|
||||
William Dalrymple
*Lid van die Royal Society of Literature asook die Royal Asiatic Society en skrywer van onder meer White Mughals: Love and Betrayal in Eighteenth-Century India (HarperPerennial, 2003). Hierdie artikel is ’n verkorte weergawe van ’n teks wat in die New York Review of Books verskyn het. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw [email protected]
Nie ver van die Indus-rivier nie, stroom-op van Akora Khattak in die Frontprovinsie in die noordwestelike deel van Pakistan en baie naby die pad na Islamabad waarop die vragmotors verbydreun, staan die Haqqania, een van die radikaalste van die religieuse skole bekend as madrasas. Etlike Talibanleiers, waaronder mollah Omar self, is deur dié instelling opgelei. Die skool word beskuldig daarvan dat hy die brutale, ultrakonserwatiewe weergawe van die Islamitiese wet soos beoefen deur die Taliban geïnspireer het, en hier is ook niks wat ’n mens laat dink dat die Haqqania oor sy voormalige leerlinge skaam sal kry nie. Om die waarheid te sê, verklaar die skoolhoof, Maulana Sami ul-Haq, met trots dat die dag wat die Taliban nuwe vegters soek, hy die skool sal sluit en al sy leerlinge sal stuur om die wapen op te neem. Die naam Akora Khattak beliggaam dus in vele opsigte alles wat die Amerikaanse leiers die meeste vrees en verafsku in hierdie streek, ’n bastion van religieuse, intellektuele en soms militêre weerstand teen die Pax Americana. Wanneer die Indus oorgesteek word, waai ’n kragtige stofwarrelwind. In die skaduwees van die massiewe mure van die fort van Attock, ’n borswering wat Indië eens teen Afgaanse invalle beskerm het, belyn populiere die pad. In die verte toring die blou heuwels van Margall soos die getande rug van ’n draak. Op die skouer van die pad is daar ’n begraafplaas waar die vlae wat elke graf versier, in die wind wapper. ’n Paar kilometer daarvandaan in die verte staan ’n paar vervalle betongeboue in ’n moderne weergawe van die Mogol-argitektuur. Wasgoed word droog op die dakke en verandas van sy slaaptorings, en in die binnehof maal die leerlinge. Hulle is almal mans, elkeen dra ’n tulband en ’n welige baard. Vir iemand wat oor die algemeen as ’n ware ikoon van haat van die Weste beskou word, kom Maulana Sami voor as ’n verbasend geestige, blymoedige man. Hy dra ’n blou manel van vaagweg Victoriaanse snit, en sy goedversorgde baard waag ’n tikkie henna. Sy gesig is hoekig, sy neus staan uit en daar is lagplooitjies om sy oë. In sy kantoor stel hy sy kleindogter van twee voor, wat rustig met ’n rubberbal speel. Min tekens dat Haqqania ly onder die onderdrukkende maatreëls wat president Pervez Moesharraf verklaar het hy wou teen die sentra van Islamitiese radikalisme instel. Die gesig van my gespreksgenoot verhelder: “Dit is vir Amerikaanse verbruik gereserveer,” lag hy goedhartig. “Dis bloot mediaverklarings. Daar’t niks van gekom nie.” Vind hy nie die atmosfeer op die oomblik verstikkend nie? “Inteendeel, ons is in ’n sterk posisie. Bush het die ganse Islam laat ontwaak. Ons is daarvoor erkentlik teenoor hom.” Sy glimlag word groter. “Ons werk is die propagering van die Islamitiese ideologie. Ons verskaf die onderrig, die klere en die boeke gratis. Ons kan selfs mense gratis huisves. Ons is die enigstes wat die armes onderrig.” Maulani Sami bly ’n oomblik stil en sy glimlag verdwyn. “Die mense is wanhopig. Hulle het genoeg gehad van Pakistan se ou sedes, die sekulêre partye en die weermag. Daar is soveel korrupsie. Moesharraf doen niks anders as om teen die Moslems te baklei nie en ‘amen’ te sê op alles wat die Weste wil hê. Hy stel nie in die mense belang nie. Daarenteen soek almal vandag Islamitiese antwoorde – en ons kan help om hulle te vind. Slegs ons Islamitiese stelsel kan geregtigheid bring.” Of dit nou ten goede of ten kwade is, is die politieke ontwikkelinge wat Sami ul-Haq vanuit sy madrasa van Akora Khattack waarneem besig om dwarsoor Pakistan herhaal te word. ’n Studie van die Pakistanse Departement van Binnelandse Sake wat na 11 September uitgevoer is, het onthul dat daar 27 keer meer madrasas in