blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique hoofartikel: Pasgemaakte demokrasieë 2006-03-15
Ignacio Ramonet

*Redakteur, Le Monde diplomatique

 

                Hoewel dit dikwels as die beste van alle politieke stelsels uitgebeeld word, was demokrasie nogtans vir ’n lang tyd ’n seldsame regeringsvorm aangesien geen staatsbestel volledig voldoen aan die demokratiese ideaal, wat algehele eerlikheid van maghebbers teenoor swakkeres veronderstel tesaam met ’n ware radikale verwerping van elke vorm van magsmisbruik nie. Ook omdat vyf onontbeerlike kriteria gerespekteer moet word: vrye verkiesings; die bestaan van ’n georganiseerde en vrye politieke opposisie; die wesenlike reg tot politieke afwisseling; die bestaan van ’n regstelsel wat onafhanklik van die politieke mag is en die bestaan van vrye media. Selfs binne hierdie raamwerk het sekere demokratiese state soos Frankryk of die Verenigde Koninkryk vir ’n lang tyd die stemreg van vroue weerhou en was hulle origens koloniale magte wat die regte van die gekoloniseerdes bespotlik gemaak het.

                In weerwil van sulke swakplekke het hierdie regeringspatroon die neiging om te veralgemeen. Aanvanklik op sterk aandrang van die president van die Verenigde State, Woodrow Wilson (1856-1924). Maar veral na die beëindiging van die Koue Oorlog en die verdwyning van die Sowjet-Unie. Die “einde van geskiedenis” is toe aangekondig onder die veronderstelling dat niks in die pad sou staan van die bereiking van twee doelwitte van algehele geluk in alle wêreldlande eendag nie: ’n vryemarkstelsel en ’n verteenwoordigende demokrasie. Doelwitte wat intussen onaantasbare dogmas geword het.

                In die naam van hierdie dogmas het mnr. George W. Bush dit as wettig beskou om in Irak sy toevlug tot geweld te neem. En om sy weermag toestemming te gee om mishandelingspraktyke toe te pas in geheime gevangenisse wat in die buiteland gevestig is. Of om gevangenes buite enige wetlike raamwerk aan onmenslike behandeling te onderwerp in die Guantánamo-strafkamp, soos ’n verslag van die VN se Kommissie vir Menseregte asook ’n resolusie van die Europese Parlement dit onlangs veroordeel het.

                Ongeag van sulke ernstige oortredings huiwer die Verenigde State nie om homself as planetêre instansie vir die bekragtiging van demokrasie te vestig nie. Washington het die gewoonte aangeleer om sy teenstaanders sleg te maak deur hulle outomaties as “niedemokraties” of as “paria-state” te beskryf, of as “bastions van tirannie”. Met die organiseer van “vrye verkiesings” as enigste voorwaarde om aan hierdie bedenklike identifisering te ontkom.

                Maar selfs in hierdie geval hang alles van die resultate af. Soos aangetoon in die geval van Venezuela waar president Hugo Chávez sedert 1998 verskeie kere herkies is onder demokratiese omstandighede wat deur internasionale waarnemers gewaarborg is. Dit help niks. Washington gaan voort om mnr. Chavez daarvan te beskuldig dat hy ’n “gevaar vir demokrasie is” en het sover gegaan om in 2002 ’n staatsgreep te orkestreer teen die einste Venezuelaanse president wat homself eerskomende Desember weereens aan die stembus gaan onderwerp ...

                Drie ander voorbeelde – in Iran, in Palestina en in Haïti – wys dat dit nie genoeg is om demokraties verkies te word nie. In Iran het almal die verkiesing van Junie 2005 eersteklas gevind: massiewe deelname van kiesers, pluraliteit en verskeidenheid van kandidate (binne die raamwerk van amptelike Islamisme), en veral mnr. Ali-Akbar Hachemi Rafsandjani se briljante veldtog, die Weste se gunsteling en verwagte oorwinnaar. Niemand het in daardie stadium die “kernbedreiging” aangeroer nie. Alles het brutaal verander na die oorwinning van mnr. Mahmoed Ahmadinejad (wie se verklarings aangaande Israel onaanvaarbaar is). En nou aanskou ons ’n diabolisering van Iran.

                Ofskoon Teheran ’n ondertekenaar van die Nieproliferasieverdrag is en ontken dat hy ’n kernbom wil hê, het die Franse Minister van Buitelandse Sake dan nie onlangs vir Iran daarvan beskuldig dat hy ’n “onwettige militêre kernprogram (1)” bedryf nie? En terwyl sy reeds die onlangse verkiesing vergeet, eis mev. Condoleezza Rice, Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, nie nou 75 miljoen dollar van die Kongres om die “bevordering van demokrasie” in Iran te finansier nie?

                Dieselfde situasie, of byna, geld in Palestina (lees die artikel van George Corm op p.1) waar sowel die Verenigde State as die Europese Unie, nadat hulle ’n “ware demokratiese verkiesing” geëis het wat deur talle buitelandse waarnemers gemonitor is, nou weier om die uitslag te aanvaar onder die voorwendsel dat die oorwinnaar, die Islamo-nasionalistiese beweging, Hamas (in die verlede die bewerker van verfoeilike terroriste-aanvalle teen Israeliese burgerlikes), nie byval vind nie.

Laastens was dit merkbaar tydens die presidensiële verkiesing van die afgelope 7de Februarie in Haïti hoe alles gedoen is om die oorwinning van René Préval te voorkom – wat oplaas wel verkies is – en vir wie die “internasionale gemeenskap” hoegenaamd nie wou hê nie omrede sy bande met die voormalige president, Jean-Bertrand Aristide, wat op sy beurt demokraties verkies en in 2004 omvergegooi is.

                 “Demokrasie”, het Winston Churchill gesê, “is die slegste regeringstelsel, behalwe al die ander.” Wat veral vandag hinder, is om nie die uitslag van ’n verkiesing vooraf te kan bepaal nie. Wanneer sommiges daarvan sou hou om pasgemaakte demokrasieë te kan vestig. Met ’n resultaat wat gewaarborg kan word.

_________

(1) Le Monde, 16 Februarie 2006.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=508
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -