blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Oor neoliberalisme skryf prof. Albert Venter van die Universiteit van Johannesburg 2006-04-26

Met die lees van uitgawes van Die Vrye Afrikaan het ek so ’n ernstige gevoel van déjà vu. In my lewe  moes ek eers hoor van die Gevaar uit die Ooste (GD Scholtz), die Roomse Gevaar, die Swart gevaar, die Rooi gevaar, die Sekularisme, Liberalisme ad nauseam.  Die Vrye Afrikaan is soos oom Koot Vorster van ouds, van ’n kommunis agter elke bossie is daar nou ’n neoliberalis agter elke bossie! Vuilspuite, die neoliberales! Ai tog. 

      Die twee skrywers oor die neoliberale gevaar en u self as redakteur is besig met die opstel van strooipoppe – die neoliberale kanker, mite en wat nog – en skiet hulle dan ewe gerieflik af. Die statisme en dirigisme wat in die substruktuur van die gasskrywers se argumente ingebed is, is die werklike gevaar.

      Die probleem in Suid-Afrika na apartheid is nie die neoliberale kanker, mite en ander ergerlikhede nie.  Dit is in die eerste plek te soek van die ANC regering se rage to control, om ’n Afrikahegomonie af te dwing deur staatsintervensie. Dis  die Marxistiese oorblyfsels van demokratiese sentralisme, nie neoliberalisme nie.  Die staat wat hierdie sentraliste probeer gebruik om die sogenaamde neoliberale makro-ekonomiese beleid te ondersteun is die werklike vark in die verhaal. Die litanie is oorbekend. Onderwysers wat nie hulle werk doen nie en gewoon lui is, staatsamptenare wat onopgelei, onbekwaam, lui en geneig is tot korrupsie – dit is die rede waarom die armes nie opgehef word nie.  Die onvermoë van die staat om die geld uit te gee wat vir maatskaplike ontwikkeling is ’n nasionale skande. En so sou ek kon aangaan.

      Bond, Terreblanche en kie is baie gou om die vyand, neoliberalisme, aan te val, maar hulle remedies – vir wat ek kan aflei, outydse egalitarisme en staatsdirigisme is die ware skrikbeelde.

Hulle remedies is die werklike dood in die pot en kanker vir ons en die res van Afrika.

 

- Dat van ons gasskrywers se remedies vir die maatskaplike krisis onwerkbare staatsentralisme is, is ons dit roerend met u eens. Aan die ander kant is die ANC se skuif na ’n neoliberale ekonomiese beleid met sy verwoestende maatskaplike gevolge uiters goed gedokumenteer – en om Die Vrye Afrikaan se statistiese, beredeneerde hantering hiervan met Afrikanernasionalistiese verdagmakery van ouds gelyk te stel, is verbeeldingryk. Suid-Afrika kan net so min die verabsolutering van die mark (oftewel gulsige korporatiewe Suid-Afrika se belange eerste) as dié van die staat bekostig, want albei hierdie pole werk ten koste van die eintelike agente waarvan die land se toekoms afhang, naamlik haar gemeenskappe. Of glo u nog dat die debat tussen die staat en die mark is, à la goeie ou Koue Oorlog-analises? – Red.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=531
Artikel nagegaan:
    -