blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


’n “Volkstaat van die kelder”; Selfhaat tot nuwe hoogtes gevoer 2006-04-26
Kleinjan Schietekat

Gedink die tyd van geheime organisasies in Suid-Afrika is verby? Dink weer: ’n Italiaanse kenner van geheime organisasies wat bekend geword het vir sy werk oor die Bisantynse politiek, prof. Carlos Macchia, het pas in ’n indringende onderhoud met Die Vrypostige Afrikaan die bestaan van ’n nuwe geheime organisasie, Afrikaners Anoniem, bevestig.

      Prof. Macchia, wat tans besig is met ’n boek oor geheime organisasies wêreldwyd aan die begin van die 21ste eeu, vertel dat sy belangstelling in Suid-Afrika aanvanklik laat verlede jaar gaande gemaak is deur die felle taalstryd aan die Universiteit Stellenbosch: “Toe ek die argumente van die voorstanders van die T-opsie begin bestudeer het, het ek gou besef dat dit eintlik geen argumente is nie. Met die bepalende raadsvergadering verlede Desember waar finaal besluit is om dit by Lettere en Wysbegeerte uit te brei, was dit vir my duidelik dat ’n geheime organisasie hier aan die werk moet wees – onlogiese argumente wat ingespan word om verregaande besluite geldig te laat lyk, is ’n klassieke aanduiding dat ’n geheime organisasie bedrywig is.”

      Macchia het inderhaas die Washingtonse deel van sy navorsing laat staan – “Die oorlog teen Irak was nog ’n tipiese voorbeeld van drogargumente vir ’n lawwe besluit” – en na die Boland versit. Ofskoon hy nie wil uitwei oor hoe hy so gou op Afrikaners Anoniem afgekom het nie – “Ek het my metodes” – blyk dit dat hy reeds etlike van hulle byeenkomste bygewoon het.

      Macchia sê dat verskeie hooggeplaaste Afrikaners in die Boland by Afrikaners Anoniem betrokke is, en dat die organisasie aanvanklik ’n paar jaar gelede gestig is toe die leiers van die organisasie een aand spontaan in die wynkelder van ’n vooraanstaande Bolandse wynboer gekuier het om simpatie bymekaar te soek vir die feit dat hulle as Afrikaners gebore is. Die pynlike bekentenisse wat tydens daardie noodlottige aand uitgeruil is, was so kragtig dat besluit is om mekaar gereeld op dieselfde plek te ontmoet.

      Volgens Macchia is die atmosfeer by sulke kelderbyeenkomste by tye so somber en benouend dat hy nie anders kon as om te dink aan “´n volkstaat van die kelder” om die groep mee te beskryf nie. Afrikaners Anoniem mag lagwekkend wees, maar Macchia sê dat hulle dodelik ernstig en doeltreffend in hulle bedrywighede is. Ter illustrasie hiervan vertel hy dat ook Afrikaners Anoniem soos dit tipies met geheime organisasies gebeur ’n soort “pikorde van die ingewydes” vertoon. In dié geval word posisie op die pikorde bepaal deur “verlossende dade van selfaflegging” (wat eintlik selfhaat is): voorbeelde van sulke dade deur lede van Afrikaners Anoniem sluit in die weggee van besighede en die vrywillige verengelsing van voormalige Afrikaanse instellings.

      ´n Interessante plaaslike innovasie deur Afrikaners Anoniem, sê Macchia, is die kies van name deur die lede. So ’n naam verwys telkens na ’n soort morele ideaal wat die lid vir sigself sien in die poging om van etniese verbintenis verlos te word. Lede verwys dan ook na mekaar op hulle gekose name, eerder as hulle doopname. Macchia, wat ook ’n deeglike kennis van die psigoanalise het, sê dat nadere ondersoek toon dat die lede van Afrikaners Anoniem sonder uitsondering een of ander vroeë trauma te beurt geval het, wat hulle dan telkens weer herlei na die feit dat hulle as Afrikaners gebore is.

      Een voorbeeld hiervan is die geval van ’n vooraanstaande lid, Schoongezicht, ’n prominente akademiese bestuurder wat in sy laerskooljare deur sy geskiedenisonderwyser mishandel is. Dit het by Schoongezicht ’n absolute weersin in die geskiedenis gelaat, wat selfs as ’n vorm van doelbewuste geheueverlies, veral oor Afrikaners se geskiedenis, manifesteer. Dit verklaar dan ook waarom Schoongezicht hom later in onder meer die analitiese filosofie met sy ahistoriese aanslag sou bekwaam, en geneig is om alles te verstaan aan die hand van dichotomieë wat hy self voortdurend skep.

      Nog ’n vooraanstaande lid is die eienaar van die wynkelder, Armlas. Armlas dra die bykomende las dat hy uit ’n ryk familie kom, en hy kon nooit van hierdie skuld herstel nie. Ofskoon hy geen groot poësieleser is nie, het hy aan Macchia vertel dat hy enkele jare gelede geweldig aangegryp is toe hy gehoor het van ’n Afrikaanse digter se idee van ’n pil wat ’n mens kan drink om die volgende oggend as ’n swartmens wakker te word. Armlas, wat erken dat hy wens hy was Tokyo Sexwale, het sedertdien miljoene rande aan navorsing vir so ’n pil bestee (wat hom ook hoog op die pikorde plaas). So ’n pil kan volgens Armlas “die finale oplossing vir Afrikaners” wees.

      Een van die min vroulike lede van Afrikaners Anoniem, wat ook ’n akademikus is, Tolerantia, is volgens Macchia reeds vanaf haar kleuterjare deur haar pa gedwing om soggens vir hom tee in die bed te bring. Dit verklaar dan ook waarom sy by die Universiteit Stellenbosch so hard werk vir die T-opsie: ’n soort omgekeerde wraak vir die “tee-opsie” waaronder sy as kind moes ly.

                Ofskoon die meeste lede van Afrikaners Anoniem ouer as 40 is, is daar tog ook enkele jonger lede. Grootgetuig, ’n jong skrywer wat deesdae oral in die media te sien is, ly volgens Macchia aan “onbeleefde geskiedenissindroom”, oftewel die verskynsel waar mense woede dra omdat hulle nie self deel van ’n stuk geskiedenis gevorm het nie wat hulle as noodsaaklik vir hulle huidige posisie beskou. Volgens Macchia kom onbeleefde geskiedenissindroom dikwels voor in samelewings waar ’n onderdrukte geslag deur ’n jong geslag na politieke bevryding opgevolg word, en waar die jong geslag hulle bevoorregte posisie moet regverdig deur toe-eiening van ’n stuk geskiedenis wat hulle nie self ervaar het nie. Grootgetuig het vir homself ’n hoë plek op die pikorde verseker deur heelwat nuutskeppings soos “neo-Afrikaner” en “neo-rassis” via Afrikaners Anoniem se netwerke die wêreld in te stuur. Volgens Macchia is Grootgetuig veral daarop toegelê om alle spore van Afrikaners deur sy skryfwerk “permanent uit die samelewing te verwyder”.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=529
Artikel nagegaan:
    -