blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Simboliese ellende en kollektiewe identiteitskrisis –’n kulturele fiasko of normale transformasie? 2006-03-15
Loammi Wolf

* ’n Spesialis op die gebied van publiekreg, regsfilosofie en belastingreg, en tans gebaseer in Duitsland. Haar huidige belangstelling fokus op regslinguistiek en die interaksie tussen herinneringspolitiek en kollektiewe geheue as kulturele stukragte, en die invloed daarvan op demokratiseringsprosesse na traumatiese snitte in ’n gemeenskap.


 

In Januarie se Die Vrye Afrikaan lewer Johann Rossouw skerp kritiek teen die Angolese Oorlog-generasie van die laat 197#’s en vroeë 1980’s en die Voëlvrybeweging van die latere 1980’s as simboliese produsente wat die Afrikaner faal.

                Onder die “alternatiewe Afrikaners van die 1980’s” word Max du Preez as verteenwoordiger van eersgenoemde groep uitgesonder en oor die kole gehaal vir sy onvermoë om ’n antwoord op Afrikaners se “simboliese ellende” te bied terwyl hy nog steeds as ikoon van hierdie era “die Vrye Weekblad-era vir elke druppeltjie melk”. Koos Kombuis, Jan van Tonder en Tom Gouws se denke het na bewering nie tred gehou met die tyd nie en dis hoog  tyd dat hulle ophou om “die heilige koeie van die Afrikaner te slag”. Karen Zoid se liedjie “Afrikaners is plesierig”, wat met die skynheiligheid van die Afrikaner-establisment afreken, is 20 jaar agter die tyd.

                Implisiet aan sy kritiek is die onvermoë van hierdie groep om ’n traumatiese era wat ’n groot etosverskuiwing by hulle teweeg gebring het, agter die rug te kry en ’n nuwe lewe vir Afrikaners te begin. Hierdie simboliese produsente van Afrikaneridentiteit faal derhalwe in hulle roeping. Volgens Rossouw is dit “noodsaaklik vir Afrikaners om hulleself nuut te verbeel aan die hand van ’n nuwe verhaal”. In navolging van Bernard Striegler redeneer hy dat hierdie groep Afrikaners hulleself in ’n postmoderne doolhof van die “tirannie van die onmiddellike” verloor het deur ’n oordrewe verdagmaking en aftakeling van instellings (soos die FAK en die NG kerk), dat hulle negatief teenoor die politiek is en die individu as te sentraal beskou.

                Stiegler is nie die enigste filosoof wat kritiek lewer teen die tirannie van moderne tegnologie nie, en daar is sekerlik ook ’n element van waarheid daarin. In sy navolging van ’n nuwe filosofiese stroming sien Rossouw miskien egter ander aspekte wat deel is van die komplekse ontwikkelling van ’n gemeenskap oor die hoof. Gevolglik negeer hy voor die hand liggende gevolge van die verset van hierdie generasie teen uitgediende konsepte van die verlede. Hy kyk belangrike aspekte in die herevaluering van Afrikaneridentiteit mis, so ook die spesifieke rol wat opvolgende generasies speel om die kultuurbreuk na die ineenstorting van apartheid te oorbrug. In die lig daarvan, ’n paar opmerkings:

                Duitse navorsers het die afgelope paar jaar baanbrekerswerk gedoen oor hoe ’n gemeenskap sulke insnydende krisisse kan oorkom, maar ’n mens moet uiteraard baie versigtig wees om die ervaring van die Duitsers met die Nazi’s te vergelyk met die magsvergrype in die apartheisera toe die Nasionale Party aan die bewind was. Dis ’n asimmetriese vergelyking wat ook in dimensie en omvang nie vergelykbaar is nie. Daar is gewisse ooreenkomste, waarby strukturele geweld en stigmatisering van bepaalde bevolkingsgroepe ’n belangrike rol speel. Verder is daar duidelike verskille in hoe generasiekonflikte op grond van die traumatiese ervaring verbonde aan daardie era afloop en verwerk word, maar die patroon daarvan as sulks toon sekere ooreenkomste. Dis ’n etiese balansstaat wat opgestel word en dit veroorsaak bepaalde probleme wat heel normaal is onder die gegewe omstandighede, waarop ek vervolgens kortliks wil ingaan.

