| ||||
Gabriel Kolko * Historikus en skrywer van onder meer Another Century of War? (New York, 2004), asook The Age of War (Boulder, Colorado: Lynne Rienner, 2006). Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected] Die Bush-administrasie ly die een nederlaag na die ander, selfs op ’n gebied wat hom vir ’n lang tyd die politieke oorhand bo sy teenstanders gegee het: nasionale veiligheid. Afgekeur deur die Kongres oor die vraag rondom die bestuur van verskeie Amerikaanse hawens deur ’n openbare maatskappy van Dubai, vind die President van die VSA dit al hoe moeiliker om die publiek te oortuig van die meriete van sy Irakese beleid. Die voorbeeld van die Viëtnamese debakel word dikwels opgeroep. Scott Ritter, oud-offisier van vlootintelligensie, sluit in September 1991 by die Verenigde Nasies se ondersoekspan aan wat moet verseker dat Irak sy wapens van massavernietiging, en die voertuie wat hulle sou lanseer, afbreek. Ritter ontvang die mees betroubare inligting van Amerikaanse, Britse en Israeliese dienste en ontdek in die loop van die 1990’s dat Irak die VN se ontwapeningsvereistes gehoorsaam. Nietemin, vanaf 1991, gaan die Amerikaanse administrasie voort om die storie te versprei dat Bagdad wapens van massavernietiging besit. Die oogmerk van die Withuis (en Ritter begryp dit wel) is “verandering van regime” (1). Wat die skakel tussen Al-Kaida en Saddam Hoessein (wat blykbaar ’n gevaar sou skep deur wapens van massavernietiging aan Al-Kaida te voorsien) betref, soos George Bush dit sou gebruik om sy oorlog te regverdig - Ritter het sedert die einde van September 2001 geweet dat die waarheid eintlik die teenoorgestelde was: die sekulêre regime van Irak het totaal en al teen die Islamitiese fanatisme van Osama ben-Laden gegaan. Terloops, die Pentagon se inligtingsdiens het bevestig dat die bron van hierdie aanklag van samewerking tussen die twee partye ’n vervalste dokument was (2). Krisisse, nabye gevaar, bedreigings vir nasionale veiligheid en die lewensbelange van die nasie ... Sedert 1947 maak hierdie konsepte ’n integrale deel uit van die VSA se buitelandse beleid. Hulle het ’n teensinnige opinie gemobiliseer en, belangriker nog, ’n Kongres gedwing om die enorme uitgawes goed te keur wat nodig sou wees om hulle plan te voltrek. Binne hierdie konteks is die werklikheid nie juis van belang nie. Die fynberekende oordrywing, selfs onwaarhede, is aan die orde van die dag by alle Presidente sedert Harry Truman in Maart 1947 sy bekende, gelyknamige leerstelling voorgelê het. Dit het die krisisse in Griekeland en Turkye geskets as bedreigings vir wêreldveiligheid. Volgens die indertydse Adjunk-minister van Buitelandse Sake, Dean Acheson, was die Kongres en die Amerikaanse volk “nie genoegsaam bewus” van die enorme uitgawes nodig om die uitgerekte krisis te konfronteer wat in Europa en ander dele van die wêreld sou afspeel nie. George Kennan, voorstander van die behoud van Sowjetmag, het die Truman-leerstelling teengestaan; selfs die Minister van Buitelandse Sake, George C. Marshall, het gedink die President oordryf oor die erns van die situasie. In weerwil van die verdwyning van die Sowjetblok het die gewoonte bly staan om van ’n vlooi ’n olifant te maak, om voor te gee dat daar “verdoemende” bedreigings vir wêreldvrede is (3). Sedert 1947, volgens Walter C. Matthias, wat tot sy aftrede (in 1973) by die CIA verantwoordelik was vir die beraming van die Sowjetmag, “het ’n oneindige debat tussen die siviele en militêre intelligensiedienste geheers oor die oogmerke van