blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ekonomierubriek: Ekologiese herstel en ekonomiese ontwikkeling 2006-04-26
James Blignaut

* Deeltydse professor in ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, direkteur van Jabenzi & Beatus, en geaffilieer by GreenGrowth Strategies, drie maatskappye wat ten doel het om landelike ontwikkeling in Suider-Afrika ’n werklikheid te maak. [email protected]

 

Giyani is ’n klein, maar woelige en bedrywige dorp. Snaaks genoeg moet ek nog die sentrum van hierdie uitgespreide en uitgestrekte dorp kry, maar ek neem aan dis nie te ver van die taxistaanplek, die hospitaal en die winkelsentrum nie, en dié is maar ’n klipgooi van mekaar af.

      As ’n mens na die bestaande kaarte kyk, is daar nie ’n pad oos van Giyani nie; oos van Giyani lê die Nasionale Kruger-wildtuin. In werklikheid is daar egter ’n grondpad oos van Giyani wat suid loop, parallel met die Wildtuin. As ’n mens op dié pad ry, kry jy ’n idee van wat “diep landelik” regtig beteken. Elke vyf of tien kilometer is daar ’n dorpie met ongeveer 1 000 of 1 500 inwoners, meestal vroue en jongmense wat almal in tradisionele hutte woon, met hier en daar ’n HOP-huis langsaan. Elke dorpie dra die naam van die kaptein van daardie dorpie (Khakhala, Gawula, Mahlati, Hlomela, Ndindani, ens.) en die taal wat daar gepraat word, is Tsonga. In dié deel van Suid-Afrika word kapteins nog hoog geag en is hulle nog absoluut belangrik. Water kom uit boorgate en sentrale krane word kollektief gebruik; slegs enkele van hierdie dorpies is by die nasionale kragnet aangesluit, en boonop eers van verlede jaar af. Maar niks lê hierdie dorpenaars nader aan die hart as hulle grond nie.

      Die oudstes praat nog van die tyd toe hulle bokke en buffels op hulle gemeenskapsgrond gejag het. Een verhaal, vertel deur die neef van die betrokke man, is besonder merkwaardig. Dié man het ses leeus met slegs ’n spies doodgemaak. Een leeu is in die beeskraal betrap en doodgemaak ten aanskoue van ’n paar dorpenaars. Die grond is in gemeenskapsbesit en word kollektief benut deur mense wat onder toesig van die kaptein en sy raad staan. Lede van die gemeenskap het vrye en onbeperkte toegang tot die grond om die opbrengs van die natuur – soos vrugte, kruie en medisinale plante – te oes en hulle vee te laat wei. In vele opsigte is beeste nog steeds die aanduider van rykdom, hoewel dit aan die verander is.

      Die verandering word op hierdie mense afgedwing eenvoudig deur die besef dat ’n groeiende beesbevolking – gekoppel aan ’n groeiende mensbevolking – nie onbepaald volgehou kan word nie. Oorbeweiding het tot ernstige gronderosie, die ontstaan van dongas en verlies aan plantegroei gelei. Daarna het ’n groot aantal beeste verlede jaar, op die hoogtepunt van die droogte, juis weens die droogte en die gebrek aan weiding gevrek. Party mense sê die voorvaders is ongelukkig omdat die gebied groen en mooi was toe hulle nog daar was, maar dit nou vanweë die oorbeweiding soos ’n doodsveld lyk.

      Tog leef die gemeenskappe baie na aan die natuur. Vir hulle is die natuur nie die agtergrond van of voorwendsel vir ’n vakansie in die bos nie; die natuur is hulle tuiste, dit bied lewensonderhoud vir mens en dier. Dit is die trotste konstante wat geslagte deur die loop van jare met mekaar verbind; dit is die “spens” in swaar tye. Maar die natuur moet bestuur word; dit moet versorg word. Soos alle verhoudings het dit egter twee karperde nodig. Moeder natuur sal in ons behoeftes voorsien (of ons voed), maar ons moet ook na die welsyn van moeder natuur omsien (ons moet haar voed). Dit is juis hierdie “omsien”-faktor wat bogenoemde dorpies so uniek maak.

