| ||||
Die pasafgelope algemene sinode van die NG Kerk was volgens aanduidings 'n opregte poging om die Kerk op 'n nuwe weg te voer: die formaat van gesprekke het gepoog om groter deelname van alle sinodegangers te verseker; groter ruimte is vir gays gemaak; armoede, Vigs en ander maatskaplike kwessies was bespreek; groter soepelheid oor liturgie en aanbiddingspraktyke is vertoon; en die eerste vrou is tot die Algemene Moderatuur verkies. So gesien het die Kerk nader beweeg aan die uitdaging van kerkwees in die hedendaagse videosfeer (beeldekultuur) met sy groter klem op die emosionele, die sorgsame en die netwerk. Maar die een kwessie wat (weer eens) oorheers het, was die knaende vraag oor kerkhereniging. Gegewe die politieke klimaat in die land waar transformasie (en nie die Grondwet nie) die belangrikste waarde van die nuwe orde is, asook die NG Kerk se pynlike geskiedenis met apartheid, is dit te verstane dat die vereniging van die NG Kerk met die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), die Nederduits-Gereformeerde Kerk in Afrika (NGKA) en die Reformed Church in Africa (RCA) so sterk gefigureer het. Sentraal tot hierdie vraag is die Belhar-belydenis. Teen hierdie tyd is dit bekend dat die VGK die onvoorwaardelike aanvaarding van Belhar as absolute voorwaarde van kerkhereniging beskou, terwyl die NGKA en die RCA volgens uitsprake by die afgelope sinode dit nie wil aanvaar nie. Op sy beurt is Belhar 'n verdelende kwessie in die geledere van die NG Kerk. Hoewel daar veral in die Wes- en Suid-Kaap groot bereidheid is om Belhar te aanvaar, geld dit beslis nie die res van die land se NG gemeentes nie. Dit is teen hierdie tyd algemene kennis dat kerkhereniging as ideaal makliker gesê as gedoen is. As die leierskap van die NG Kerk byvoorbeeld op die sinode die Belhar-belydenis ongekwalifiseerd aanvaar het, was daar 'n reële risiko dat dit tot skeuring in NG geledere sou kon lei, om nie te praat van die moontlikheid dat individuele gemeentes by die totstandkoming van 'n nuwe, verenigde kerk binne die Gereformeerde kerkreg op kerkeiendom sou kon aanspraak maak as hulle teen die nuwe kerk is. Te oordeel aan die debatte wat veral in die briewekolomme van koerante gevoer is, is Belhar nie soseer 'n twispunt oor die skriftuurlikheid aldan nie daarvan nie, as wat dit 'n politieke kwessie is. Dit is alombekend dat Belhar aanvaar is in 'n era van hoë politieke temperatuur, en talle lidmate ervaar dit steeds in die huidige politieke klimaat as 'n oordrewe politieke dokument – net soos hulle die eis om kerkhereniging as 'n politieke eerder as 'n religieuse of morele saak ervaar. Om tot helderheid oor die saak van hereniging van die NG Kerk-familie in die hedendaagse Suid-Afrika te kom, is dit nodig om minstens die aard van 'n kerk as gemeenskapsinstelling, sowel as die gevaar van oormatige verpolitisering onder oë te sien. Wat die kerk as gemeenskapsinstelling betref, is die feit van die saak dat 'n kerk altyd 'n funksie van sy gemeenskap is. Hoe verdeeld of verenig sy gemeenskap is, is ook 'n aanduiding van hoe dit met die kerk self staan. In die geval van die NG Kerk het ons te make met 'n instelling wat vir die eerste 200 jaar van sy meer as 350-jarige bestaan haas die enigste noemenswaardige Afrikanerinstelling was (en geensins so rassisties as wat ahistoriese moraliste vandag graag te kenne gee nie). Die ervarings van lidmate van die NG Kerk in die ou Transvaalse en Vrystaatse Boererepublieke met verskillende swart groeperinge vanaf die tweede helfte van die 19e eeu het dan ook 'n heel ander werklikheid binne die kerk geopen as wat die geval in die tradisionele meer peïtistiese Suide was. Tot 'n mate is dit vandag nog so dat die NG Kerk in die noordelike dele van die land polities skerper bewus is as in die suidelike dele, terwyl die Kerk in die suidelike dele oor die algemeen 'n meer peïtistiese inslag het, asook baie groter begrip vir die spanninge tussen wit en bruin. Om 'n diverse instelling soos die NG Kerk sonder meer onder een formule tot kerkhereniging te dwing, sal ongetwyfeld groter spanning as harmonie veroorsaak. Wat die gevaar van oormatige verpolitisering betref, is dit so dat waar daar onder die vorige bedeling 'n oormatige neiging tot skeiding was, daar vandag 'n oormatige neiging tot samevoeging is. Wanneer óf die een óf die ander met dwang gepaardgaan, gaan dit presies die teenoorgestelde effek as wat verlang is veroorsaak. Feit van die saak is dat die NG Kerk vandag tot 'n groot mate weer die belangrikste Afrikanerinstelling geword het. Gegewe die druk waaronder Afrikaners reeds op talle lewensterreine verkeer om dit wat vir hulle betekenisvol is sonder meer af te lê in die naam van 'n groter, betreklik hetige Afro-nasionalisme, is dit te verstane dat Afrikaners vandag beleërd voel – des te meer in die een instelling waar hulle nog tot dusver hulself sonder politieke inmenging kon uitleef. Om Afrikaners wat sou verkies om hulle binne eie gemeenskapsverband as kerk te organiseer sonder meer as rassisties af te maak, is absurd. Teen die agtergrond van hierdie komplekse stel faktore, kan dit miskien raadsaam wees om 'n model vir kerkhereniging te ondersoek wat werklik ruimte vir diversiteit laat. In Nederland bestaan daar byvoorbeeld verskillende “modaliteite” vir kerklidmate wat verskillend oor aspekte van die dogma voel – so word kerkeenheid daar met 'n sin vir sowel as eenheid as diversiteit gehandhaaf. Die feit dat Suid-Afrika die bykomende probleem van rasse- en kulturele diversiteit moet verreken, maak so 'n benadering nie minder sinvol nie, inteendeel. Daarom is Die Vrye Afrikaan van mening dat die ruimte wat die pasafgelope sinode vir individuele gemeentes en lidmate rondom Belhar laat, 'n wyse stap is. Dit is duidelik dat daar onder die huidige moderator 'n beweging en 'n wil na kerkeenheid is. Die leierskap van die VGK sal hopelik begrip vir die diversiteit binne die NG Kerk hê, en nie verbete wees oor een spesifieke benadering tot Belhar nie. Insgelyks is die voorstel wat Wilhelm van Deventer van die VGK in vandeesmaand se maanduitgawe van Die Vrye Afrikaan gemaak het vir 'n soort Kerk-Kodesa waar die leierskap en die lidmate van die verskillende kerke die saak van kerkhereniging kan deurpraat uiters sinvol, want dit sal beslis groter legitimiteit aan die proses op voetsoolvlak in die gemeenskap gee. Laastens is kerkhereniging aldan nie allesbehalwe die lakmoestoets van verantwoorde kerkwees in vandag se Suid-Afrika: om met die nodige erbarming sowel die vertroostende as die profetiese rolle van kerkwees op te neem, bly die hoogste ideaal. En dit geld alle kerke. |