|
||||
Robert Vosloo *Senior lektor in ekklesiologie, Universiteit Stellenbosch en skrywer van onder meer Die ligtheid van die lig: Morele oriëntasie in ’n postmoderne tyd, saam met Nico Koopman (Kaapstad: Lux Verbi, 2002) Vir my het dit in Julie 2004 tydens ’n treinrit tussen Rome en Amsterdam gebeur. Wat in die treinkompartement gebeur het, was dat ek besef het dat ek dalk meer Protestants is as wat ek self vermoed het. Die rede vir hierdie gewaarwording was ’n gesprek met ’n jong Franse beeldhouer. Hy was kennelik baie opgewonde oor sy ervarings van die laaste aantal dae in Rome. Ons het aan die gesels geraak (sy Engels en my Frans was van so aard dat ’n Indonesiese vrou, vlot in beide tale, vir ons getolk het). Dit het duidelik geblyk dat hy veral twee helde het: Michelangelo en die pous (en nie noodwendig in daardie volgorde nie)! Hiervan het al die aandenkings getuig wat hy met groot trots uit sy rugsak gehaal en vir ons gewys het. Hy was veral opgewonde toe hy hoor dat ek ’n predikant is en het dadelik gevra of hy nie by my kerk in Suid-Afrika beeldhouwerk kan kom doen nie. Ek verduidelik dat dit dalk moeilik mag wees. Ek is deel van ’n gereformeerde kerk, en opdragwerke aan beeldhouers is waarskynlik nie hoog op die kerkraad se prioriteitslys nie. Na my verduideliking laat hy in geen onseker terme nie blyk wat hy van die Protestantisme dink. Met die nodige ondersteunende liggaamstaal stel hy dit onomwonde: “Protestantisme is swak”. Vir hom mis dit ruggraat en is dit nie in staat om leiding te neem ten opsigte van die dinge wat Europa bedreig nie. Ons emosionele gesprek wat daarna volg, laat dit voorkom of daar nog nooit enige edikte oor godsdiensvryheid uitgevaardig is nie. Ek word aangevuur toe ek begin aanvoel dat daar ’n sekere xenofobie in van sy opmerkings skuil. Ons gesprek raak veral intens toe dit oor gays en die kerk gaan. Sy broer is gay, maar nogtans verdedig hy deurgaans met ywer die Rooms-Katolieke standpunte oor seksuele etiek, asook oor die vrou in die amp. Na ’n hewige debat vir ’n uur of twee besluit ons om vir eers die gesprek oor godsdiens daar te laat. Ek stel politiek as onderwerp voor, maar dalk was ons uiteindelike keuse om eerder ’n bier saam te drink wyser. Ek herroep hierdie gesprek omdat ek later nagedink het oor waarom ek so heftig die Protestantisme verdedig het. Dit is immers nie ’n etiket wat ek dikwels vir selfbeskrywing gebruik nie. Ek voel verder selfs aangetrokke tot die Rooms-Katolieke en Ortodokse tradisies. Wat vir my as buitestaander veral aantreklik in die dié tradisies voorkom, is hoe die liturgie en leringe iets van ’n geborgenheid in die tyd, ’n sekere gevoel van die ewigheid, uitstraal. Ek onthou die indruk wat ’n kort respons van ’n Rooms-Katolieke monnik in ’n klooster in Nederland op my gelaat het. Na aanleiding van die vraag oor wat hulle heeldag doen, het hy bondig geantwoord: “Wij wachten”. Iets hiervan het geweldige ikonoklastiese krag in ons produksiegedrewe kulturele omgewings wat onmiddellike behoeftebevrediging tot hoogste norm verhef. Daar is in hierdie tradisies ’n skynbaar ingeboude weerstand teen kortsigtige en ondeurdagte verandering. Die liturgiese skoonheid en die manier waarop taal in heiligheid gedrenk word, het ook ’n sterk appèl. Maar die gesprek met die jong Franse beeldhouer het my laat aanvoel dat my waardering vir hierdie tradisies dalk meer op die estetiese vlak lê. En dat daar iets in die Protestantisme is wat maak dat ek dit moeilik sal kan agterlaat. Dit is egter nie so maklik om hierdie aanvoeling onder woorde te bring nie. Een rede hiervoor is dat Protestantisme so ’n wye begrip is, en dit natuurlik talle uiteenlopende kerklike tradisies en denominasies insluit. Dit is daarom waarskynlik makliker (hoewel nie veel makliker nie!) om oor byvoorbeeld Lutheraanse of gereformeerde identiteit te praat. ’n Ander rede vir my stryd om my verbintenis tot die Protestantisme te verwoord, hang saam met die feit dat dit eweneens nie so eenvoudig is om die vraag na die unieke aard van die Protestantisme te beantwoord nie. Die benaming “Protestant” word dikwels in verband gebring met die groep wat teen ’n besluit by die Ryksdag van Speyer in 1529 geprotesteer het. In die Protestantisme gaan dit egter nie net om teen dinge te wees nie, daar is die dieper aksent om openbare getuienis af te lê oor die dinge wat voorgestaan word – die