die USSR.” (4) Om die massiewe militêre uitgawes te kan regverdig, was dit nodig om die USSR se intensies so onrusbarend moontlik te skets en dusdanig die Sowjetkapasiteite te beklemtoon, eerder as die intensies van die regime. Die tendense tot bevryding in die USSR het dus ongehoord gegaan, die belangrikheid van die Sjino-Russiese skeur is erg onderskat en, soos Matthias meld, “vanaf 1968 is ons redelike en gebalanseerde oordele oor die Sowjet-Unie al hoe meer bevraagteken.” (5) Hierdie konteks help ons om die Viëtnam-oorlog te verstaan, maar ook die meeste ander fasette van die VSA se buitelandse militêre beleid sedert 1946. Die Republikeinse President Richard Nixon het ’n diepgaande antipatie teen die CIA gehad, en in 1973 het hy die agentskap se hoof, Richard Helms, afgedank nadat dié geweier het om die CIA as sondebok vir die Watergate-skandaal te laat dien. Die belangrikste raadgewers van die Demokratiese President Jimmy Carter het erken dat die beramings van die CIA hulle pla – nie omdat die beramings “onjuis” was nie, maar omdat hulle nie “toepaslik” (6) was nie. In 1981 stel Ronald Reagan vir William Casey, wat “stry, veg en skreeu op sy ontleders,” (7) as hoof van die CIA aan. Casey volg sy eie politieke agenda deur te beklemtoon: “Ons evalueringsprogram het ’n kragtige hefboom geword wat ons toelaat om politieke besluite te beïnvloed.” (8) Die gevolg van hierdie verpolitisering van die CIA het gelei tot die oordrywing van ’n bedreiging wat al hoe meer virtueel geword het: in 1989 kon hulle nie eens die ineenstorting van die Sowjetblok voorsien nie. Oud-werknemers van die CIA, wat hul herinneringe gepubliseer het, stem saam oor die gebrek aan vertroue in die agentskap se beramings. Ondanks die teenwoordigheid van uiters gekwalifiseerde personeellede en ten spyte van enorme hoeveelhede data tot hul beskikking het Washington sedert Januarie 1946 nog nooit ’n betroubare, “neutrale” inligtingstelsel gehad wat met kennis die buitelandse beleid van die land kon stuur nie. Inteendeel, die uitbeelding van die wêreld blyk daar reeds vooraf bepaal te word deur interne belange. Die terugslae in Viëtnam, Irak en op ander plekke is die resultate hiervan. Gegewens is voor die Viëtnam-oorlog om politieke redes skeefgetrek, en dit word steeds gedoen. Die werk van die CIA word nie regtig ernstig opgeneem nie, behalwe wanneer sy paramilitêre eenheid (action wing) sendings in die buiteland onderneem. Natuurlik word elke aktiwiteit waarby inligting versamel word ook geparasiteer en onderwerp aan manipulasie. Objektiewe kennis is minder verantwoordelik vir besluite as politieke strategieë. In Indosjina kon die Amerikaanse regering staatmaak op kenners van die streek en sy realiteit. In 1949 sluit George W. Allen aan by die Pentagon se intelligensiediens en word onmiddellik opdrag gegee om Parys se pogings om sy koloniale ryk te behou, te ondersoek. Dit is insiggewend om Allen se herinneringe hiervan te lees. Hy onthou byvoorbeeld dat President Dwight Eisenhower en sy Minister van Buitelandse Sake, John Foster Dulles, uiters gekant was teen Frankryk se ondertekening van ’n skietstaking met sy vyand nadat dié hom verslaan het op die slagveld van Dien Bien Phu. Die VSA was ook gekant teen die Geneefse Verdrag van 1954 en het “op die basis van ’n string aannames wat (...) geheel en al onrealisties” was, besluit om die fakkel van die Franse sending in Indosjina op te neem – ’n besluit wat van meet af aan sou misluk (9). Om mee te begin, het die Amerikaanse regering die toepassing van die klousules in die Geneefse Verdrag wat verkiesings sou voorsien en die pad vir die unifikasie van die land oopmaak, verhoed. Terselfdertyd het die VSA die maatreëls vir die ontwapening van die partye oortree. Só het die Amerikaanse optrede in Viëtnam begin. Dit sou byna 20 jaar duur, en ’n hoogtepunt bereik in 1968 met die plasing van meer as 500 000 soldate in die langste en duurste oorlog in die geskiedenis van die VSA. Die ontleders van die CIA het egter heeltyd voorsien wat sou gebeur. Die sogenaamde Tonkingolf-krisis in Augustus 1964 het Allen verbaas, want hy het geweet dat Saigon en Washington in daardie stadium skelm sendings in die streek lei met die hoop om die Suid-Viëtnamese regering gerus te stel (10). Hy het eers gedink dat ’n militêre diens onbewus sou wees van die planne van ’n ander: “Ek het nie begryp hoe gretig die administrasie (van Lyndon Johnson) na ’n rede gesoek het om ons ingryping te regverdig nie.” Dieselfde geld die gebeure in Pleiku in Februarie 1965, wat stukrag gegee het aan “voorkomingsweerwraak: die aanvalle van Pleiku het die versterking geregverdig van ’n konflik wat reeds goed beplan was.” (11) In 1998 het die CIA ’n oorsig van die 1962-1968-periode deur Harold Ford gepubliseer (12). Dit wys dat, toe die Pentagon-hoof Robert McNamara (hy sou later die President van die Wêreldbank word) a posteriori gekla het dat hy nie Viëtnam-spesialiste gehad het met wie hy kon praat nie, die aantyging nie geldig was nie. In werklikheid het hy geweier om na hierdie spesialiste te luister. Een van Washington se grootste mislukkings was sy onwilligheid om die Kommuniste se militêre leerstellings te verstaan, of hul getalle beter te skat. Die Johnson-administrasie het voortgegaan om die korrupte diktator Nguyen Van Thieu te ondersteun, in die hoop dat daar sodoende ’n einde sou kom aan die voortslepende politieke onstabiliteit na die sluipmoord op President Ngo Dinh Diem in November 1963, met die goedkeuring van die VSA. Die troepe van Saigon, opgelei en toegerus deur Washington om die guerillamagte te beveg, het op die ou end gemaak asof hulle in ’n konvensionele (Amerikaanse) oorlog was, ten aanskoue van ’n heeltemal magtelose Ford-administrasie. Maar gedurende hierdie tydperk was daar gedurig sprake van oorwinning, hoofsaaklik gemotiveer deur die begeerte om die openbare mening te manipuleer. Want ofskoon die politici, die militêre leiers en die CIA-agente op die terrein hulleself mislei en werklik hierdie foutiewe verslae geglo het, het die meerderheid geweet dat hulle loopbane afhanklik is van hul optimisme. Die mees openbare manifestasie van hierdie leuens het kop uitgesteek met die polemiek oor die “balansering van magte”, wat die Têt-aanval in Februarie 1968 voorafgegaan het. Hoe kleiner die vyandige magte was, hoe meer kon die weermag voorgee dat hul eie sending suksesvol was. Hulle het geweier om die diverse plaaslike magte in berekening te bring, en sodoende die teenwoordigheid van 300 000 vegters geïgnoreer. As hulle bestaan erken is, sê Generaal Creighton Adams in Augustus 1967, sou dit “duistere” gevolge (13) gehad het ... Die CIA het sy besware bekendgemaak, maar het nie gestry teen hierdie manier van optree nie. Volgens Allen was die nederlaag by Têt soveel belangriker omdat “die sielkundige kampanje van oordrywing wat in die herfs van 1967 gelei is” ’n sentrale rol gespeel het in Lyndon Johnson se herkiesingsveldtog (14). Dit is ná die Têt-aanval dat die VSA begin het om te begryp dat hulle nie die oorlog sou wen nie. Ford en Allen het tot dieselfde slotsom gekom, en Allen som dit só op: “Ons leiers is geneig om hulleself om die bos te lei.” (15) Nogtans, binne die CIA het ’n aantal ingeligte werknemers die Indosjinese avontuur eweveel gekritiseer as dié wat as hul vyande verklaar is. Artikels wat in die CIA gepubliseer is, erken met ongekende eerlikheid dat “’n groot gedeelte van die inligting” wat deur die CIA ingevorder is, “eintlik maar stront is” (16). Die deurmekaar, onbekwame karakter van sommige spesiale operasies van spioenasiedienste en van die Pentagon word ook erken (17). En indien, oor die afgelope vyftien jaar, die vooruitgang van tegnologie die hoeveelheid data vertiendubbel het waartoe die inligtingsdiens toegang het, het dit nie makliker geword om hierdie oorvloed inligting na te gaan nie. Dit het eerder moeiliker geword – en die moontlikheid vir vals of ongeldige inligting, al hoe groter. Almal weet al dekades lank dat vooraf opgestelde menings, persoonlike belange en politieke ambisies, naamlik herkiesing, die besluitnemers afraai om inligting in berekening te bring wat hulle nie wil hoor nie. Die meeste van die hoë amptenare aanvaar hierdie beperking en weet dat die besluitnemers eers wag op inligting wat hul eie oogmerke weerspieël. Met ander woorde, die politieke verteenwoordigers kies wat hulle wil gebruik, omdat hulle nie slegs hul eie oordeel vertrou nie, maar hul eie agenda het. Min hoë amptenare van die inligtingsdiens dink dat hulle ’n slegte of gevaarlike politieke beleid kan verhoed. Hiervan is Irak ’n duidelike verdere bewys. Daar is beduidende kulturele en politieke verskille tussen Viëtnam en Irak, en die geostrategiese posisies verskil totaal en al. Die VSA het Saddam Hoessein voortdurend aangemoedig en ondersteun gedurende sy oorlog teen Iran (1980-1988) – ten spyte van die Irangate-skandaal (18) – uit vrees dat Iran ’n Sjiïetiese hegemonie in die Golf vestig. Die vrees bestaan reeds, en met rede: as die Sjiïete aan bewind kom in Irak, wat waarskynlik gaan gebeur, sal Iran sy geopolitieke ambisies in die streek versterk. Maar in weerwil van hierdie fundamentele paradoks in die Amerikaanse posisie, wat die opkoms van ’n werklike demokrasie nie juis bevoordeel nie, is die VSA besig om ’n aantal foute te herhaal wat destyds tot hul nederlaag in Indosjina gelei het. Die insameling van inligting het in Irak ewe middelmatige resultate as in Viëtnam gehad. En dit is juis omdat hierdie twee oorloë vir die VSA sleg uitgedraai het, dat ons nou meer weet as wat andersins die geval sou wees oor wat die inligtingsagente te sê gehad het. Selfs al is die werklike redes vir die Amerikaanse militêre ingryp in Irak heel heterogeen, is dit duidelik dat ’n sekere mentaliteit uit die leiersgeledere ’n sleutelrol gespeel het. Donald Rumsfeld, die huidige Minister van Verdediging, het hierdie mentaliteit geopenbaar toe hy aan President Bush met sy verkiesing voorgestel het dat die buitelandse beleid van die nuwe administrasie minder reaktief behoort te wees en hy “hom na die toekoms moet draai” (19). Bush het dieselfde opinie gehad. Daar, weereens, het inligting nie werklik ’n rol gespeel by die neem van belangrike besluite nie. Die administrasie het nie alleen geweier om na sy verskillende agentskappe te luister nie, maar het doelbewus hul ontledings verdraai. As die ooreenkoms met Viëtnam duidelik is, dan is dit omdat die buitelandse beleid van die VSA nog altyd só bewerk is. Selfs nog voordat die administrasie aan bewind gekom het, was hy vasbeslote om meer aggressief te