blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


FAK reageer op Brink se boek 2006-04-26
Danie Goosen

*Filosoof en voorsitter van die FAK

 

Prof. Chris Brink voer deurgaans in sy boek oor die taalkwessie aan die Universiteit Stellenbosch aan dat dit ’n ingewikkelde saak is wat nie met eenvoudige begrippe hanteer kan word nie.

      Terselfdertyd beskuldig Brink onder meer die FAK daarvan dat laasgenoemde die saak vereenvoudig. Nog erger, volgens Brink sal die FAK se voorspraak vir Afrikaanse onderrig op voorgraadse vlak die US op die glybaan na ’n enklawe plaas waarin ’n verstikkende geslotenheid hoogty sal seëvier. Maar klop dit met die werklikheid?

      Brink het inderdaad ’n punt beet: die uitdaging waarvoor Afrikaans en die veelheid van tale in Suid-Afrika gestel word, is ’n ingewikkelde saak. As die verskillende partye die kompleksiteit van die saak sou erken, sou ’n reuse tree na ’n vrugbare verstandhouding gegee kon word.

      Ongelukkig is die saak selfs ingewikkelder as wat uit Brink se eie werkswyse blyk. Terwyl hy sê dat die taalvraagstuk ’n komplekse aangeleentheid is, maak hy homself aan erge vereenvoudigings skuldig. Daarmee ondermyn hy sy eie voorspraak vir die kompleksiteit van die saak.

      So huiwer Brink nie om ’n bedeling op Stellenbosch te bepleit wat volgens die dominante mening in die taalsosiologie nie anders kan nie as om in die simplisme van (Engelse) eentaligheid vas te val nie. Of wil Brink te kenne gee dat só ’n eentaligheid nie ’n dramatiese vereenvoudiging van ’n komplekse toestand sal verteenwoordig nie?

      Ons verwys kortliks na enkele vereenvoudigings wat sowel die retoriek as die standpunte van Brink kenmerk, en daarna na die standpunt van die FAK.

1. In sy retoriek maak Prof. Brink self van simplistiese opposisies gebruik om ’n klaarblyklik ingewikkelde situasie te vereenvoudig.

      So onderskei hy tussen diegene wat in hul houding jeens Afrikaans ’n rasionele benadering volg teenoor diegene wat ’n beroep op irrasionele politieke oortuigings doen; tussen diegene wat ’n vriendelike benadering jeens Afrikaans volg teenoor diegene wat ’n reëlgebonde, wettiese en vreesbevange benadering volg; tussen diegene wat wil sien dat Afrikaanse op ’n skeppende wyse sal groei teenoor diegene wat slegs daarin belangstel om Afrikaans op ’n statiese wyse te handhaaf; tussen diegene wat ja vir nuwe uitdagings sê en diegene wat ’n ou terugtrek-politiek beoefen; tussen diegene wat ’n oop en algemene benadering volg en diegene wat ’n geslote agenda volg, ensovoorts.

 

      Dit is nie moeilik om te raai watter dinge Brink in sy benadering vir homself opeis en watter dinge hy aan sy opponente toeskryf nie. Volgens homself verteenwoordig hy die rasionele argument en sy opponente die irrasionele politiek; hyself verteenwoordig die vriendelike benadering, sy opponente die vreesbevange en reëlgebonde benadering; ensovoorts.

      Wat Brink nie vir ’n sekonde in sy boek oorweeg nie, is dat hy in naam van openheid juis die ganse gesprek met dié opposisies in die noutes injaag. Sy retoriek verdoem die gesprek by voorbaat tot die simplistiese opstel van uitsluitende opposisies.

      Van ’n skeppende bemiddeling tussen byvoorbeeld die noodsaak vir beskerming én die oopstelling van tale ook aan universiteite kan in dié opposisionele denke geensins sprake wees nie. Maar is dié bemiddeling nie juis vandag noodsaaklik as ’n mens oor die toekoms van ons tale dink nie? Wanneer tale slegs beskerm word verstar hulle, maar wanneer hulle soos wat Brink kennelik voorstaan, institusioneel onbeskermd gelaat word, loop hulle die risiko om in die private terug te gly en gewoon ‘kombuistale’ te word. Albei is egter in die ingewikkelde werking van tale nodig, sowel beskerming as oopstelling. Brink se óf...óf benadering weerhou hom daarvan om dit raak te sien.