                Een van die grootste probleme waarmee sulke gemeenskappe gekonfronteer word, is dat patriotisme en nasionalisme taamlike taboe-temas is, juis omdat oordrewe nasionalisme die krisis veroorsaak het. Desnieteenstaande is dit van groot belang dat Afrikaneridentiteit in die post-apartheidsera nie (net) negatief beskou word nie, en (ook) met positiewe waardes gevul word in die herevaluering van identiteit. Dis ’n moeilike en harde paadjie om te loop en daar is nie kitsoplossings nie.

                Jörn Rüsen, ’n gesiene historikus en direkteur van die Kultuurwetenskaplike Instituut in Essen, het die rol van opvolgende generasies na jarelange navorsing baie goed geanaliseer.   Ek sal probeer om op grond daarvan rofweg aan te dui wat ook in Afrikanergeledere afspeel. Rüsen onderskei soos volg tussen die generasies: eerstens, die generasie wat die politieke sisteem wat die fiasko veroorsaak het, geïnstitusionaliseer het; tweedens, die generasie wat daarteen in opstand kom en, ná hulle, die generasies wat kulturele identiteit weer stabiliseer. Dis dus ’n komplekse proses wat drie-vier generasies oorspan. Die generasietoewysing is ook nie ’n rigiede maatstaf nie. Bepaalde individue kan ten spyte van hulle ouderdom nogtans tot die volgende of vorige generasie behoort. Aleida Assmann koppel hierdie ervaringe van die onderskeie generasies aan prosesse van die vorming van kollektiewe herinnering (30-40 jaar) en kulturele bewussyn (80-100 jaar), waarop ek nie verder ingaan nie. Die kollektiewe herinnering is egter ’n oortreffende vorm van ’n bepaalde generasie se herinnering.

                By die Duitsers is dit natuurlik makliker om ’n afsnypunt vas te stel wat die kultuurbreuk markeer. Dis die Nazi-era wat 12 jaar geduur het en in 1945 tot einde gekom het. Volgens sosiologies-historiese beskouings omspan die era minder as ’n halwe generasie. Apartheid en die onderliggende identifisering met hierdie idees, daarenteen, het veel langer geduur. Die bewind opsigself het 40 jaar geduur, maar die impetus daarvan gaan reeds van die 1930’s uit, sodat ´n mens kan sê dat dit goed 1½ tot 2 generasies omvat. Die volgende probleem, as ’n mens Rüsen se teorie wil aanwend, is: wat is die afsnypunt wat ’n mens as die kultuurbreuk kan bestempel? Is dit 1990 toe apartheid finaal in duie gestort het, of is dit nader aan die waarheid om te sê dat dit nie ’n spesifieke oomblik was nie, maar eerder ’n langer proses wat begin het met die versetbeweging van die laat 1970’s en 1980’s? Dit lyk asof daar taamlike konsensus is onder Afrikaners dat laasgenoemde opsie eerder toetref, en dat eersgenoemde opsie eerder die finale spyker in die doodskis was.

                Dit het tot gevolg dat dit moeilik is om die generasies af te baken. Afrikaners van die generasie wat apartheid ingevoer het, kan ’n mens dus na verwys as die eerste generasie – al is dit eerder twee generasies in een. Hulle kollektiewe identiteit is in ’n groot mate bepaal deur twee ekstreem traumatiese gebeure – die massamoord op Retief en sy manne in verbinding met die slag van Bloedrivier enersyds, en die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog andersyds. Dit het tot ’n massamobilisering van etniese nasionalisme gelei en op apartheid uitgeloop in die 20 ste eeu. ’n Mens sou baie van die Sestigers soos André Brink en Breyten Breytenbach egter kwalik tot die generasie wat apartheid geïnstitusionaliseer het, kon reken.

