blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Verontagsaam Mbeki oor Pretoria vra FAK (Mediaverklaring uitgereik op 14 Februarie 2006) 2006-03-15

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, die FAK, doen ´n beroep op Afrikaners in die besonder en Suid-Afrikaners in die algemeen om president Thabo Mbeki se onbedagte ondersteuning vir die verdere erosie van die naam Pretoria ten gunste van die naam Tshwane te verontagsaam, en voort te gaan om die naam Pretoria vir die hoofstad te gebruik.

                Die voorsitter van die FAK, prof. Danie Goosen, het gesê dat “as Afrikaners is ons alte bewus van die risiko’s wanneer nasionalistiese leiers voortvarend met die geskiedenis vir hulle politieke agenda omgaan. Dit is presies wat president Mbeki by talle geleenthede die afgelope jare gedoen het wanneer hy Suid-Afrika onderwerp het aan Afro-nasionalistiese geskiedenislesse. Mbeki doen dit nou weer deur te beweer dat Andries Pretorius, na wie die stad vernoem is, onthou word vir die slagting van Zoeloes by Bloedrivier, terwyl Pretorius voortgegaan het om as waardige staatsman verteenwoordigers van Konings Mzilikasi, Mshweshwe en Mpande byeen te bring om saam te staan teen die Britse anneksasie van Suider-Afrika. Deur die simboliese waarde van Pretoria as voormalige anti-imperialistiese, republikeinse hoofstad vir Afrikaners te verontagsaam, verraai Mbeki se eie lof vir die vryheidsvegters van die Anglo-Boereoorlog en hul nakomelinge as holle retoriek.

                “Die feit van die saak is dat Suid-Afrikaners moet leef met botsende pleknaamassosiasies, iets wat goed bemiddel is deur die post-1994 praktyk om Pretoria en Tshwane saam te gebruik. Die verdere erodering van die naam Pretoria torring onnodig aan die skikking van 1994 en versterk die indruk dat die ANC versoening gebruik om ondemokratiese aksies te legitimeer.” 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=510
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -