|
|||
Georges Corm * Skrywer van onder meer La question religieuse au XXI e siècle, Parys: La Découverte, 2006, en Le Proche-Orient éclaté. 1956-2006, Parys: Gallimard, 2005. Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected]
Dit is vreemd dat politieke waarnemers wêreldwyd verras is deur Hamas se oorweldigende sukses in die Palestynse parlementsverkiesing van Januarie 2006. En tog, met ’n tikkie gesonde verstand, sou enigiemand hierdie oorwinning kon voorspel het.
Die dade wat op Palestynse grondgebied gepleeg word – gebiede wat Israel sedert 1967 beset – is ’n skreiende skande in die lig van internasionale regte en die beginsels van menslikheid. Die inwoners van Oos-Timor het hulle onafhanklikheid van Indonesië verkry, en internasionale aksies het daarop gefokus om die betrokke bevolkings van Bosnië en Kosovo te beskerm en hulle voorlopig outonoom te maak as ’n eerste stap na uiteindelike onafhanklikheid. Terselfdertyd is die Palestyne se grondgebied jaar na jaar, bietjie vir bietjie, weggevreet deur die uitbreiding van nedersettings aan die Wesoewer en, meer onlangs, deur die onwettige oprigting van ’n muur bestem om ’n enorme kollektiewe tronk te skep vir die inwoners van hierdie gebied. In Gasa, waaruit die Israeliese weermag en ongeveer 8 000 setlaars met gejuig en trompetgeskal onttrek het, is veiligheid steeds ontwykend; die Israeliese lugaanvalle en bombardemente veroorsaak steeds daagliks burgerlike ongevalle. Niemand waag dit meer om die vredesonderhandelings in Madrid in Oktober 1991, of die Oslo-akkoord van 1993 tussen die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) en die Staat van Israel te noem nie. Dieselfde arrogansie gee steeds voor dat daar sprake is van ’n “vredesproses”, vasgelê deur die Amerikaanse “Padkaart” en goedgekeur deur die Europese Unie, die Verenigde Nasies en Rusland, terwyl die dokument eintlik vergeel en vergete is. Dit is besonder skokkend om te hoor hoe kommentators die Hamas-beweging se oorwinning in die verkiesing veroordeel as ’n moontlike struikelblok in die vredesproses – ’n vredesproses wat in werklikheid nie bestaan nie. Hoe kon Hamas nié die verkiesings wen nie? Vir ’n geruime tyd sweer die Palestynse Owerheid – hoofsaaklik gelei deur Fatah, histories ’n hoofkomponent van die PBO – tevergeefs hierdie handveste af en maak alle moontlike toegewings aan Israel en die internasionale gemeenskap wat hom ondersteun: erkenning van die Staat van Israel sonder wedersydse erkenning van die reg van Palestyne in dié Staat; ’n handves wat in onbruik verval het; verwerping van gewapende weerstand teen die besetting en die de facto-aanvaarding van kolonisering en Israeliese uitbreiding. Met die hervatting van die Intifada in September 2000, teweeggebring deur die dooiepunt wat die PBO bereik het weens die onversoenlikheid van Israel, het die Israliese weermag die groter gedeelte van Gasa en die Wesoewer herbeset en die verwoesting van ’n groot gedeelte van die Palestynse Owerheid se infrastruktuur veroorsaak. Hierdie aksies is albei hoofsaaklik deur die Europese Unie gefinansier, wat ook verantwoordelik is vir die dramatiese val in lewenstandaard en die plasing van ’n menigte militêre padblokkades wat dit vir die Palestyne al hoe moeiliker maak om rond te beweeg binne dit wat van hulle grondgebied oorbly. Oorgelewer aan hul lot, het die Palestyne ’n dubbele evolusie ondergaan: aan die een kant vergaan die burokrasie van die PBO in die ondoeltreffendheid en korrupsie wat deur alle Westerse regerings veroordeel is en waarvan alle skuld op die leier, Yasser Arafat, gepak is. Arafat het so te sê onder politieke kwarantyn (dikwels fisiek) geleef in sy hoofkwartiere in Ramallah. Aan die ander kant het