blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Oor die Moslemspotprentkwessie skryf Naas Ferreira van Elspark 2006-03-15

Dit wil vir my voorkom asof die protesreaksie van Moslems wêreldwyd en nou ook in Suid Afrika pure opportunisme is om die boodskap van Islam in die kele van die ‘infidele’ (nie-Moslems) af te forseer. Soos meeste ander godsdienste, insluitend die Christendom, is Islam dikwels met hulle ‘heilige geskrifte’, in dié geval die Koran, onder die een arm en die swaard in die ander hand versprei. 

            Die rede hiervoor is eenvoudig: alle godsdienste funksioneer op die pre-rasionele vlak van mitologie. Op die mitologiese bewussynsvlak word die ‘Waarhede’ van ‘my’ groep verhewe bo enige ander waarheid van ‘jou’ godsdiens. Siende dat niks op die mitologiese vlak wetenskaplik bewys kan word nie, maar slegs geglo moet word, en dus nie rasioneel beredeneer kan word nie, is dit die plig van elke volgeling om ten alle koste die dogma te verdedig. 

            Niemand kan wetenskaplik bewys dat Jesus die Seun van God is nie, en niemand kan wetenskaplik bewys dat die profeet Mohammed die Koran direk van Allah ontvang het nie. Dit kan alleenlik geglo word. Kritiek teen enige leerstelling is dus kettery en die kerke het vroeër ketters op die brandstapel van enige dwaallering ‘gereinig’. Oor ʼn Moslemketter word ʼn ‘fatwa’ of die doodstraf uitgespreek.

            Dis net hier waar die drol in die drinkwater beland. Tydens die Middeleeue was Europa onder die gesag en mag van die Katolieke Kerk. Alle Europeërs was veronderstel om Christene te wees. Indien ‘Christene’ soos Galileo of Copernicus kon bewys dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie en dus nie volgens die leerstellings van die Kerk nie, kon hulle dadelik geëkskommunikeer word. Die ‘fatwa’ wat oor Salman Rushdie uitgespreek is na die publikasie van Satanic Verses, was nog in ʼn mate geregverdig; Rushdie was ʼn Moslem. Die aanvalle op die Deense koerant is nie volgens Islamitiese wette nie omdat die redakteur nie ʼn Moslem is nie en dus nie onder die verbod op die afbeeldings maak van Mohammed nie staan nie.

            Denemarke of die Weste is ook nie Islamitiese state nie, en hoef dus nie wette van Islam gehoorsaam nie. Tydens die Apartheidsjare moes baie mense, Moslems ingesluit, teen wil en dank Christelike reëls nakom omdat die destydse regering Christelike beginsels as die norm voorgehou het. Dit is waarteen baie mense tydens die struggle baklei het. Nou verwag Moslems dat Suid Afrikaners en Westerlinge van alle oortuigings ʼn Christelike dogma met ʼn Islamitiese dogma moet vervang. Dit kan tog nie. Hoe kan enigiemand verwag dat infidele die reëls van Islam moet gehoorsaam sonder die oortuiging of geloof?

            Daarom is die stryd nie tussen die Weste en Islam nie, of oor vryheid van spraak en godsdienstige sensitiwiteit nie. Die struggle is nou tussen twee bewussynsvlakke, die rasionele en die mitologiese. Die probleem is dat diegene op die mitologiese vlak dink dat hulle altyd reg is en alle ander verkeerd. Die gevaar is dat pre-rasionele fundamentalistiese groepe toegang tot rasionele tegnologiese kennis het. Dit beteken dat George Bush en die President van Irak wapens van massavernietiging kan gebruik om hulle eng mitologiese dogmas te verdedig.

            Die verbod op die maak van afbeeldings van die profeet Mohammed is ingestel om te verhinder dat Moslems Mohammed in plaas van Allah aanbid. Tog is dit juis wat nou gebeur. Die geweld en woede teen die spotprente lyk vir my baie na afgodery. Hoekom protesteer Moslems so gewelddadig en aanhoudend indien Mohammed nie hulle god geword het nie? Is die spotprente van ʼn bom op Mohammed se kop nie die uitdrukking van die beeld wat Moslems van Mohammed die wêreld indra nie? Is die geweldadige protes nie juis ʼn bevestiging van die spotprente nie?  

            Mohammed was ʼn verligte mens wat die lyding van sy mense raakgesien het en onder leiding van die Gees die Arabiere ʼn godsdiens gegee het wat meer sin vir hulle gemaak het as dié van die Christene of die Jode. Nêrens maak Mohammed enige aanspraak op goddelikheid nie. Hoekom tree Moslems nou op asof Allah te nagekom is?  

            Die wese van Islam en van alle godsdienste is veronderstel om die liefde te wees. Die Moslemgroet “Salaam halekum”, is veronderstel om ʼn vredesgroet te wees maar dit het in krete van doodsdreigemente verander. Enige god wat sulke optredes van sy volgelinge vereis is ʼn mensgemaakte konstruksie met politieke bedoelings. 

                Dit is tyd dat godsdienstige mense die verkondiging van dogmas van haat en vernietiging bevraagteken. Die tyd vir die Weste om te besin oor hulle universele pluralistiese lamsakkigheid het ook aangebreek.

- 1. U beroep u nogal gemaklik op die mite van rasionele denke 2. U speel wetenskap en geloof op onvrugbare wyse teen mekaar af, terwyl hulle met verskillende soorte waarhede werk waarsonder die mens nie kan nie 3. So, koerantredakteurs ly omdat hulle nie onder Islamitiese wette staan nie, maar intussen kan die Weste oor agt dekades al met volkome minagting vir die wet maak en breek soos hy wil in die Midde-Ooste?4. Implisiet in u argument oor ‘twee bewussynsvlakke’ is darem ´n baie gemaklike aanname oor die meerderwaardigheid van die ‘rasionele’ Weste teenoor die ‘mitologiese’ Islam. Lees gerus elders in hierdie uitgawe oor wat een van die groot Westerse mites van die oomblik, die neoliberale groeimite, tans aan die wêreld en Suid-Afrika doen 5. Haat is nie eie aan religie, politiek of wetenskap nie, maar aan verknogtheid oor hierdie sake – Red.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=501
Artikel nagegaan:
    -