wees. En, soos in Viëtnam, het die VSA voor verrassings en onvoorsiene nederlae te staan gekom. Hoewel dit glad nie onvoorsienbaar was nie: die noukeurige verslae van Ritter en ander bewapeningspesialiste is opsygeskuif ten bate van uiters twyfelagtige “informasie”, waarvan die vreemdste opgekook is deur “Curveball”, ’n Irakiër wat volgens Duitse intelligensie geen meriete dra nie. Die CIA het self ondersoek ingestel na die betroubaarheid van sommige van hierdie informante wat onder verdenking was (20). Die Bush-administrasie het ander ernstige waarskuwings van deskundiges versuim wat ’n chaotiese toekoms voorspel het vir ’n post-Saddam Irak, en gesê het dat dit aanleiding kan gee tot ’n burgeroorlog. In die oë van Jan Alleman bly die CIA egter die bron van die meeste leuens wat die Withuis gebruik het om sy oorlog teen Irak te regverdig (21). In werklikheid het die Bush-administrasie voortgebou op die gedrag van sy voorgangers in die buitelandse politiek: vertel leuens aan die Kongres en die nasie om hulle aan jou kant te kry. Die sukses van so ’n onderneming kan nie lank duur nie... Op die oomblik moet Bush net erken, soos hy op 14 Desember 2005 gemaak het: “Baie van ons inligting is nou erkende valshede.” En nog ’n keer die ou wysie fluit waarin Washington sy begeerte deel om “’n vrye en demokratiese Irak” te vestig, terwyl niemand in sy administrasie meer dink dat soiets moontlik is nie. Die enigste doel wat oorbly vir die Withuis is om die President en sy party los te maak van ’n rampspoedige militêre en politieke fout. Desnieteenstaande, in Viëtnam en in Irak, het verskeie ander faktore as slegs die dubbelhartigheid van die leiers ’n rol gespeel. Byvoorbeeld, in die 1960’s het die Pentagon alreeds ’n blinde vertroue gehad in die mag van sy vuurwapens, in sy tegnologiese oppergesag, in sy mobiliteit en sy beheersing van die lugruim. Hierdie selfvoldaanheid is ’n nasionale kenmerk wat die vervaardigers van vuurwapens nog altyd aangemoedig het. Dit propageer die idee dat maatskaplike en politieke probleme vanself sal verdamp sodra die vyand vernietig is deur ’n ingryping wat hom in die woorde van die Minister van Verdediging, Donald Rumsfeld, “geskok” en “stomgeslaan” het (Operasie Shock and Awe). In Irak, soos in Viëtnam, was die tegnologie egter uiters feilbaar, en die logistiek ’n nagmerrie. Juis omdat dit oneindig meer ingewikkeld is, het die tegnologie in Irak op groot skaal misluk, terwyl essensiële en heel voorsienbare probleme, soos ’n tekort aan water, verbasend duur was en moeilik om op te los (22). Die prys het gevolg: die oorlog in Viëtnam, en toe dié in Irak, het ongekende somme geld gesluk, soms weens die vertroue wat geplaas is in duur tegnologie, soms weens onbekwame en korrupte tussengangers. Daar was ernstige gevolge vir die Amerikaanse samelewing. Om die Indosjinese avontuur te befonds, moes Lyndon Johnson ’n groot stuk van sy program van “oorlog teen armoede” begrawe, en het dit Martin Luther King genoop om te verklaar: “Die bomme wat oor Viëtnam val, ontplof in ons eie stede.” Die oorlog in Suid-Oos Asië het eweneens bygedra tot die verswakking van die dollar en Washington se verwerping van die goudstandaard (23). Die oorlog in Irak het saamgeloop met die VSA se kommersiële en begrotingstekorte. Gedurende die herfs van 2005 sou dit reeds minstens 225 miljard dollar gekos het, oftewel binne twee-en-’n-half jaar die uitgawe van die VSA se oorlog in Viëtnam oor ’n tydperk van nege jaar. Sommige beramings noem die syfer van 1 000 miljard dollar, wat ’n historiese rekord sou wees (24). Die twee operasies het ’n byna konstante verhoging benodig ten spyte van hul skietkrag. Toe die militêre krag in Viëtnam die 500 000-grens nader, het die Amerikaanse mening teen die President gedraai, en sy party is uit die Withuis geskop. In Irak se geval het die vyandigheid van die mening, indien nie teen die oorlog nie, dan minstens teen die vorm wat die oorlog aanneem, baie vinniger sy stem dik gemaak. Aan die einde van 2005 het byna twee-derdes van Amerikaners die bestuur van operasies afgekeur, en 58% het gedink dat die President se redes vir die behoud van troepe in Irak ontoereikend is. Uiteindelik, in Februarie, het 63% gereken dat die huidige doelwit nie die verlies van Amerikaanse lewens, òf die finansiële koste, regverdig nie. En 48% het sover gegaan om die troepe se onmiddellike onttrekking te eis (25). Wat in die politieke, ekonomiese en maatskaplike sfere plaasvind, is meer deurslaggewend as die militêre oorwegings. Dit het gegeld vir Viëtnam in 1975 en dit geld nou vir Irak. ’n Oorlog word polities gewen, of glad nie. In Washington neem die leiers egter nooit kennis van die waarskuwings van deskundiges wanneer hulle herinner word aan die beperkings van hul militêre mag nie. Die geneigdheid van die President om die streekswerklikhede te ignoreer en sodoende sy wapenmag te bevestig (om nie aansien te verloor nie), word byna altyd die vernaamste kwelling, hoe lank die konflik ook al duur. In Viëtnam se geval, soos in Irak, het die publiek, wat danksy siniese onwaarhede gemobiliseer is, uiteindelik nie meer ’n woord geglo wat die amptenare hulle vertel nie. Terloops, verskeie belangrike mense het mettertyd onbevoeg geraak om waarheid en fiksie van mekaar te onderskei. Die Amerikaanse leiers het eerlik geglo dat, indien die Kommuniste in Viëtnam sou wen, die “domino’s” sou val en Sjina vir Suid-Oos Asië sou oorneem. Op dieselfde wyse kan die oorlog in Irak sekerlik ook regverdigbaar wees deur die vermoede dat Bagdad se regime wapens van massavernietiging besit het en met Al-Kaida verbind was – geen feite het ooit hierdie aantygings ondersteun nie, en vanselfsprekend is die meriete van alle latere uitsprake in twyfel getrek. Drie jaar na die konflik begin het, is daar steeds 160 000 Amerikaanse soldate en geallieerde magte in Irak, veel meer as wat President Bush geskat het. Soos in Viëtnam die geval was, is hulle moreel laag en verswak dit al hoe verder. Maar in die lig van die vlak van die weerstand sal ’n hele aantal troepe nog jare lank benodig word. In Indosjina wou President Nixon die oorlog “viëtnamiseer”, en het hy die las van die gevegte op die skouers van die enorme weermag van President Thieu geplaas. Hierdie troepe, onder Katolieke bevel, se moreel het vreeslik verswak en hulle kon nie lank die gewig dra nie. Wat die Irakese weermag betref, het die VSA begin deur dit te ontbind. Met die hulp van Saddam Hoessein se Soenni oud-offisiere is dit besig om gedeeltelik weer opgebou te word. Hierdie besluit, geneem uit wanhoop, verteenwoordig ’n U-draai. Die gedagte dat so ’n weermag aan Washington se oogmerke kan voldoen of militêr doeltreffend kan wees, lyk na ’n illusie. Net soos in Viëtnam, waar die Boeddhiste vyandig was teenoor die Katolieke leiers uit Washington, is Irak ’n land wat ten opsigte van geloof erg verdeeld is. Die VSA sal voortaan moet kies tussen die risiko van wanorde, wat weens die tekort aan Amerikaanse troepe al hoe waarskynliker lyk, en die risiko van ’n burgeroorlog as hulle die Irakese sou