Daarteenoor baken die verset teen die Angolese Oorlog en strukturele geweld die generasie van Max du Preez en Antjie Krog hulle duidelik af van die vorige generasie. Hierdie generasie het gerebelleer teen die paranoïede xenofobie van die “swart gevaar”- en “rooi gevaar”-propaganda wat die legitieme aansprake op politieke bemagtiging van die ander bevolkingsgroepe probeer doodsmoor het. Dit het oorgevloei in die volgende golf van verset, die Voëlvrybeweging met Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis toe PW Botha die casspirs in die townships ingestuur het. Juis hierdie verset het ’n noodwendige verskuiwing in etos teweeg gebring en het tot introspeksie begin lei. Die refrein van Coenie de Villiers se “Verwoerd-verward-verwaand” is in die volksiel van hierdie generasie ingebrand. Sy “prisoners of war” wys uit hoe ons gevangenes van ons eie vooroordele geword het. Deel van die trauma van hierdie generasie berus egter ook op skok dat die ouer generasie wat die bloudrukke van die Angolese Oorlog veilig agter hulle lessenaars gekonsipieer het, nie eers daarvoor teruggedeins het om in hulle toegespitste oorlewingsdrang hul eie kinders se lewens daarvoor op die spel te plaas nie. Dis een van die grondliggende aspekte van hierdie generasie se ontgogeling – dat hulle self die slagoffers geword het van strukturele geweld wat geïnstitusionaliseer is om die sisteem van apartheid met geweld in stand te hou. Hierdie ervaring was vir daardie generasie traumatieser as wat algemeen aanvaar word. Hulle verset omvat dus ’n sterk afkeuring van kollektiewe geweld, oordrewe nasionalisme, die instrumentalisering van Christelike Nasionalisme deur die NG kerk en die opvoedingstelsel, die skynheilige vroomheid wat die openbare lewe gekenmerk het, en ’n xenofobiese oorlewingsdrang wat mensregte geminag het. Chris Louw se “Boetman”-brief is ’n versinnebeelding van hierdie generasie se opgekropte woede teen die ouer generasie. Ook hier is die generasie-afbakening vloeibaar. Dan Roodt is ’n goeie voorbeeld van iemand wat ouderdomsgewys onder hierdie groep tel, maar nie die essensiële etosverskuiwing gemaak het nie, omdat hy destyds na Frankryk uitgewyk het, waarskynlik om diensplig te ontduik.

                Na die ineenstorting van apartheid speel elke generasie egter ’n besondere en eiesoortige rol in die herevaluering en vestiging van ’n nuwe kulturele identiteit. Die eerste generasie is diegene wat die hardste gekonfronteer word deur die kollektiewe identiteitskrisis, veral omdat hulle so intens met Afrikanernasionalisme geïdentifiseer het as ’n uitdrukking van onderlinge solidariteit. Die wroeging van hierdie generasie word goed deur die rubrieke van Leopold Scholtz in Die Burger en in verskeie insette in Die Vrye Afrikaan en op Litnet verwoord.

                Hierdie eerste generasie moet egter die ongemaklike rol speel om vir ’n oorbrugging van kulturele identiteit te sorg. Hulle is die bindingselement tussen die verlede en die toekoms, die oordraers van kultuur tussen dié wat dood is en die ongeborenes, maar kan nogtans nie die kritiek van die generasie net daarna ontwyk nie. Die dilemma van hierdie generasie is dat hulle nie meer naatloos aan die tyd voor die val van apartheid kan aanknoop nie. Dis presies waar Willem de Klerk hom ook so vasgeloop het teen Chris Louw. Die kulturele gegewe van nasionalisme waarop vorige generasies (bv. na die Anglo-Boereoorlog) kon bou, is deur apartheid verbruik en nie meer beskikbaar nie.

                Hulle probeer dus die kultuurbreuk te oorkom deur die skepping van identiteit deur eksterritorialisering. Apartheid word verdoem, maar daar word na redes gesoek waarom die volk eintlik onskuldig was. Hulle probeer dit dus goedpraat met argumente dat hulle om oorlewing teen die “swart gevaar” en die “rooi gevaar” moes veg. Dis in hulle bloed dat ’n Afrikaner vir sy oorlewing moet veg. Daarom is dit vir baie van hulle moeilik om afstand te doen van Afrikanernasionalisme as die onderliggende dryfkrag vir die voortbestaan van hulle taal en kultuur.

                Deel van die proses in hierdie fase is dat die geskiedenis baie sterk beklemtoon en ywerig ontleed word. Ook dit is “normaal” omdat Afrikaners so probeer om ’n geheelbeeld van hulleself te vorm in die proses van ’n herevaluering van identiteit. Hermann Giliomee se epiese biografie van die Afrikaners doen hierdie doelwit gestand. Die institusionele oorlewing van Afrikaans is steeds vir hulle belangriker as indiwidueel geloodsde aksies. Dit is dus nie vreemd om die name van bekende versetskrywers soos Brink, Breytenbach, Coetzee en Joubert op die petisie van die 139 skrywers aan die Raad van die US (www.litnet.co.za/taaldebat/skrywersversoek.asp) teen dubbelmediumonderig te vind nie. (Dis egter ook belangrik om te kyk wie se name nie op die lys was nie.) Die resultaat is ’n lappieskombers om die kultuurbreuk te oorkom.

                Die tweede generasie onderskei homself in ’n beduidende opsig van die eerste generasie. Hulle eksterritorialiseer apartheid nie meer nie. In teenstelling met die ouer generasie aanvaar hulle apartheid reeds as integrerend deel van hulle geskiedenis, en neem dit op in hulle geskiedkundige bewussyn. Dit veroorsaak egter probeme, want dit bou weereens nie identiteit op die basis van kontinuïteit nie. Die Afrikanerdom staan daardeur opnuut voor ’n identiteitskrisis. Die kollektiewe identiteit van hierdie generasie maak die noodwendige snit met ’n traumatiese verlede. Dit verwoord ’n kritiese distansiëring van apartheid en die negering van die menswaardigheid van ander mense. Wat hierdie generasie verder interessant maak, is dat hulle die eerste generasie Afrikaners is wat doelbewus uit die beklemming van Afrikanerxenofobie uitgebreek het. Die Afrikaner-elite in die 1980’s het in groot getalle na die Demokratiese Alliansie gedros en grotendeels tot die ineenstorting van apartheid bygedra.

                Hierdie kritiese houding veroorsaak egter op sigself ook weer ’n dilemma, omdat dit in ’n groot mate op ’n negatiewe identiteitskonstituering berus. Op die vraag wie mens is, is dit nie genoeg om te sê wie mens nié is nie, en dis hulle probleem. Hulle is baie sterk individualisties georiënteerd, en selfs ’n bietjie hedonisties in die manier waarop hulle hul nuwe vryheid geniet nadat hulle die bekrompenheid van die apartheidsera afgeskud het. Baie mense van hierdie generasie definieer hulleself byvoorbeeld as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, en nie as Afrikaners in die eerste plek nie. Dis miskien die rede waarom hierdie groep vir Johann Rossouw voorkom asof hulle Afrikaners as “simboliese produsente” faal. Dis egter ’n uiters noodsaaklike proses waardeur hierdie getraumatiseerde generasie moet werk, en dit het min te doen met postmodernisme of Derrida. Dat Karin Zoid eers 20 jaar daarna daaroor kon sing, is ook nie ongewoon nie. Dis deel van die verwerking van trauma deur hierdie generasie.

                Die herevaluering van identiteit het egter ook positiewe boustene nodig om ’n nuwe kollektiewe identiteit te vestig. Hierdie groep het wel sulke waardes wat hulle onderskryf, maar dis meer van ’n meta-historiese aard. Dis algemene norme wat deur die nuwe Grondwet gesimboliseer word soos gelykheid en die afkeur van rassisme. Dit is egter nie genoeg om ’n nuwe kulturele identiteit te vestig nie. Daarom is hierdie identiteit wat hulle produseer taamlik broos. Deel van die erflas van hierdie generasie is om die verstarde trauma van die verlede te ontvries soos Antjie Krog met haar boek Country of my Skull gedoen het. Dit lei dikwels ook tot ’n ooridentifisering met die slagoffers van die vorige regime. Hierdie generasie vind dit uiters moeilik om met die vorige generasie te identifiseer, en veral ook met enigiets wat met “Afrikanernasionalisme” of “oorlewing” te doen het. Hulle skram as’t ware instinktief weg daarvan. Dis waarskynlik hoekom die prominente skrywers wat hierdie etosverskuiwing meegemaak het, nie bogenoemde petisie onderteken het nie. Hierdie twee generasies lewe grootliks by mekaar verby.

                Die derde generasie (die jonger opkomende geslag van vandag) het dus die moeilike taak om hierdie generasiegaping in die opbou van ’n nuwe kulturele identiteit te oorbrug. Hulle het die lot om met menslike oë na die persone te kyk wat magsmisbruik sover gevoer het soos wat die sekurokrate en die politieke sisteem dit in die apartheidsera gedoen het. Hulle moet die John Vorsters, PW Bothas, Wouter Bassons, Lothar Neethlings en Eugene de Kocks as deel van hulle geskiedenis aanvaar en met hulle kan identifiseer in ’n historiese sin, só dat dit deel van die geskiedenis is wat mens nie kan ontkom nie en met verantwoordelikheid moet hanteer. Hulle is diegene wat die etosverskuiwing wat in die 80’s plaasgevind het, moet stabiliseer as kulturele bewussyn wat ’n nuwe kulturele identiteit begrond.

                In teenstellling met die Duitsers vind die herevaluering van identiteit egter nie binne ’n relatief homogene, maar in ’n multikulturele samelewing plaas wat etniese identiteite oorsny. Baie van die tweede generasie Afrikaners lewe ewe gemaklik in sowel die Engelse as die Afrikaanse gemeenskappe en maak keuses soos skole vir hulle kinders op grond van kwaliteitsoorwegings, nie etniese oorwegings nie. Deur hulle egter te probeer teruglok om vir die “oorlewing” van Afrikaans te sorg deur mobilisering op grond van etniese nasionalisme, sal nie werk nie. Die rede daarvoor is baie dieselfde waarom sogenaamde “bruin” Afrikaners ook nie hulle kinders na die US toe stuur nie, maar liewer UWK of UCT toe. Waarskynlik gaan hierdie generasie Afrikaners ook nie daarby verbykom om uiteindelik die sogenaamde “bruin” Afrikaners as gelykwaardige deel van een kulturele taalgroep te aanvaar nie.

                Dis egter nie prosesse wat oornag voltrek word nie. Miskien help ’n beter begrip van die afloop van die proses van ’n herevaluering van kulturele identiteit egter om meer ontspanne daarmee om te gaan, en ook waardering te hê vir die rol wat die onderskeie generasies toeval. ’n Moralisering oor hoe elke generasie sy rol in die proses vervul, is nie noodwendig produktief nie.

                Die versugting van Rossouw dat dit noodsaaklik is vir Arikaners “om hulleself nuut te verbeel aan die hand van ’n nuwe verhaal” is eintlik alreeds en onafwendbaar in volle swang. Die nuwer denke van die versetgenerasie faal nie die Afrikaners nie. Inteendeel, hulle skep nuwe denkmodelle en denkrigtings vir Afrikaners om uit hulle apartheidsangs en skuldige gewetens los te breek met die vooruitsig om volle burgers van die nuwe demokratiese Suid-Afrikaanse nasie te word. 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=525
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -