blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel: Suid-Afrika op ’n mespunt 2006-04-26

Die afgelope weke is Suid-Afrika op ongekende skaal geboei deur die hofsaak waarin die voormalige adjunk-president, mnr. Jacob Zuma, teregstaan op ’n aanklag van verkragting. In dieselfde tyd het president Thabo Mbeki die direkteur-generaal van die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA), mnr. Billy Masethla, afgedank ná die bevinding van die Inspekteur-Generaal van Intelligensie dat Masethla en andere die NIA misbruik het om op politieke en sakeleiers asook ’n joernalis te spioeneer. Masethla, ’n voormalige vertroueling van Mbeki, het aangedui dat hy sy afdanking in die hof gaan beveg, wat mag insluit dat Mbeki self oor die redes vir sy afdanking sal moet getuig. Op die koop toe is daar sterk aanduidings van spanning tussen Mbeki en die figuur na wie baie van Zuma se vorige ondersteuners hul steun as opvolger vir Mbeki verskuif het, die sekretaris-generaal van die ANC, mnr. Kgalema Mothlanthe.

      Die politieke temperatuur in Suid-Afrika is duidelik besig om te styg en dit is nie vergesog nie om te sê dat die land se swaargewonne politieke stabiliteit sy ernstigste bedreiging sedert 1994 in die gesig staar. Om te verstaan wat tans in die spel is, is dit nodig om die huidige spanning rondom Zuma in die Drieparty-alliansie (ANC, Cosatu, SAKP) te verstaan teen die agtergrond van die armoedige ideologiese debat binne die Alliansie en die bepalende politiek-ekonomiese keuses wat kort na 1994 gemaak is.

      As ons praat van ’n armoedige ideologiese debat, verwys ons na die debat tussen, enersyds, die neoliberale Afro-nasionaliste onder leiding van Mbeki en, andersyds, hul sosialistiese kritici. Eersgenoemde kamp het hul hoop gevestig op ekonomiese groei voortspruitend uit die uitbreiding van Suid-Afrika se industriële en dienstesektore, en die inskakeling hiervan by die wêreldekonomie binne die proses van markgedrewe globalisering. Laasgenoemde kamp het hul hoop gevestig op staatsbestuurde herverspreiding, met ekonomiese groei sekondêr tot herverspreiding en die staat as vernaamste ekonomiese agent, soos dit tipies die geval was met die ekonomieë van die G7-lande na die Tweede Wêreldoorlog.

      Mbeki en die neoliberale Afro-nasionaliste het aansluiting gesoek by die neoliberale wêreldwanorde wat na die val van die Berlynse Muur in 1989 na vore getree het. Terwyl die staat enersyds alles moontlik sou doen om ’n korporatief-vriendelike omgewing vir ekonomiese groei te skep, is die staat terselfdertyd ingespan as agent vir die skepping van ’n swart middelklas met enkele swart oligarge as die gesigte van dié klas. Regstellende aksie, eers in die staatsdiens en later in die privaatsektor, asook swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is die hefbome wat hiervoor ingespan is.

      Wat was die gevolge van hierdie beleidsrigting? Eerstens is ’n hoogs kern swart middelklas van sowat 500 000 sowat 38 miljoen swart Suid-Afrikaners tot stand gebring. Tweedens is die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika in die algemeen en onder swart Suid-Afrikaners in die besonder dramaties verhoog. Derdens het die benarde ekonomiese situasie van die meeste Suid-Afrikaners aan die sosialiste ’n ryk teelaarde van maatskaplike woede gebied, wat sedert die ANC se Nasionale Algemene Raadskongres verlede Julie herhaalde male in die openbaar oorgekook het en wat gefokus is op die figuur wat hierdie woede (op hoogs opportunistiese wyse) die beste uitgebuit het: Zuma.

      Ofskoon Zuma se naam nie regstreeks betrek is in die verslag van die Inspekteur-Generaal van Intelligensie nie, is dit duidelik dat die berugte “e-pos klugsage” neergekom het op die misbruik van die NIA min of meer vanaf Zuma se afdanking ten einde magtige figure naby aan Mbeki onder verdenking te plaas. Gegewe dat Zuma se magsbasis tradisioneel in ANC-intelligensie voor 1994 lê, kan ’n mens nie anders nie as om te wonder of historiese simpatieë in ’n “getransformeerde” NIA nie die enigste staatsarm was waarop Zuma na sy afdanking kon terugval in sy stryd teen Mbeki nie. Eweneens is dit ook nie verrassend nie dat Masethla Mbeki hof toe wil neem, want die vooruitsig van ’n Mbeki wat in die getuiebank, waar hy nie die gesprek soos gebruiklik kan beheer nie, moet Mbeki se vyande groot plesier verskaf.

      Waar laat hierdie benarde toedrag van sake die moeisame pad na demokrasie en ekonomiese bevryding vir alle Suid-Afrikaners? Ons kan sowel ’n politieke as ’n ideologiese antwoord hierop gee.

      Wat die politiek betref, is die land nou uitgelewer aan die titaniese stryd tussen die neoliberale, Afro-nasionalistiese tegnokraat, Thabo Mbeki, en sy volgelinge, en ’n bonte koalisie populiste, sosialiste en talle ander meelopers. Die skrikwekkende maatskaplike rekord van die Mbeki-bewind boesem net so min vertroue in as die aggressiewe retoriek van Zuma se meelopers.

      Die feit is dat hierdie politieke krisis voortspruit uit die ideologiese armoede van die Alliansie. Want in weerwil van die oënskynlike ideologiese verskille tussen die neoliberale Afro-nasionaliste en die sosialiste, bestaan daar diepgaande en fatale ooreenkomste tussen hulle. Eerstens stroop sowel die mark as die staat die mens van sy belangrikste verbintenis, naamlik sy taalkulturele gemeenskap, en verander hom in ’n plooibare individu. Tweedens dink albei kante fundamenteel ondemokraties as hulle verandering, demokratisering en bevryding beskou as ’n proses van bo na onder. Derdens is daar by albei kante feitlik geen besinning nie oor die onveranderde koloniale aard van die Suid-Afrikaanse staat, wat keer op keer ’n magtige klein elite ten koste van die meerderheid begunstig.

      Wat is die alternatief hierop? Ten spyte van kolonialisme en apartheid beskik Suid-Afrika steeds oor ’n merkwaardige diversiteit van taalkulturele gemeenskappe, en die uitdaging bly om hierdie gemeenskappe te versterk en uit te bou as die draers van die demokratiese en ekonomiese strewe in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse denktradisie van politieke pluralisme, waarvan Johan Degenaar ’n leidende gees is, kan Suid-Afrika hier begelei, want die land se taak is steeds nie om ’n nasie te bou nie, maar ’n demokrasie. In hierdie proses het Afrikaners as historiese gemeenskap ’n sterk rol te speel.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=527
Artikel nagegaan:
    -