blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Betogings kom; Moslems inspireer Afrikaners 2006-03-15
Kleinjan Schietekat

Die Vrypostige Afrikaan kan vandag onthul dat die onlangse wêreldwye betogings teen die Moslemspotprente ’n onverwagse wending onder Afrikaners geneem het. Volgens inligting wat deur ’n lid van die polisie se intelligensie-eenheid aan Die Vrypostige Afrikaan gegee is, is daar sprake van ’n uiteenlopende groep Afrikaners wat eersdaags landwye betogings beplan om beswaar te maak teen die feit dat Afrikaners in die media nou feitlik slegs as cool en sexy uitgebeeld word. By nadere ondersoek is hierdie inligting bevestig.

                Mnr. Herklaas de Jager (37)* (*alle name in hierdie berig is verander om die betrokke individue te beskerm), ’n boer van die Hazyview-omgewing in die voormalige Oos-Transvaal, nou Mpumalanga, het aan ons ’n onderhoud toegestaan op die Hazyview-gholfbaan. “Kyk man, ek is nou gatvol om te sien dat net sepie-akteurs en sportsterre die media haal. Internasionaal lyk dit ook nie veel beter nie: die keuse is tussen Charlize Theron en Ernie Els. Ek het niks teen dié mense nie, maar magtag, wat weet Afrikaners nou van gholf?! Kyk net hoe lyk dit hier op ons gholfbaan,” beduie De Jager in die rigting van ’n paar rooibokke wat op die skoonveld staan en wei. Verder terug, op die naaste setperk, baljaar ’n vlakvarkgesin. “Dìs die realiteit van gholf onder ons mense, man! Die donnerse koerante en TV laat dit lyk asof ons almal ’n voorgee van 0 het. Praat van voorgee!”

                Me. Koeks Struwig (52), ’n aanvallige moeder van drie van Roodepoort, sê sy was self vir etlike jare die slagoffer van dié vals beeld. “Reeds toe my kinders kleuters was, het ek geglo dis nodig om hulle met ’n 4X4 rond te ry. En tussendeur was ek elke dag in ’n winkelsentrum. Ek het geoefen, ek het gekoop, ek het alles gegee om soos die prentjie te lyk. Ek het gedink retail therapy is gesond, maar nou is ek in terapie om van die koopdrang los te kom. Ek het oorgeskakel na ’n Toyota Corolla en ons drink nie meer wyn wat meer as R40 ’n bottel kos nie. Wat gaan aan met hierdie wynskrywers wat dink dis cool om wyn van meer as R60 ’n bottel te drink?”

                Dr. Stefan Wessels, ’n dosent in maatskaplike sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch wat in identiteitsvraagstukke spesialiseer, het aan Die Vrypostige Afrikaan gesê dat Afrikaners se poging om cool en sexy te wees beskryf kan word as “transformasie van ’n spesiale tipe” (TST). Wessels skryf TST toe aan die wydlopende persepsie van toekomstige benadeeldheid wat vandag onder Afrikaners voorkom. “Dit is ’n feit dat die regstelling van historiese benadeeldheid oor die algemeen lei tot toekomstige benadeeldheid. Die sug om cool en sexy te wees is eintlik niks anders nie as ’n variasie op die tema om ’n mooi lyk te wees, behalwe dat die mense mooi, lewende dooies wil wees. Dit is ’n poging om aan die geskiedenis te ontsnap. Daarom kan die moontlikheid van protes teen TST ’n baie belangrike wending wees. Die feit dat die mense wat hierdie betogings wil organiseer inspirasie uit die Moslemwêreld put, bewys dat Afrikaners ook nie meer noodwendig na die Weste kyk vir inspirasie nie. Wat my egter baie bekommer, is al die warhoofde wat vandag in die Bosveld ronddwaal omdat hulle eenvoudig nie daarin slaag om cool en sexy te word nie. Hierdie mense weet nie van beter nie, en sulke betogings kan hulle lewens red.”

                ’n Voormalige Afrikaner en dosent in politieke filosofie verbonde aan die Kantoor van die Staatspresident, prof. Hans Swartlief, het sy ontsteltenis met die beplande betogings uitgespreek. Swartlief, wat bande aan die einde van die 1980’s oor ´n bottel Blue Label Whisky met die president gesmee het, sê hy kan nie verstaan dat Afrikaners vandag nog oor iets wil betoog nie. “Die Afrikaner is ’n konstruk. Daar is eintlik nie so iets nie. Die koms van demokrasie in Suid-Afrika het dit finaal bewys. Ek kan ook nie verstaan wat transformasie van ’n spesiale tipe kan beteken nie, tensy dit gaan oor Afrikaners wat my pad stap, dit wil sê wat aanvaar dat hulle eintlik nie bestaan nie. Dit is dan ’n geval van transformasie van niks tot niks. Dit is nou wel ’n logiese onmoontlikheid, maar dit bly nie minder ontroerend nie. En dit doen so baie vir goeie gesindheid in ons pragtige land. As mense net wil verstaan dat ons almal uiteindelik tot die hoë klas kan behoort. Blue Label vir almal, om dit nou so te stel.” 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=500
Artikel nagegaan: Nee.
Indien die artikel se inhoud hierbo nie vertoon nie, sal dit mettertyd bygevoeg word wanneer die artikel nagegaan word.

    -