die land as in 1947 is. Met onafhanklikheidswording was daar 245, maar in 2001 het die getal gestyg tot 6870 (1). En onder hulle word ’n beduidende gedeelte beheer deur of is verbind aan ’n vereniging van Islamitiese partye genaamd die Koalisie vir Aksie Moettahida Majlis-e-Amal (MMM) wat onder Sami se adjunkpresidensie ’n soort Taliban-regime in die Noordoos-Frontprovinsie ingestel het wat musiek in die openbaar asook enige uitbeelding van die menslike gestalte verbied. Op bisarre wyse is die enigste uitsondering op dié reël “Colonel Sanders” se prentjie op Kentucky Fried Chicken se teken in Peshawar. Hulle verduidelik dat dit is omdat die kolonel se baard as behoorlik Islamities beskou word, wat hom toelaat om te ontsnap aan die ikonoklasme wat oral elders verpligtend is. Die Islamitiese partye weet van die voordele wat hulle uit die beheer van hierdie plekke van onderrig kan trek en hulle steek dit nie weg nie. Die hoofkantoor van Jamaat-e-Islami in Lahore is byvoorbeeld ook ’n madrasa waar tweehonderd studente ’n Koraniese opvoeding met ’n duidelike politieke inslag ontvang. ’n Woordvoerder van die party was baie eksplisiet: “Die politieke transformasie wat deur ons madrasa meegebring word, is besig om ’n massiewe invloed op Pakistan se toekoms uit te oefen. Daar bestaan ’n noue band tussen die verkiesingsuksesse van die Islamitiese partye en die werk wat ons in ons madrasas doen.” Dwarsoor Pakistan het die religieuse gelowe gevolglik verhard. Die verdraagsame barelvi-variant van Islam wat deur die Soefisme beïnvloed is, is heeltemal uit die mode, grootliks uitgedruk deur die skielike opkoms van die mees geharde en gepolitiseerde hervormingsugte, naamlik die Deobandi-, Wahhabitiese en Salafistiese strominge. Die snelle vermenigvuldiging van hierdie madrasas het in die 1980’s begin onder die beskerming van generaal Zia ul-Haq (2) binne die kader van die Afgaanse djihad, en is hoofsaaklik deur die Saoedi’s gefinansier. Waar talle van die madrasas wat tydens dié era gestig is bloot ’n vertrek aangebou aan die dorpsmoskee is, het ander baie gevestigde instellings geword: die Dar ul-Uloom in Baloetsjistan huisves byvoorbeeld 1 500 seuns in die koshuis en nog 1 000 van buite. Daar is in totaal nagenoeg 800 000 leerlinge in Pakistan se madrasas, ’n hele Islamitiese onderwysstelsel, gratis en verniet, wat meeding met ’n sterwende openbare sektor. In Pakistan is die openbare-onderwysbegroting slegs 1,8% van die bruto nasionale produk. Dit is waarom 15% van die skole nie oor voldoende plek beskik nie, 40% nie lopende water het nie en 71% sonder elektrisiteit is. Wegblyery kom gereeld onder die onderwyserskorps voor, en in werklikheid bestaan talle van hierdie skole slegs op papier. Toe die voormalige Pakistanse krieketkaptein wat tot die partypolitiek toegetree het, mnr. Imran Khan, in 2004 oor die openbare skole in sy kiesafdeling navraag gedoen het, het hy ontdek dat een-vyfde van dié wat op die register ingeskryf is nie bestaan nie, en dat 70% byna altyd toe is. Pakistan se agterstand teenoor Indië op onderwysgebied is skouspelagtig: in Indië is 65% van die bevolking geletterd en die persentasie groei jaarliks. In Pakistan is die geletterdheidskoers egter slegs 42%, en dié syfer is aan die daal. In plaas daarvan om in onderwys te belê, rus die militêre regering sy lugmag toe met ’n nuwe geslag F16-vliegtuie. Die amperse bankrotskap van nasionale onderwys beteken dat, vir ’n beduidende deel van die bevolking, die enigste hoop om hulle lot te verbeter is om hulle kinders na ’n madrasa te stuur waar hulle verseker is van ’n opvoeding – gewis streng tradisioneel, maar volkome gratis. Die hegemonie van die madrasas oor die onderwysstelsel is ongetwyfeld uniek, maar die algemene neiging is oral in die Moslemwêreld dieselfde. In Egipte het die aantal onderwysinstellings afhanklik van die Al-Azhar-universiteit van Kaïro gestyg vanaf 1 855 in 1986 na 4 314 tien jaar later. Die Saoedi’s het hulle befondsing verhoog en bestee byvoorbeeld tans net in Tanzanië meer as een miljoen dollar per jaar op die oprigting van nuwe madrasas. In Mali huisves die madrasas reeds 25% van die skoolgaande kinders. Gesien in hierdie groter konteks bring maulana Sami ul-Haq en sy madrasas belangrike vrae na vore. In watter mate is hulle verantwoordelik vir die probleme wat op die aanvalle van 11 September 2001 uitgeloop het? Is hulle enigiets anders as terroristefabrieke? Moet die Weste nie op die kliëntstate van die VSA, Pakistan en Egipte, druk uitoefen om hulle eenvoudig te sluit nie? In die klimaat van paniek wat op die Islamistiese aanvalle op die Verenigde State gevolg het, lyk dit of die antwoord op hierdie vrae vanselfsprekend is. Die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, mnr. Colin Powell, en die Minister van Verdediging, mnr. Donald Rumsfeld, het kwalik dieselfde blik op buitelandse beleid gehad, maar oor die bedreiging wat die madrasas sou inhou, was hulle eenstemmig. In 2003 stel mnr. Rumsfeld die vraag soos volg: “Is ons regtig elke dag besig om meer Islamiste te vang, dood, neutraliseer of te ontmoedig as wat die madrasas en die radikale geestelikes werf, oplei en teen ons lanseer?” ’n Jaar later het mnr. Colin Powell beweer dat die madrasas teelaardes vir “fundamentaliste en terroriste” is. Tog is die verband tussen madrasas en internasionale terreur allesbehalwe ooglopend, en nuwe studies het verskyn wat die dikwels herhaalde, dog intellektueel betwisbare teorie waarvolgens die madrasas bloot opleidingsentra vir Al-Kaïda sou wees, in twyfel trek. Dit is gewis so dat talle madrasas fundamentalisties en letterlik in hulle benadering tot die heilige geskrifte is, en dat vele van hulle tot die mees geharde skole van die Islamitiese denke behoort. Baie min van hulle berei hul leerlinge voor om in ’n moderne, pluralistiese samelewing te funksioneer. Dit is eweneens waar dat sekere madrasas regstreeks met Islamitiese radikalisme en sporadiese uitbarstings van geweld verbind kan word. Net soos wat daar jeshiva’s en kolonies op die Wesoewer is wat bekend is vir hulle geweld teen die Palestyne, of kloosters in Serwië wat aan oorlogsmisdadigers skuiling gegee het, is daar na raming tot en met 15% van die madrasas in Pakistan wat gewelddadige djihad (heilige oorlog) aanblaas, en sommige onder hulle wat klandestiene militêre opleiding verskaf. Madrasaleerlinge het deelgeneem aan die djihad in Afganistan en Kasjmir, en is herhaaldelik betrek by geweldpleging, by name teen die Sjiïete wat ’n minderheid in Karatsji vorm. Desnieteenstande het die vervaardiging van kanonvoer vir die Taliban en die dwaalleringe van plaaslike sektes niks te make nie met die opleiding van terroriste onderlê in moderne tegnologie soos dié van Al-Kaïda, wat ewe verfynde as afgryslike aanvalle uitgevoer het teen die torpedojaer USS Cole, die Amerikaanse ambassades in Oos-Afrika, die World Trade Center of die Londense moltreinstelsel. In werklikheid beklemtoon verskeie onlangse studies die noodsaaklikheid om te onderskei tussen gediplomeerdes van die madrasas – dikwels vroom dorpenaars afkomstig uit ’n brandarm agtergrond en nie juis met tegniese aangeleenthede vertroud nie – en die djihadistiese, kosmopolitiese salafis afkomstig uit die middelklas wat Al-Kaïda-operasies oor die wêreld beplan. Dit blyk dat die meeste van dié mans sekulêre en tegnologiese agtergronde het. Nóg mnr. Osama ben-Laden, nóg enige van die mans wat die aanvalle op die Verenigde State of Groot-Brittanje uitgevoer het, is in ’n madrasa opgelei of het as geestelike gekwalifiseer. Die mans wat die aanvalle van 11 September 2001 beplan en uitgevoer het, is dikwels deur die Anglo-Saksiese pers as “Middeleeuse fanatici” voorgestel. Dit sal meer gepas wees om hulle te beskryf as hoogs opgeleide dog polities verwarde professionele. Mohammed Atta was ’n argitek; Aiman al-Zawahiri, mnr. Ben-Laden se stafhoof, was ’n kinderchirurg; Ziad Jaeeah, een van die stigters van die Hamburg-sel, was ’n student in tandheelkunde voor hy in vliegtuigboukunde gespesialiseer het; mnr. Omar Sjeik, beplanner van Daniel Pearl se ontvoering, was ’n gediplomeerde van die London School of Economics.
