|
||||
Hans Pienaar
Afrikaners, het iemand geskryf, het die mag prysgegee, want hulle wou in die nuwe waterfronte wat destyds hoog mode was, gaan inkopies doen en rugby en krieket kyk op satelliet-TV. Hulle wou hulleself ten volle globaliseer, bevry van die blokkasies direk en indirek deur apartheid veroorsaak. Vandag is die skoen aan die ander voet. Met globalisme onder beleg, is daar ’n groeiende vraag na allerlei plaaslik geöriënteerde alternatiewe dwarsdeur die wêreld. In Suid-Amerika het beide regse en linkse regerings die dogmas van globalisme óf eenvoudig begin ignoreer, óf die stryd aangesê. Argentinië se Peronistiese regering het sommer sy skuld afgeskryf. Bolivië se nuwe president is ’n koka-boer, en verwerp die VSA se multimiljoendollar- militêre aanslag regoor Suid-Amerika daarteen. Local is lekker, sê ons hier te lande. Maar dié slagspreuk verraai iets soortgelyk aan die inherente spanning in die internasionale beweging teen globalisme wat in die laat 1990’s ontspring het. Lekker is ’n lekker genoeg woord wat lekker globaal in Suid-Afrika gebruik word, maar om die ironiese kinkel te verkry wat dit so doeltreffend as ’n slagspreuk of gesegde aanwend, moet daar ’n bietjie van die wêreldtaal Engels aanwesig wees. Die internet is die ruggraat of ondergrond of uitspansel van beide die ekonomiese ineenkrimping wat globalisme aandryf en die globale geregtigheids- of alterglobaliseringsbeweging. Hierdie inherente spanning kom op allerlei maniere na vore, soos die feit dat die dissidente nodig het om kerngebeurtenisse van die globalisme – soos vergaderings van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) of die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) – te gebruik. Of dat ’n bietjie gekalibreerde geweld – met selfs ’n sterfte of twee – soos in Seattle of Cancun gekondoneer is om die aandag op globale media soos CNN te kry. Wat dit beteken om die media regtig doeltreffend te gebruik, en hoe flou die beweging eintlik op die gebied van publisiteit was, is grusaam gedemonstreer deur rebelle teen globalisme vanuit ’n heel ander bron: die Islamistiese selfmoordenaars van 11 September. ’n Ander spanning lê tussen die hiperdemokratiese aard van die beweging en die nodigheid van organisasie om hond haaraf te maak in enige openbare teater. Die dominante koalisie rondom wêreldkapitaal, met sy klem op bestuursdoeltreffendheid, glo die wêreld kan deur ’n handjievol mense met die regte programme bestuur word. Hiervoor is die Wêreld Ekonomiese Forum geloods deur die Hongaarse spekulantmiljoenêr en globale vredesbefondser, George Soros. Dis die afgelope 14 jaar elke jaar te Davos, Switserland gehou, waar dit gou die uithangplek van die rykes en magtiges geword het. Dis waar Sharon Kruisbeen Stone beloftes (“pledges”) van miljoene binne vyftien minute uit ryk omies van alle tale en stande kon kry. Die demokratiese teenwoord van die Maatskaplike Wêreldforum (MWF) was dat die ganse mensdom betrek moet word, al moet hulle dan almal opdaag vir oorlegpleging. Sedert 2001 is die MWF elke jaar gehou in Porto Alegre, die stad in Brasilië met die baanbreker munisipale parlement waardeur die hele korpus van gewone werkende mense hulle sake regstreeks beheer. Die MWF trek nou al vir jare die meeste groot helde aan wat eksperimenteer met “derdeweg”-modelle van regering. Maar dit was hulle wat die jongste tyd hul ongeduld met die beweging begin toon het, dat dit dalk net te demokraties en daarom futloos is. President Hugo Chavez van Venezuela het vanjaar gepraat van die MWF as ’n geleentheid vir “revolusionêre toerisme” en pront gevra dat ’n globale politieke party daaruit moet ontstaan, anders is dit net ’n mors van tyd. Ander gereelde bywoners van die MWF kla oor ’n probleem wat eintlik in die ander kamp hoort – dat alles net te oorweldigend is. Daar is net te veel slim mense, broodnodige kennis, visitekaartjies, lang telefoonnommers, brosjures, borsspelde soos op ’n militêre veteraan se jas … In 2004 het bykans honderdduisend mense in Porto Alegre opgedaag, waarna dit na Indië verplaas is. Mumbai het ook reuseskares getrek, vandaar die onderverdeling in drie bene in 2006. Een van die bene het die MWF vir die eerste keer na Afrika gebring, wat vir die meeste groot geeste van die MWF verleentheidswekkend onbekend was. In Bamako is al bogenoemde spanninge treffend gedemonstreer. Aanvanklik sou Bamako saamval met Caracas en Karachi. Maar toe is daar ’n aardbewing in Pakistan, en is daar wyslik besluit dat die tegnologiese verbindings met Venezuela via