|
||||
Paul Colditz
*Nasionale voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS)
As deel van die FAK se Nasionale Onderwysprojek het Die Vrye Afrikaan een van die deelnemers aan die projek, FEDSAS, in die persoon van sy nasionale voorsitter gevra om die wetlike agtergrond en die praktiese situasie van Afrikaanse skole te skets.
Artikel 6(2) van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996, bepaal soos volg: “Die beheerliggaam van ’n openbare skool kan die taalbeleid van die skool bepaal, behoudens die Grondwet, hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet.” Klaarblyklik lees baie politici en onderwysamptenare ’n sinsnede aan die einde van hierdie subartikel by wat min of meer soos volg lui: “solank dit nie ’n ander taal as Engels is nie.” Die bevoegdheid wat ’n beheerliggaam het om die taalbeleid van ’n skool te bepaal, moet verstaan word teen die agtergrond van ’n magdom ander inligting waarvan die volgende maar enkele voorbeelde is:
· Reeds in die eerste Witskrif oor onderwys in die nuwe staatkundige bedeling wat op 15 Maart 1995 gepubliseer is, is die volgende grondliggende (en korrekte) beginsel aanvaar: “Ouers of voogde dra die primêre verantwoordelikheid vir die onderwys aan hulle kinders, en het die reg om deur die staatsowerhede geraadpleeg te word oor die vorm wat onderwys moet aanneem en om deel te neem aan die beheer daarvan. Ouers het ’n onvervreembare reg op keuse van die vorm van onderwys wat vir hulle kinders die beste is, veral in die vroeë jare van skoolonderwys, ongeag of dit deur die staat voorsien word, onderhewig aan redelike waarborge wat by wet vereis kan word. Die ouers se reg om te kies omvat die keuse van die taal en die kulturele of godsdienstige grondslag van die kind se onderwys, met inagneming van die regte van ander en die groeiende kind se reg om te kies.” (Eie beklemtoning).
· Artikel 6(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, bepaal dat die staat praktiese en daadwerklike maatreëls moet tref om die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense te verhoog en hul gebruik te bevorder. Afrikaans is sonder enige twyfel een van daardie inheemse tale.
· Artikel 6(4) bepaal dat, sonder om afbreuk te doen aan artikel 6(2), alle tale gelykheid van aansien moet geniet en billik behandel moet word.
· Artikel 29(2) van die Grondwet bepaal dat elkeen die fundamentele reg het om onderrig in die amptelike taal of tale van sy/haar keuse te ontvang waar daardie onderwys redelik doenlik is. Die artikel gaan egter verder en bepaal dat die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, moet oorweeg ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker.
· Daar word dikwels verkeerdelik na openbare skole in Suid-Afrika as “staatskole” verwys. Enige skool en in besonder ’n openbare skool is in sy wese ’n orgaan van die burgerlike samelewing en nie ’n staatsinstelling nie. In ’n demokratiese regstaat is dit bloot die funksie van die staat om formele toetse aan te lê om te verseker dat skool inderdaad skool is en nie om formatief aan skole voor te skryf nie. Dat hierdie fundamentele verstaan van die ware aard van ’n skool duidelik ingesien is by die ontstaan van die nuwe staatkundige bedeling, is baie duidelik uit dieselfde Witskrif waarna hierbo verwys is. Die Witskrif bevat naamlik op bladsy 75 die volgende besonder belangrike beginselstelling: “Staatsbetrokkenheid by skoolbeheer moet die minimum wees wat vir regsaanspreeklikheid vereis word, en moet in elk geval op deelnemende bestuur gebaseer word.”
· Die Aanhef tot die Suid-Afrikaanse Skolewet bepaal dat “hierdie land ’n behoefte het aan ’n nuwe nasionale stelsel vir skole wat (onder meer) . . . ons verskeidenheid van kulture en tale sal beskerm en bevorder ...”
Ons Grondwet het ons stewig op pad na ’n oop en demokratiese samelewing, gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, geplaas. Staatsbetrokkenheid en -inmenging in sfere van die openbare lewe buiten die veiligheid en welsyn van sy burgers, word ’n teelaarde vir totalitarisme. As ’n nasie het Suid-Afrikaners doelbewus en doelgerig gekies om uit so ’n stelsel te breek.
In skoolonderwys geld daar in die praktyk egter ’n ander belangrike beginsel: Engels is meer gelyk as al die ander tale (met erkenning aan George Orwell). Aan die byna 28 000 skole in Suid-Afrika word Engels by verreweg die meerderheid as onderrigtaal gebruik, terwyl dit nie naastenby die moedertaal van die meerderheid leerders is nie. Afrikaanse enkelmediumskole verteenwoordig maar ’n breukdeel van die totale aantal skole in Suid-Afrika, maar nogtans word daar onhoudbare druk – dikwels ook op onwettige wyses – op baie van daardie skole geplaas om óf van hul enkelmediumstatus afstand te doen, óf selfs hul taalbeleid geheel en al te laat vaar. Die bekendste voorbeelde hiervan is die die gevalle van die Laerskool Mikro in Kuilsrivier en die skole in Kuruman. Daar is egter talle voorbeelde wat eenvoudig nie die nuusberigte haal nie. Die Hoërskool Nelspruit moes hom byvoorbeeld twee jaar gelede tot die hof wend toe die skoolhoof opdrag gegee is om Engelssprekende leerders tot die skool toe te laat ten spyte van die feit dat die skool reeds meer as 200 leerders meer geakkommodeer het as wat die kapasiteit van die skool toelaat! Tans is Hoërskool Ermelo in die spervuur deurdat hierdie skool, wat een van slegs drie oorblywende Afrikaansenkelmediumskole in Mpumalanga is, gedwing is om leerders wat onderrig in Engels verlang by die skool te akkommodeer. Druk is op skole in Pretoria geplaas om Engelsmediumleerders te akkommodeer met beloftes van voorsiening van bykomende personeel om die ekstra werklading te dra. Sodra die skool toegegee het, word die beloftes eenvoudig verbreek.
Dit is weliswaar so dat daar ’n behoefte in Suid-Afrika is om meertaligheid te bevorder. Enige Suid-Afrikaner wat egter meen dat veeltaligheid bevorder sal word deur in die huidige bedeling twee of meer onderrigtale in skole in te stel, beweeg nie naby die werklikheid waarin skole hulle begewe nie. Parallelmedium- en selfs dubbelmediumonderrig sou dalk nog haalbaar en selfs regverdigbaar wees in omstandighede:
· waar daar ’n sigbare wil bestaan om gelykberegting van tale ’n realiteit te maak en
· waar die middele verskaf word of beskikbaar is om gelykberegting te realiseer. Die feit is egter dat die kommunikasietaal in feitlik alle provinsiale onderwysdepartemente uitsluitlik Engels is, dat klasse (selfs in ’n enkele taal) onhanteerbaar groot is en heeltemal buite internasionaal erkende norme val, dat die opvoerder-leerder-verhouding in Suid-Afrikaanse skole nie voldoende voorsiening maak vir die bykomende las wat op opvoeders geplaas word om in meer as een taal onderrig te verskaf nie, en dat baie opvoeders net eenvoudig nie in staat is om onderrig in ’n tweede taal (wat in baie gevalle in werkliheid die opvoeder se derde taal is) te verskaf nie. Die bykomende finansiële las wat op skole geplaas word om leermateriaal en alle ander middele van kommunikasie in meer as een taal te voorsien, word te midde van toenemende finansiële druk op ouers, net eenvoudig ’n laaste strooi wat die kameel se rug breek. Die staat verskaf eenvoudig nie bykomende finansiering hiervoor nie. Stelselmatig raak die druk net eenvoudig te veel en uiteindelik moet die minderheidstaal swig. Dan word Engels eenvoudig die enigste taal wat gelyk is – en Milner glimlag waarskynlik in sy graf, want die verknegting van Afrika is voltooi.
|