blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Die Afrikaanse universiteit van die toekoms: Die Afrikaanse universiteit in Afrika 2006-04-26
Fanie de Beer

*Buitengewone professor in inligtinkunde aan die Universiteit van Pretoria

 

Daar word deesdae baie gepraat oor ’n Afrika-universiteit, die afrikanisering van die universiteit en die transformasie van die universiteit in Afrika met die oog hierop.

      Die vraag na ’n Afrika-universiteit in onderskeiding van ander universiteite, byvoorbeeld Westerse universiteite, is waarskynlik gebore uit probleme wat in Afrika ervaar word ten opsigte van ’n eie identiteit in ’n wêreld van globalisering, ’n eiesoortige en unieke plek in hierdie wêreld, die behoefte daaraan om probleme in Afrika te takel en op te los. Die eie universiteit word gesien as ’n moontlike weg tot die hantering van die probleme. Vanselfsprekend is al hierdie sake van die grootste belang en verdien ernstige aandag. Die vraag is egter of  ’n Afrika-universiteit die antwoord is of sal kan bied op hierdie vrae. Waarom sou die afrikanisering van die unversiteit oplossings bied wat andersins nie gevind kan word nie?

      Die uniekheid en eiesoortigheid van die universiteit in die tradisionele of klassieke sin het reeds bewys tot watter mate dit wesenlike bydraes lewer tot die oplossing van probleme, verwyte van ivoortorings ten spyt. Dit is nie sondermeer net vervangbaar deur wieookal om watter redes ookal nie daarvan hou nie of dit vir eie gewin wil aanwend nie soos byvoorbeeld die sogenaamde korporatiewe universiteit. Kerklike en staatsuniversiteite het ons alreeds heelwat hiervan geleer. Ons is tans ook besig om duur en pynlike lesse te leer onder dwang van Die Mark en die sakewêreld wat die universiteit wil annekseer vir ’n nuwe soort diensbaarheid.

      Universiteite is weliswaar wêreldwyd in ’n krisis. Sommige verwys na die universiteit as geruïneerde instelling, ander na die feit dat dit struikel of dat dit beseer is, of in ons geval dat dit nog ongetransformeer is. Daar heers aansienlike verwarring en ook besorgdheid oor wat universiteite is of behoort te wees. Daar is ook nie ’n beperking op die soort universiteit nie: Westerse universiteit, liberale universiteit, Christelike universiteit, Islam-universiteit, korporatiewe universiteit, tegnologiese universiteit en so aan. Hoewel dit die verwarring groter maak, bevestig dit terselfdertyd die feit dat universiteite in beginsel nie statiese nie maar dinamiese instellings is wat deur die eeue prosesse van herinvensie ondergaan het. Hoekom in beginsel? Omdat universiteite, soos ander instellings, baie dikwels nie gebruik word vir wat hulle in wese verteenwoordig nie, nie toegelaat word om met eie krag voort te werk in die belang van kennis en waarheid nie, maar vir ander doelwitte hoofsaaklik van politiek-ideologiese en nou alhoemeer ook van ekonomiese aard - hulle word demonstrasies, speelballe en middele van mag en magsmanipulasies. Die samesmelting in Suid-Afrika, wat ook nog nie sy einde gesien het nie, is ’n voorbeeld hiervan.

      Boonop word die instellinge ook gekenmerk deur interne stryde. Vanaf 1798 toe Kant sy "stryd om die fakulteite" geskrywe het tot Derrida se studie oor dieselfde onderwerp in 1992 vind hierdie stryd in die literatuur sy weerklank. Die stryd gaan feitlik op ’n daaglikse basis voort binne die bestaande instellinge. Die rusies kan soms ernstige afmetings aanneem. Baie argumenteringe, motiveringe en rasionaliseringe word in die proses gebore – wat soms byna tot versiering en vermaak dien en in ander gevalle selfs tot versuring lei. Daar is ook geen gebrek aan magspeletjies en magstoertjies nie. Feitlik in al hierdie prosesse kom baie min van die beginsel van die universiteit waarvan Derrida praat tereg.

