blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


SEB en wit familiesake 2006-03-15
Bertie du Plessis

* Pretoriase sakeman en kunstenaar

 

’n Mens hoor deesdae dikwels uitlatings soos die volgende: ‘Ons kinders sal moet leer om ondernemers te wees en hul eie werk te skep. En ’n stappie verder vooruit: ‘Ons sal self die ondernemings moet skep waarin ons kinders eendag kan gaan werk.’

                Hoe realisties is sulke ideale? 

                Kom ons laat dit vir die oomblik buite rekening dat nie alle mense ondernemers kan wees nie (wat laat u byvoorbeeld dink u kind het die talent vir ondernemerskap?). Ondernemerskap is maar soos ander talente: as iemand die talent het, kan u dit slyp deur onderrig, maar as iemand nie die talent het nie, kan u hom of haar die talent nie aanleer nie.

                Laat ons ook maar vir die oomblik vergeet dat diegene wat dikwels ondernemers genoem word in feite maar net sukkelaars is, individue wat smous, verkwansel  en sukkel om maand na maand die rekeninge te betaal.  (As u maatstaf vir ’n suksesvolle ondernemer is dat so ’n persoon minstens dieselfde salaris per maand uit sy besigheid moet kan trek as wat ’n professionele persoon soos ’n prokureur, ouditeur of mediese spesialis doen, val bitter min van diegene wat ons vandag  ondernemers noem in dié klas.)

                Kom ons fokus net op dié een geval waar die ouers minstens bewese ondernemersvaardighede het en besef dat daar versperrings is vir hulle kinders om die  breë arbeidsmark te  betree wat deur die groot korporasies en die staat beheer word. Dus die geval waar die ouer(s) ’n onderneming wil vestig waarin hulle en die kinders saam kan werk en op die koop toe nog vir ’n paar familielede en vriende ’n heenkome wil bied. ’n Familiesaak dus. Spesifiek ’n klein- of medium familieonderneming.

                Stel u in die posisie van so ’n ouer wat ’n besigheid vir sy kinders wil skep. U het gehoor van swart ekonomiese bemagtiging (SEB), of soos dit in die omgang op sy Engelse akroniem bekend staan: ‘BEE.’ Gaan dit u raak? Hoe gaan dit u raak? 

                U begin die hele ding van ‘BEE’ eers ondersoek. U’s gelukkig dis Februarie 2006 en nie ’n jaar gelede nie. Pas in Januarie 2006 is die nuwe riglyne vir die toepassing van SEB op klein en middelslagondernemings bekend gemaak (1), en dit sal spoedig wet word. Ons sal sien hier is nou ietwat meer ruimte vir u.

                As u dit oorweeg om ’n besigheid te begin om dienste en goedere te lewer aan enige onderneming vanaf die Sasols, Absas, Media24’s, Old Mutuals en Sanlams van hierdie wêreld tot ondernemings wat net-net vir BTW kwalifiseer, sal u ’n graad van SEB-kwalifikasie moet hê.

                Hoekom? Want vir die doeleindes van die SEB-telkaart is elke onderneming onder die strengste dwang om aankope by swart bemagtigde ondernemings te doen om hulle ‘SEB-telkaart’ te kan laat klop. Dis hier by die voorkeuraankope van SEB-ondernemings waar die skerp lem van swart ekonomiese bemagtiging lê.

                Het u al gedink watter soort besigheid u wil begin? Iets in die gasvryheidsbedryf dalk (’n boetiekhotel of gastehuis wat aan reisende sakemanne verblyf bied)? 

                Nou, volgens die nuwe riglyne van Januarie 2006 kry u besonderse voordele as u minder as 100 mense in diens gaan hê en ’n omset van minder as R10 miljoen per jaar gaan hê. Vergelyk dit indien u beplan het om iets in die finansiële en sakedienstesektor te skep (soos boekhouersdienste). Dan sou u eers vir besonderse behandeling kwalifiseer as u minder as 50 werknemers het, ook met ’n omset van R10 miljoen.

                Wat is die besonderse voordeel?

                Heel eenvoudig dat u nie soos die groter maatskappy in al sewe die kategorieë van SEB hoef mee te ding nie.

Kom ons kyk na hierdie kategorieë:

1.                Eienaarskap van die onderneming

2.                Eienaarsbestuur van die onderneming

3.                Samestelling van werknemers

4.                Vaardigheidsontwikkeling

5.                Aankope by swart bemagtigde ondernemings

6.                Ontwikkeling van swart ondernemings

7.             Swart gemeenskapsontwikkeling

 

                Hoekom is dit goeie nuus? Omdat u nou net in vyf kategorieë van u keuse uit hierdie sewe hoef te presteer wat SEB betref. U gaan dus nie gepenaliseer word (of liewer te swaar gepenaliseer word) deur die eienaarskap van die onderneming in u familie se besit te hou nie. En dis tog die hele punt van ’n familieonderneming, nè? Om die besigheid in u familie se besit te hou ...

                ’n Mens kan aanvoer dat wit familieondernemings nog tot so onlangs as Desember 2005 nie bestaansreg gehad het in die Suid-Afrikaanse ekonomie nie. As swart eienaarskap van ’n onderneming ’n sleutelbestanddeel van ’n swart bemagtigde onderneming is, kan u mos nie ’n familiebesigheid hê wat voluit sake doen in die post-1998 Suid-Afrika as u en u vrou en kinders wit is nie?

                Maar dis nou gelukkig anders.

                So u besluit om benewens die eienaarskap van die onderneming ook punt twee hierbo links te laat lê. Hierdie punt het te make met eienaars wat ook bestuursfunksies uitoefen. Aangesien u ’n familieonderneming wil hê en u ongelukkig wit is en ongelukkig met ’n wit vrou getroud is, is voldoening aan hierdie vereiste nie vir u beskore nie.

                Nou, hoe gaan u u punt in die orige kategorieë verdien? U moet nou in elk van die oorblywendes kategorieë meeding.

                U sal swart werknemers moet aanstel, anders gaan u nie mededingend wees nie. Vergeet dus maar vir eers om daardie nefie of niggietjie wat nie so goed op skool gevaar het nie, of die werklose broer of tante ook by die besigheid te betrek. U, Vroulief, Boet en Sus is klaar soveel wit as wat u familieonderneming kan dra.

                Uit kategorie drie, samestelling van werknemers, kan u uit die volle 20% punte beskikbaar in hierdie kategorie 4% verdien as u 70% swart mense in diens het (teikens moet oor tien jaar behaal word). U kan ’n verdere 4% verdien as swart vroue 35% van u arbeidsmag uitmaak. As uself, vroulief en u twee kinders in die onderneming werk, sal u nog so nege of tien swart vrouens ook as werknemers moet hê. U kan dus 8% in hierdie kategorie verdien.

                Hoekom nie die volle 20% nie?

                Want dan moes 40% van die bestuur en beheer van u maatskappy deur swart mense uitgeoefen word en 20% van daardie swart bestuur moes swart vroue gewees het.  In u familiebesigheid is dit vir die oomblik nie haalbaar nie. As u familielede kan, wil hulle mos die hoër besoldigde posisies hê. Wat is anders die sin van ’n familieonderneming?

                Die volgende kategorie is nommer vier, vaardigheidsontwikkeling. U moet 1% van u loonrekening van R500,000 of meer as vaardigheidsheffing betaal. Indien u dit oorbetaal het, kry u in dié kategorie 5% uit die moontlike 20%. Indien u dan nog 2% van die totale bedrag waarop die heffing betaalbaar is aan die vaardigheidsontwikkeling van swart mense bestee, kry u nog 15% om die volle 20% in die kategorie te verdien.

                Kom ons neem aan dat u verwag om op ’n omset van R1,5 miljoen in u eerste jaar ’n loonrekening van R800 000 te hê, dan is u vaardigheidsheffing R8 000. U kry dus 5% in die kategorie. U gaan dan nog 2% van R800 000 bykomend betaal om die vaardigheid van swart mense te ontwikkel. Dis R16 000. In totaal bestee u dus uit voorbelaste geld in hierdie kategorie R 24 000 om die volpunte van 20% te kry. En onthou, u kan nie sê dat u opleidingsessies met u werkers hou en dit daarvoor laat tel nie. Alles moet meetbaar en ouditeerbaar wees.

                Goed, ons kom nou by kategorie vyf, voorkeuraankope by swart bemagtigde ondernemings. Hier is die teiken dat u oor tien jaar minstens 50% van u aankope by swart bemagtigde onderneming moet maak. Vergete is die gedagte dat u die vleis vir u gasvryheidsonderneming by u familielidbeesboer en -slagter sou kon aankoop. Kom ons sê tog dat u dit kan haal. Dan het u die voltal van 20% hier verdien.

                In kategorie ses, die ontwikkeling van swart ondernemings, kry u die voltal van 20% as u 2% van u voorbelaste wins (sogenaamde EBITDA-wins) bestee aan die ontwikkeling van swart besighede. Kom ons sê dat u onderneming uitstekend vaar en op die geskatte omset van 1,5 miljoen rand in die eerste jaar ’n voorbelaste wins van 15% maak, dus R225 000. Hiervan is 2% R4 500. Goed, dan het u die voltal van 20% in hierdie kategorie.

                Ons kom nou by die laaste kategorie, die hulp vir swart maatskaplike ontwikkeling. Hier is dit nou uit nabelaste wins wat u gaan opdok. Weer is die magiese getal 2%. Op R 225 000 moet u 29% maatskappywins betaal. Dus is daar na belasting R137 250 oor waaruit u 2% moet afstaan. Dit bring ons by R2 745.

