|
||||
Johann Rossouw
*Redakteur
Een van die grootste ironieë van die “post-religieuse” Europese samelewing en sy (neo)liberalisme, is hoe dit met presies dieselfde irrasionaliteit waarvan dit religieë dikwels beskuldig, met sy eie waardes omgaan. Asof met blindheid geslaan, verdedig hy hierdie waardes as sou dit die hoogtepunt van menslike prestasie verteenwoordig, terwyl dié samelewing feitelik toenemend onderlê word deur dekadensie, ideeloosheid en ’n enorme onvervulde sug na – ja, die transendente, die méér wat dit vir ons moontlik maak om ‘ons’ te sê. Ewe absurd in hierdie onheilige komedie is hoe hierdie samelewing sy waardes na die hoofstroommedia wêreldwyd uitvoer: gewis ’n algemene waarstelling, maar een wat deeglik bewys is deur die Suid-Afrikaanse hoofstroompers se ietwat hopelose reaksie op die hofbevel wat deur ’n Islamitiese groep, Jamiatul Uluma, teen die Sunday Times en die Independent-koerantgroep verkry is om die publikasie van die gewraakte Deense Moslemspotprente te keer. “Vryheid van spraak! Vryheid van spraak!” is soos uit een mond geweeklaag. Veral interessant was om te sien hoe George Claassen, ombudsman van Die Burger en uitgesproke antireligieuse kommentator rondval om in terme van die heersende liberale kode die tameletjie te hanteer, terwyl die koerant waar hy in diens is die enigste Afrikaanse koerant met ’n noemenswaardige Moslemleserstal is. Ewe sprekend van die houvas wat die liberale orde op die Afrikaanse intelligentsia gekry het, was hoe Etienne van Heerden moes bontstaan om te verklaar waarom Litnet nie Nathan Bond se klaarblyklik hatige brief oor die Islam op Litnet sou plaas nie … nadat Bond en andere al jare lank lustig onder die Christendom inklim. Van Heerden is nie Claassen nie, en nie die minste nie weens die veel genuanseerder wyse waarop Van Heerden met religie, filosofie en die onsigbare wat mense dryf, omgaan – maar dit daar gelaat. Die feit van die saak is dat min ander dinge so goed as die omstredenheid oor hierdie spotprente die gevaar daarvan blootlê om vryheid van spraak met dieselfde blinde geloof te verheerlik as waarmee mense soms met hulle geloof self omgaan, en waarop die blinde aanhangers van vryheid van spraak nooit links is om die res van die mensdom se aandag te vestig nie. Dit ly geen twyfel nie dat vryheid van spraak (wat nie deur die liberalisme uitgevind is nie, al sukkel ’n mens om dit te glo) ’n kosbare waarde is en tewens ’n hoeksteen van enige demokrasie. Maar om die ganse debat oor die Moslemspotprente te stel in terme van die regte van Moslems teenoor die reg op vryheid van spraak, so asof die opweeg van verskillende regte die alfa en die omega van die politieke lewe is, is om in ’n steriele, juridiese doodloopstraat te beland wat geensins die vraagstukke ter sake hanteer nie. Daar is minstens twee sake wat swaar weeg in die beoordeling van die Moslemspotprentdebakel, naamlik die politiek van Islam en die gewig wat die beeld onderskeidelik in die Weste en binne Islam dra. Wat die politiek betref: in ’n briljante artikel wat Sélim Nassab op die vooraand van die Amerikaansgeleide inval van Irak in Le Monde diplomatique van Maart 2003 gepubliseer het, genaamd “Om klaar te speel met die Arabiese wêreld” (“Pour en finir avec le monde arabe”) gee Nassab ’n broodnodige historiese agtergrond om te verklaar waarom daar vandag soveel woede teenoor die Weste onder Moslems en veral die Arabiese wêreld bestaan. Nassab gee ’n oorsig van die verskillende vernederings waaraan die Arabiese wêreld sedert die begin van die 1920’s, oftewel vanaf die val van die Ottomaanse Ryk, deur Westerse lande onderwerp is. Destyds was die Arabiese wêreld reeds vir vier eeue onder die Turkse (en dus Moslem-) regering, wat dan ook verklaar waarom mnr. Osama Ben-Laden hom beroep op kalifaat, oftewel Moslemregering, waaronder alle Moslems sou val. Nassab som die houding van Arabiere teenoor die Ottomaanse Ryk op: “As hulle belasting eers betaal was en hul seuns na die weermag gestuur, was die gewone Arabiere van Beiroet, Damaskus of Jerusalem min of meer kiets met die politieke mag. Die politieke mag was elders, en hulle hoef hulle nie daaroor moeg te maak nie. Gegroepeer in families, sibbe (clans), gemeenskappe, streke of ander lojaliteite was hulle Arabiere van Palestina, Libanon of Sirië sonder dat hulle ‘land’ van oorsprong vir hulle ’n nasionaliteit was.” Intussen het die Arabiese intellektuele egter vanaf die einde van die 19de eeu besef dat die Ottomaanse Ryk se afgang onomkeerbaar was. Gevolglik het hulle hulle gewerp in ’n beweging van kultuurpolitieke herlewing, die Nahda, “waar die wil om Islam en die samelewing te transformeer, en weer die lewende bronne te vind wat dit oplaas vir Arabiere moontlik sou maak om deel van die wêreld te vorm, met mekaar vermeng is.” Aangesien die Ottomaanse Ryk reeds Islamities was, het Arabiese nasionalisme vir hierdie intellektuele die enigste basis van bevryding van die Ryk uitgemaak. Toe hierdie intellektuele aan die einde van die 1910’s teen die Ottomaanse Ryk opgestaan het, het Brittanje sy belofte van ’n groot Arabiese staat verontagsaam … en die skepping van “’n nasionale Joodse tuiste” in Palestina beloof. So is die Arabiese wêreld se eerste tree na ’n post-Ottomaanse moderniteit met verraaide verwagting gegee. Hierop het die skepping van ’n aantal Arabiese nasies gevolg, aangedryf deur Brittanje en Frankryk. Dié state was almal onder mandaat van die twee Westerse moondhede ten einde die “jong lande na onafhanklikheid te help”, paternalisme ingesluit, dankie. Die volgende Westerse vernedering vir die Arabiese wêreld het gekom in 1948, toe die Staat van Israel op ’n golf van internasionale simpatie vir die Jode gestig is. Nadat die Arabiere aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog gekul is, was dit nou weer so, en is ’n tweede vernedering deurloop. President Nasser van Egipte het hierop gereageer deur die Verenigde Arabiese Republiek van Egipte uit te roep, in die hoop dat dit mettertyd die ganse Arabiese wêreld sou insluit, en dat dié wêreld sodoende by die moderne era kon aansluit. Die hoop wat hieruit voortgevloei het, het uiteindelik fataal beskaam met die Sesdaagse Oorlog van 1967. Die Arabiese wêreld het dit as verraad deur die Weste en Israel beleef, en was in hierdie stadium so verneder dat hy nie in staat was om deeglike selfondersoek oor sy aandeel in die gebeure te doen nie. In hierdie jare het die Westerse miskenning van die Arabiese nasionalismes, tesaam met die korrupsie van die Arabiese regerings, gelei tot die onvermydelike: die herlewing van Islam as basis van ’n ander politiek. Die Iranese rewolusie van 1979 het dié feit met ’n oorverdowende knal aangekondig. Deur die loop van die 1980’s het veral die VSA ’n krimineel onverantwoordelike strategie gevolg deur korrupte regerings of Islamiste in die Arabiese wêreld en die Nabye en Verre Ooste in die algemeen te steun. Dit het ingesluit steun aan Saoedi-Arabië se koningshuis, aan Saddam Hoessein se regering en aan Afganistan se heilige vegters, waar Ben-Laden ook deur die CIA opgelei is. Terwyl veral die VSA en die Weste in die algemeen sy steun vir verskillende faksies in die Nabye en Verre Ooste sedert die 1920’s aan die hand van kortsigtige eiebelang verwissel het, is veral Amerikaanse steun aan Israel die een konstante. Teen hierdie agtergrond het die katastrofale situasie van die Palestyne die simbool van die ganse Arabiese wêreld se vernedering geword. Kan enigiemand dan verbaas wees oor die felle reaksie wat wêreldwyd onder Moslems uitgebreek het? Laat ons ook nie vergeet nie dat die felste protesaksies voorgekom het in lande waar Moslemminderhede tweedeklasburgers is, sowel as in die Midde-Ooste – met ander woorde waar Westerse politieke