Hamas voortgegaan met die gewapende stryd, wat hulle deur middel van selfmoordbomaanvalle tot in die kern van Israeliese stede dra, en sodoende die fokus van Israel se oordrewe politieke wraakaanvalle geword wat veral in Gasa vele burgerlike slagoffers tot gevolg gehad het. Yasser Arafat, en later Mahmoed Abbas (Aboe Mazen) wat na sy dood verkies is tot president van die Palestynse Owerheid, is voortdurend deur Israel, die Verenigde State en die Europese Unie gedwing om Hamas onder bedwang te bring, insluitende met geweld. Die spanning tussen Fatah en Hamas het dikwels vererger, en die militante is deur die Owerheid opgesluit, maar die Palestyne het nog tot op hede die bloedige burgeroorlog vermy wat Israel hulle toewens – ’n oorlog wat ’n einde sou bring aan elke vorm van gewapende weerstand. Hamas, waarvan die Staat van Israel die vestiging in die 1980’s aangemoedig het met die doel om ’n balans te skep met die sekulêre bewegings van die Palestynse weerstand, het sedertdien sowel militêre as maatskaplike ervaring op die terrein opgedoen. Die mislukking van die Oslo-akkoord en die kompromisgelaaide politiek wat die PBO gehandhaaf het sonder om werklik enigiets ter vergoeding te kry (soos die moontlikheid van onafhanklikheid of ’n beëindiging van Israel se koloniseringsaktiwiteite), het die taak vergemaklik. Toegerus met finansiële middele vir maatskaplike hulp en die gewapende stryd teen die besettingsmagte, het Hamas se gewildheid toegeneem, terwyl die politiek en die gedrag van die ou, afgeleefde leiers van die PBO steeds ellende en onderdrukking veroorsaak. Verder het die sukses van gewapende weerstand met die oorwinning van die Libanese Hezbollah oor die Israeliese weermag – wat in Mei 2000, na 22 jaar van besetting uit die Suide van Libanon onttrek het – Hamas en vele ander gedeeltes van die Palestynse en Arabiese ondersteuners aangespoor in hul hoop dat die gewapende stryd die enigste doeltreffende manier is om die Israeliese besetting teen te werk. Die leiers van Israel en hul ondersteuners in die Westerse wêreld sou nogtans sonder moeite kon begryp dat ’n bevolking wat in so ’n situasie van onderdrukking opgesluit word, hoegenaamd nie Hamas sou blameer vir die bloedige Israeliese weerwraak nie, maar inteendeel groot bewondering sou hê en veelvormige steun aan hierdie organisasie sou gee. Slegs die naïewes is verras deur die oorwinning – die gevangenes van leë antiterrorisme-retoriek wat die media en die kringe van internasionale besluitnemers binnegedring het. Hierdie retoriek versluier die realiteit, soos die lyding wat dit veroorsaak, en suggereer dat dit in swak smaak is om die realiteit te beskryf of op die voorgrond te plaas. Enige teenstander word as terroriste-simpatiseerder gebrandmerk. In die Suide van Libanon, ’n gebied wat tussen 1978 en 2000 aanhoudend deur Israel beset is, was die situasie dieselfde, maar nog meer belaglik. Die plaaslike burgermag, wat deur Israel gemobiliseer is om hom in sý stryd by te staan, is dikwels in die buitelandse media voorgestel as ’n verdediger van die vryheid van Libanon teen die “terroriste”, eers die Palestyne en toe die Libanese van Hezbollah. Laasgenoemde is op die Amerikaanse regering se lys van terroristeorganisasies geplaas. Aan die begin van September 2004 het die VN se Veiligheidsraad in Resolusie 1559 daarop aangedring dat Hezbollah die wapens neerlê en dat die klein, swak toegeruste Libanese weermag teenwoordig is op die grens met Israel. Dít terwyl Israel, wat net halfpad uit die Suide van Libanon onttrek het, voortgaan om – byna daagliks – op Libanese lugruimte, see- en soms grondgebied te oortree. Israel hou terselfdertyd ’n aantal oud-weerstandsvegters uit Libanon in sy