|
||||
Francois Bredenkamp
*Direkteur van Navorsing, Garankua-kampus, Tshwane Universiteit van Tegnologie
Koos Malan se artikel in Die Vrye Afrikaan van 17 Februarie (1) toon breedvoerig aan hoedat die sentrale taalsosiologiese faktore wat aan ons bestaande universiteite aan’t werk is, onvermydelik - inderdaad onverbiddelik - op ’n volledig verengelsde universitêre sisteem vir Suid-Afrika afstuur. Sy betoog demonstreer hoedat Engels as taal opnuut en toenemend in sowel die paralelle as die komplementêre gebruik van die twee tale binne die onderrigsituasie nie maar slegs bemagtig word soos nooit tevore nie, maar in staat gestel word om haar hegemonie onverhinderd te vestig. Polities ontmagtig en geknou deur steeds kwynende studentetalle is Afrikaans en sy taalgemeenskap onherroepelik besig om sy regmatige en selfverworwe aandeel op die hoëronderwystoneel aan Engels af te staan. Veral die verlies aan winsgewende publikasiegeleenthede in die markte vir handboeke en hoëgraadse wetenskaplike publikasies veroorsaak dat Afrikaans as taal (en by implikasie as gemeenskap) wetenskaplike parogialiteit in die gesig staar. Die verskynsel van ’n universiteit met Afrikaans as lewensvatbare voertaal en van ’n wetenskaplike lewe in Afrikaans is vinnig besig om agter die horison te duik. Die beskouing van die intrinsieke onvolhoubaarheid van die Afrikaanse universiteit in sy huidige hibriede gedaante word as refrein geëggo in die redakteur se voorbladartikel oor die Afrikaanse universiteit van die toekoms in dieselfde uitgawe. Johann Rossouw stel dat veral die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch oor die afgelope jaar of twee ’n historiese gemeenskapsteenstelling ontlok het, veral omdat die US vir meer as ’n eeu lank die “voorwaarde vir die skepping van ’n Afrikanerintelligensia was”. Verengelsing van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die US staan trouens Gordiaans verknoop met die aangeleentheid van die aantasting van Afrikaners se kulturele identiteit: dis juis in hierdie fakulteit waarin die dimensies van Afrikaners se politieke, religieuse en estetiese institusioneel beliggaam word. Die traagheid tot teenstand deur akademiese bestuurders teen die deurvoering van universitêre verengelsing moet juis voor die deur gelê word van ’n weiering of onwilligheid om ’n Afrikaner te wees of as een gesien te word. Afrikaner(man)s wat op hierdie tydstip steeds in institusonele gesagsposisies is, beskik oor bra geen ander keuse as om hul eie gemeenskapsbelange aan die belange van die Afro-nasionale staatsorde ondergeskik te stel nie. Die rampspoedige gevolge hiervan is dat die verengelsing van die universiteite haas onstuitbaar sal blyk en dat Afrikaans geen kans het om as wetenskapstaal en -kultuurruimte verder te ontwikkel nie. Rossouw se argument kom uiteindelik tot ruste op ’n aanvangsbesinning oor en ’n pleidooi ten behoewe van die totstandkoming van ’n eie uitnemende Afrikaanse universititeit, ’n kleinskaalse, klassieke akademie met as kernelement ’n gekombineerde literêr-teologiese fakulteit (’n fakulteit lettere en wysbegeerte, dus?). Hy stel verder voor dat die vestiging van so ’n instelling met die administratiewe en organisatoriese ondersteuning van ’n klein instituut moet gepaardgaan, ’n klein organisasie wat onder meer met fondswerwing en kleinskaalse akademiese werksaamhede kan begin. In plaas daarvan dat so ’n universiteit met die groter, gevestigde rolspelers in hoër onderwys meeding, moet die klem hier eerder op die vestiging van ’n klein, uitnemende instelling geplaas word. Gegewe die troostelose vooruitsigte vir Afrikaans en haar spraakgemeenskap, kan ’n mens dus tans aan feitlik geen gesprek van groter belang dink as juis dié een oor die totstandkoming van ’n toepaslike akademiese instelling vir Afrikaans nie. As ons taalgemeenskap enigsins wil hond haaraf maak binne ’n nuwe Suid-Afrikaanse bestel, as daar enige vooruitsig op die konstante vorming van ’n nuwe Afrikanerintellligensia (in die breedste moontlike sin van die woord genome) moontlik kan wees, sal ons juis moet saamdink aan die oprigting van ’n instelling wat aan ál ons Afrikaanse kinders (in die breedste moontlike sin van die woord) die moontlikheid tot ’n hoogstaande wetenskaplike en intellektuele lewe in Afrikaans kan bied. In die wêreldkonteks, moet ek sê, het die Franse Akademie (L’Academie francaise) en sy intellektuele spruit, die Griekse Akademie in Athene (Akadimia Athinōn) my nog altyd stof tot nadenke gebied. Die vermaarde Académie is so ver terug as 1634 deur Kardinaal Richelieu gestig as ’n literêre akademie met as uitgesproke doel die beskerming van die Franse taal en kultuur deur die vestiging van toepaslike gestandardiseerde taalnorme vir Frans en die samestelling van die groot woordeboek van die Franse taal. Die volledige Académie bestaan uit slegs veertig lewenslange lede van uitnemende statuur (die sg. “Onsterflikes”). Oor die afgelope jare het die liggaam die internasionale aandag getrek vir die wyse waarop dit vir die Franse rolprentbedryf (en daarmee vir die hele Franse kultuurlewe) in die bresse getree het in die aangesig van ’n felle aanslag van die gekombineerde Engelssprekende rolprentbedryf, en daar kan met veiligheid gesê woord dat die Académie sigself as die finale bastion van die Franse identiteit beskou. Die Griekse Akademie in Athene is geskoei op die lees van die Franse Académie. Dit het in die negentiende eeu tot stand gekom met die terugkeer van groot getalle Griekse intellektuele vanuit Europa na ’n uitgeputte Griekeland wat pas die Ottomaanse juk afgeskud het. Die hedendaagse Akademie het eers in 1926 sy finale beslag in ’n wet van die Griekse volksraad gekry, met as opdrag die uitvoering van wetenskaplike navorsing en die bevordering van die lettere en die skone kunste. Die Akademie verteenwoordig Griekeland op talle internasionale liggame soos die Internasionale Raad van Wetenskaplike Verenigings (ICSU), die L’Union Académique Internationale en All European Academies (ALLEA) en die European Academies Science Council. Die Akademie is verdeel in drie Afdelings: ’n Afdeling Positiewe Wetenskappe (Wiskunde, Fisika, Natuur- en verwante wetenskappe, Geneeskunde), ’n Afdeling Lettere en Skone Kunste (Filologie, Lettere, Geskiedenis, Skone Kunste, Argeologie) en ’n Afdeling Etiese en Politieke Wetenskappe (Teologie, Filosofie, Regte, en Politieke, Ekonomiese en Sosiale Wetenskappe). Die Akademie beskik vandag oor dertien navorsingsentrums, tien studieburo’s met afgestemde biblioteke, ’n sentrale biblioteek en, sedert 2002, oor ’n Stigting vir Biologies-Geneeskundige Navorsing. Die Akademie het tans slegs sewe-en-veertig volle lede en ontvang, soos L’Académie francaise, omvattende befondsing van die staat. Wat werklik aantreklik is omtrent die Franse en Griekse Akademies, is dat hulle kompromisloos die kulturele belange van hul grondtale dien en ’n wetenskapslewe in Frans en Grieks uitbou en verseker. Die opkoms van Engels as ‘wêreldtaal’ het reeds diep spore in die Europese psige gelaat en dié Akademies werk onverpoos om borsweringe vir hul taal en kultuur op te rig en selfs daaragter úít te beweeg in positiewe, offensiewe handelinge ten behoewe daarvan. ’n Mens moet gelyk gee dat enige vergelyking met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns uiteraard onbillik raak in die lig van die Afrikaner se feitelike denasionalisering, die opskorting van billike finansiering vir die Akademie van die kant van die SA staat en die agteruitgang van Afrikaners se akademiese bates. Tegelyk moet jy erken dat ’n mens jaloers staan voor die wyse waarop dié twee buitelandse akademies hul kultureel-etniese erfenisse trots uitbou en verdedig en ’n eiesoortige wetenskapsbestaan bemoontlik. Verdere aantreklikhede in die buitelandse opset is geleë in die betreklik kleine omvang van hul hooflidmaatskap. Deur slegs sowat veertig hooflede elk op lewenslange grondslag te betrek, verseker dié liggame ’n groter wetenskaplik-ideologiese integriteit rondom die wetenskappe, sy dit dan binne ’n meer elitistiese kader. Dit stel hulle in staat om meer eendragtig rondom die saak van die taal en die wetenskap op te tree as wat waarskynlik binne die Suid-Afrikaanse opset moontlik is. ’n Mens sou graag die SA Akademie met groter duidelikheid en gedefinieerdheid, en selfgeldendheid, vir die saak van ’n Afrikaanse wetenskapslewe in die bresse wou sien tree. ’n Groot deel van die krag van die Franse en Griekse Akademies lê opgesluit in daardie geleerde bydraes wat jaarliks deur hul onderskeie navorsingsinstitute gelewer word, en wel dan op gebiede wat hul etniese voedingsbasisse na aan die hart lê. Woordeboekmakery, bekronings vir literêre onderskeiding en uitnemendheid, vakwetenskaplike bedrywigheid (veral soos gestimuleer deur belangegroepe en hulle vergaderings) en wetenskapspublikasies maak van die kernbedrywighede van alle akademies uit, maar dit lyk my asof dit juis in die uitvoering van hoogs gespesialiseerde navorsings- en opleidingstake binne die etniese konteks is waardeur die Akademie sy hoogste doel bereik. Dit is veral binne laasgenoemde verband dat ’n mens wil dink aan ’n effens gewysigde opgaaf vir die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. ’n Mens sou graag byvoorbeeld wou sien dat die Akademie – binne die huidige, bedreigende klimaat vir Afrikaans en die tanende basiese onderwys, geletterdheid en literêre produksie daarin – dit op homself en die kundigheid in sy geledere neem om werklik konkreet te begin werk aan ’n grootse opleidingstaak op gebiede waarin Afrikaans geweldige agteruitgang oor die afgelope dekade of wat beleef het. Voorop móét sekerlik onderwysersopleiding in Afrikaans staan: terwyl daar nog ’n beduidende aantal opvoedkundiges in ons geledere beskikbaar is, sou niks die Akademie in die weg staan om ’n onderwysdiploma volledig in Afrikaans aan te bied nie. So ’n kwalifikasie moet vir die gegradueerde uit enige vakgebied oopstaan, moet nie alleen ten volle by die owerhede geakkrediteer wees nie, maar moet ook die minimumvereistes beduidend oorskry. ’n “Instituut vir Afrikaans” behoort binne die Akademie gestig te word waarbinne so ’n opleidings- en navorsingsfasiliteit kan funksioneer. Afrikaners beskik trouens lankal oor die nodige ervaring om sulke kursusse deur middel van afstandsonderrig of telematies aan te bied. ’n Verdere Afrikaanse Taalsentrum, wat oor die belange van die taal binne die raamwerk van die nasionale taal- en onderwysbeleid waak, kan met vrug daarby gevoeg word (sou dit nie ook sinvol wees om die werksaamhede van die WAT, wat met die verengelsing van die US en ons ander universiteite nou in die gedrang kom, gaandeweg daarheen oor te skuif nie?). ’n Taalsentrum kan ook die gebruik van taalbondeksamens, wat taalvaardighede landswyd opgebou en verseker het, heropneem. ’n Afstandsonderrigfasiliteit kan vir Afrikaners in hierdie verband dwarsoor hul diaspora veel beteken. Afrikaanse taalkursusse kan ook aan anderstalige leerlinge en studente aan ons skole en universiteite, en aan sakelui, aangebied word. Johann Rossouw sou graag wou sien dat studies in die Filosofie en Teologie ook tot die repertorium van aanbiedinge van so ’n instelling gevoeg word. ’n Mens kan myns insiens ’n studierigting in die Filosofie (en Ekonomie?) van Wetenskap en Tegnologie met groot relevansie en belang tot hierdie opgaaf voeg. Ons kerk (in sy breedste sin genome) beleef sy ernstigste insinking tot nog toe – sou ’n enkele reformerende opleidings- en navorsingsinstelling – wat tegelyk die heel beste uit die ortodokse Christendom wil haal - nie ’n groot bydrae tot konsolidasie en vernuwing kan lewer nie? En, voortspruitend uit hierdie aanbiedings, sou die gesogte kwalifikasie in die Politika, die Filosofie en Ekonomie nie ook aangebied kon word nie? Watter reuse bydrae sou onbesproke vorming in hierdie vakgebiede nie tot ons intellektuele debat kon maak nie? Sulke vrae stuit natuurlik onvermydelik op die vraag na die beskikbaarheid van die nodige finansiële hulpbronne, en hierdie aspek van die saak sal kennelik baie deeglik deurdink moet word. Maar hierdie groter saak sal wellig oor die volgende jare in belangrikheid toeneem en al meer aandag in die openbare forum geniet – en hierdie moontlikhede moet dan duidelik in die gemeenskapsbewussyn afgebaken staan. Byna nodeloos om te sê, ’n “Afrikaanse Taalinstituut”, met al sulke werksaamhede, sal aan geheel die taal se kinders moet kan behoort, aan elkeen wat hom- of haarself dwarsoor die wêreld Afrikaans of Afrikaner noem. ’n Demokratiese etos, met soveel inklusiewe deelname en deursigtigheid denkbaar, gepaardgaande met ’n kompromislose akademiese integriteit en vryheid van spraak, sal duidelik die fondament van ons instelling moet vorm. Ons omstandighede en tyd vereis niks minder as juis dit nie. Bowenal sien ’n mens uit na die toetrede van ’n Afrikaanse Akademie wat kompromisloos en waardig-uitgesproke die kulturele belange van die gehele Afrikaanse gemeenskap dien en ’n wetenskapslewe in Afrikaans uitbou en verseker. _________ (1) “Is tweetalige universiteite moontlik?” |