miskenning van Moslems en die Arabiese wêreld in die algemeen op sy ergste is. Om jou in hierdie omstandighede bloot op vryheid van spraak te beroep, met die flou kwalifikasie dat “ons darem simpatie met die Moslems het”, is verregaande. Want die feit van die saak is dat vryheid van spraak by uitstek daar bestaan waar ’n politiek van erkenning beoefen word. Mense verbrand nie mekaar se vlae of ambassades as hulle in die eerste plek erken word nie. Dit bring ons by die kwessie van die rol van die beeld binne die Weste en Islam. Waar die Moslemwêreld tot aan die einde van die Middeleeue op die voorpunt van kennis en tegnologie gestaan het in wat vandag as die Weste en die Nabye en Verre Ooste bekendstaan, is die bordjies vanaf die die 15de eeu verhang. Hierdie oorgang gaan gepaard met die opkoms van seevervoer en die boekdrukkuns in die Weste, oftewel wat Régis Debray die grafosfeer noem. Tydens die volgende vier eeue, toe die Arabiese wêreld onder die Ottomaanse Ryk was, het die gedrukte woord en die Protestantisme sy eie haat vir die beeld meegebring. Die Moslemwêreld was in ’n groot mate agter in die grafosfeer, en sou uiteindelik min of weinig blootstelling aan die volgende groot tegnologiese rewolusie, die opkoms van die oudiovisuele, hê tot laat in die 20ste eeu. Terwyl die Weste deur die loop van die 20ste eeu met sy televisie en rolprente die beeld banaal gemaak het – en ook sy eie religieuse beelde in die proses – het die fiksasie op die visuele uitgebly in die Moslemwêreld. Dit verklaar dan ook waarom Moslembetogings so dikwels met die vertoon van die Koran of die waai van vlae met skrif op gepaardgaan. Kan daar in hierdie verband ’n meer hartverskeurende beeld wees as dié van ’n Pakistanse man in sy dertigs wat met sy gesig vertrek van pyn agter sy baard die Koran in die lug hou? Wat het hierdie mense anders as Islam? Om te beweer dat hulle die Weste haat vir wat hy het, is vergesog: die Weste word gehaat vir wat hy die Moslemwêreld alles ontneem in sy geldige strewe na vryheid en demokrasie op sy eie voorwaardes. En waar die Moslemwêreld inderdaad korrek handel volgens die Westerse voorskrifte van demokrasie, waar ’n vrye en regverdige verkiesing plaasvind, soos in Januarie in Palestina gebeur het, dan word die nuutverkose regering aan allerlei dreigemente onderwerp as hy nie sy politieke program laat vaar nie. Dieselfde sterk medisyne is beslis oor dekades nie uitgedeel aan die Ierse Republikeine, Irak onder Saddam Hoessein of selfs Afganistan vandag na die Taliban nie. Op die tuisfront is dit begryplik dat die Suid-Afrikaanse pers met die vorige bedeling se miskenning van vryheid van spraak nog vars in die geheue so ontsteld was oor die hofbevel teen die publikasie van die gewraakte spotprente. Dit is ook so dat die Suid-Afrikaanse media oor die algemeen pro-Palestyns en religieus sensitief is. Aan die ander kant is dit ook waar dat die kras materialisme van die neoliberale wanorde en sy fikasies op die dekadente lewens van “bekendes” na 1994 ongekende hoogtes in die Suid-Afrikaanse media bereik het. Daar is ’n byna hedonistiese verheerliking van materiële begeertes, iets waarin die Afrikaanse media in ’n mindere mate skuldig is. Dat so ’n klimaat Suid-Afrikaanse Moslems kon laat wonder oor of hulle nie ook maar met die stok van “vryheid van spraak” geslaan sal word nie, is volkome begryplik. By laaste oorweging is een ding seker: drie jaar na die Amerikaansgeleide inval van Irak is die vernedering van Arabiere in die besonder en Moslems in die algemeen erger as ooit. Dat religieuse ekstremisme en onbuigsame leiers onder hierdie mense na vore tree, is geensins vreemd nie. Die enigste alternatief is dat demokrate wêreldwyd in solidariteit met die brose demokratiese kragte in die Arabiese wêreld moet saamspan. Want so nie sal Bush en Ben-Laden later as net die voorspel van die eintlike slagting staan. |