tronke aan en verhinder die regering in Beiroet om hul waterhulpbronne in die Suide te ontgin. Nogtans is dit Hezbollah wat deur die Verenigde State en die VN as die bron van destabilisering in Libanon en ’n bedreiging vir die veiligheid van Israel bestempel word. Hezbollah word ook dikwels daarvan aangekla dat dit Hamas ondersteun. Soos in Palestina het die internasionale gemeenskap vir Libanon ’n leerstelling voorgeskryf wat hoegenaamd nie die plaaslike realiteit in ag neem nie, maar eerder bydra tot ’n toename in spanning. ’n Paar maande gelede, in Junie 2005, was die internasionale gemeenskap weer dronkgeslaan toe die Iraniërs met ’n groot meerderheid die “ekstremistiese” Mahmoed Ahmadinejad verkies het, wat sy teenstander – oud-president Hachemi Rafsandjani, ’n simbool van die korrupsie wat die land teister, maar deur die internasionale gemeenskap as “gematig” beskou word – die onderspit laat delf het. Dit was, weereens, ’n totale verrassing. Onder die leierskap van President Mohammad Khatami, ’n vasberade voorstaander van dialoog tussen beskawings, het die VSA nie slegs volgehou met Teheran se politieke en ekonomiese isolasie nie, maar dit ook by Irak en Noord-Korea ingesluit as komponente van die “spil van boosheid”. Terwyl dit voorkom asof die Amerikaners en Europeërs hulle nie meer bekommer oor Noord-Korea nie, is hul visier nou meer as ooit op Iran gerig. Washington gebruik die opvlammende – en doemwaardige – uitsprake van die nuwe president om internasionale druk op hierdie land te verhoog en hom sodoende te dwing om afstand te doen van sy doel om kerntegnologie, in watter vorm ook al, te ontwikkel. Terselfdertyd, eers danksy die VN-resolusie op Libanon en toe die skouspelagtige en destabiliserende sluipmoord op die vorige Libanese Eerste Minister, Rafik Hariri, het die Verenigde State en Frankryk kwistig gebruik gemaak van die nuwe situasie in Libanon om die strop stywer te trek om beide Sirië en Iran se nekke. Nou beskou hulle Hezbollah as niks meer nie as ’n uitbreiding van hierdie nuwe “front van weerstand” teen die streek se Westerse politiek. Met die voortaan permanente verwerping van Iran en die Libanese Hezbollah, sowel as die druk op die Siriese owerhede wat ten gunste is van die destabilisering van Libanon, word anti-Westerse retoriek in die Arabiese en Moslemwêreld gestook en daar in die hande van ’n “politieke Islam” gespeel, of dit nou gematig of djihad-radikaal is. Hierdie somber prentjie word voltooi met ’n verwysing na die ontelbare toesprake van George W. Bush wat die skouspelagtige uitbreiding van terrorisme in Irak, veroorsaak deur die Amerikaanse inval in daardie land, die aanvalle op 11 September 2001 en ander in Madrid en Londen – waarvoor die verantwoordelikheid altyd aanvaar is deur Islamitiese groepe – gebruik om Osama ben-Laden te veroordeel in sy pogings om ’n Islamitiese kalifaat in te stel wat die beskaafde wêreld in slawerny sou dompel. Die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies het in September 2005 van sy kant ’n basisdokument vir die hervorming van die VN geproduseer waarin hy sê dat een enkele militêre en politieke gevaar die mensdom teister: die gevaar van “transnasionale terrorisme” wat wapens van massavernietiging probeer aanskaf. Dit is duidelik dat hierdie dokument geheel en al die Amerikaanse doktrine onderskryf waarvolgens (Islamitiese) terrorisme die vyand van die mensdom is. Die voorstaanders van die teorie van beskawingsoorlog sien met afwagting uit na toekomstige gebeure. Die groot besluitnemers in die internasionale politieke arena het nie alleen hierdie ideologie aangeneem nie, maar dra by tot die verwesenliking van hulle skrikwekkende voorspelling. Die beskaafde wêreld – met ander woorde “Joods-Christelik”, soos die nuutste mode dit wil hê – bevind homself teenoor ’n “Islamitiese” hidra wat ondersteun word deur gedugte bondgenote, uit Sjina en Rusland, en wat vandag die mees perverse middele – naamlik terrorisme – gebruik. Môre sal dit sekerlik met wapens van massavernietiging wees wat hierdie of ander “skurke” aan hulle kan voorsien. Van hulle kant het die verskillende djihad-bewegings (wat ontstaan en ontwikkel het gedurende ’n tydperk in die Koue Oorlog waar hulle gedien het as kanonvoer teen die Sowjet-weermag in Afganistan en daarna op ’n verskeidenheid ander plekke op aarde, waaronder Kaukasië en die Balkanstate) nooit gedroom van die tipe publisiteit wat die President van die grootste wêreldmoonheid en die VN hulle sou besorg nie. Vir hulle, wat die Weste as ’n wêreld van barbaarsheid en ongeregtigheid strydig met Islam en die Moslems sien, lyk die situasie heel rooskleurig. Die Amerikaanse weermag, ondersteun deur Westerse kontingente, steek vas in Afganistan en Irak, wat verander het in die ideale slagveld tussen die “Joods-Christelike magte van kwaad” wat die Moslemwêreld aanval en die “Islamitiese magte van goed” wat die integriteit van Moslemgemeenskappe teen uiterlike aanvalle beskerm. Die permanente onreg wat die Palestyne aangedoen word, asook die vrees en die wydverspreide verwyte wat veroorsaak word deur Hamas se oorwinning in Palestina (sonder om eens na die dreigemente te verwys wat met ’n Israeliese blokkade die Palestynse bevolking van voedsel wil ontneem) is duidelik ’n verdere objektiewe fenomeen in hul logika. Hierby kom nog die buite-territoriale Guantanamo en die skandalige mishandelings waaraan Irakese gevangenes in Aboe Ghraib deur die Amerikaanse weermag onderwerp is. Dit behoort dus geen verrassing te wees dat tagtig lede van die Moslembroederbond in die Egiptiese parlementsverkiesings van November en Desember 2005 geseëvier het nie: ’n bevestiging van die nuwe Islamitiese mag wat die Arabiese wêreld in beslag neem. As Sirië môre vrye verkiesings hou, wat sou gebeur? Die verkiesings in Irak het die marginalisering van liberale en sekulêre elemente teweeggebring en konserwatiewe gelowiges – beide Soenniete en Sjiïete – in hul plek geplaas, in weerwil van die Amerikaanse besetting en hul voorsorgmaatreëls. Dit is te midde van hierdie verstikkende atmosfeer dat die saak begin het met die onnosele Deense spotprente, waarin daar die spot gedryf is met die Profeet Mohammed en die skuld van terroristedade op hom gepak is. Die gewelddadige betogings oor die hele Moslemwêreld het frustrasies en gevoelens van veronregting laat opvlam. Aangesien Palestina en die Golan-hoogtes nie bevry kan word nie, en die strop van Westerse dominansie oor die Arabiese en Moslemwêreld (Irak, Afganistan, Iran en Palestina) steeds stywer getrek word, het die hordes woedende betogers die diplomatieke verteenwoordigers aangeval van die lande waarin hierdie uitlokkende spotprente gepubliseer is. Hierdie Islamitiese opstand druk oral die nasionalistiese gevoelens uit wat lankal reeds die sekulêre gesprekke van jarelange dekolonisasie en die militante onderdrukking van die Derde Wêreld verlaat het – gesprekke wat oor die laaste dertig jaar regoor die wêreld in duie gestort het. Sal hierdie opstand verder groei totdat niks dit meer kan stuit nie? Dit is presies wat die bekende, uiters sekulêre Palestynse digter Mahmoed Darwich vrees – ’n vrees wat hy met erns in ’n onlangse onderhoud met die dagblad Le Monde uitdruk: “As daar vrye verkiesings in die Arabies-Moslemse wêreld gehou word, sal die Islamiste dit oral wen, so eenvoudig is dit! Dit is ’n wêreld wat diep geraak word deur ’n gevoel van veronregtiging, waarvoor hy die Weste die skuld gee. Die Weste antwoord met ’n vorm van imperiale ‘fundamentalisme’ wat dié gevoel van onreg net versterk.” As die huidige spanningsvolle situasie nie kan voortduur sonder om ’n gebeurtenis te ontvonk wat nog ernstiger as die vorige een is nie, staan ons dan op die vooraand van grootskaalse omwentelings? Dít is die vraag wat ons onsself kan afvra, gegee die outisme van Westerse leiers aan die een kant en die sinneloosheid van die Arabiese leiers aan die ander kant. Sal die Westerse samelewing kan voortgaan om die wreedheid en absurditeit van die dade in die Nabye Ooste te ignoreer? Sal die Palestyne steeds slagoffers bly van ’n besetting, van ’n skeidingsmuur en van die uitbreiding van nedersettings aan die Wesoewer, 38 jaar na die Sesdaagse Oorlog van 1967? Kan ’n demokratiese mag soos die Verenigde State twee soewereine state binneval onder die voorwendsel van weerwraak op ’n geweldsdaad op sy grondgebied, hoe laakbaar dit ook al was? Is dit moontlik dat ’n enkelkonseptuele kategorie, “terrorisme” in die oë van die Westerse wêreld en die Verenigde Nasies, bewegings en gewelddadige aksies so uiteenlopend soos weerstand teen besetting, die aanvalle op New York, Madrid en Londen, en tientalle ander aanvalle wat byna ononderbroke sedert 1995 in Moslemlande plaasvind (Egipte, Jordanië, Marokko, Jemen, Saoedi-Arabië, Indonesië, Pakistan), saamgroepeer? Ons sukkel om in te dink dat dit nie tradisionele polisiemetodes is nie (soos wat dertig jaar gelede suksesvol gebruik is in ontwikkelde lande wat self deur terrorisme geteister is; voorbeelde hiervan is die Rooi Brigades in Italië, Duitsland se Baader-Meinhof-bende, die Franse Action directe en die Japannese Rooi Weermag), maar eerder weermagte is wat op vier vastelande ontplooi word en jongmense aanspoor tot gewelddadige aksie – om as “martelaars” te veg teen die onwettige besetters: “die ongelowiges”? Ons sukkel eweneens om ons dit in te dink dat die besit van wapens van massavernietiging toegelaat word in Westerse lande, in Israel, in Indië en selfs in Pakistan (’n geallieerde van die VSA) en Noord-Korea, maar elke keer wanneer ’n Arabiese of Moslemnasie dieselfde wil doen, dan onstaan onhoudbare spanning. Tot wanneer sal dit as swak smaak beskou word om vrae te vra oor die manier waarop die geopolitiese kompos vorm wat die vermenigvuldiging van jong djihadi’s aanjaag? Of om medelye en verontwaardiging te toon teenoor die lot van die Palestyne, wat die antiterrorisme-argumente van die Staat van Israel en die VSA ook al is, met ’n Europese Unie wat homself al hoe nader posisioneer aan hierdie twee state se regerings? Die Arabiese regerings dra self ook ’n groot deel van die verantwoordelikheid oor die stand van sake. Hulle is salig onbewus van die openbare mening en gee toe aan elke begeerte van die Verenigde State, sonder om ooit enigiets in ruil te kry, soos regverdige hantering van die Palestynse vraagstuk of gelyke behandeling tussen Israel en die Arabiese lande oor die vrae rondom bewapening en ontwapening. Die arrogante wyse waarop die Amerikaanse regering inmeng in die binnelandse sake van die lande in die Midde-Ooste, sonder enige reaksie van Arabiese diplomate, is ’n verdere aanval op die eer van ’n volk wat voel hulle word sedert die era van Europese kolonisasie verkleineer. Nou word hul geloof ook nog met tekenprente bespot. Vir die gebied se stabiliteit sou dit beter wees as die mees onderdrukte Arabiese regerings weerstand bied teen Amerikaanse druk. Hulle sal dan deur hul eie bevolkings gerespekteer word, en daar sal vrye verkiesings kan plaasvind sonder dat die partye wat op die gesag van Islam aanspraak maak, noodwendig al die stemme kry. Dit kom voor