blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Oor Afrikaners en selfbeskikking skryf Frans de Klerk van Orania 2006-04-26

J. Brits skryf in Die Vrye Afrikaan van 17 Februarie 2006 dat hy al “ʼn slag of wat” in Orania was. Op grond hiervan matig hy homself heelwat gewigtige aanmerkings oor Orania aan. Soos byvoorbeeld dat Orania “nie ʼn plek is om vooruit te gaan nie”.

      Orania is vandag een van die min demokratiese en selfstandige gemeenskappe in Suid-Afrika. ʼn Gemeenskap wat besef dat ekonomiese ontwikkeling ʼn verantwoordelik van die gemeenskap self is en nie wag op ʼn wonderwerk van buite nie. Hiervoor het die gemeenskap verskeie instellings geskep wat ekonomiese ontwikkeling bevorder soos byvoorbeeld ʼn eie bank, ʼn eie geldstelsel, ʼn koöperatiewe besproeiingskema en ʼn ontwikkelingsfonds.

      Verder besef die gemeenskap ook dat ontwikkeling in die eerste plek nie ʼn ekonomiese aangeleentheid is nie, maar ʼn diep menslike verantwoordelikheid. Daarom is gemeenskaps- en maatskaplike ontwikkeling en sorg nie maar net ʼn punt op die agenda nie, maar amper die agenda self. Hiervoor is verskeie nuwe instellings tot stand gebring. Dit sluit in onderwysinstellings, ʼn maatskaplike raad, ʼn kunsteraad, ʼn ekogilde en kerke.

      Die bestuur van elke gemeenskapsinstelling insluitende dié van die Orania Verteenwoordigende Raad word op ʼn volledige demokratiese wyse verkies en alle lede van die gemeenskap het toegang tot hierdie instellings.

      Met die munisipale verkiesing van Desember 2000, toe Orania op sy eie selfstandigheid aangedring het, was die hoof argument daarteen dat klein gemeenskappe nie in staat is om dienste op ʼn volhoubare grondslag te lewer nie. Vandag is Orania egter een van die min suksesvolle plaaslike owerhede.

      Die Orania model is egter nie so uniek nie. Orania sluit aan by ʼn nuwe wêreldwye beweging waarin die gedagtes van selfstandigheid, volhoubare ontwikkeling, die politiek van erkenning, verantwoordelikheid (in ʼn menslike en ʼn ekologiese sin), federalisme en gemeenskapsdemokrasie sentrale temas is.

                In ʼn land waar die onderskeid tussen drinkwater en rioolwater al hoe kleiner word, het dit dalk belangrik geword dat die openbare debat nie gebou word op oppervlakkige en ongegronde beskuldigings nie, maar dat ons eerlik die uitdagings tegemoet gaan en kyk waar ons by mekaar kan leer.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=530
Artikel nagegaan:
    -