|
||||
Steve Hofmeyr
*Sanger en akteur
Onlangs publiseer PRAAG die Afrikaanse vertaling van Stephen Smith se omstrede Negrologie. Steve Hofmeyr gee hier sy standpunt oor die boek – en oor Afrika. Aanstaande maand reageer Danie Goosen op Hofmeyr. Stephen Smith, Amerikaans-Duitse Afrikaredakteur van die gesaghebbende Le Monde het onlangs Negrologie (1) die lig laat sien; seer sekerlik dié moedertaboe van onderwerpe in die heersende Angelina Jolie-weltanschauung, waarin Afrika gesien word as iemand wat nog een kans gegun moet word. Nie Smith nie. Hy som vinnig die grootste demografiese rampe in Afrika op as slawehandel en kolonialisme. Hy verbreek dan die polities korrekte stilte deur elke Afrikataboe te ontbloot vir wat dit is. Sou ons onsself as Afrikane identifiseer, sal dit ons wit gesiggies deeglik betaam om onsself ook as deel van die probleem te sien en nie sommer kwyt te skeld in ’n schadenfreudiese lekkerkry danksy velkleur nie. Volgens Smith, en sy fundering is goed, was daar nog nooit in die geskiedenis van die mensdom ’n meer tragiese tyd van verleentheid, apatie, korrupsie, magsbeheptheid, onderontwikkeling, agteruitgang, geweld en uitwissing van inheemse en eie mense as tans op ons vasteland nie – iets wat, 40 jaar na finale onafhanklikheidswording – steeds moeiliker op kolonialisme geblameer kan word (Suid Afrika spring meer as gereeld Smith se pessimistiese statistieke vry). Afrika is steeds nie onafhanklik nie; kolonialisme is bloot vervang met 'konsessionisme', en die institusionele gebrek en gebreke van die postkoloniale staat is ’n verleentheid wat internasionaal gevoer word met patroniserende gunste en 'boetedoenende' gawes wat plaaslik nie vinnig genoeg absorbeer word nie. Maar in die geskiedenis sal Burundi, die DRK, Rwanda, Somalië, Liberië, Sierra Leone, Soedan, die Ivoorkus, Angola en veel ander moet onthou word, elk vir sy bydrae tot die grootskaalse swart-op-swart volksmoord binne eie grense, in ’n tyd toe daar beswaarlik een lug- en posdiens werkend bly staan het. Myns insiens doen Smith twee belangrike dinge: hy erken betyds ’n mate van koloniale skuld (''kom ons wees eerlik: Afrikane is darem nie 'geheel en al' verantwoordelik nie") en dan maak hy seker hiervan: om in sy exposé van die negrofiliese taboes desperate Afrikane self aan te haal (Kabou, Ngoupande, Ouologuem, Boumediene, Diop, Annan, Mbeki). Hierdie opdiep van feite, statistieke en objektiewe kruisverwysings van ’n magdom stemme uit “donker Afrika” self, het my laat voortlees, omdat ek nie rêrig nóg ’n verregse Afropessimisme nodig het om deel te word van my vasteland se oplossings nie. Dit uit die weg geruim: kontinentaal is ons in die kak, en nie net kniediep nie. My agenda by die lees van hierdie tipe materiaal is allermins vermaak. As die Afrosentriese huigelary besweer kan word, sal ons regering met meer respek omgaan met sy land se diverse kulture se bydraes tot die ryk Suid-Afrikaanse erfenis. Op mikroskaal sal ons dan onder meer ons dorpe en straatname mag verdedig, en dit aan ons Afrikaleiers en Afrika-ondernemers oorlaat om nuwe stede en strate aan te lê soos hulle goed dink. Die hoop beskaam. Of bloos hom dood, ook hier by ons. Vandag kry globalisering die eer vir hoe 'klein' die wêreld geword het en hoe universeel bekombaar inligting is, maar die eerste manifestasie hiervan was allermins die internet. Transkontinentale vervoer en (daarom) handel, het eeue gelede reeds ’n simbiose gevestig tussen ver verwyderde kulture en lande. Maar Afrika, sy sentrale ligging en hierdie vroeë blootstelling ten spyt, kan vandag amper niks daarvoor wys behalwe ’n slaafse afhanklikheid van Westerse denkskole en tegnologie nie. Ons kontinent was altyd die ene wat omseil moes word sodat ander kon deel en baat. Sou ’n mens so ver kon gaan om Afrika self te kan blameer vir haar bydrae tot