Dit is wat byvoorbeeld duidelik word met die subtielste ontleding van transnasionale djihadisme wat tot op hede gepubliseer is, Understanding Terrorist Networks, deur ’n voormalige CIA-agent, Marc Sageman. Hy het die biografieë van 172 terroriste met Al-Kaïda-bande bestudeer en sy gevolgtrekkings maak korte mette met die meeste media-clichés oor die persoonlikheid van rekrute. Sy steekproef is vir twee-derdes saamgestel uit kleinburgers (petits bourgeoises) met universiteitsopleiding. Hulle is oor die algemeen professionele lui bekend met tegnologie en van wie etlikes doktorsgrade het. Hulle is ook nie jong domkoppe nie: hulle gemiddelde ouderdom is 26, die meeste is getroud en heelparty het kinders. Slegs twee lyk asof hulle sielkundige probleme het. Islamitiese terrorisme is soos die Joodse en Christelike terrorisme wat dit voorafgegaan het in wese ’n aktiwiteit van die burgery. Daar is natuurlik enkele gevalle van gediplomeerdes van radikale madrasas wat by Al-Kaïda aangesluit het. Maulana Masood Asjar, hoof van die djihadistiese organisasie Jaisj-e-Muhammoead en noue medewerkers van mnr. Ben-Laden, het byvoorbeeld sy eerste studie onderneem in Karatsji se ultramilitante madrasa Binori Town. ’n Leerling wat sy studies in ’n ander madrasa laat vaar het, het deelgeneem aan die aanval op President Moesjarraf se prosessie in 2003. Maar oor die algemeen beskik die leerlinge van die madrasas eenvoudig nie oor die nodige tegniese kennis om sulke verfynde aanvalle uit te voer soos dié waarvoor Al-Kaïda die laaste jare verantwoordelikheid aanvaar het nie. Die vooringenomenhede van die gediplomeerdes van die madrasas bly meer tradisioneel: om die rites korrek uit te voer, om jouself reg voor die gebed te was, om die gepaste lengte van jou baard te verseker. Al dié kwessies maak deel uit van die Koraniese studieprogram in die madrasas. Die gediplomeerdes is ook besorg oor die stryd teen wat hulle as anti-Islamitiese praktyke by hulle medegelowiges beskou, soos om byvoorbeeld gebede op die graf van ’n heilige op te sê of deel te neem aan Sjiïetiese klaagliedere gedurende die seremonies wat die dood van Ali, skoonseun van die Profeet, in die Slag van Kerbala (3) gedenk. Anders gestel, hulle is nie so begaan oor die stryd teen nie-Moslems van die Weste nie – die hoofsaak van die aanhangers van die transnasionale djihad – as om dít te bevorder wat hulle beskou as gepaste Islamitiese gedrag in eie geledere, soos bereël deur die persoonlike wet wat die hoofoogmerk van onderrig in ’n madrasa is. Daarenteen lyk dit asof Al-Kaïda se agente slegs oor die mees elementêre kundigheid oor die Islamitiese wet en kennis beskik. Bowendien suggereer verskillende beoordelings dat mnr. Ben-Laden self niks anders nie as minagting het vir die puntenerige, juridiese benadering van oelema’s (geestelikes) afkomstig uit die madrasas, en dat hy sy eie gewelddadige Islamisme beskou as veel beter in staat om die probleme van die Moslemwêreld op te los. Dit is bevestig kort na die aanvalle van 11 September 2001 toe mnr. Ben-Laden aan ’n groep Saoedi-besoekers gesê het dat “die jongmans wat hierdie operasies uitgevoer het, het geen fiqh (skool van Islamitiese reg) in die gewilde sin aanvaar nie, buiten die fiqh wat die Profeet Mahomet gegee het.” Dit is ’n gelade aanhaling: mnr. Ben-Laden is slegs juridies en in die tradisionele strukture van die Islamitiese gesag opgelei. Die uitvoerders van hierdie aanvalle, het hy te kenne gegee, het tot praktiese aksies oorgegaan in plaas daarvan om hulle tyd op die bespreking van wetstekste te mors. Hy het homself dus voorgestel as die uitdager van die madrasas en die oelema’s wat die tradisionele metodes van religieuse studie systap ten einde sy inspirasie regstreeks uit die Koran te put. ’n Grondige ondersoek van mnr. Ben-Laden se toeëiening van die rol van die oelama van die madras kom voor in die opstel Landscapes of the Jihad van Fayçal Devji (4), dosent aan die New School for Social Research in New York. Devji beklemtoon in watter mate mnr. Ben-Laden van die ortodoksie afwyk met sy martelaarskultus en sy verwysings na sy drome en gesigte, alles dinge afgelei uit die mistieke, populêre tradisies en Sjiïetiese Islam waarteen die ortodokse Soennietiese oelema’s van altyd af stry. Wat meer is, mnr. Ben-Laden en sy volgelinge “kritiseer die mees geëerde geestelikes gereeld deur hulle daarvan te beskuldig dat hulle slawe van heidense regerings is … Hulle reik eweneens hul eie fatwa’s uit sonder dat hulle oor die nodige kennis of geestelike gesag beskik.” Dit alles werp lig op die mate waarin die debat oor Al-Kaïda in die Westerse wêreld swak ingelig is. Daar word tot vervelens toe herhaal dat terrorisme verbind is aan ellende en die basiese Koraniese onderrig verskaf deur die madrasas. Daar word gesê dat die jeugdiges wat hulle aan hierdie aktiwiteite oorgee bose waansinniges is wat “ons” welvaart en “ons” vryhede haat, en met wie geen gesprek moontlik is nie omdat hulle “daarop mik om ons te likwideer” (soos ’n Britse minister op 7 Julie 2005 na die Londense aanvalle aan die BBC gesê het). Dat die vyandelikhede van die Islamiste verbind kan word aan die buitelandse beleid van die VSA in die Nabye Ooste en in besonder aan die Anglo-Amerikaanse ondernemings in Irak en Afganistan word deurgaans ontken, in weerwil van alle aanduidings tot die teendeel. In werklikheid is die meeste Al-Kaïda-agente baie goed opgelei en hulle oogmerke eksplisiet polities. Daar was nog nooit die geringste dubbelsinnigheid hieroor nie in mnr. Ben-Laden se talle communiqué’s. Soos hy lakonies opgemerk het tydens ’n program uitgesaai by geleentheid van die laaste Amerikaanse verkiesing, as Al-Kaïda met vryheid in ’n oorlog getree het, sou hy Swede aangeval het. Die mans wat 11 September 2001 se aanvalle georganiseer het, is nie die produkte van die tradisionele Islamitiese onderwysstelsel nie, maar gegradueerdes van Westerse soort instellings. Die debat oor die veronderstelde band tussen die madrasas en terrorisme het geneig om sowel die lang geskiedenis van die madrasas as hulle onderlinge verskille te verdoesel. Vir ’n lang tyd in die geskiedenis van Islam was die madrasas die hoofbron van religieuse en wetenskaplike kennis, soos die religieuse universiteite en skole van Europa. Tussen die 7de en die 11de eeu het die madrasas kruine van vrye denke soos Al-Biroeni, Avicenna en Al-Khoewarizmi (5) voortgebring. Toe die Mongoolse invallers die sentra van lering in die hart van Islam vernietig het, het talle van die intellektuele na Delhi gevlug en die Noorde van Indië sodoende vir die eerste maal ’n belangrike sentrum van denke gemaak. Vanaf die opkoms van Akbar, keiser van die Mogolle in die 16de eeu, sou die studieprogramme in Indië se madrasas die kennis van die Islamitiese Nabye Ooste verbind met dié van Hindoe-Indië, in so ’n mate dat Hindoe- en Moslemleerlinge skouer aan skouer die Koran (in Arabies), die Soefie-poësie van Sa’adi (in Persan) en die Vedanta-filosofie (in Sanskrit), asook die etiek, die sterrekunde, die geneeskunde, logika, geskiedenis en natuurwetenskappe bestudeer het. ’n Stewige aantal van die mees briljante Hindoe-denkers, byvoorbeeld die groot hervormer Ram Mohan Roy (1772 – 1833), is almal in madrasas opgelei. Na die afsetting van die laaste keiser van die Mogolle, Bahadoer Sjah Zafar, in 1858, het ontnugterde geleerdes in Deoband, 160 km noord van die Mogolse hoofstad Delhi, ’n ‘wahhabitiese’ madrasa gestig wat baie invloedryk, dog baie eng van gees was. Sy stigters, wat gevoel het hulle veg met die rug teen die muur, wou reageer teen die verval van die ou elites. Deur na die fondasies van die Koran terug te keer het hulle alle Hindoe of Europese oorblyfsels uit hul studieprogramme verwyder (6). Dit was helaas hierdie puriteinse deobandi madrasas wat oor die Noorde van Indië en Pakistan in die 20ste eeu sou uitbrei en spesiale voordeel sou trek uit die beskerming van generaal Zia ul-Haq en sy Saoedi-bondgenote in die 1980’s. Deur ’n sekere ironie het die Verenigde State eweneens ’n belangrike rol gespeel in die inskrywing van die madrasas vir die heilige oorlog binne die raamwerk van die Afgaanse djihad. In werklikheid het die CIA deur die front van die VS Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (US-AID) besonder bloedige handboeke vol gewelddadige beelde en militante voorskrifte vir die gebruik van die madrasas befonds. Op ’n bladsy kon ’n mens die beeld sien van ’n djihadis wat ’n geweer vashou, maar wat onthoof was, vergesel van ’n vers uit die Koran en ’n huldeblyk aan die moedjahieddien wat “gehoorsaam is aan Allah … Sulke manne sal hulle rykdom en hul lewe opoffer vir die instelling van die Islamitiese wet.” Toe die Taliban die bewind oorgeneem het, is hierdie handboeke in die skole versprei (7). Die program van talle madrasas in Pakistan is argaïes: daar is sommige waar meetkunde vanuit Euklides en geneeskunde vanuit Galen onderrig word. ’n Mens leer die Koran uit jou kop in plaas daarvan om dit krities te bestudeer, en daar is nog baie prestige daaraan verbonde om ’n hafiz te word, oftewel die hele Koran te memoriseer. In die deobandi-madrasas leer ’n mens dat die son om die aarde draai en daar is selfs van hulle waar stoele vir die onsigbare Islamitiese geeste, die djinns, gereserveer is. Dit is egter nie die geval met al die madrasas nie, waarvan sommige eerder merkwaardig ontwikkel het. In Karatsji is Dar ul-Aloom die belangrikste madrasa. Met sy groot grasperke lyk dit eweseer na ’n vyfsterhotel as na ’n ryk universiteitskampus. Dit is netjies en welvarend: elegante klas- en rekenaarkamers kyk uit op tuine en palmbome wat sorgvuldig natgelei is. Reg rondom, te midde van steiers, verrys nuwe biblioteke en slaapsale uit die aarde. Binne is die atmosfeer leergierig en ernstig. Die leerlinge sit kruisbeen op die matte waar hulle die Koran lees wat op klein houtkateders voor hulle ooplê. In ander klaskamers luister hulle aandagtig na ’n bejaarde maulana se kommentaar oor die betekenis van verse van die Koran, die hadiths en die tradisies van die Profeet. ’n Rekenaarkamer is vol bebaardes wat debat voer oor die geheimenisse van die rekenaar terwyl hulle die Oerdoe of Arabiese weergawes van Microsoft Word en Windows XP gebruik: verlede jaar se leerlinge moes al hulle opstelle op rekenaar skryf en dit as harde kopie versprei. Natuurlik is alle madrasas nie so goed toegerus nie. Die studente is byna almal hoogs gemotiveerd, gaaf en intelligent, maar verskriklik intens. Wanneer ek ’n bebaarde leerling vra na watter musiek hy op sy nuwe kassetspeler luister, werp hy my ’n blik vol afgryse toe: die toestel dien slegs om na preke te luister. Alle musiek is verbode. Maar hoe puriteins dit ook al is, is dit duidelik dat Dar ul-Aloom soos talle van die Pakistanse madrasas ’n reusediens verskaf aan ’n land waar ongeletterdheid hoogty vier. Ofskoon hulle onderwysfilosofie dikwels agterlik is, bring die madrasas vir die armes werklike hoop op maatskaplike vooruitgang. In