|
||||
Ignacio Ramonet
*Redakteur, Le Monde diplomatique, uit die Frans vertaal deur Christel Cattin, [email protected]
’n Bankrot organisme waarvan die hervorming klaarblyklik noodsaaklik is. Teen die agtergrond van die angs veroorsaak deur die gesondheidsbedreiging wat voëlgriep inhou, is dit hoe Frankryk vandag voorkom in die oë van ’n klomp regsgesinde “agteruitgangspesialiste” (1). Hierdie deurlopende pessimisme is versterk deur onlangse gebeurtenisse van uiteenlopende aard wat, deur die gevoel te gee dat die instellings besig is om te verkrummel, bygedra het tot die huidige algemene verontrusting: geregtelike katastrofe en mediaskipbreuk in die hofsaak van Outreau se “pedofiele”, die wet van 23 Februarie 2005 wat die “positiewe rol” van kolonialisme huldig, die deurmekaarspul rondom die Clemenceau-vliegdekskip, onluste in die buitewyke in November 2005, opsyskuiwing van identiteit ter versterking van gemeenskapsbande tydens die petalje rondom spotprente van Mohammed of die grusame moord op die jong Ilan Halimi, verskuilde privatisering van Gaz de France, ens. Die Cassandras van “Frankryk wat tot ’n val kom” sien hoe die land in ’n soort kollektiewe wanhoop verval wat veral tot uiting gekom het tydens die “nee”-stem vir die Europese Grondwetlike Verdrag op 29 Mei 2005. Nicolas Baverez, leier van die “agteruitgangspesialiste” verklaar byvoorbeeld “Frankryk het homself in ’n lugbel van opswepery en leuens geïsoleer, politici het geweier om die waarheid te praat (…) Hulle waag dit nie om hervormings in te stel nie, want hulle vrees opstande. Maar dit is juis die afwesigheid van hervorming wat uitloop op opstande (3).” Ten einde klaar te speel met hierdie “siek Frankryk binne ’n dekadente Europa”, spreek hulle hul hoop uit op ’n liberale “regstelling”. En beveel reeds geruime tyd – oortuig daarvan dat dit voldoende is om enkele eenvoudige kontroles te aktiveer – die deregulasie van die arbeidsmark aan. Binne hierdie skrikaanjaende verband, aangedryf deur die “onderbrekers”, lyk dit asof mnr. Dominique de Villepin, Franse eerste minister wat daarvan beskuldig word dat hy “regop staan voor Bush, maar plat lê voor die Franse vakbond, die CGT”, besluit om die “neiging tot afwagting van die elite” te verbreek en uiteindelik arbeidshervormings aan te pak. Verlede somer het hy dus inderhaas die wetsontwerp vir die sogenaamde nuwe aanstellingskontrak (CNE) vir organisasies met minder as 20 werknemers, met ander woorde twee-derdes van Franse maatskappye, laat aanneem met ingang van 1 September 2005. Die vernaamste nuwigheid is die voorwaardes vir die onderbreking daarvan. In die woorde van Gérard Filoche, arbeidsinspekteur: “Dit gaan hoofsaaklik oor ’n “nuwe reg om af te dank”: dit is moontlik om enigiemand af te dank, op enige oomblik, sonder rede, sonder prosedure, sonder die moontlikheid van ’n hersiening daarvan!” Aangesien die weerstand teen hierdie soort kontrak, wat aan ou versoeke van die werkgewerskorps voldoen, baie gematig was, het mnr. De Villepin geglo hy kan weereens mag gebruik deur op 8 Februarie vanjaar die eerste aanstellingskontrak (CPE), hierdie keer gerig op maatskappye met meer as 20 werknemers, en gereserveer vir jongmense onder 26 jaar, te laat aanneem sonder enige ware parlementêre debat. Net soos met die CNE is dit nou vir ’n werkgewer moontlik om die kontrak gedurende die eerste twee jaar te verbreek sonder om enige geskrewe motief te verskaf. Die eerste minister het die vreemde aard van die CPE probeer verduidelik deur voor te hou dat dit dringend is na afloop van die onlangse onluste in die buitewyke, om sodoende werksgeleenthede te skep aan jongmense sonder opleiding. Die redenasie het nie oortuig nie. Kort daarna, in universiteite, en met die onmiddelike steun van die belangrikste vakunies, het die teenkanting teen die CPE ’n beduidende omvang en intensiteit aangeneem. Wat in die spel is, is beide van politieke en simboliese aard. Na die ernstige nederlaag van Julie 2003 toe die wet op pensioene aangeneem is, moes die massa-aksie-beweging in Frankryk weer ’n greep op homself kry. Origens is burgers van mening dat die aanvaarding van die CPE, nadat hulle voor die CNE moes buig, die weg baan vir die algehele aftakeling van die arbeidswet, wat daarop neerkom om dit te offer op die altaar van buigsaamheid en om die permanente onstabiliteit van arbeid te bevoordeel. Terwyl dit deur die regtervleuel beskuldig word as die “siek man van Europa”, is Frankryk, inteendeel, ’n land wat weerstand bied. Een van die enigste in Europa waar ’n meerderheid werknemers met ’n formidabele vitaliteit weier om ongekontroleerde globalisering, wat op die magsoorname van die geldwese neerkom, te aanvaar. En wat sy inwoners aan maatskappye oorlewer terwyl die staat sy hande in onskuld was. Hierdie radikale wysiging van die verhouding tussen regeringsmagte en die gemeenskap (die einde van die “beskermende staat”) is weersinwekkend. Die solidariteit van die gemeenskap is ’n fundamentele karaktertrek van die Franse identiteit. ’n Solidariteit wat deur die bydrae van die CPE tot niet gemaak word. Vandaar weereens protes. En opstand.
_________ (1) Nicolas Baverez, Michel Camdessus, Christophe Lambert, Jacques Marseille, Alain Minc… almal na aan mnr. Nicolas Sarkozy, tans Minister van Binnelandse Sake en sterk in die wedloop vir 2007 se presidentsverkiesing. (2) President Jacques Chirac het op 4 Februarie 2006 die herskrywing van hierdie teks wat "tweespalt onder Franse veroorsaak", aangevra. (3) L’Express, Parys, 12 Januarie 2006. (4) http://www.legrandsoir.info/article.php3?id_article=2473 |