blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Oor ons hoofartikel van 17 Februarie oor plaaslike regering skryf Willie Spies, LP van die Vryheidsfront+ uit Pretoria 2006-03-15

'n Ietwat ongegronde stelling word gemaak dat die VF+ met ’n slagspreuk soos “Meer as net opposisie” die politiek verlaag tot niks meer nie as die verkoop van tandepasta of waspoeier. Ek vind die sprong na die betrokke gevolgtrekking moeilik om te volg. Nêrens in die artikel word melding gemaak dat die skrywer die slagspreuk (wat eintlik beter beskryf kan word as verkiesingstema) binne die konteks van die betrokke party se verkiesingsmanifes probeer vertolk het, of in verband probeer bring het met die party se werkswyse en/of suksesse van die laaste tyd nie. Ek haal graag vir lesers die eerste paar paragrawe uit die VF+ se verkiesingsmanifes aan: “Die VF+ pak die verkiesing aan onder die tema, ‘méér as net opposisie’. In praktyk beteken dit dat die VF+ nie bloot net 'n tradisionele opposisierol wil speel nie, maar ook oplossingsgerig wil werk om die demokrasie te verdiep deur vir sy kiesersmark 'n beter bedeling daar te stel en te beding wat betref werk, veiligheid, politieke inspraak en 'n gesonde gemeenskapslewe...  ...Die VF Plus sal 'n bedeling wat volhoubare en selfstandige gemeenskappe moontlik maak, bevorder. Sulke plaaslike gemeenskappe moet as boustene van 'n breër samelewing in staat gestel word om na hulle eie welstand om te sien.  Die beginsel van regering so naby as moontlik aan die gemeenskappe self, moet bevorder word. Daarom behoort die bestaande stelsel van megastede en plaaslike munisipaliteite wat uit vier of vyf dorpe bestaan, verander te word om plaaslike regering terug te bring na plaaslike gemeenskappe.” Ek nooi lesers uit om met van die VF+ se kandidate vir die plaaslike verkiesing in Pretoria te kom kennis maak. Daar is byvoorbeeld Marthie Richter wat reeds 'n bekende gesig is in Faerie Glen weens haar aktivisme oor omgewingskwessies. Daar is Pieter Smith en Peet Horn wat elke Woensdag vir die arm mense van Danville kos van Woolworths af aanry. Of Peet Wessels wat as blinde aktivis en sakeman vir ander gesiggestremdes help werk voorsien. Of Cornelius Jansen van Rensburg wat as Tukkie-voorsitter vir die eerste keer in dekades daarin kon slaag om die Tukkie-massa te monster om vir Afrikaans te betoog... Almal mense wat reeds besig is om die samelewing van onder af te verander. Ek dink Takis Fotopoulos sou heel tuis tussen dié spannetjie gevoel het, dalk selfs vir een van hulle gaan stem het. En as dit 'n tandepasta-advertensie is, is Die Vrye Afrikaan 'n poniekoerant.

- Dankie vir die konteks en inligting oor van u kandidate wat u verskaf. Op die oog af het dié kandidate inderdaad ´n bewese gemeenskapsrekord, wat natuurlik nie noodwendig uit hulle betrokkenheid by die VF+ volg nie. Nogtans is dit verrassend om te sien dat u party aan hulle kiesers as sowel ´n gemeenskap as ´n mark dink, ´n wedersydse uitsluiting van die eerste water. Miskien lê dieselfde ideologiese verwarring ten grondslag van die onlangse onbesonne oproep om ´n referendum oor Pretoria se naam, oftewel op goeie ou meerderheidspolitiek, terwyl u party hom in die minderheidspolitiek bevind! – Red.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=502
Artikel nagegaan:
    -