| ||||
Charl-Pierre Naudé *Digter, jongste bundel In die geheim van die dag, Pretoria: Protea, 2004.
In die Januarie-uitgawe van Die Vrye Afrikaan verwys die redakteur, Johann Rossouw, na wat hy meen ’n simboliese ellende kan wees by Afrikaners in die huidige tyd. Ek stem saam met hom dat so ’n “armoede” bestaan. Persoonlik dink ek ’n armoede of aversie aan simboliese inhoude kan ’n vorm van repressie wees. Is mense vandag bang dat simboliek aan hulle inhoude bekend sal maak wat nie strook met hul aannames nie? Myns insiens behoort die toekoms aan diegene wat die simboliek binne ’n tyd kan raaklees. Simboliek is by uitstek die modus van divinasie, i.e. “toekomsvoorspelling”. Vorme van divinasie soos dolosgooiery, en ook die sekulêre vorme daarvan soos psigoanalise of die uitleg van drome, is simbolies gedrewe. Divinasie, maatskaplike sowel as self-divinasie, is ook een van die nuttigste aspekte van kunsbeoefening en -belewing. DJ Opperman het nie verniet ’n bundel gedigte Dolosse genoem nie. Daar is ’n gedig in my bundel In die geheim van die dag (bl. 128) – meer sinteties as die res van die bundel en daarom effens uit plek uit – waar ek hierdie “divinasie”-aspek ervaar het ten spyte van myself en wat ek eerder wou sê. Die gedig, geskryf in die vorm van ’n droom waarvan die een helfte die ander helfte as’t ware “vergeet het”, is ’n politieke allegorie. Dit verskyn hieronder. Dis kardinaal vir dié soort gedig dat die simboliese lading van al die terme deurgaans raakgelees word. Voor in die ry is die term “aktivis”. Aktiviste het met die jare ’n soort kwasi-argetipe geword in die Suid-Afrikaanse bewussyn, en die simboliese betekenis van “aktivis” groei steeds by die dag. Dink aan Vigs-aktiviste. Die eko-aktivis in die gedig is ’n oënskynlik “neutrale”, meer “onskuldige” soort aktivis ten opsigte van die Suid-Afrikaanse situasie, maar is eksemplaries van politieke aktiviste in die algemeen. In elk geval, in die gedig loop iets radikaal verkeerd met die simboliese inhoud van “aktivis”. Die draaipunt van hierdie verwording is vervat in die woord “ruilmiddels”. “Ruilmiddels” verwys nie slegs na die gegote beelde in die gedig wat geldwaarde het nie, maar ook na die “lewensgevaarlike” omruilbaarheid van twee begrippe: “aktivis” en ’n ander begrip wat homself eers in die laaste strofe openbaar. Ek het die gedig ontstellend gevind om te skryf. Ontstellend genoeg om die lees daarvan nou onder ander se aandag te wil bring.
Die aktivis Iets beweeg daar aan die buitewyk: incognito, die aktivis.
’n Verstoteling omdat hy fanaties is, maar wat op die ou einde tel, is integriteit.
Dis middernag in die dieretuin. Slegs een dier sluip daar katvoet: die aktivis, naby die hokke. Vir of teen lewe, ’n mens moet kies. By die sensors kruip hy verby. Die papegaaie in hul kleure, ’n sluimerende skildery. ’n Henry Moore van die ysbere staan gesweis op sy voete. Heilige Franciskus, behoede … Dat lewe so stil kan slaap.
’n Kapitalistiese vergryp: hierdie gevangenskap.
Alles veil, alles veil … Af met ’n nou gang. Onderstebo teen ’n dak.
Maksimum sekuriteit. Van wat? Die gebalsemde dood!
Uiteindelik kyk hy hulle in die oë. Nog nooit het hy so lewend gevoel nie. Mens moet respek hê vir wat anders as jy is;
twee goue luiperds gearriveer in hokke, in ’n kunsmuseum; twee lewensgevaarlike ruilmiddels uit die oerwoud van chemie.
Identiese beelde deur die alchemiste gemaak.
Die sleutels rinkel. Die alarms gaan af.
En daar staan hy versteen in die lig:
die dief, in sy vermomming. |