sekere tradisionele vakke soos retoriek, logika en regsgeleerdheid is die onderriggehalte dikwels uitstaande. En waar hulle oor die algemeen ultrakonserwatief is, is slegs enkeles militant. Om hulle te sluit sonder om eers ’n herbouingsprogram van die openbare onderwysstelsel te loods, sal daartoe lei dat ’n beduidende deel van die bevolking tot onkunde gedoem word. En dit kom ook daarop neer om aan gelowiges te sê dat hulle moet ophou om hulle religie te onderrig, wat gewis nie ’n manier is om Moslemgemoedere te verower nie. Dit is nie nodig om baie ver van Pakistan af te beweeg om ’n madrasa-stelsel te vind wat sowel die probleem van militantisme as onderwysagtergeblewenheid takel nie. Want terwyl Indië die land van oorsprong van die deobandi-madrasas is, het sodanige kolleges in Indië nog nooit sover ons weet gewelddadige Islamiste voortgebring nie, en is hulle streng apolities en kwiëtisties. Sommige van die grootste Indiese geleerdes, soos die historikus Moezzafar Alam van die Universiteit van Chicago, het aan madrasas studeer. ’n Belangrike studie van die madrasas van Indië, Bastions of the Believers deur die Hindoenavorser Yoginder Sikand, wys die dinamisme en modernisme van sekere madrasas uit. Die Staat van Kerala in die suidooste van Indië is byvoorbeeld toegerus met ’n reeks opvoedkundige instellings wat bestuur word deur die Moejahid, ’n beweging van professionele en sakelui met die oogmerk om die gaping tussen moderne vorme van kennis en ’n visie van die Islamitiese wêreld te oorbrug. Die Moejahid is op die voorhoede van die onderrig van Moslemvroue in Kerala, en talle van sy madrasas tel meer meisies as seuns. Die intellektuele van die Moejahid het baie oor vroueregte binne ’n Islamitiese perspektief geskryf, en Sikand haal die woorde aan van Zohra Bi, hoof van een van die kolleges van die beweging: “Ons hoop om deur die pogings van ons skool te wys dat Islam in wese die outonomie van vroue aanmoedig.” Dít bevestig oënskynlik dat dit nie soseer die madrasas as sodanig is wat ’n probleem skep nie, maar die atmosfeer van militantisme en indoktrinasie wat heers binne ’n klein aantal van die bekende sentra van ultraradikalisme, soos die madrasa van Binori Town in Karatsji, waar die leerlinge leer dat djihad geldig en edel is. Dit moet nog gesien word of die regering van generaal Moesjarraf die nodige politieke wil het om die sukses van Indië se madrasas te herhaal.
__________ (1) Daar is ´n debat oor die werklike getal madrasas in Pakistan en die proporsie van die land se leerlinge wat hulle onderrig. (2) Pakistanse diktator wat tussen 1977 en 1988 regeer en in ’n geheimsinnige vliegongeluk gesterf het. (3) Lees die uitstekende artikel van Barbara Metcalfe, “Piety, Persuasion and Politics: Deoband’s Model of Social Activism” in Aftab Ahmad Malik (red.), The Empire and the Crescent: Global Implications for a New American Century, Bristol: Amal Press, 2003, p.157. (4) University of Pennsylvania Press, 2005. (5) Die eerste was sterrekundige, filosoof en historikus (973–1050), die tweede filosoof (11de eeu), en die derde wiskundige (9de eeu). (6) Die Deobandi’s is die onderwerp van ’n uitstekende studie in die magistrale werk van Barbara Daly Metcalf, Islamic Revival in British India: Deoband, 1860-1900, Princeton University Press, 1982. Kyk ook Colonisation of Islam: Dissolution of Traditional Institutions in Pakistan, New Delhi: Manohar, 1988. (7) ’n Omvattende opsomming van hierdie handboeke, “From US, the ABC’s of Jihad”, deur Joe Stephens en David B. Otway is te vinde op die webwerf van die Washington Post, www.washingtonpost.com/ac2/wp-dyn/A5339-2002Mar22?language=printer
|