier om navorsers toegang tot hulle argief te gee en vrae te beantwoord wat te sensitief is. Uit die 60 miljoen dollar wat Shell beweer hy in 2000 aan ontwikkelingsprojekte bestee het, is meer as 33 aangewend vir die bou van paaie wat ook vir ontginningsoperasies gebruik word. In nog ’n pennespel verklaar Shell dat hy 513 miljoen dollar tussen 1996 en 2000 aan omgewingsbewaring bestee het. Maar die grootste deel van dié bedrag – 282 miljoen dollar – is in werklikheid aangewend vir die kanalisering van olieskoorstene wat in die opelug brand, en wat deel vorm van die groot kommersialiseringsprojek van natuurlike gas in Nigerië.” (10)

      Die tragikomedie van die goewerneur van Yenagoa het byna ’n maand geduur. Afgedank deur ’n meerderheid van sy staat se verkose lede, word mnr. Alamieyeseigha op 9 Desember 2005 gearresteer. Die federale administrasie oorweeg nou om hom na Londen te verban. Maar Ijaw-organisasies is verdeel tussen woede en berusting. Teen die agtergrond van ’n kommerwekkende toename in die verspreiding van ligte wapens smeul die vuur: sedert Januarie maak nuwe gewapende sesessionistiese bewegings, soos die Ijaw Rebellebeweging vir die bevryding van die Nigerdelta, wat die bevryding van die afgesette goewerneur en van Dokubo Asari eis, hulle verskyning. Dié groepe voer onophoudelike aanvalle teen die maatskappye en ontvoer buitelandse kaders. Wat Obasanjo se laaste termyn behoort te wees – die Grondwet kan ook heel moontlik hersien word om hom ’n derde termyn te gee – lyk of dit mag eindig daar waar dit in 1999 begin het: by die olievraagstuk. “Die atmosfeer is besonder plofbaar in die Bayelsa-staat en dit kan ontvlam as enigiets met Alamieyeseigha of Asari sou gebeur,” aldus die Britse joernalis Andy Rowell. “Maar ons moet nie vergeet dat dié probleme eerstens die gevolg is van Britse en Amerikaanse belange se voortgesette ontginning van die delta nie. Dit sal interessant wees om te sien wat hulle regerings se houding sal wees tydens die volgende verkiesing”.

      Vir die Britse Arbeidersparlementslid, John Robertson, voorsitter van die All-Party Parliamentary Group on the Niger Delta saam met wie hy in Augustus 2005 die streek besoek het, is die situasie ’n kruitvat: “Die deltabevolking weet dat die olie geweldige rykdomme oplewer waaraan hulle feitlik geen deel het nie. (...) Hierdie kombinasie werk nie alleen goeie bestuur teen nie, dit skep ook wrewel, beide jeens die maatskappye wat dié rykdom skep, en jeens die gemeenskapsleiers wat daarvan beskuldig word dat hulle met eersgenoemdes heul. En boonop gebruik beginsellose individue die bevolking se gegriefdheid om aksies te lei wat die einste bronne van hierdie rykdom in gevaar stel.” (11) En, vra Robertson hom dit af, “as daar ’n rewolusie in Nigerië sou kom, wat sou die gevolge vir Afrika wees?”

 

_________

(1) 35 miljard vate vasgestelde ru-olie en sowat 100 000 miljard kubieke meter gas.

(2) Nigerië is ’n federasie van 36 state.

(3) Die Nigeriese skrywer en dramaturg Ken Saro Wiwa stig in 1990 die Beweging vir die oorlewing van die Ogoni-bevolking (Mosop), wat terselfdertyd die Nigeriese regering en die omgewingskending deur Shell in die Ogoni landstreek aan die kaak stel. Nadat van sy volgelinge vier tradisionele Ogoni-leiers vermoor het, word Ken Saro Wiwa deur generaal Sani Abacha se diktatuur ter dood veroordeel en saam met 8 ander Mosop-lede op 10 November 1995 in Port Harcourt opgehang.

(4) AFP, 5 Maart 2006.

(5) Lees Andy Rowell, James Mariott en Lorne Stockman, The Next Gulf London, Washington and oil conflict in Nigeria, Londen: Ed Constable, 2005. Lees “Offensive sur l’or noir africain”, Le Monde diplomatique, Januarie 2003.

(6) The Next Gulf, op. cit.

(7) In Februarie 1966 begin Isaac Adaka Boro, ’n Ijaw afkomstig uit die omgewing van boorgat no. 1 van Oloibori, en hoof van die Delta Volunteer Service, ’n kortstondige gewapende stryd teen die sentrale staat nadat hy die Nigerdelta-republiek in die lewe geroep het. Nadat hy gestuit is, agiteer hy in die federale magte tydens die Biafra-oorlog. Hy kom op geheimsinnige wyse hier om in 1967.

(8) Africa Confidential, Londen, 18 November 2005.

(9) http://www.climatelaw.org/cases

(10) Lees “Pétrole et sécurité privée au Nigeria : un complexe multiforme à l’épreuve du syndrome de Monaco”, http://www.conflits.org/document.php?id=983 

(11) Hierdie verslag, waartoe ons toegang kon kry, is nie gepubliseer nie.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=542
Artikel nagegaan:
    -