      Waarom gaan dit ten diepste in die beginsel van die universiteit? Miskien moet ’n mens by die naam begin. “Universiteit” verteenwoordig myns insiens die universum van kennis, die kennisgeheel in die wydste en diepste sin daarvan en vir sover ’n instelling hierop fokus en hieraan werk om kennis in sy geheel te bewerk, kan dit op hierdie naam aanspraak maak. Wanneer dit blyk dat ’n instelling nie hieraan voldoen nie en nie kennis ter wille van kennis bevorder of wil bevorder nie moet dit eintlik ’n ander naam kry. Die kennisuniversum is nie ’n wetenskaplike begrip nie, maar ’n filosofiese begrip. Uit hierdie filosofiese begrip het ’n instelling gegroei en is daaromheen ontwikkel en gaan steeds op sterkte van hierdie begrip voort. Wanneer ’n mens na min of meer nugtere en eerlike uitsprake luister soos dit soms (al gebeur dit al hoe minder) in Senaatsvergaderings uitgespreek word, soos dit in missie- en visiestellinge geformuleer word, soos dit van tyd tot tyd in openingsredes en gradeplegtighede ter sprake gebring word en soos sommige akademici onder mekaar gesels, skemer daar steeds iets van hierdie beginsel duidelik deur.

      Wat maak van hierdie instellinge universiteite? Wat is uniek en anders aan hulle? Wat behels hierdie begrip? Dit het met die volle kennisverhaal te doen, met alle kennis. Geen reduksies word geduld nie. Dit het met ware kennis te doen, met dit in die gedagte dat ware kennis baie moeilik verwesenlikbaar is. Dit het met vryheid te doen om hierdie kennis te betrag en ernstig (nie slegs vir eie gewin nie) met ’n oop en leergierige gemoed  na te jaag (sogenaamde 'akademiese vryheid' wat beteken om vry te wees van oorheersing deur politiek, geloof en dogma). Derrida het hierdie aangeleentheid treffend geformuleer in sy boekie Die universiteit sonder voorwaarde. Die universiteit eis en moet ook die onvoorwaardelike geleentheid kry om te mag vra, te bevestig en openlik alles te sê wat deur navorsing, kennis en denke oor die waarheid vereis word. Dit beteken dat die universiteit ’n onbeperkte en ongehinderde verbintenis tot die waarheid moet handhaaf. Derrida gaan selfs sover as om tot burgerlike ongehoorsaamheid op te roep waar hierdie verbintenisse aan bande gelê word. Die volle, ware, vrye kennisgemoeidheid gebeur in en deur taal. Kennis sonder taal is ondenkbaar; volle, ware en vrye kennis sonder die beskikbaarheid van taal in die volheid daarvan is ondoenbaar. Ek kom later weer hierop terug. Vir die oomblik is dit net belangrik om in die gedagte te hou dat taal nie slegs met wetenskaplike presiesheid te doen het nie, maar ook met die verbeeldingryke en die fantastiese waarmee ons menswees alle grense oorskry. Die taal in sy volheid moet hom in die instelling kan laat geld om dit ’n universiteit te laat wees. Slegs mense wat met hulle volle vermoë, veral volle intellektuele vermoë (wat myns insiens denke, emosie, oortuiging, verantwoordelikheid en geloof insluit), hulle lewens hieraan wy, kan reg laat geskied aan die beginsel van die universiteit. Hierdie menslike denkinsette moet nie net van binne die instelling kom nie. Almal kan nie daarbinne geakkommodeer word nie, maar vir almal behoort hierdie sake belangrik te wees en almal kan dit bevorder, want hierdie soort instelling is vir die samelewing, vir elke samelewing, en vir die toekoms, die toekoms van samelewings en van die mensheid, van beslissende belang. Daar is baie voorbeelde van mense wat sulke insette tot die kennisuniversum lewer al is hulle nie professore nie. 

      Om uitdrukking aan hierdie diversiteit van optimale aktiwiteite te gee, is die drieledige diskoers wat uit die insig van Michel Serres afgelei word besonder gepas: Serres praat van “die onderrigte derde”. Hierdie figuur is ewe tuis op die gebied van die wetenskaplike as die literêre en die filosofiese diskoers. So iemand erken die onmisbare vervlegtheid van hierdie diskoerse en belewe die manifestasie daarvan op ’n veelvoud van vlakke, die risomatiese waarna Deleuze en Guattari verwys. Dit is hierdie drievoudige of drieledige diskursiewe aktiwiteite op baie vlakke wat karakter, momentum en impak aan die universiteit as instelling verleen. Hierdie trilogie stel die hoogste moontlike eise aan menslike denkvernuf. Hierdie oorskrydende denke is wat Serres inventiewe denke noem. Waar enige van die drie ontbreek of waar nagelaat word om aldrie positief en konstruktief te bevorder, ontbreek die universiteitsbeginsel of -gedagte. Wat meer is, is dat Michel Serres sou wou sê: daarmee is inventiwiteit na sy maai. En wanneer dit in ’n samelewing gebeur, is so ’n samelewing op ’n fatale afwaartse pad. Hierdie vermoë kom nie vanself nie. Daar moet hiertoe opgevoed word en waar hierdie opvoedingsproses skipbreuk ly, ly die universiteit skipbreuk. Die universiteit is nie ’n fabriek wat graduandi produseer nie. Dit is ’n plek waar mense geleer behoort te word om te dink en te herdink, te bevraagteken en na die beste en waarste antwoorde te soek. Gedagtevolheid en nie gedagteloosheid nie is die belangrike saak hier.

      Hierdie ideaal word op verskeie fronte ontsier en tot karikatuur verlaag: gelowe eis dit vir hulle op; politieke ideologieë maak aanspraak daarop; professionele groepe kom met wekroepe van eie geformuleerde eise; ekonomiese magte speel ’n al hoe sterker rol om die karakter van die instelling te bepaal; maglustige bestuurders lê beslag daarop ter wille van eie statuur; taalgevegte wat dui op ’n verengde en verenging van die universiteitstaal eis sy tol ten opsigte van fiere intellektuele en inventiewe handelinge; enggeestige “wetenskaplikes” help beleid formuleer ten koste van ander wetenskappe. Die geveg teen die menswetenskappe of geestewetenskappe, veral in terme van hulle sogenaamde onbemarkbare waardeloosheid, is ’n pertinente illustrasie hiervan. Feitlik in al hierdie gevalle, omdat die drieledige diskursiewe aktiwiteite nie almal op al die silinders funksioneer nie, hou die instelling op om ’n universiteit te wees en word dit iets anders, of, op sy heel beste “‘n uitgeteerde universiteit”. Wanneer daar voortgegaan word om in so ’n situasie van universiteit te praat,  praat ons eintlik van ’n karikatuur. So-iets word nie vir Afrika gegun nie.

      Hierdie proses het al so ver gevorder dat dit vir baie byna vanselfsprekend geword het om te aanvaar dat die tyd van die universiteit verby is. Die omvang van die fataliteit  van reduksionisme, van dit wat van kennis iets veel minder maak as wat dit is en die waarheid op gewelddadige wyse geweld aandoen en die vryheid tot refleksie aan bande lê, of wat nie die taal toelaat om te gedy en fees te vier en op alle diskursiewe vlakke te floreer nie en wat nie die menslike intellek en denke toelaat om uit te munt nie en buite sigself te raak nie (to excel) (die reduksie wat Badiou die eintlike terreur noem), maak die instelling, tensy hierdie gedrewenheid baie dringend en radikaal omgekeer kan word, as ‘t ware terminaal siek. Dit is ons groot en baie wesenlike bedreiging. Dit is moontlik nou dringender as ooit om die universiteit op grond van wat dit bedoel is om te wees te herinventeer vir ons tyd se werklike behoeftes en nie bloot vir die behoeftes van Die Mark nie, ook nie die arbeidsmark nie. Dit sou die omkering van hierdie gedrewenheid wees. So ’n herinvensie sal moontlik die arbeidsmark oorlaai met voortreflik toegeruste mense wat weet hoe om die invensie van oplossings vir probleme so ver as moontlik te voer.     

      Die vraag kan inderdaad gestel word: Tot watter mate bestaan daar, teen hierdie agtergrond, regverdiging vir ’n soort instelling soos ’n eiesoortige Afrika-universiteit? Aan watter vereistes moet so ’n instelling voldoen wat dit onderskei van die bestaande universiteite vir sover hulle aan bogenoemde beskrywing voldoen. Sou dit nie sinvoller wees om vir die Afrikakonteks, gegee die betrokkenheid by die globaliseringsdrama in die wêreld en die spesifieke node in Afrika van armoede in sowel ekonomiese as kennismatige sin, op die gebied van gesondheidsorg en baie ander sake, om eerder hierdie universiteitsbeginsel, waarin die diversiteit van kulture en kennisvorme ingebou is, te omarm en voluit daarvoor te gaan nie? Die besef moet lewend bly: wanneer dit gaan om alle kennis, ware kennis, vryheid tot kennis, is Afrika nie uitgesluit nie, maar juis ingesluit! “Universiteit” is ’n “universele” saak en as sodanig nie slegs vir ander mense, kulutre en vastelande bedoel nie, maar wel bedoel vir almal wat wil dink en ken. Afrikakennis sou byvoorbeeld myns insiens met baie meer oortuiging koers kon kry en tot sy reg kon kom wanneer dit teen so ’n agtergrond die geleentheid vind om te ontplooi, te ontluik en diensbaar te word. Met die gedagte van die herinventering van die universiteit vir Afrika is dit presies wat hier in die gedagte is. Ons soek dus ’n universiteit vir Afrika waarbinne denke tot die hoogste en mees akute gestalte kan ontluik en dit is per definisie dan inventiewe denke. ’n Afrika-universiteit sonder hierdie fokus sou nie kon bydra tot die oplossing van Afrika se probleme nie, want die invensiepotensiaal sal nie anders nie as om agterweë te bly. Dit sou ’n nuwe terreurgedrewe instelling à la Badiou word. Ons het alreeds te veel daarvan.

      My voorstel sou wees dat dit belangriker is om eerder die universiteit vir Afrika te herontdek en inderdaad te herinventeer in terme van dit wat hierbo geskets is, eerder as om ’n Afrika-universiteit te probeer ontwerp. Dit is geensins duidelik hoe hierdie instelling moet lyk of behoort te lyk in vergelyking met bestaande instellinge nie. In die era van globalisering, waarvan dit onmoontlik is om te ontsnap sou dit miskien meer vrugbaar wees om die advies van Armand Mattelart in sy Diversité culturelle et mondialisation (Kulturele diversiteit en globalisering) te volg waarin hy die belangrikheid beklemtoon en die sinvolheid bepleit van ’n voortgaande sirkelbeweging tussen die lokale en die globale van denkbeelde, werkwyses en insigte. Die konstruksie van globale netwerke met die aksent op die interafhanklikheid van elke lid in die netwerk; die bedink en deurdink van die nuwe wêreld van alteriteite; en die kennis van die slaggate van kulturele relativisme en die onmiskenbare skade wat dit kan berokken, vorm saam moontlik ’n grondslag vir die besinning in Afrika oor ’n universiteit vir Afrika. Die herinventering van so ’n universiteit sou met hierdie reeks dinamiese faktore moet rekening hou in die beste belang van Afrika. Mattelart verwys ter motivering na opmerkings van Paul Ricoeur oor die relevansie van die werk van vertaling "wat ooreenkomste opmerk waar daar slegs meervoudigheid bestaan". Vertaling is die antwoord op "die verstrooiing en die verwarring van Babel". Vertaalbaarheid is die fundamentele vooronderstelling vir die gesprek tussen kulture. In ’n globale wereld word vorm aan identiteite gegee deur die erkenning en bedinking van en die respek vir alteriteite. Hiermee en nie deur isolasie, opposisie en afsondering nie, word ’n sinvolle plek in die geheel verseker. Vertaling en vertaalbaarheid gaan hier ’n deurslaggewende rol speel. Jare gelede al het Michel Serres in sy filosofofie van inligting die plek van vertaling geïdentifiseer en uitgewys as van die grootste belang in die skepping van ’n kenniswêreld waarin almal kan deel. Hiermee is die pad verder geopen vir die herinventering van ’n universiteit vir Afrika. Afrikane en Afrikaners het hier ’n betekenisvolle les te leer.  

      Hiermee saam kom die vraag ook nou na vore of ’n sogenaamde Afrikaanse universiteit binne die huidige Suid-Afrikaanse konteks en Afrikakonteks bestaansreg het of behoort te hê? Om aan Afrikaans, of enige ander taal, die reg te ontsê om binne die kennisuniversum voluit operatief te wees en op die manier Afrikaners, of wieookal anders, van so ’n voorreg en ruimte te beroof of daarvan te stroop is ’n ernstige onreg. Dit is om taal en die plek van taal in die lewe van mense geheel en al mis te verstaan. Net terloops: om dit aan Afrikaans te doen omdat dit deur sommige tot so ’n mate misbruik is dat dit as die taal van die onderdrukker bekend geword het, is veral om twee redes verspot. Die een rede is dat die gewilde taal wat almal so gaande oor is ’n heelwat langer en selfs meer misdadige geskiedenis van onderdrukking, oorlog, uitbuiting en imperialisme het as wat Afrikaans ooit sou kon droom om te verteenwoordig.. Die tweede rede: Afrikaans was terselfdertyd bekend as protestaal teen die onreg wat deur sommige van sy gebruikers gepleeg is. Dit was ook ’n rewolusionêre taal en dit is nog steeds teen enige vorm van magsmisbruik gekant. Dit was en is nog ’n opstandige taal. Daarom is dit ’n skreiende onreg om aan hierdie taal sy reg tot ’n volwaardige plek te ontsê, óf deur diegene aan wie die taal toevertrou is en deur wie die taal werk en praat en leef en wat nou hulle rug daarop keer, óf deur die vyande van die taal vanweë allerlei reduktiewe redes (dit verseker nie werk nie, dis nie ’n wetenskaptaal nie, en veel meer drek van hierdie aard).

      Die besorgdheid oor die taal en sy voortbestaan manifesteer sig nog in ’n ander negatiewe opsig. Daar word gepraat van “die stryd om die taal”. Daar word ook gepraat oor “die taal as ’n probleem”. Ek dink in beide opsigte bestaan daar verwarring oor wat taal werklik is. Ons word opgesuig in die hedendaagse vervlakte retoriek waarin alles in terme van vaardighede verstaan moet word. In so ’n konteks is taal slegs ’n soort vaardigheid en as vaardigheid is dit uitruilbaar. Dit maak nie juis saak watter taal ter sprake is nie. Vaardigheid in een kan met groot gemak met die vaardigheid in ’n ander vervang word. Waarmee ons hier te doen het, is egter nie taal nie, in elk geval nie taal in sy volheid nie.    

      Dit is dus belangrik om die aard van taal van nader te bekyk. Martin Heidegger praat van taal as “die huis van die syn”, of anders gestel: taal is die blyplek vir die mens. Hy beklemtoon ook dat die mens nie alleen taal praat nie, maar dat taal deur die mens praat. Julia Kristeva het dieselfde gedagte beklemtoon met die onderskeid wat sy tref tussen die materiële aspek van taal en die abstrakte aspek van taal. Die materiële aspek word verwesenlik in "die taal as kreet" wat nie aan reëls onderwerp kan word nie; die abstrakte aspek word verwesenlik deur die grammatikale korrektheid met duidelike reëls wat die toon aangee, ensomeer. Jean-Jacques Lecercle sluit by albei aan en beklemtoon die gedagte van die “oorblyfsel” (remainder) van taal; die taal wat deur my spreek, wat my nie toelaat om dit te manipuleer nie en wat meer is as die gebruiker daarvan. Hy verbind “hierdie kant van die taal” met die onbewuste van die psigoanalise (die diepste dimensies van menswees) en met die risomatiese (veelvoudigheid en konnektiwiteit) van Deleuze en Guattari. Hierdie taal huisves nie net die mens nie, maar ook al die diskoerse waarby mense betrokke mag wees. Die taal skep ’n diskursiewe ruimte. Die taligheid van so ’n oneindig onbeperkte ruimte is iets totaal verskillend van taalvaardighede met die oneindige beperkinge daarvan. Dit is ’n uitgeholde en leeggetapte taal waarin geen plek vir verbeelding en fantasie oorbly  nie. Taalvaardighede is ’n hindernis in die oorskryding van een diskursiewe ruimte na ’n ander ruimte. Die soort oorskrydende taalervaring is nie beperk tot digters en literatore vir wie dit geen vreemde verskynsel is nie. Enigiemand wat al ’n insig verwerf het, ken egter ook hierdie soort ervaring van ’n taal wat tot ’n en deur ’n mens spreek. Wetenskaplikes van alle domeine ken sekerlik heelwat hiervan: voorbeelde is Mandelbrot, Heisenberg, Atlan, Prigogine. Danksy hierdie dimensie van taal kan daar van die universitêre ruimte as diskurwsiewe ruimte gepraat word waarbinne die wetenskaplike, literêre  en filosofiese diskoerse, in vervlegtheid met mekaar, aan die orde van die dag is. Hierdie soort humaniserende onderwys, wat erken dat alle wetenskap eintlik maar menswetenskap is, voed burgers op vir die wêreld wat kom en lei nie bloot handelaars op vir die aardbol nie. Die waardelose menswetenskappe behoort hierin ’n leidende rol te speel, soos Michel Serres in werklikheid doen. 

      ‘n Ander aspek is die intense verweefdheid van taal met die gees van die mens, wat eintlik en veral belangrik is by die moedertaal. Dit is die naaste aan my; my mees intieme besit; dit maak my. Net soos ek die lewe liefhet, en my lewe liefhet, skrywe Jacques Derrida, so het ek ook dit lief wat my gevorm het en die element of kern hiervan is die taal, hierdie Franse taal… Slegs die eerste taal kan so intiem, affektief naby my wees. Ek het Engels lief, skrywe Gayatri Chakravorty Spivak in haar huldeblyk aan Derrida met sy dood, want ek het my moedertaal lief. Die rede vir die aanleer van ’n nuwe taal is nie slegs om handel te dryf nie, maar om in staat gestel te word om die poësie daarvan te waardeer. Leer die ander se taal sorgvuldig en deeglik ten einde toegang te kry tot die etiese stelsel daarvan. En uiteindelik merk sy met betrekking tot ’n landgenoot op dat hy “die vermoë tot verbeelding in sy eie taal verloor het". So ’n verlies is fataal en wieookal ander hiertoe dwing of aanspoor pleeg ’n onherroeplike onreg. Die verlies van die verbeelding in die eie taal beteken moontlik die verlies van verbeelding as sodanig. Kan ’n mens armer wees as dit? Om hiervan gestroop te word, is veeleerder die eintlike verlies van die Afrikaner as die verlies aan mag soos sommige sinies en kwaadwillig beweer. Wie is so pervers om sy taal te soek omdat hy eintlik mag soek? Slegs diegene wat taal nie verstaan nie. Vir die behoud van die taal waarin ek my kan verbeel, behoort ‘gestry’ te word. En die aard van hierdie stryd:  die beste manier van ‘stryd’ is die indompeling in, oorgawe aan en lewe deur die taal met alles wat dit behels. En miskien net hierdie kort aanhaling waarmee Spivak haar huldeblyk afsluit: “..in the era of globalization languages are not local. They are instruments to affect the monoculture of the global. Together let us keep alive the multiplicity of languages and not give up. For nurturing this conviction in me, I remember my friend Jacques Derrida.” 

      Die Afrikaanse taal leen hom tot ’n volwaardige universiteitstaal op grond van alles wat reeds daarin bestaan (monumentaal in omvang en diepte) en ook hoe die taal self deur sy instrumente werk. Daar moet egter verbygekyk word by die gedagte van “taal as gereedskap” en die geïmpliseerde "stryd om die taal" en "die probleem van die taal". Wat nou meer belangrik word, is "oorgawe aan die taal". Dit ontbreek. Die taal moet net toegelaat word om sy gang te gaan en sy werk te doen. Die geleentheid moet daartoe gegee en ook aangegryp word. Al die diskussies oor die voortgang van Afrikaans, die plek van Afrikaans in die samelewing, die erkenning al dan nie wat daarvoor gegee word of behoort gegee te word, die konferensies wat daaroor gehou word en die bestekopnames wat gedoen word (ondanks die verdienstelikheid wat dit alles mag hê), is onvergelykbaar minder werd as om in oorgawe aan die taal net eenvoudig te skrywe, te praat, te lees, te dink, daarmee om te gaan en dit deur my te laat spreek. Dit en dit alleen sal die voortgang daarvan bepaal en verseker. So ’n oorverdowende bedrywigheid van en in die taal sal die verdwyning daarvan tot ’n onmoontlikheid maak. Die miskenning daarvan sal hierdeur luidkeels op sy beurt misken word. ’n Universiteit kan hier ’n sleutelrol vervul.

      Indien daar genoeg uit die onderskeie diskursiewe ruimtes is wat deur die taal aangegryp is, aangegryp word, en aangegryp bly, word ’n vanselfsprekende kennisruimte geskep. Die bevolking van hierdie ruimte is afhanklik van diegene wat toeganklik is vir die taal om deur hulle aan diskoerse deel te neem. Die tanende geesdrif vir Afrikaans het te doen met die feit dat baie mense bedwelm word deur die arm gedagte van "die taal as gereedskap" waardeur almal glo dat hulle ryk kan word en werk sal kry. Dit is die ingeboude en volgehoue belofte. Om werk te kry en sake te doen moet Afrikaans afgesweer word. Indien dit ’n argument is moet die Dene, Noorweërs, Swede, Finne, Belge en Nederlanders binne afsienbare tyd almal werkloos wees en hulle universiteite sluit. Ek glo nie hulle verskil getalsgewys so ver van ons nie. Miskien is hulle minder gretig om te kapituleer.

      As daar te min begeesterdes vir Afrikaans is (uit die 6 miljoen wat dit as huistaal het) om ’n Afrikaanse universiteit, in die sin van die universiteit soos hierbo beskrywe, as ’n fisiese instelling, te bekostig en dit moet aanvaar word dat die regering van die dag sekerlik nie hiertoe sal wil bydra nie, is dit ook nie die einde van die wêreld nie. Om die waarheid te sê: dit kan die begin van ’n nuwe wêreld wees, ’n wêreld van die mobilisering van ’n virtuele Afrikaanse universiteit wat ’n gemeenskap van kollektief intelligente Afrikaners kan saamvoeg tot ’n intelligente gemeenskap waarin die voorwaardes wat hier geskets is van ’n volledig, ware en vrye kennis wat robuust floreer in die taal en tot inventiewe denke aanspoor, die hoogtepunt sal word. Dit sal ’n universiteit wees waarin die krag van intelligente mense en nie die mag van belanghebbers en belangsoekers nie, uitmunt. Binne hierdie ruimte word nie geskei en gediskrimineer nie, nie na teenstanders gesoek om te beledig nie, word mense nie geoordeel en beoordeel nie, word nie na volgelinge gehunker nie, word die ander in al sy ryk manifestasies gerespekteer. Hier kan die taal floreer en die waarheidsoeke seëvier, hier word die dreigende barbarisme van onkunde (George Steiner) besweer, hier word alle vorme van kennis omhels en die nuwe deurlopend daaruit geïnventeer. Hier kan die Afrikaners, diegene onder hulle wat wil) die kragte saamsnoer om hoop vir die toekoms te ontsluit en om ook saam te werk aan die herinvensie van die universiteit vir Afrika.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=541
Artikel nagegaan:
    -