satelliet, videoskakel en internet dalk net te tegnologies vir Bamako is. Waarop oornag besluit is, ’n week voor die forum, dat hulle die een na die ander gehou sou word. Met die eerste groot gebeurtenis was daar reeds probleme – met drie kamele. Hulle is deur die Free Trade Campaign gehuur om deel te neem aan die openingsoptog. Maar toe weier verkeersmanne dat hulle die Modibo Keita stadion – vernoem na die land se eerste president – binnegaan. Twee Keniaanse vroue het gekla dis onvanpas dat Oxfam kamele gebruik. Iets te doen met hongersnood onder osse? Beswaar teen die uitbeelding van vroue as beeste met lelike hompe? Dit het nie gehelp dat die hipotetiese Engelse puns nie deur die Franstalige amptenare gesnap kon word nie. Of dat die Keniaanse vroue maar liefs verdwyn het toe hulle sien wat hulle aangevang het nie. Of dat Oxfam niemand kon oortuig dit was in die eerste plek nie hulle kamele nie. Omdat dit die eerste keer was dat baie anti- of alterglobaliste met Afrikane te doen gekry het, was dit amper komieklik om te sien hoe die plaaslike organiseerders jakkalsdraaie om hulle gooi. Die eerste perskonferensie was ’n paar uur vertraag. Waartydens almal verseker is dat dieselfde nie met die druk program oor vier dae sal gebeur nie. Wat heeltemal onmoontlik gelyk het, want die program was nie eens beskikbaar nie. Mamadou Goita, koördineerder van die MWF Mali, is na vore gestoot as segsman. Heeltemal skaamteloos het hy verduidelik hoe hy, gebuk onder die gewone juk van verbreekte beloftes van ongenoemde donateurs, maar moes terugval op "awareness raising". Aanvanklik is beplan om ’n "karavaan" te reël om oral in Wes-Afrika rond te reis en mense in te lig oor die MWF. Maar weens gebrek aan geld het die karavaan nooit sy agterplaas verlaat nie. Hy moes sy werk per quatre-quatre (4x4) of vliegtuig doen. Hoe hierdie karavaan presies daar uitgesien het, kon ek nie by hom of enigiemand anders uitvind nie. Aan die einde van die MWF is ’n tweede perskonferensie gehou. Ek het eers ’n lekker middagslapie in my vyfsterhotel gaan vang. En ek had reg: dit was ’n volle drie uur laat. Die afsluitingsfunksie wat daarop moes volg, het ineengevloei met die mediageleentheid. Wat natuurlik sy meriete het – wie wil nou na die soveelste groep swakbetaalde grasrompdansers sit en kyk? Een van die beginsels waarop die MWF funksioneer, is dat mense rolle omruil. Joernaliste word sprekers, fotograwe word seremoniemeesters, studente word boekbemarkers. Al wat tel is die "anti"- of "alter"-samehorigheidsgevoel. Goita het dus kalm verklaar dat hulle nie, ten spyte van die lang onderbreking, vertalers kon organiseer nie, en dat hy daarom self die vertalings van die vrae en antwoorde sou doen. Maar toe raak hy aan die gesels met José Bové, wat soos ’n karavaanverkoper uit Nelspruit lyk, en vergeet om te vertaal. Waarop hy eenvoudig iemand in die gehoor vra om ’n organiseerder se lang jeremiade oor die jeug te tolk. Verleentheid! Niemand het geluister nie. Einde ten laaste het ’n TV-meisie haar kamera afgeskakel en doodluiters ’n paar minute uit haar duim gesuig. Dit was nie toevallig dat niemand enigiets oor die jeug wou hoor nie. Een van die "areas", vernoem na die James Dean van Wes-Afrika, Burkina Faso se rebel-soldaat Thomas Sankara, het gegaan oor die einste jeug, vir wie daar ’n paar grashutte in solidariteit met tradisionalisme om die stadion opgeslaan is. Een Suid-Afrikaanse aktivis het al haar aktiwiteite vir die jeugkamp beplan. Op die einde het net mooi niks – niks! – daar gebeur nie. Sy, of haar organisasie dan, het letterlik tienduisende rande verloor. Maar het sy haar beswaar in die openbaar uitgespreek? Natuurlik nie. ’n Mens doen dit nie teenoor die ewig benadeeldes nie. By die universiteit het dit effens beter gegaan, maar hier was die geriewe – watter onvanpaste naam – werklik skokkend. Later, tydens ’n bespreking, het ’n student vertel hoe hulle elke dag eers kos moet gaan bedel of werkies in ruil daarvoor moet doen voor hulle by hul boeke kan uitkom. Korrupsie is uitgewys as die sondebok, maar selfs dié wat uiteindelik iets geleer kon kry, het gely aan vervreemding in ’n erge graad; hulle sukkel om die Eurosentriese, korporatiefgerigte studiemateriaal by hul werklikhede uit te bring. In hierdie sin kon die Bamako-oefening nie anders as om te slaag nie. Baie van die hoofsaaklik Franse studente het self op ’n raap-en-skraap-basis daar aangekom, maar hulle was nogtans verbyster deur die materiële kloof tussen hulle en hul medestudente. Die ander groot bron van vrugbaarheid is ironies gedemonstreer deur die verwarring oor die Britse aktrise Susan George wat teenwoordig sou wees … die MWF se Sharon Stone. Nie net was dit nie duidelik waarom die organiseerders ’n “celebrity” nodig gehad het nie, en dan Brits ook nog, maar die Susan George op die program het net haar naam gemeen gehad, en niks anders nie. Die “ander” Susan George was taamlik gebelg toe ek probeer gekskeer met haar nuwe status. As Amerikaansgebore en verfransde akademikus is sy op redelik gevorderde ouderdom welbekend in Frankryk, maar as skrywer van die boek Another World Is Possible, If... Die titel van George se boek, en ook haar visie, gaan na die kern van die verskil tussen Davos en die MWF. Dis ’n slagspreuk wat die eerste keer gebruik is deur onderkommandant Marcos tydens die Zapatiste-opstand in Meksiko. Davos is gebou op die amper-religieuse beginsel van die ekonomistiese benadering tot wêreldprobleme – dat die oorname van die wêreld deur globale finanskapitaal onvermydelik en eintlik gewens is. Die MWF het ontstaan uit die herontdekking van nie-ekonomistiese maatskaplike vorme op verskillende vlakke, van die kleinplaaslike soos Bové se anti-McDonald's Roquefort-kaas komitees tot dié van groot regerings soos Brasilië s'n. Omdat daar ’n instinkmatige begrip was vir die fatale swakplek van enige vorm van organisasie – dat dit oorgeneem kon word deur kapitaal, soos Che Guevara se beeld inderdaad oorgeneem is deur vodka- en sneesdoekievervaardigers – was die klem op hierdie wydlopigheid beide tot voordeel en nadeel van die breë beweging. Selfs in Bamako, met sy tipiese Afrika-gebreke, was daar genoeg getuienis van serendipiteit op sy beste. Daar is geen beter kweekbedding vir laterale denke as ’n gebrek aan organisasie onder ’n duisend of twee van die beste breine ter wêreld nie. (Om doelbewus ’n lae skatting te kies: daar was sowat 20 000 mense in totaal.) Alles was nie net chaos nie. Enkele van die lokale is wel deur spanne uiters bekwame mense beheer. Vertalings deur vrywilligers, soms via tegnologie wat aan skoolstoele geheg is, was op plekke op dieselfde vlak van gehalte as in die Europese Unie. En sommige sessies was baanbrekend. Onder hulle moet sekerlik die debat ressorteer oor SA imperialisme tydens die bekendstelling van ’n boekie geborg deur die Jubilee-organisasie en die Rosa Luxemburg Stigting. Die grondliggende tese is dat die koalisie tussen SA kapitaal met sy wortels nog in die Britse empire, en Afrika-kontinentaliste soos Thabo Mbeki, meganismes soos die Afrika-Unie gebruik as geleidingskanale vir globale kapitaal. Dit het die gemoedere onder deelnemers uit alle uithoeke van die wêreld hoog laat loop en groot onthutsing veroorsaak. Wat egter boekdele gespreek en vele oë laat oopgaan het, was die een emosionele nie-SA Afrikaan na die ander wat opgestaan het om hul epifaniese gewaarwording te lug, dat SA inderdaad in hulle lande optree soos ’n globalistiese mag soortgelyk aan Amerika. ’n Ander gunsteling van my was ’n groep Engelssprekende Wes-Afrikane (uit Nigerië, Ghana, Gambië, Sierra Leone en selfs Liberië) wat ’n onaangekondigde en impromptu werkswinkel oor munisipale begrotings in die wrak van ’n universiteitsgebou gehou het. Hier het iets werklik nuttigs gebeur: ’n Groep aktiviste wat metodes en truuks uitruil om hul gekose verteenwoordigers te dwing om iets so vanselfsprekends te doen as om plaaslike begrotings openbaar te maak. Dit was baie duidelik dat daar etlike dosyne ander sulke “klein”, intense vergaderings was waarvan niemand behalwe die deelnemers ooit sal weet nie. ’n Ander sterkpunt van die MWF is dat globale monitering en daaruit voortvloeiende sensuur of magsknoeiery onmoontlik is Of daar was die regskenner John Christensen, ’n boorling van Jersey, wat van kleinsaf geboei is deur die feit dat sy eiland, so idillies arm, een van die wêreld se grootste skatkamers is. Hy en sy span van die Tax Justice Network wil ’n Afrika-netwerk van regslui en takskenners skep om Afrika se plundering deur transnasionale korporasies te probeer hokslaan. As die geheelbeeld maar ’n floue is, so ietwat bloedarm en dikwels futloos, was dit hierdie paar intense sessies en andere – heelwat ander deelnemers het Sjina se bydrae by die landbou-area uitgesonder – wat die moeilike tog na Bamako die moeite werd gemaak het. Moet ’n mens volgende jaar na Nairobi probeer gaan? Beslis, en dis nie net dat Afrikaanse mense veel sal hê om by te dra nie, dis dat hulle gaan ontdek dat daar gebiede is vir bydrae waarvan hulle nie vandag geweet het nie.
|