asof Amerikaanse en Israeliese politiek op die afmatting van Arabiese opinie en die verdeeldheid tussen twee partye vertrou: diegene wat weerstand bied teen die twee nasies en dié wat, om verskeie redes, verdere onderdrukking aanmoedig om uiteindelik vrede in die streek te bereik, wat die val van diktators en die totstandkoming van ’n staat van geregtigheid en ekonomiese vooruitgang veronderstel. Hierdie skeur van opinie in die Arabiese gemeenskap het vererger sedert die inval van Irak en Resolusie 1559 van die VN Veiligheidsraad, wat die ontwapening van Hezbollah en van die Palestynse kampe in Libanon in September 2004 geëis het. Libanon dien weereens as klankbord en buffer van die Arabiese wêreld se teenstrydighede, wat die geopolitiese situasie in die streek vererger. Die streek ervaar trouens ’n opvlamming van die “Koue Oorlog”, sonder dat die Sowjet-vennoot van die toneel verdwyn het. Dit is duidelik dat ’n “front van verwerping” steeds in die Nabye Ooste bestaan. Hierdie front sluit verskillende politieke Islamitiese bewegings in hul kaleidoskopiese en ideologiese verskeidenheid in, met die Teheran-Damaskus-alliansie as swaartepunt. Die kwessie van die Deense spotprente help die versterking van dié groep aan, deur Sjiïete en Soenniete te verenig in ’n verwerping van die invloed van Westerse politiek op die streek. Deur middel van ’n geloofsdiskoers polariseer die Islamitiese bewegings eintlik sonder moeite die beroep op nasionalisme in Iran en in die Arabiese wêreld – ’n wêreld waaruit sekulêre intellektueles geruime tyd reeds onttrek het. Hierdie distansiëring was ’n reaksie op die pad wat Nasser se Panarabiese ideologie loop en op die verskillende nasionalistiese Arabiese bewegings, soos die Baath en hul magteloosheid om te voldoen aan die oproep tot nasionalisme. In hierdie nuwe Koue Oorlog probeer die VSA en die Europese Unie hul bes om, ten alle koste, die sogenaamde “demokratiese” kamp te ondersteun. Laasgenoemde is voorstaanders van hervormingsprojekte in die Arabiese en Moslemwêreld, die einde van weerstand teen globalisasie en die hipermag van die VSA, asook die prioriteit van die stryd teen terrorisme sonder onderskeiding tussen weerstand teen buitelandse besetting en gewelddadige, destabiliserende aksies in Westerse, Arabiese en Moslemstede. Simposiums, seminare en kongresse oor politieke hervorming, deursigtigheid en regeringswyse volg monotoon en herhalend die een op die ander; soms dien Arabiese regerings as voorsitters en betoon sodoende hul goedgesindheid jeens die proses. Die mikpunt hiervan is die mobilisering van die Arabiese intelligentsia ten gunste van vrede en demokrasie, en om druk uit te oefen op die Arabiese regerings. Maar die beperkings van hierdie byeenkomste het aan die lig gekom na die Iranese, Egiptiese en Palestynse verkiesings. In der waarheid is hierdie soort Westerse politiek ’n afstammeling van die politiek wat beoefen is deur die Europese magte van die negentiende eeu. Onder die dekmantel van die modernisering en demokratisering van die Ottomaanse Ryk en die Persiese monargie het die Europese magte hul eie koloniale ambisies en die afbreek van hierdie twee magte verberg. Aangehits deur die koloniale ambisies van die negentiende-eeuse Europese moondhede, het die Balkan-kookpot die vonk veroorsaak wat die Eerste Wêreldoorlog laat ontvlam het en op sy beurt weer direk aanleiding gegee het tot die Tweede Wêreldoorlog. Vandag word ons gekonfronteer met die groeiende risiko dat die Nabye Oosterse kookpot (met sy onverwagte uitbreiding na ’n harde ideologie hier aan die begin van die nuwe eeu, waarvolgens beskawingsoorloë – oftewel geloofsoorloë – onafwendbaar sou wees) vir ons pynlike verrassings inhou.
|