                U moes dus R31,245 ekstra betaal om u telkaart te laat klop. Maar dis die persentasies wat belangrik is: 12.7% van u voorbelaste wins en nog 2% uit u nabelaste wins. Hoeveel ondernemings kan gesond groei as hulle hierdie ekstra las moet dra? Veral as ander nie op dieselfde manier gekniehalter is nie? Vra uself af, sal u van buite af, op suiwer finansiële gronde, in so ’n maatskappy belê?

Kom ons som die telkaart op:

Kategorie

Moontlike punte

Punte verdien

Eienaarskap

20

0

Eienaarsbestuur

20

0

Werknemers

20

8

Vaardigheidsontwikkeling

20

20

Voorkeuraankope

20

20

Ontwikkeling van swart ondernemings

20

20

Swart gemeenskapsontwikkeling

20

20

TOTAAL

140

68

 

                Waar plaas dit u op die SEB-ranglys?

                Omdat u punte tussen 65 en 75 val, kwalifiseer u vir ’n Vlak Vier SEB-status. Die hoogste is Vlak Een en die laagste, Vlak Agt. Met minder as dertig punte voldoen u nie aan SEB-kwalifikasies nie.

                Hoe vergelyk u status nou met dié van ’n swart man wat ’n familieonderneming wil begin? In die eerste plek sal hy of sy dom wees om nie in kategorieë een en twee mee te ding nie, naamlik swart eienaarskap en swart eienaarsbestuur. Hulle kan familielede help deur net familie as werkers aan te stel. En die familie is natuurlik almal swart.  Die familie kan ’n uitstekende netwerk van swart verskaffers (kategorie vyf) hê wat aan hulle ook in hierdie kategorie volpunte gee.

                Hulle is verplig om op dieselfde loonrekening as u R 8,000 oor te betaal, wat hulle 5% in hierdie kategorie gee.

Hoe lyk hulle telkaart nou?

 

Kategorie

Moontlike punte

Punte verdien

Eienaarskap

20

20

Eienaarsbestuur

20

20

Werknemers

20

20

Vaardigheidsontwikkeling

20

  5

Voorkeuraankope

20

20

Ontwikkeling van swart ondernemings

20

0

Swart gemeenskapsontwikkeling

20

0

TOTAAL

140

85

 

                Dus presteer hulle al klaar 17 punte beter as u, en dit kos hulle R 23,245 minder.

                Maar dis nie al nie. Indien swart mense meer as 50% eienaarskapstemreg in ’n onderneming het en daar is geen beperking op hulle aandele nie, word hulle outomaties na die volgende vlak van SEB-status opgeskuif.

                Die swart familieonderneming wat, deur in sy gekose vyf kategorieë te kompeteer, ’n Vlak Twee-kwalifikasie met sy 85 punte gekry het, word dus nou opgeskuif na ’n Vlak Een Status.

                Kop-aan-kop, wie gaan die aanstelling kry van ’n onderneming wat desperaat is om sy volle punte onder voorkeuraankope te verdien?

                U het ’n tweede probleem. Die oomblik as u groter as 100 werknemers en ’n omset van R10 miljoen per jaar gaan, verval u voordeel om in net vyf kategorieë te mag meeding. En dan word ’n wit familieonderneming weer in beginsel onmoontlik. Daar is dus ’n deeglike plafon op wit familieondernemings.

                Na al die sommetjies besluit u om maar liewer ’n onderneming te begin waarin u direk goedere en dienste aan die publiek verkoop, nog steeds in die gasvryheidsbedryf, sê maar ’n koffiewinkel.

                Dan  is u mos ontslae van dié affêre! Buitendien, dis nou ’n onderneming waar u heerlik konsessies kan verkoop as u die produk goed ontwikkel. Nou kyk ons na groot rykdom!

                Dan vertel ’n vriend u van die beriggie in Januarie 2005 op die webwerf van Nes24. Andrew Golding, HUB van Pam Golding-eiendomme, sê dat koffiewinkels net sal oorleef in groot inkopiesentrums, die sogenaamde ‘malls,’ en daar, sê Golding, sal u nie huurregte kry as u nie ’n vorm van swart bemagtiging het nie. Immers, die eienaars van sulke sentrums, soos Old Mutual (waarna hy spesifiek verwys het) moet sulke verhuringskontrakte gebruik ons hulle punte vol te maak deur ondersteuning van swart ondernemings.

                Transformasie is sekerlik nodig, anders het ons ’n revolusie. Owerheidsinstellings en groter maatskappye moet met hulle aanstellingsprosedures die proses aanhelp.

                Maar is die versperrings nie te straf op diegene wat juis wil voorsien aan hulle familie en vriende wat vanweë die breë proses werk verloor het, of nie werkgeleentheide sal kry nie?

 

_________

(1) Dokumentasie op die webwerf van Departement van Handel en Nywerheid (die Codes of Good Practice 100 deur na nr 700.)

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=523
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -