blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Lesersbriewe van die week 2004-10-08

Na aanleiding van die kommentaar wat Die Vrye Afrikaan in sy eerste maanduitgawe oor enkele grusame moorde gelewer het, skryf James Potgieter op 2004-09-27:

Ek kan nie glo dat dit die skrywer se idee was om die moorde te regverdig nie, maar wel om dit te probeer verduidelik of in 'n soort konteks te stel. Nadat ek die artikel weer en weer deurgelees het, bly dit voel asof die moorde in die konteks gestel "geregverdig" word en dit word so gestel asof dit half "aanvaarbaar" is. Dit is vir my dieselfde as om te sê dat die kinders wat in Rusland vermoor is maar net 'n prys in 'n groter prentjie is en dus geregverdig kan word. Ek kan dit net nie aanvaar dat enige van die aksies uitgelig in die artikel deur enigiemand hoegenaamd goedgepraat of aanvaar kan word nie. Daar is derduisende mense in dieselfde bootjie as die individue wat die moorde gepleeg het, hoekom moor hulle nie? Ek was al self 'n paar keer kwaad genoeg vir 'n taxi in die Johannesburgse spitsverkeer om die ou te verwurg, maar ek het nie, die vraag is, sou ek as ek hom geken het? Sal ek iemand kan vermoor wat my gehelp het in 'n moeilike situasie? Miskien as ek 'n totaal wanaangepaste individu was met geen morele waardes en absoluut geen gevoel hoegenaamd vir my medemens nie en wat dalk van dwelms en drank geleef het. Kan moord nou intellektueel geregverdig word? Wat 'n vraag, elke regering op die planeet het dit al op een of ander tyd gedoen. Miskien is dit weer tyd, soos in die artikel gestel, om weer die mens te erken en weer 'n samelewing te wees en nie net individue nie.

Wat die laaste laaste paragraaf betref: die individualistiese materialisme onder sogenaamde swartes en bruines is net so opmerklik en neem met rasse skrede toe. Hoe voel hul arm landgenote wat voorheen nie die vreugde gesmaak het nie daaroor? En hoe voel die oorgrote meerderheid blankes wat stadig maar seker besig is om te verarm oor hul lot? Ons is besig om weg te beweeg van raskwessies na 'n klassestelsel. Gaan daar dan 'n populistiese opstand wees teen die elite? Vra vir oom Bob in Zimbabwe oor die
populistiese opstand: hy leef in vrees en bewing!

Ons redakteur antwoord:

1. Die Vrye Afrikaan deel mnr. Potgieter se ontsteltenis oor die grusame moorde onder bespreking, wat op geen manier geregverdig kan word nie, maar ons is nog meer ontsteld oor die feit dat daar klaarblyklik ‘n onwilligheid in die openbare Suid-Afrikaanse debat is om met die nodige intellektuele en politieke durf te vra na die redes vir moorde soos hierdie. Ons dink dit is nodig om na die redes vir moorde soos hierdie te vra, omdat die standaardverklarings binne die heersende politieke klimaat dit gewoonlik herlei na klasseverskille of individuele motiewe, en weier om aandag te gee aan faktore soos etniese identiteit of gemeenskapsverbrokkeling. Die Vrye Afrikaan glo dat om hierdie te ignoreer tot ons almal se skade en risiko strek.

2. Daar kan sprake wees daarvan dat ons in ons kommentaar hierdie grusame moorde op enige manier geregverdig het nie, net so min soos die moorde op Russiese kinders onlangs in Beslan geregverdig kan word nie. Mnr. Potgieter behoort te weet dat regverdiging allesbehalwe dieselfde as verklaring is.

3. Ons volstaan met ons standpunt dat die sleutel tot moorde soos hierdie te vinde is in die mate waartoe moordenaars uit ‘n wanfunksionele gemeenskap kom. Volgens getuienis wat die afgelope week deur een van die vermeende moordenaars van mev. Ludick voor die hof gelewer is, het hy en sy vermeende medepligtige gereeld dwelms en drank gebruik, en is hulle afkomstig uit ‘n gemeenskap met ernstige maatskaplike probleme. Sodanige maatskaplike probleme is ook nie sonder meer gelyk te stel aan hoe arm of ryk ‘n gemeenskap is nie, maar hou ook verband met kwessies soos die lewenskragtigheid al dan nie van die gemeenskap se instellings, leierskap in die gemeenskap en erkenning van die gemeenskap deur die strukture waarop hy vir sy voortbestaan aangewese is. Die feit dat mnr. Potgieter nie, soos hy skryf, hom aan geweld oorgee by tye van woede nie, spreek net soveel van sy selfbeheersing as van die gesonde gemeenskapsagtergrond waaruit hy kom. Feit van die saak is dat moorddadigheid juis daar voorkom waar ernstige faktore bestaan wat mense tot so iets dryf – niemand word vanself ‘n moordenaar nie.

4. In sy laaste paragraaf herhaal mnr. Potgieter die standpunt wat in ons oorspronklike laaste paragraaf gestel is: die groeiende gaping tussen arm en ryk, tesame met gebrekkige gemeenskapserkenning is ‘n ryk teelaarde vir ‘n toekomstige populistiese opstand met rasse-ondertone in Suid-Afrika.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=39
Artikel nagegaan:
    -