genade, die gesag en belofterykheid van die Woord, die priesterskap van alle gelowiges en so meer. Die protes is ook nie ’n protes bloot ter wille van protes nie. Dit gaan oor die protes teen die verabsolutering van dit wat relatief is. Die Protestantse teoloog, Paul Tillich, praat iewers hiervan as die Protestantse beginsel. Dit behels dat geen instelling of tradisie verabsoluteer word nie, ook nie Protestantse instellings nie. Daarom is standpunte, kerklike besluite en instellings gedurigdeur oop vir kritiek, vernuwing en hervorming. In die gereformeerde tradisie vind dit neerslag in belydenisse en is daar die fokus op die kerk as ’n belydende gemeenskap. Daarom die gedurige behoefte om in die tyd opnuut rekenskap van die geloof te gee en te protesteer wanneer die hart van die evangelie op die spel is. Hierdie konfessionele karakter van byvoorbeeld die gereformeerde tradisie is vir my besonder aantreklik. Ek dink dat daar ’n armoede sou wees as daar nie meer konfessionele tradisies is wat geskrifte soos die Heidelbergse Kategismus, die Barmen Verklaring (die verklaring van die Duitse belydende kerk in 1934) en die Belydenis van Belhar kan voortbring nie. As die bekoring vir die Rooms-Katolieke en Ortodokse tradisies in die gevoel vir die ewigheid geleë is, lê die trefkrag van die Protestantisme vir my in die feit dat dit erns maak met die tyd, met die oomblik van waarheid, met die kairos. Dit is die bereidheid om die kultus te hervorm indien nodig, om oop te wees vir die nuwe, om waarheid en geregtigheid te soek. Hierdie aspekte is natuurlik in alle tradisies aanwesig, maar op ’n besondere manier vind dit in die grondmotiewe en kernnarratiewe van die Protestantisme neerslag. Die wortels hiervan gaan terug na die profetiese tradisies wat nie in die skeiding van kultus en geregtigheid kon rus vind nie. Dat (hoofstroom) Protestanse kerke nie self altyd getrou aan hierdie kernidentiteit is nie, is beslis waar. Daar moet egter ook bygevoeg word dat daar dikwels ook ’n sekere inkonsekwentheid by baie kritici van die Protestantisme, en by name van die gereformeerde kerke, aanwesig is. Dikwels kritiseer hulle tereg hierdie kerke, maar dit lyk of hierdie kritiek meestal nie na ander kerklike (en ook godsdientige) tradisies oorvloei nie. Daar is byvoorbeeld onder baie intellektuele vandag groot waardering vir die nuwe pous, vir sy teologiese bekwaamheid en vir sy weerstand teen “die diktatuur van die relatiwisme”. Daar word aangevoel dat hier ’n moontlikheid is om weerstand te bied teen die neoliberale tradisies wat ten diepste nie die partikuliere narratiewe en praktyke van lokale gemeenskappe ernstig opneem nie. Die dubbelsinnige en dialektiese erfenis van hierdie neoliberale, Verligting-gevormde logika is aan ons goed bekend. En kritiek hierop en weerstand hierteen is nodig. Kerklike tradisies soos die Rooms-Katolieke kerk speel hierin ’n belangrik rol. Maar die punt wat ek wil beklemtoon, is dat hierdie waardering dikwels gepaardgaan met ’n stilswye oor dié kerk se standpunte oor sake soos seksuele etiek, die status van ander gelowiges en die rol van vroue. Terselfdertyd is daar dan hewige kritiek op Protestantse kerke wat met hierdie sake worstel. Oor hierdie sake, glo ek, moet daar meer eerlik en konsekwent gepraat word, en onkritiese eklektiese omgang met kerklike en godsdienstige tradisies moet vermy word. Maar om terug te keer na my gesprek op die trein. My vriend was reg oor die feit dat Protestantisme (of meer spesfiek, die hoofstroomkerke binne die Protestantisme) in ’n krisis is. Die invloedryke Amerikaanse teoloog, Stanley Hauerwas, skryf selfs iewers: “Protestantism … is dying in America. I prefer to put the matter more positively, that is – God is killing Protestantism in America and we deserve it”. Die rede vir hierdie sterk uitspraak van Hauerwas hang saam met sy kritiek teen die manier waarop Noord-Amerikaanse Protestantse kerke op onkritiese wyse liberalisme, die nasiestaat en kapitalisme omarm het. In die proses word die eie-aard van Christelike verhale, praktyke en gemeenskappe gekompromiteer. Hierdie kritiek moet beslis ernstig opgeneem word. Daarom, meen ek, kan die verklaring van verbintenis aan die Protestantse tradisies nie los van ’n solidêre protes teen die vorm wat die Protestantisme dikwels vandag aanneem nie. Protestant-wees is myns insiens nie ’n antikwariese houding waarvolgens mens die verlede probeer romantiseer of die status quo legitimeer nie. Daarom is die vraag dalk ten diepste nie “Hoekom bly ek ’n Protestant?” nie, maar “Hoe word ek ’n Protestant?”. Om Protestant te wees, beteken daarom ook om te protesteer teen die Protestantisme. Dit beteken om gedurigdeur die vraag na Protestantse hernuwing oop te hou. In 1963 lewer die groot Joodse geleerde, Abraham Heschel, by Union Theological Seminary in New York juis oor hierdie tema van Protestantse vernuwing ’n boeiende voordrag. Heschel wys daarop dat die vroeë kerk se selfverstaan in die begin in diskontinuïteit met Judaïsme ontwikkel het. Dit het natuurlik saamgehang met die insluiting van Christene uit die heidendom. In die proses was die versoeking groot vir die Christenheid om haar van haar Joodse wortels los te maak. Hierdie vervreemding word kragtig uitgedruk in die leringe van Marcion, waarvolgens daar totale diskontinuïteit tussen die God van Israel en die God van Jesus ontwikkel. Daar was ook die gepaardgaande verheerliking van die geestelike bo die materiële en die liggaamlike. Hoewel Marcion deur die kerk veroordeel is, bly sy gedagtes gedurigdeur ’n formidabele, en volgens Heschel ook diaboliese, uitdaging vir die Christenheid. In die proses word daar dikwels onder die aanslag van ’n individualistiese, verhelleniseerde, anti-Joodse, vergeestelike verstaan van die Christelike tradisie geswig, met ’n gepaardgaande romantiese oorvereenvoudiging van die probleem van geloof en die vlug na sentimentaliteit. Ek meen dat Heschel hier tot die hart van die saak deurdring. Ook vandag sien ons die groei van ’n neo-gnostiese, vergeestelike Christenheid waarvan die uiteinde ’n sentimentele, anti-intellektualistiese gevoelsreligie is wat die kerk van haar Joodse wortels losmaak. Die gevolg is ’n esoteriese werklikheidsverstaan wat dikwels ’n blindheid vir geregtigheid het, vir dié sake wat tot die hart van die Bybelse verstaan van die Koninkryk van God behoort. Binne die Protestantse tradisies was daar deurentyd ’n sterk beklemtoning van die waarde van die Ou Testament, van die kontinuïteit tussen die God van Jesus en die God van Israel. Dit dien as belangrike bron teen ’n valse vergeesteliking van die evangelie. Dietrich Bonhoeffer, wat vanjaar honderd jaar gelede gebore is, beklemtoon hierdie sake byvoorbeeld baie sterk in talle van die briewe wat hy in die 1940’s uit die tronk skryf. In een van die briewe (gedateer 5 Desember 1943) lees ons: “My gedagtes word meer en meer soos dié van die Ou Testament … Dit is alleen wanneer ’n mens die onuitspreekbaarheid van die naam van God ken dat jy die naam van Jesus Christus kan uiter; dit is alleen wanneer jy hierdie lewe en die aarde so lief het dat daarsonder alles verlore skyn, dat jy in opstanding en nuwe lewe mag glo”. Die versoeking is daar vir Protestantse kerke om juis hierdie aksente te vergeet; om die tyd te verloën, om die woord vir die oomblik te versaak, om die lewe in die hier en die nou gering te skat. Sodoende word die Protestantse “temporaliteit” nie beliggaam nie. Miskien is die rede hiervoor dat ons die diepgang in ons liturgie verloor het, dat ons liturgie te “besig” geraak het, dat die ruimtes wat die transendente bemiddel met ander dinge gevul word. In die proses sny ons onsself af van die bronne wat juis ’n profetiese sensitiwiteit voed. Dit is immers alleen vanuit die ervaring van geborgenheid in die tyd dat ’n mens die afgode van die tyd kan herken en uitdaag. Vandaar die vraag of die eredienste in baie Protestantse kerke vandag in staat is om die ongelyktydigheid te produseer wat nodig is vir profetiese (en priesterlike) openbare getuienis. Of het die verekonomisering van die lewe, wat soveel instellings – en mense – tans vernietig, nie dalk die sterkste houvas op ons kerke self nie? Daarom bly die gesprek op die trein vanaf Rome by my spook. Dalk is dit juis die rede waarom ekumeniese gesprek nou nodiger as ooit is, sodat ons nie die tyd ten koste van die ewigheid en die ewigheid ten koste van die tyd verabsoluteer nie. Maar ek dink dit is ook belangrik dat mense vanuit Protestantse konfessies, en as Protestante, aan hierdie gesprekke deelneem. Dostoevsky se Groot Inkwisiteur is immers nog in ons midde. Daar is nog steeds die stemme wat meen dat ons mense nie regtig vryheid kan hanteer nie. En ook teen dié stemme moet ons bly protesteer.
|