kolonialisme en apartheid? Hoe, sou ’n mens vra? Opsommend vir hierdie skrywe berus my antwoord by die kollektiewe verlamming van die Afrikaan, ’n subversiewe diensbaarheid wat in weerwil van sy getalle geen ontdekkings, geen vooruitsigtelike beplanning en daarom geen ideologiese teenvoeter of militêre teenstand kon bied in tye toe anneksasie die enigste manier was om jouself buitelands te laat geld nie. Ons het dit maklik gemaak vir invallers van ons bronne en aanvallers van ons vestings, vanweë ideologiese (en militêre) naïwiteit. Ons laertrek had nie altyd ten doel om onsself te definieer nie, maar eerder om ander uit te hou. Ander mense en ander idees. Ek waag dit om te spekuleer dat Julius Caesar se Ballista (50 BC) Dingaan met sy assegaai (1838) in ’n japtrap sou kon platgevee het. Vandag besweer die Weste ons agterstand met gifte en gawes, terwyl iemand eendag die eie juk gaan moet leer opneem vir Afrika se postkoloniale trauma en algehele bankrotskap. Geskiedenis het nie begin toe jou stam leer skryf en dink het nie. Geen presterende volk wat homself prys, op welke gebied ook al, het gegroei in isolasie of onafhanklik van ’n ryk voorafgaande kultuurhistoriese wêreldgeskiedenis en evolusie nie. As die Afrika-Renaissance dit ontken of slegs selektief erken, is daardie Renaissance doodgebore. Afrika, in sy selfbejammerende nostalgie, ignoreer weereens die nuwe markplein daar buite, dié van die 'verbastering' van die wêreld se allerbeste idees en die behoud van die goeie. Achille Mbembe bieg oor die Afrikane se eie ontkenning van hulle aandeel in die misdaad, hul eie direkte verantwoordelikheid daaraan: “... om ras te gebruik as morele en politieke grondslag vir solidariteit, sal iewers altyd ’n gewetensillusie bly solank as wat Afrikane die slawehandel en ander vorme van slawerny bloot voorstel as ’n katastrofe wat hulle oorgekom het, en nie ook as ’n produk van die geskiedenis waartoe hulle aktief help bydra het nie.” Solank as emosie die grootste gemene deler van polities korrekte simpatie bly, sal ons bly wentel om die ware geskiedenis en feite, soos slaafse asteroïedes. Dis byvoorbeeld wêreldwyd taboe om Africans of Moslems te kasty. Dermate dat die Arabiere se vernederende deportasie van swartes seker nooit geskiedenisboeke sal haal nie. Die misplaaste word Evangelie, en gou word die Struggle geloof – met die Weste sy gerieflikste Antichris. Grondwetlike abolisie (Anti-Slave Trade Act, 1870), ook ’n Westerse konsep, en die uiteindelike staking daarvan was etlike dekades uitmekaar, en die Arabier het hiertoe geen onbenullige bydra gelewer nie (4,1 miljoen slawe gedeporteer, aldus Marc Ferro). Dis natuurlik nie net Arabiere en koloniste wat met Afrikane kom handeldryf het nie. Niemand noem graag die primêre sondebok nie, omdat dit huidige sentiment verloën wanneer Yambo Ouologuem in sy Lettre skryf: “Die dag toe die swart adellike sy swart bediende aan ’n slawehandelaar verkoop het, het die swartman in ’n Neger verander.” Die skuldbelydende paggeld aan Afrika beloop al $300 miljard en word getrou betaal aan vele hulpbehoewende lande, wat ironies sukkel om hulleself uit die top 20 mees korrupte state in die wêreld te verskoon. In weerwil van hierdie astronomiese ontwikkelingshulp oor 40 jaar het Afrika steeds niks om te wys daarvoor, behalwe ryk diktators en nóg bedelhande nie. Ek sou nie hierdie materiaal gebruik om te lank oor te tob nie, omdat ek niemand hieruit werklik verontskuldig nie. Dis waarom ek kan aangaan, met ’n pleidooi vir die rasionele behoud van al my land se kulture en hul bydraes. Desnieteenstaande 'koop' ek die argumente in Negrologie. Nou moet ek gou uitwerk of my witgeit iets daarmee te doen het. En hoeveel.
_________ (1) Negrologie, Stephen Smith, in Afrikaans vertaal deur Dan Roodt, Karen Roodt en Lydia van Eeden, Johannesburg: Praag, 2005 |