 

2. Die mees opvallende vereenvoudiging waarmee Brink werk, hou egter met sy uitgangspunte verband. As die ou nasionalistiese projek onder Afrikaners slegs ’n oog vir die eie groep gehad het, slaan Brink bollemakiesie en sien hy filosofies slegs die individu raak. So word die ou verbintenis tot die geslote nasionalisme met ’n eensydige liberale individualisme vervang. Daarmee vorder ons egter nie ’n tree in die poging om die verwikkeldheid van die saak te hanteer en ’n verstandhouding tussen die veelheid van belange aan die US tot stand te bring nie.

      Op ’n teoretiese vlak tree dieselfde benoudheid na vore wanneer Brink bewustelik vír die algemene en téén die partikuliere kies. Met ’n houding wat grens aan ’n skokkende ongeërgdheid jeens die institusionele voortbestaan van Afrikaans word so opnuut ’n stuk eensydigheid in die argument ingebou.

      Wanneer slegs die partikuliere beklemtoon word, word geweld teen die individu en haar regte gepleeg. Dit is Brink se punt. Maar die teenoorgestelde is ook waar: Wanneer slegs die algemene beklemtoon word, word geweld teen partikuliere gemeenskappe gepleeg. Laasgenoemde gebeur deurgaans in Brink se werk.

      Die geheim is tog om ook aan ons universiteite deur dié óf...óf benadering te breek en beide te dink, sowel die algemene as die partikuliere. Brink stuur in sy werk dogmaties by dié insig verby.

      Op ’n konkrete vlak tree die vereenvoudigings van Brink die skerpste na vore waar hy sy argument rondom Afrikaans bykans in totale isolasie van die historiese, sosiolinguistiese en politieke kragte ontwikkel. So wend hy geen poging aan om die geleidelike maatskaplike en politieke marginalisering van universitêre Afrikaans die afgelope dekade te begryp of hoegenaamd ’n konkrete institusionele antwoord daarop te gee nie. Dit bly by vae beloftes en goeie voornemens jeens Afrikaans. Hoe dié voornemens institusioneel beliggaam moet word, bly vir die leser van sy werk ’n raaisel.

 

3. Die FAK steun die standpunt dat die Suid-Afrikaanse universiteitswese tot die ideaal van die uitbouing van kritiese denke en kennis verbind is. Dié ideaal kan om vanselfsprekende redes nie in isolasie nagestrewe word nie, maar slegs in noue verbintenis met die internasionale akademiese gemeenskap.

      Maar beteken dit, soos wat Brink deurgaans in die nabootsing van volledig ongegronde skrikpraatjies rondom isolasie sê, dat die eie taal ’n hindernis vir internasionale akademiese deelname is?

      Die FAK sê dat die partikuliere aard van universiteite wêreldwyd dikwels die voorwaarde vir universiteite is om hoegenaamd ’n kritiese bydrae tot die internasionale intellektuele lewe te maak. Sonder die eie partikulariteit wat in die internasionale gesprek tussen akademici mede-betrek word, versand die kritiese gesprek dikwels tot die uitruil van gemeensplasighede en ’n blote bevestiging van leë en hol frases.

      Dit is in die kritiese dialoog tussen verskillende wêrelde en nie in die ontmoeting van dieselfde (Engelstalige) wêreld met homself nie dat die sinvolle in die akademie gebeur. Wat die internasionale akademiese gemeenskap wil weet, is wat ons vanuit ons partikulariteit tot die gesprek kan bydra, en nie of ons nog meer van dieselfde kan sê nie.

      Die talige uniekheid van universiteite is daarom nie ’n hindernis om op ’n sinvolle wyse aan die internasionale akademiese lewe deel te neem nie, maar juis ’n voorwaarde daarvoor. Die US het die unieke geleentheid om as ’n universiteit met ’n Afrikaanse grondslag inhoud aan dié uitdaging te gee.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=538
Artikel nagegaan:
    -