blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die Vrye Afrikaan - Die Pad Vorentoe 2004-10-08
Johan van Zyl

Deur Johan van Zyl, alternatiewe ekonoom, voorheen verbonde aan onder meer die Universiteit van Pretoria en die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika, asook mederedakteur van die alternatiewe ekonomiese webwerf www.thepeoplesagenda.co.za

Die Groot Taalberaad in Stellenbosch en die eerste uitgawe van Die Vrye Afrikaan het heelwat reaksie vanuit verskeie oorde ontlok. Dankie tog! 'n Mens sou sekerlik nie wou sien dat so 'n belangrike nuwe inisiatief as't ware in koue stilte 'n vroeë dood moet sterf nie.

Waarskynlik die beste kommentaar het gekom van 'n groot vriend van die nuwe beweging, naamlik die internasionaalgeagte Suid-Afrikaanse sosioloog, prof. Lawrie Schlemmer. Sy simpatieke, maar tog skerp insigte is ook gepubliseer in die eerste uitgawe van Die Vrye Afrikaan (http://www.vryeafrikaan.co.za/artikel/schlemmer.htm). Vir 'n vrugbare pad vorentoe verdien sy opmerkings ernstige aandag.

Soos hy dit stel word “my besieling met die inisiatief met 'n sekere droefheid getemper’. Aldus merk hy onder meer die volgende op:
1. Die huidige gesprek vind plaas op 'n 'verhewe vlak'. Hoe kan gewone mense, veral Afrikaners, effektief ingetrek word in die nuwe beweging ?
2. Hoe kan 'n nuwe Afrikaanse inisiatief sy regverdigheid beskerm terwyl die mags-establishment tans so baie van die Afrikaanse erfenis as 'n rasionaal vir nuwe verdelende beleid opeis ?
3. Hoe kan die nuwe beweging ''n redelike skare van meelopers' bewerkstellig? Dit is noodsaaklik om op die politieke front doeltreffend aandag te kan trek. En hoe kan die nodige finansiële hulpbronne mobiliseer word om dit te doen? Volgens Schlemmer kom dit neer op 'die versoening van idealisme met 'n doeltreffende werwingsaksie op 'n baie laer vlak'.

Schlemmer self beskou hierdie uitdagings as 'haas onmoontlik' om deur te voer !

Ek moet sê, ek is persoonlik nie so pessimisties nie. Maar dat ons hard sal moet dink oor die gepaste Wat en die Hoe vorentoe, is nie altemit nie.

'n Belangrike sleutel lê in die uitnodigingsbrief wat uitgestuur is om die onlangse Saterdagoggend-paneelbespreking oor Afrikaners, Afrika en (tien jaar) demokrasie by die FAK-kongres te adverteer. Daarin is drie begrippe langs mekaar gestel, naamlik taal, kultuur en armoede, dit wil sê twee hoofsaaklik sosiologiese en een ekonomiese dimensie. Wat my betref, sal dit juis 'n fokus wees op veral laasgenoemde wat baie deure kan oopmaak om die kwaai uitdagings hierbo genoem doeltreffend die hoof te bied.

Die harde feite vandag is dat ongeveer 40% van die totale arbeidsmag in Suid-Afrika werkloos is terwyl sowat 50% van alle gesinne in armoede leef. Daar is inderdaad verskillende definisies van werkloosheid en armoede, maar bogenoemde syfers is so groot en beslissend dat kleiner, tegniese verskille ignoreerbaar is.

Dit is dus duidelik dat enige inisiatief om ernstig nuwe denke te ontwikkel om ons reuse armoedevraagstuk aan te spreek, op sigself 'n baie groot aantal Suid-Afrikaners regstreeks sal aanspreek en betrek. As sodanige 'nuwe denke' nog boonop gegrond is op die vertrekpunt van meer selfstandige/volhoubare ekonomiese ontwikkeling van (plaaslike) gemeenskappe, sluit dit regstreeks aan by Die Vrye Afrikaan se politieke doelwit om 'n nuwe demokrasie te propageer wat meer besluitnemingsgesag gee aan gemeenskappe op plaaslike vlakke. Is so iets dalk a marriage made in heaven?

Dit sou neerkom op 'n meer deelnemende demokrasie (participative democracy) eerder as vandag se dikwels elitistiese, verteenwoordigende demokrasie (representative democracy). Laasgenoemde stelsel is vandag byna dwarsoor die wereld in volle - maar wyd erkende gebrekkige - swang. 'n Groot Droom: kan Afrikaners dalk 'n leidende rol speel om die wêreld te wys wat andersins gedoen kan word as die wil werklik daar is ?

Die sleutel bly egter 'n skerp fokus op die ekonomiese dimensie. Dit sal die deur oopsluit om aanklank en doeltreffende ondersteuning te kry van alle etniese en kulturele groepe in ons land asook van baie ander belangegroepe. Die verbetering van (plaaslike) ekonomiese omstandighede is eenvoudig 'n baie groter "gemene deler" as 'n fokus op bloot taal- en kultuursake.

Maar die groot vraag is of so 'n fokus op gemeenskapsgerigte ekonomiese ontwikkeling hoegenaamd enige gewig dra? Gelukkig is die antwoord ongetwyfeld JA!

In die afgelope dekades het 'n menigte boeke en organisasies die lig gesien om meer selfstandige plaaslike ekonomiese ontwikkeling te bevorder. Miskien is die bekendste hiervan die veelbesproke publikasie van Robert Schumacher getiteld Small is Beautiful wat onder meer aanleiding gegee het tot die stigting van die Schumacher-vereniging in Engeland met takke dwarsoor die wereld.

In ons eie land het die onlangse wydgepubliseerde internasionale Johannesburgse Spitsberaad oor Volhoubare Ontwikkeling ook baie klem laat val op hierdie benadering. By daardie geleentheid het ekself, byvoorbeeld, saam met nog 'n invloedryke organisasie, naamlik die (Britse) New Economics Foundation 'n aantal voordragte oor hierdie onderwerp aangebied.

Daar is dus geen twyfel nie dat Die Vrye Afrikaan - as hy sou wou - op stewige gronde sal beweeg deur ook skerp aandag te gee aan die ekonomiese ontwikkeling van meer plaaslike gemeenskappe. So 'n besluit is in sy eie hande.

Die omvattende aandag wat in onlangse jare internasionaal aan hierdie onderwerp gegee is het ook 'n wye verskeidenheid van praktiese tegnieke of metodes gemik op 'hoe om dit te doen' na vore gebring. My kollega, dr. Norman Reynolds, en ek self werk nou al vir heelwat jare aan die toepassing van hierdie voorstelle (plus 'n paar van ons eie!) in ons Suid-Afrikaanse omstandighede. Vir wat dit werd mag wees, het ons het 'n webwerf geopen om 'n wyer gehoor te probeer bereik. Hoewel tans 'n bietjie verouderd (finansies knyp maar !) verskyn ons gedagtes by www.thepeoplesagenda.co.za.

Om op te som. As Die Vrye Afrikaan groter en wyer ondersteuning (en veral finansiering) wil werf vir die bevordering van sy eie kernsaak van die Afrikaanse taal en kultuur, sal hy egter sy net wyer moet gooi. Dit is wel waar dat hierdie sake vir alle gemeenskappe baie belangrik is. Maar in die (ongelukkig) materialistiese wêreld van vandag voer 'ekonomiese oorlewing' in die harde praktyk dikwels die botoon.

Indien so 'n oordeel korrek is, sal Die Vrye Afrikaan groter impak maak by baie meer Suid-Afrikaners van alle groeperings as hy ook die selfstandige ekonomiese ontwikkeling veral van meer plaaslike gemeenskappe pertinent aanspreek. Die internasionale debat hieroor is lank reeds aan die gang. Wat nou moet gedoen word is om hierdie wyshede aan te pas en tuis te bring in Suid-Afrikaanse omstandighede.

*Die Vrye Afrikaan bedank prof. Van Zyl vir hierdie uitstekende artikel in reaksie op ons eerste maanduitgawe. Hiermee help hy om gestalte te gee aan die voortgaande proses waarmee DVA hoop om tot ‘n alternatiewe politieke en ekonomiese visie vir (Suid-)Afrika by te dra. Vir DVA is ekonomiese selfstandigheid (en ekologiese volhoubaarheid) soos in ons manifes op 3 September 2004 aangekondig nie bloot sekondêre aanhangsels tot taal en kultuur nie, maar is ekonomie, ekologie en taal part en deel van ons visie vir gemeenskap. Gevolglik ondersoek DVA tans die moontlikheid om in die afsienbare toekoms op gereelde basis artikels van Van Zyl en ander alternatiewe ekonome te publiseer – red.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=38
Artikel nagegaan:
    -