      Sedert Junie 2005 het hierdie gemeenskappe aan die grens van die Wildtuin, met die hulp van die nasionale Departement van Omgewingsake en Toerisme en deur die tussenkoms van private ondernemers (Environmental Offset Investments), die ARISE-program van stapel gestuur. ARISE (’n akroniem vir Africa’s Rural Initiatives for Sustainable Environments) beskou die twee euwels van armoede en die agteruitgang van grond – wat mekaar dikwels negatief versterk en ’n afwaartse spiraal van agteruitgang en wanhoop skep – as die twee geleenthede om landelike ontwikkeling met ’n hupstoot aan die gang te kry deur ’n proses van ekologiese herstel of ekologiese restourasie. Ekologiese herstel kan die middel wees wat ’n landelike ekonomie aan die gang kan kry. In die verlede is openbarewerke-programme toegespits op die bou van damme, paaie en spoorlyne. Nou het die tyd dalk aangebreek om die fokus van openbarewerke-programme te verskuif na die herstel en rehabilitasie van die natuur. Op dié wyse is daar slegs wenners. Die belastingbetaler se geld word bestee aan iets werklik nuttigs en daar is ’n veelvoudige voordelestroom wat na die gemeenskap-in-nooddruf vloei. Ekologiese herstel is nie net arbeidsintensief nie – meer as 300 mense uit hierdie gemeenskappe is tans by ARISE in diens – maar dit herstel ook die gemeenskap se verhouding met die natuur. Voorts stel dit die gemarginaliseerde, sogenaamde tweede ekonomie in staat om by die eerste ekonomie geïntegreer te word deur ekostelselgoedere en -dienste te verkoop; dit sluit onder meer in koolstofsekwestrasie, waterkwaliteits- en waterkwantiteitsbestuur, en estetika (die herstel van die natuurskoon van die landskap). Ekologiese rehabilitasie het eweseer ’n ontwikkelingstrategie as ’n bewaringstrategie geword.

      Daar is egter ’n paar sleutelkwessies in die spel, soos die proses van die keuring van die werkers vir die program. Hoe weet ons dit sal ’n langtermynprojek met langtermynvoordele wees? Hoe weet ons dat die grond nie weer agteruit sal gaan nie? Die mense wat aan die program gaan werk, word deur die lede van die gemeenskap self gekies. Die gemeenskap kies die “armstes van die armes” onder hulle om die eerste aanspraak op die geleentheid te hê. Die gemeenskap, met goedkeuring van die kaptein en sy raad, besluit watter gebied afgekamp en herstel moet word. Die projek behels nie net dat die gekose dele van die gemeenskapsgrond afgekamp word nie, maar ook dat inheemse plantspesies hervestig en wisselweiding weer ingestel word.

      Hoe waarskynlik is dit dat die projek ’n langtermynuitwerking sal hê? Niemand weet regtig nie, maar die dorpenaars is daarvan oortuig dat dit sál werk, eenvoudig omdat hulle die “eienaars” van die projek is. Dit is hulle s’n. Hulle werk daaraan, hulle besluit watter gebiede herstel moet word, en hulle stel die mense aan wat aan die projek moet werk. Dit is nog te vroeg om te praat, en ’n mens kan nie sê of die projek oor 10 of 20 jaar nog voordele sal inhou nie, maar die begin is bemoedigend en die vooruitsigte goed.

      Is dit miskien die begin van iets regtig groots wat skaal, omvang en tyd betref, iets wat ’n beduidende uitwerking op die landelike gemeenskappe van Afrika kan hê? Ek dink so. In ag genome al die mense wat langs nasionale en provinsiale parke woon, gaan die blote ontwikkeling van bufferstroke waarin die mens en die res van die natuur in harmonie saamleef en die ontwikkeling van alternatiewe vorme van natuurtoerisme ’n aansienlike projek wees wat waarskynlik jare sal neem, al is dit net vanweë die toestand van verval van die gebiede wat rondom dié parke lê.

                Die herstel van oewer- en bergopvanggebiede is ’n logiese volgende stap waardeur sowel grond as water beveilig kan word; albei is immers uiters kosbare kommoditeite. Gesien vanuit die perspektief van voedselsekuriteit en gewasproduksie is die herstel van die oorblywende oppervlaktes grond noodsaaklik. Die moontlikhede vir werkskepping en die verbetering van lewensgehalte terwyl die funksionering van die ekostelsel oor die hele land terselfdertyd verbeter word, is werklik groot. Aangesien ons maniere probeer vind om die landelike tweede ekonomie by die stedelike eerste ekonomie te integreer, lyk ekologiese herstel na ’n praktiese en sinvolle manier om dit te doen.
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=539
Artikel nagegaan:
    -