toelaat om hulleself te bewapen. Die uitslae van die verkiesings het die wedywering vererger. Die Sjiïete verteenwoordig drie-vyfdes van die bevolking – hulle leiers het hul eie idees en politieke agendas. As hulle beheer oor die weermag of die staat kry, sal Iran sy mag in die streek waarskynlik versterk. In weerwil van die vele waarskuwings van deskundiges sien die Bush-administrasie moeilik die kompleksiteit in van die politieke probleme wat dit moet konfronteer. Afghanistan is egter ’n model om te bewys dat militêre sukses van politiek afhang, en nie die omgekeerde nie. In Irak, soos in Viëtnam, het die VSA hulle tyd op die terrein onderskat en hulleself geflous oor die doeltreffendheid van hul geallieerde magte. Die pogings van die Bush-administrasie het nie veel meer kans op sukses as sy voorgangers in Indosjina nie. Viëtnam het erge geloofsverdeeldheid geken, maar die situasie in Irak is nog erger, en ’n burgeroorlog mag dalk om die draai wees. In Viëtnam het die Kommuniste aan bewind gekom, en Irak is naby aan totale chaos. In ’n vertroulike memorandum van Oktober 2003 het Rumsfeld erken: “Ons kom instrumente kort wat ons in staat sou stel om te weet of ons die globale oorlog teen terrorisme wen of verloor.” Sekere van sy invloedryke lede het geruime tyd reeds minder vertroue in die Bush-administrasie as toe die oorlog uitgebreek het (26). Maar, soos in Viëtnam, is dit té laat om van koers te verander. Die militêre geloofwaardigheid van de VSA is tans in die gedrang. Op die lang duur gesien, is interne politiek belangliker as enige ander politiek. Dit is wat gebeur het met die oorlog in Viëtnam, en dit is wat sonder twyfel ook in Irak sal gebeur. In 1968 het die meningspeilings teen die Demokrate gedraai, en die Têt-aanval in Februarie het President Johnson en sy generaals onkant gevang omdat hulle nie die CIA se beramings (volgens hulle het die weerstandsmagte bestaan uit meer as 600 000) wou glo nie. Richard Nixon het in 1968 gewen, omdat hy vrede belowe het aan ’n volk wat moeg was vir oorlog. Dit sou egter nog sewe jaar lank duur.
_________ (1) Scott Ritter, Iraq Confidential: The Untold Story of the Intelligence Conspiracy to Undermine the UN and Overthrow Saddam Hussein. New York: Nation Books, 2005, pp. 9ff., 75, 112-13, 289-91. (2) New York Times, 6 November 2005 ; AFP-berig, 24 November 2005. (3) Gabriel en Joyce Kolko, The Limits of Power: The World and United States Foreign Policy, 1945-1954, New York: Harper & Row, 1972, pp.339-42. (4) Willard C. Matthias, America's Strategic Blunders: Intelligence Analysis and National Security Policy, 1936-1991, University Park: Pennsylvania State University Press, 2001, p.3. Kyk ook ibid., pp.45-46 vir ’n evaluering in 1946 van Sowjet-oogmerke. (5) Ibid., p.3. (6) Ibid., p.313. Kyk ook Robert M. Gates, From the Shadows: The Ultimate Insider's Story of Five Presidents and How They Won the Cold War, New York: Simon & Schuster: 1996, pp. 30-31. (7) Gates, op. cit., p. 207. (8) Ibid., p.286. (9) George W. Allen, None So Blind: a Personal Account of Intelligence Failure in Vietnam, Chicago: Ivan R Dee Inc., 2001, p.78. (10) ’n Amerikaanse spioentorpedojaer doenig in die gebiedswaters van Noord-Viëtnam is aangeval en beskadig deur Hanoi se vloot. Die voorval het gedien as voorwendsel vir die Amerikaanse militêre eskalasie in Indosjina. (11) Ibid., pp.183, 185. Op 6 Februarie 1965, val 300 Suid-Viëtnamese insurgente die Pleiku-kamp aan, wat lei tot die dood van 8 Amerikaners en die besering van sowat nog ’n honderd.
|